• No results found

Toepassing op Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwetgewing en regspraak

HOOFSTUK 7: OORWEGING EN BESPREKING VAN AUSTRALIESE

5. Toepassing op Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwetgewing en regspraak

Voordele wat ingevolge kliëntelojaliteitsprogramme ontvang word is moontlik in Suid-Afrika belasbaar op grond van die:

- Algemene bruto inkomste definisie van die Wet; en - Spesifieke insluiting paragrawe (c) en (i) van die Wet.

Die Suid-Afrikaanse algemene bruto inkomste definisie van die Wet is vergelykbaar met die Australiese gewone inkomste, artikel 25(1) van ITAA36 en artikel 6-5 van ITAA97. Die Suid-Afrikaanse spesifieke insluitingsparagrawe (c) en (i) en die Agtste Bylae van die Wet is ook vergelykbaar met die Australiese statutêre inkomste soos uiteengesit in die eertydse artikel 26(e) en nou artikel 15-2 van ITAA97 en die FBTAA86. Hierdie twee moontlike insluitingsparagrawe en artikels word apart hieronder oorweeg.

5.1 Suid-Afrikaanse bruto inkomste en Australiese gewone inkomste

Die Australiese hof het in Payne v Australia (Commissioner of Taxation) [1996] 66 F.C.R. 299 96 A.T.C 4407 (F.C.A) beslis dat die voordeel ontvang nie gewone inkomste uitmaak nie gebaseer op die feit dat die belastingpligtige nie die myle ontvang in geld kon omskakel nie. Die Suid-Afrikaanse hof is in Stander v CIR [1997] 59 SATC 212 met

130

dieselfde beginsel gekonfronteer. Daar is beslis dat ʼn nie-monetêre bedrag alleenlik as “inkomste” sal kwalifiseer indien die belastingpligtige dit in geld kan omskakel. Daar is egter in CSARS v Brummeria Renaissance (Pty) Ltd and others [2007] 69 SATC 205 bevind dat die uitspraak in Stander v CIR [1997] 59 SATC 212 verkeerd was. Daar is beslis dat ʼn ontvangste of ʼn toevalling in die vorm van ʼn nie-monetêre bedrag wat nie in geld omgeskakel kan word nie, nie uitgesluit word van bruto inkomste nie (verwys na Hoofstuk 6, punt 1.1.1 Algemene bruto inkomste definisie (i) Totale bedrag hetsy in

kontant of andersins op bladsy 76).

Die enigste rede waarom hierdie kliëntelojaliteitsprogramvoordeel nie in Australië as gewone inkomste belas word nie is omdat dit nie in geld omgeskakel kan word nie. Hierdie bepaling geld egter nie in Suid-Afrika nie en lewer verdere bewys dat kliëntelojaliteitsprogramvoordele ontvang wel ingevolge die algemene bruto inkomste definisie belasbaar is.

5.2 Suid-Afrikaanse spesifieke insluitingsparagrawe en Australiese statutêre inkomste

Die Australiese hof het in Payne v Australia (Commissioner of Taxation) [1996] 66 F.C.R. 299 96 A.T.C 4407 (F.C.A) beslis dat die belastingpligtige se diens nie beskou moet word as die direkte oorsaak van die voordele wat vanaf die kliëntelojaliteitsprogram ontvang is nie. Daar is bevind dat geen belasting hefbaar is nie omdat daar geen verband tussen die toekenning van die voordele en die dienste wat gelewer is bestaan nie (Jordaan, 2011:17).

Dieselfde beginsel word in die Suid-Afrikaanse Inkomstebelastingwet ingesluit by wyse van die woorde “ten opsigte van” in paragraaf (c) en paragraaf (i). In Hoofstuk 6 word die betekenis van “ten opsigte van” breedvoerig bespreek en is daar tot die gevolgtrekking gekom dat daar ʼn kousale verband of direkte verhouding tussen die bedrag ontvang en die dienste gelewer moet bestaan (verwys na Hoofstuk 6, (b) Belastingpligtige wat punte of

myle verdien en voordele ontvang, punt 1.1.2 Spesifieke insluitingsparagraaf (c), (iii) Ten opsigte van of uit hoofde van op bladsy 102). Dit stem verder ooreen met die volgende

Suid-Afrikaanse siening rakende kliëntelojaliteitsprogramvoordele ontvang binne ʼn werknemer/werkgewer verhouding: Jones (2009:2) bepaal dat ʼn werknemer gewoonlik ʼn lid van ʼn kliëntelojaliteitsprogram onafhanklik van sy of haar indiensneming word en dat dit nie ʼn voorwaarde tot indiensneming is nie. Die punte of myle val die werknemer regtens

131

toe op grond van die werknemer se lidmaatskap. Clegg (2002:34) stel verder dat die direkte en onmiddellike oorsaak van die voordele die werknemer se besluit is om die punte of myle in te ruil. Daarom kan geargumenteer word dat daar geen direkte verband tussen die punte of myle ontvang en die dienste gelewer bestaan nie. Die Australiese toepassing stem dus ooreen met die Suid-Afrikaanse toepassing en kan as korrek aanvaar word.

6. Gevolgtrekking

In die poging om vas te stel wat die korrekte Suid-Afrikaanse inkomstebelastinghantering van kliëntelojaliteitsprogramtransaksies is, kan daar na Australiese regspraak en riglyne verwys word. In Payne v Australia (Commissioner of Taxation) [1996] 66 F.C.R. 299 96 A.T.C 4407 (F.C.A) is beslis dat die voordeel ontvang nie gewone inkomste uitmaak nie gebaseer op die feit dat die belastingpligtige nie daartoe in staat is om die myle ontvang in geld te kan omskakel nie. Op grond van die Suid-Afrikaanse beslissing CSARS v

Brummeria Renaissance (Pty) Ltd and others [2007] 69 SATC 205 geld die bogenoemde

beginsel nie in Suid-Afrika nie wat daarop dui dat punte of myle verdien vanaf ʼn kliëntelojaliteitsprogram wel ingevolge die Suid-Afrikaanse inkomstebelastingwet by bruto inkomste ingesluit moet word. Daar word verder tot die gevolgtrekking gekom dat punte of myle wat deur werknemers verdien word op grond van goedere of dienste wat deur hul werkgewer aangekoop is, nie ingevolge die Suid-Afrikaanse inkomstebelastingwet as deel van hul bruto inkomste in terme van paragraaf (c) of paragraaf (i) sal vorm nie. Dit word ondersteun deur die Australiese hofsaak, Payne v Australia (Commissioner of Taxation) [1996] 66 F.C.R. 299 96 A.T.C 4407 (F.C.A). Daar kan na Australiese riglyne neergelê verwys word ter formulering van Suid-Afrikaanse riglyne ten opsigte van die inkomstebelastinghantering van kliëntelojaliteitsprogramtransaksies. Dit is duidelik dat daar ʼn tekort aan leiding is vanaf die SAID aangesien geen Suid-Afrikaanse riglyne oor die onderwerp voorkom nie.

Op grond van die bogenoemde gevolgtrekkings kan daar binne die Suid-Afrikaanse inkomstebelastingwetgewing gebruik gemaak word van beginsels en praktykte wat voortgespruit het uit Australiese inkomstebelastingwetgewing, regspraak en riglyne. Die gebruik van hierdie beginsels en praktyke moet op ʼn deursigtige basis oorweeg en toegepas word. Die feitestel van ʼn gegewe scenario behoort ʼn aanduiding te gee van die toepaslikheid van die gebruik van hierdie beginsels en praktyke vir doeleindes van daardie spesifieke scenario (Willemse, 2011:72).

132