• No results found

Toepaslike paradigmatiese perspektiewe vir hierdie ondersoek

HOOFSTUK 1: INLEIDING EN PROBLEEMSTELLING

1.6 Paradigmatiese perspektief

1.6.1 Toepaslike paradigmatiese perspektiewe vir hierdie ondersoek

Paradigmatiese perspektiewe het metodologiese implikasies wat die betrokke navorsingsgebeure rig. Die interpretivisties-positivistiese benadering erken die navorser as instrument van die studie. Die persoonlike standpunte en aannames van die navorser word dus die lens waardeur die navorsing gesien word wat impliseer dat die inligting en interpretasie daarvan sterk deur die teoretiese perspektiewe van die navorser beïnvloed word (Merriam, 2009a:15; Nieuwenhuis, 2009:79, Leedy & Ormrod, 2005:133).

1.6.1.1 Konstruktivistiese perspektief: Die navorsingsontwerp word gesteun vanuit ‘n

konstruktivistiese perspektief omdat dit impliseer dat die werklikheid deur die mens self gekonstrueer word en dat daar meer as een werklikheid kan bestaan deur middel van sosiale konstruksie van kennis (Bullock & Trombley, 2000:194). Die sosiale konstruksie vind plaas deurdat die subjektiewe belewenisse wat leerders tydens die omgewingsopvoedingsaktiwiteit ervaar, deur interaksie met mekaar gevorm word. Die konstruktivistiese benadering beklemtoon die aanwending van kennis binne die groter, lewenswerklike konteks van die leerder. Leerders word gestimuleer om hierdie kennis tydens die oplos van lewenswerklike probleme, wat gedurende die aktiwiteit mag opduik, toe te pas, oor die oplossing te besin, inligting te organiseer en dit na aanleiding van hul waarde-oriëntasie te analiseer.

1.6.1.2 Sistemiese perspektief: Omdat die sistemiese perspektief noodsaaklik is om die

13

(Hugo, 2004:5), sal die toepassing daarvan gedurende hierdie studie toepaslik wees. Die kompleksiteit van omgewingsaangeleenthede lê daarin dat die verwantskappe tussen elemente binne omgewingsaangeleenthede asook fisiese, biotiese, ekonomiese, sosiale en kulturele aspekte verstaan en in ag geneem sal word (Seiffert & Loch, 2005:1199).

1.6.1.3 Eksperiënsiële perspektief: Die perspektief veronderstel dat alle leerders aangebore intuïtiewe kennis besit wat uitgebrei word deur middel van lewens- en leerervaringe (Wiechers, 1995:48). Hierdie perspektief beklemtoon die belangrikheid van werklike vaardigheidsgedrewe (“hands-on”) ervaringe waardeur leerders ontdek, eksperimenteer en hul ervaringe oordink om sodoende nuwe vaardighede, waardes, gesindhede en denkpatrone te ontwikkel (le Roux, 2001:62). Tydens hierdie studie sal eksperiënsiële leer toegepas word deurdat leerders aktief betrokke sal wees by ‘n

omgewingsopvoedingsaktiwiteit waar hulle die geleentheid sal kry om

omgewingsprobleme in hul eie leefwêreld raak te sien wat kan lei tot besprekings en besinning oor hul leefwyse en die impak daarvan op die omgewing.

1.7 NAVORSINGSONTWERP EN METODOLOGIE (SIEN 4.6)

1.7.1 Navorsingsontwerp

Mouton (2009:55) beskryf die navorsingsontwerp as ‘n plan of bloudruk vir uitvoering van die navorsingstudie. Gekombineerde metodologie sal gedurende hierdie studie gevolg word deur middel van ‘n ingebedde eksperimentele ontwerp (Creswell & Plano Clark, 2007:68). Die kwantitatiewe navorsingskomponent van hierdie studie vind plaas deur middel van ‘n voortoets- natoets ontwerp met ‘n eksperimentele sowel as ‘n kontrolegroep. Tydens die voor- en natoets word ‘n gestandaardiseerde vraelys gebruik, terwyl die intervensie die vorm van ‘n omgewingsopvoedingsaktiwiteit aanneem. ‘n Kwalitatiewe, kollektiewe gevallestudie ontwerp vorm die kwalitatiewe gedeelte van die gekombineerde metode deur middel van waarneming en fokusgroeponderhoude waardeur die navorser poog om ‘n duideliker begrip en kennis aangaande die fenomeen te verkry.

