• No results found

4. Perspektiewe op die postmodernistiese historiese roman

4.4. Nog postmodernistiese innovasies van die historiese roman

4.4.1. Selfrefleksiwiteit

Soos reeds genoem, is die vernaamste fokuspunt van selfrefleksiewe postmodernistiese historiese romans die blootlegging van die maniere waarop historiese navorsing gedoen word en van historiese vertelstrategieë om kommentaar te lewer op die verstaanbaarheid en die representasie van die verlede. Hierteenoor dien die openlike weerspreking van die gekanoniseerde geskiedenis in postmodernistiese tekste dikwels om die maniere waarop weergawes van die geskiedenis as instrumente van mag in die hede funksioneer, op die voorgrond te stel. Die verskil tussen selfrefleksiwiteit en konjekturale, kontrafeitelike romans is dus nie ’n kwessie van epistemologie teenoor ontologie nie, maar van epistemologie teenoor politiek (Wesseling, 1991:118).

Refleksies op die soektog na die verlede is ’n gevestigde literêre praktyk, wat ook deur die moderniste tot tema gemaak is. Postmodernistiese skrywers het volgens Wesseling hierdie eksperiment egter op verskeie maniere voortgesit. In plaas daarvan dat die leser met ’n voltooide eindproduk gepresenteer word, maak hierdie skrywers die produksieproses wat die finale sintese van ’n koherente storie oor die verlede voorafgaan, sigbaar (Wesseling, 1991:119). Om die historiese navorsingstegnieke en vertelstrategieë op die voorgrond te stel, gebruik postmodernistiese skrywers twee welbekende tegnieke: eerstens ’n historikus-tipe karakter of eksterne verteller wat kommentaar lewer op sy eie onderneming; en tweedens die jukstaponering van verskillende perspektiewe op dieselfde historiese onderwerp.

Wesseling (1988) het ook al eerder genoem dat daar verskillende selfrefleksiewe middele tot die romanskrywer se beskikking is. Een middel is die verteller wat sy eie verhaal van kommentaar voorsien deur al vertellende die probleme te bespreek wat hy ondervind. Die rol van historikus kan ook deur ’n karakter in die verhaal vervul word - sy historiografiese werk gee dan aanleiding tot bespiegelinge oor die aard en kenbaarheid van die verlede. Hierdeur word die speurtog na die verlede ’n belangrike onderdeel van die roman.

Postmodernistische schrijvers hanteren beide middelen, waarbij beelden van een contingente geschiedenis voortdurend worden uitgespeeld tegen pogingen om deze chaos te transformeren in de orde van het historisch vertoog (Wesseling 1988:148).

Postmoderniste het egter ook ’n nuwe tipe selfrefleksiwiteit geïntroduseer, wat van die eerste tipe verskil met betrekking tot die objek van refleksie. Die skryfproses word nie in hierdie geval gedissekteer nie, maar die maak van geskiedenis word geanaliseer asof dit die skryf van ’n storie is. Die blootlegging van die konstruksie van die geskiedenis stem ooreen met die poststrukturalistiese aanval op die idee van ’n soliede aanwesigheid buite taal wat die referent van die diskoers is maar terselfdertyd ook deur die diskoers gekontamineer word. Poststrukturalistiese teorieë het die idee daargestel dat daar niks buite diskoers is nie. Hierdie idee word ook oorgedra deur postmodernistiese romans, vergelyk Wesseling (1991:120):

Some postmodernist novels convey exactly the same notion, by presenting the making of a plot on a plotless reality, a process which is supposedly governed by the same linguistic conventions as the writing of history. This type of self-reflexivity does more than exposing the gap between narratives about historical events and the events themselves. It questions the very existence of the res gestae as an independent level of discourse (Wesseling 1991:120).

Daardie romans wat ondersoek instel na die maniere waarop die subjektiewe verbeelding die res gestae hervorm, ’n ondersoek na die grensland tussen fiksie en historiografie, spreek ’n aantal kwessies aan wat ook in die kritiese filosofie van geskiedenis aangeraak is, soos in die vorige hoofstuk aangetoon. Die eerste hiervan is die partydigheid in historiese kennis. Historiese narratief dra immers die historikus se beeld op die verlede oor en postmodernistiese romans ontbloot dan hierdie partydige aard van historiese kennis (Wesseling, 1991:120).

