• No results found

Howes (2010: 76) maak ’n onderskeid tussen twee weergawes van industriële teater waar die een weergawe geen interaksie met die gehoor (of werknemers) het nie, terwyl die tweede weergawe wel interaksie met die gehoor (of werknemers) aanmoedig. Hy omskryf industriële teater en hierdie onderskeid as volg:

Industrial theatre refers to a theatre production similar to a play at the state theatre or in a community theatre: it has characters, a storyline, props and costumes; the audience (employees) come into the performance space, they watch the performance; the artist take a bow – and the audience exits the performance space. Interactive industrial theatre, on the other hand, refers to an adaptation of industrial theatre, which is accomplished by means of incorporating the audience in some way, shape or form. The main difference between the two forms is breaking the 4th wall (Howes 2010: 76).

Na aanleiding van hierdie onderskeid deur Howes (2010: 76) is dit dus moontlik om ’n oorvleueling met interaktiewe teater te identifiseer. Die moontlikheid van ooreenkomste met TIO is na my mening ook nie te vergesog nie, veral aangesien industriële teater ook bestaan uit buite groepe wat na ’n besigheid kom om deur middel van ’n teatrale aanbieding iets oor te dra.

2.4.3 Samevatting

Korporatiewe teater en industriële teater fokus albei op gemeenskappe binne ’n werkskonteks. Beide word gebruik om ’n spesifieke boodskap oor te dra wat vooraf deur die betrokke organisasie/besigheid op besluit is. Korporatiewe teater bestaan gewoonlik uit ’n teateraanbieding waar ’n gehoor wat nie betrokke is by die opvoering nie, waar industriële soms die gehoor se betrokkenheid aanmoedig. Nog ‘n verskil tussen hierdie twee vorme is dat korporatiewe teater fokus op die bemarking of bekendstelling van ’n produk, besigheid of diens, waar industriële teater se fokus lê by die verkoop van ’n idee.

2.5 Ten slotte

Soos reeds vermeld is toegepaste teater ’n teatervorme met ’n doel. Die oorhoofse doel wat by al hierdie verskillende vorme voorkom, is die hoop op verandering. Hierdie verandering kan plaasvind binne die konteks van ’n groter gemeenskap, of ’n individue. Toegepaste teater

25 fokus eerder op die proses om teater/drama te skep as op die produk daarvan. Alhoewel die fokus van al die vorme is om verandering aan te moedig, kan daar ’n onderskeid getref word ten opsigte van korporatiewe teater en industriële teater en die ander vorme wat bespreek is. Korporatiewe teater en industriële teater se fokus plaas nie die belange van die spesifieke gemeenskap voor die belange van die organisasie s’n nie, waar die ander vorme van toegepaste teater die belange van die gemeenskap as uiters belangrik ag. Buiten die verskil in belange, is die grootste verskil tussen die verskillende vorme van toegepaste teater die proses en metodiek wat gebruik word om by die einddoel uit te kom.

Na aanleiding van die omskrywings en besprekings van die verskillende vorme van toegepaste teater, kan die volgende vorme uitgesonder word as vorme wat meer gepas sal wees vir gemeenskapsontwikkeling: gemeenskapsteater, teater-in-die-onderwys en teater vir ontwikkeling. In die volgende hoofstuk sal daar gevolglik ondersoek ingestel word na bestaande gemeenskapsontwikkelingsprojekte in die Stellenbosch-omgewing, sowel as in die groter Suid-Afrika. Dit sal aanduidend wees van watter, indien enige, van hierdie drie geïdentifiseerde toegepaste teater-vorme wel gebruik word met die oog op gemeenskapsontwikkeling.

26

Hoofstuk 3: Bestaande gemeenskapsontwikkelingsprojekte en/of –

organisasies wat gebruik maak van toegepaste teater

3.1 Inleiding

In hierdie hoofstuk12 sal daar gekyk word na bestaande en/of afgehandelde gemeenskapsprojekte in die Stellenbosch-omgewing, sowel as die groter Suid-Afrika, wat toegepaste teater gebruik as medium vir gemeenskapsontwikkeling. Hierdie onderskeie gemeenskapsprojekte fokus grotendeels op minderbevoorregte gemeenskappe waar die nood vir gemeenskapsontwikkeling geïdentifiseer is. Daar sal bepaal word watter tipe projekte reeds aangepak is, watter vorme van toegepaste teater gebruik word en wat die fokus en uitkomste van elk van hierdie die projekte is.

In die Stellenbosch-omgewing is daar verskeie gemeenskapsorganisasies en -projekte. Dit sluit onder andere in die Anna Foundation, Watergarden, Legacy, Prochorus, AmaZink Live, Buya! Festival, Pebbles Project, ABBA en AmazingBrainz. Hierdie en ander organisasies en projekte is gekontak met die oog op moontlike semi-gestruktureerde onderhoude. Vanuit die organisasies en projekte wat gereageer het, is daar vier organisasies in die Stellenbosch-omgewing geïdentifiseer wat moontlik toegepaste teater gebruik en/of in die verlede gebruik het as medium vir gemeenskapsontwikkeling. Hierdie organisasies is Prochorus, AmaZink Live, Watergarden en die Buya! Festival.

Weens die oënskynlike gebrek aan organisasies en projekte in die Stellenbosch-omgewing wat toegepaste teater as medium vir spesifiek gemeenskapsontwikkeling gebruik, is daar gekyk na soortgelyke projekte en organisasies in die groter Suid-Afrika. Heelwat organisasies en projekte is geïdentifiseer wat gebruik maak van toegepaste teater as medium vir gemeenskapsontwikkeling, van hierdie organisasies sluit in: arepp: Theatre for life, Drama for life, PST Projects, Ubom, Karos & Kambro, Umdoni and Vulamehlo HIV/AIDS Assosiation, Khanyisa Projects, Ellis & Bheki en The learning theatre. Uit die aanvanklike

12 Hierdie hoofstuk berus hoofsaaklik op semi-gestruktureerde onderhoude wat in die persoon, telefonies of elektronies plaasgevind het en/of inligting wat vanaf webtuistes gekry is.

27 ondersoek na toegepaste teater in die groter Suid-Afrika het daar drie projekte/organisasies na vore getree uit dié wat gereageer het. Hierdie organisasies/projekte is Karos & Kambro, Umdoni and Vulamehlo HIV/AIDS Assosiation, en Khanyisa Projects.

Gevolglik sal ek kortliks elk van hierdie organisasies/projekte in beide die Stellenbosch-omgewing, sowel as die groter Suid-Afrika kortliks bespreek en spesifiek kyk na hoe en of teater gebruik word as medium vir gemeenskapsontwikkeling.