Deur gebruik te maak van die gekombineerde metode-ontwerp poog die navorser om ryk data te verkry en om bevindinge te vergelyk en te interpreteer. Hierdie navorsingsontwerp is

14

geselekteer om ‘n holistiese siening omtrent leerders se omgewingswaarde-oriëntasies te bekom en om vas te stel watter rol aktiwiteite mag speel op die uitklaring van hul omgewingswaardes.

1.7.2 Metodologie

Gedurende die ondersoek word van die ingebedde model van die gekombineerdemetode navorsingsontwerp gebruik gemaak ten einde die rol wat omgewingsopvoedingsaktiwiteite in die uitklaring van graad ses leerders se omgewingswaardes speel, te bestudeer. Volgens Creswell (2003:22) is die gekombineerdemetode navorsingsontwerp uiters geskik deurdat dit die beste van beide kwalitatiewe en kwantitatiewe benaderings saamvat.

Die kwalitatiewe data word binne-in ‘n kwantitatiewe eksperimentele ontwerp ingebed om sodoende die uitkomste van die omgewingsopvoedingsaktiwiteit (intervensie) te bestudeer en te bespreek. Die prioriteit gedurende hierdie studie word gevestig deur die kwalitatiewe data, terwyl die eksperimentele metodologie die ondergeskikte plek inneem. Tydens hierdie studie sal van die een-fase benadering gebruik gemaak word omdat kwalitatiewe data gedurende die intervensiefase ingebed word om die intervensieproses te bestudeer en sodoende, bykomende data tot die kwantitatiewe uitkomstes te voeg.

Gedurende die ondersoek is ‘n teoretiese sowel as ‘n empiriese studie onderneem. Die teoretiese studie het bestaan uit ‘n uitgebreide literatuurstudie terwyl die empiriese studie ‘n ingebedde eksperimentele model van die gekombineerde metode ondersoek behels het.

1.7.2.1 Literatuurstudie

‘n Uitgebreide literatuurstudie met behulp van primêre en sekondêre bronne is onderneem omdat dit die basis van navorsing vorm. Vir die doel van die navorsingstudie, is die Noordwes Universiteit se aanlyn biblioteekkatalogus gebruik om joernaalartikels en boeke te bekom. Databasisse, soos EBSCOHost, Academic Search Premier en Eric is ook gebruik om elektroniese joernale te bekom. Om toegang tot die Internet te verkry, is Google Scholar gebruik. Sleutelwoorde wat gebruik is, is onder andere: Omgewingsopvoeding (Environmental Education), Waardes (Values), Omgewingswaardes (Environmental Values), Omgewingsgesindhede (Environmental Attitudes), Omgewingsgedrag (Environmental

15

Behavior), Omgewingsbesorgdheid (Environmental Care), Waarde uitklaring (Values clarification) en Opvoeding vir volhoubare ontwikkeling (Education for Sustainable Development).

1.7.2.2 Empiriese studie

Die empiriese studie sal die volgende behels:

• ‘n Gestandaardiseerde navorsingsinstrument in die vorm van ‘n vraelys (NEP Scale for Children) (Manoli, Johnson en Dunlap, 2007) word deur al die graad ses leerders in die skool, wat ‘n eksperimentele sowel as ‘n kontrolegroep insluit, voltooi. (Aanhangsel A)

• Daarna word kwalitatiewe data ingesamel waartydens die eksperimentele groep aan ‘n aktiwiteit blootgestel word, terwyl die kontrolegroep slegs deur die lesingmetode onderrig word. Die navorser tree gedurende hierdie periodes as onderwyser en waarnemer op, terwyl die dienste van ‘n navorsingsassistent gebruik word om die subjektiewe betekenisse wat leerders tydens die aktiwiteit beleef, interaksie met mekaar, bewuswording en oplos van omgewingsprobleme, fyn waar te neem en te noteer. Direk na die aktiwiteit word verdere kwalitatiewe data deur middel van fokusgroeponderhoude met eksperimentele sowel as kontrolegroepe deur die navorser, ingesamel. Die fokusgroeponderhoude is digitaal vasgelê.

• Dieselfde vraelys wat met aanvang van die empiriese studie gebruik is, word na afloop van die fokusgroeponderhoude sowel as een maand daarna weer deur al die graad ses leerders (eksperimentele sowel as kontrole groepe) voltooi.

• Fokusgroeponderhoude word ook weer na een maand met dieselfde fokusgroepe gehou.