Die volgende kwessie hou verband met die bronne van historiese ondersoek. Fiksie en historiese narratief word van mekaar onderskei deur die bepaling dat die historikus sy stelling moet fundeer op die relieke van die verlede. Die idee dat relieke enigsins ’n soliede fondament beslaan waarop ons weergawe van die verlede gegrond kan word, voorveronderstel dat hierdie oorblyfsels geldige bronne van inligting is. Die kritiek teen hierdie standpunt kom daarop neer dat die oorblyfsels van die verlede, net soos ons retrospektiewe weergawes van die verlede, ook die produkte is van mense wat die wêreld om hulle waarneem in terme van hul eie begeertes en voorveronderstellinge (Wesseling, 1991:123). Die onbetroubaarheid van bronne word op verskeie maniere aangetoon in postmodernistiese historiese romans, soms deur outentieke dokumente aan te pas of deur die skep van pseudo- dokumente, soos byvoorbeeld die dagboek van Eva Braun in Siegfried.

Sommige postmodernistiese romans kom vir Wesseling voor as bestaande uit ’n collage van dokumente: die dokumente word nie in ’n hiërargie van betroubare na minder betroubare dokumente rangskik nie; hulle word eerder gejukstaponeer sodat die dokumente vir sigself kan praat: “This device drives home the message that the documents cannot speak for themselves at all, but offer noise instead, because they do not concur with each other” (Wesseling, 1991:124). Wesseling kom tot die

volgende konklusie oor romans wat hierdie strategieë aanwend: “If self-reflexive strategies foreground the points at which fiction impinges upon history, then the novels discussed in this section reveal that the subjective imagination already deforms the res gestae at historiography’s most fundamental level of the source materials” (Wesseling, 1991:124).

Die tekstuele aard van die geskiedenis word ook aangedui op grond van die narratiewe strukturering daarvan, ’n verdere aspek wat deur postmodernistiese romanskrywers onder die loep geneem word. In ooreenstemming met die ‘linguistic turn’ in die 20ste eeu, wat ook in die vorige hoofstuk bespreek is, sien geskiedenis filosowe die narratief nie as ’n deursigtige medium vir die representasie van die geskiedenis nie, maar behels dit ’n spesifieke manier waarop die verlede verstaan word. Die narratief het kognitiewe implikasies van sy eie wat ’n spesifieke vorm op historiese realiteit plaas alvorens dit ’n objek kan word van historiese studie. Eienskappe soos kousaliteit en teleologie wat aanvanklik beskou is as inherent aan die historiese realiteit, word nou gekonseptualiseer as linguistiese fenomene (Wesseling, 1991:128).

Kontinuïteit word op die geskiedenis afgedwing deur geïsoleerde gebeure in ’n teleologiese volgorde te plaas, in ’n narratief dus. Postmodernistiese historiese fiksie toon ’n duidelike bewustheid van die vormende aard van narratiewe konvensies. Daar word veral aandag geskenk aan teleologiese kontinuïteit, wat hierdie romans op verskeie maniere probeer uitstel:

Some novels shatter teleological continuity by contrasting the order of historical narrative to the chaotic multiple nature of the epoch with which they want to come to terms. Others expose teleological continuity as a literary device by gesturing toward the chaos of historical reality in general, regardless of the period presented (Wesseling, 1991:128).

Teleologiese kontinuïteit word ook aangewys as ’n teken van die historiese verbeelding aan die werk (Wesseling, 1991:133). In die volgende hoofstuk word gekyk hoe die skrywer van Siegfried, Harry Mulisch, hierdie aspek van die historiografie op die voorgrond bring.

Die selfrefleksiewe postmodernistiese historiese roman bly egter uiteindelik steeds binne wat Wesseling (1991:148) die parameters van die gekanoniseerde geskiedenis noem, en lewer vanuit hierdie raamwerk kommentaar op die aard en funksie van hierdie geskiedenis. Die verloorders bly verloorders en oorwinnaars behou hul posisie van mag, maar kritiek word gelewer op die manier waarop daardie posisie in die geskiedenisboeke bekom is deur te dui op die bogenoemde aspekte van die historiografie. Hierteenoor wyk die volgende variant van die postmodernistiese historiese roman, wat Wesseling uchroniese fiksie of fantasie noem, af van die aanvaarde ‘feite’ van die geskiedenis.

Uchroniese fiksie verskil van selfrefleksiewe historiese fiksie deurdat dit nie bloot streef na ’n geldige interpretasie van die verlede nie. Alhoewel sommige van hierdie romans steeds kwessies aanspreek wat verband hou met ’n retrospektiewe ontdekking van die verlede, word dit op ’n manier gedoen wat die spot dryf met die idee van interpretasie as ’n onpartydige strewe na die waarheid. Hierdeur dui die skrywers aan dat ons weergawes van die geskiedenis politieke belange weerspieël en as instrumente van gesag/mag funksioneer (Wesseling 1991:169).