• No results found

Vreemdheid, andersheid en die aanskoue van die frats: die hibried in konteks

3.5 Samevatting en metode

In hierdie hoofstuk is die frats en eksotiese as aspekte van aanskoubare andersheid ondersoek binne die konteks van die negentiende eeu asook in terme van eietydse problematiek. Na ʼn kortlikse omskrywing van die ander as konsep is aansluiting gevind by die frats wat aangedui is as ʼn ongewone (afwykende) persoon. ʼn Verband is getrek tussen die fisiese en sosiale marginalisering van die fratsfiguur en tentoonstelling van die eksotiese, gekolonialiseerde en andersoortige liggaam op etnologiese en antropologiese uitstallings van die negentiende eeu. Daar is bevind dat andersheid of afwykendheid telkens fassinerend gevind is deur die negentiende-eeuse romantiese verbeelding. Soos die frats, is die eksotiese ook as ʼn bron van vermaak en verbeeldingryke spekulasie, en ook as potensiële gevaar beskou. Hiermee is die frats se fisiese abnormaliteit, net soos die eksotiese se fisiese vreemdsoortigheid, as oorsprong vir die konstruksie van die andersheid uitgewys. Die eksotiese as afwykend – en per implikasie as kategoriseringsfunksie van self en ander – is ook geskakel met koloniale negentiende-eeuse beskouings.

Aspekte van objektiveringsproblematiek in die konteks van die negentiende eeu se beskouing van andersheid is geïdentifiseer, byvoorbeeld waar sogenaamd afwykende groepe mense ook saam met voorwerpe, en as voorwerpe, tentoongestel is vir visuele verbruik. Die verbruik van andersheid hou verband met die Victoriaanse neiging na versameling en klassifikasie deur ʼn hiërargie, waar die aanskouer in ʼn magsposisie is en waar die aanskoude as ʼn objek vir aanskoue en klassifikasie beskou is.

Met die idee van aanskoue en klassifikasie word verdere implikasies van toe-eiening en besitname in ag geneem. Hier is aangevoer dat andersheid telkens uitgebuit word om die eksotiese op aanloklike wyse te verpak en aan te bied, iets wat gesien word in die eietydse toerisme-omgewing. Die besit- versugting hou daarom verband met die toeriste-blik, soos wat die eietydse avonturier se aanskoue

73

van die eksotiese, ongetemde landskappe en diere tydens ʼn safarivakansie eintlik as ʼn poging tot toe-eiening gelees kan word. Daarom kan avontuurtoerisme as ʼn neokoloniale fenomeen beskou word en is ʼn ooreenkoms tussen 'n koloniale safaribeskouing en neo-koloniale fassinasie met andersheid in die eietydse Afrika toeriste-avontuur aangetoon.

3.5.1 Metode van ondersoek

Daar is twee dimensies aan die metode van ondersoek: eerstens die proses van lees, wat vanaf eenvoudig na kompleks verloop, en tweedens die tematiese aspekte wat dien as ankers in hierdie proses. Hierdie tematiek is veral gefokus op die gedagte van hibriditeit en tersaaklike verwante konsepte. Die lees en interpretasie van die kreature in die kunswerk geskied vanaf die bekendstelling en beskrywing van die kreature en meegaande elemente van die installasie.

In die lig daarvan dat die kunswerk beskou word as ʼn allegorie van die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing, word ʼn bondige uiteensetting van die term allegorie hier genoodsaak. Allegorie is van die Griekse begrip afgelei wat beteken ‘om anders te praat’ en gevolglik kommunikeer ʼn allegoriese verhaal, of allegoriese instrumente, op ʼn simboliese wyse (Harris, 2006:12). ʼn Allegorie is ook ʼn verhaaltegniek wat behels dat ʼn voorstelling gemaak word van ʼn situasie of stel gegewens; die algemene situasie word in ʼn spesifieke konteks vertel (Malan, 1992:8). Twee betekenisvlakke word onderskei in die allegorie, naamlik die eerste meer konkrete verhaalvlak wat op sy beurt heenwys na die belangriker tweede vlak. Op hierdie tweede vlak word ʼn stel morele of geestelike idees veronderstel wat agter die verhaal lê en daaraan rigting gee. In ʼn allegorie is die veronderstelling dat daar ʼn redelik ondubbelsinnige en deurlopende aantal raakpunte is met die gegewe wat vertel (of uitgebeeld) word en die dieperliggende waarheid waarna dit verwys (Malan, 1992:8). Allegoriese betekenis neig daarom om redelik spesifiek te wees, anders as byvoorbeeld simbole waarvan die betekenis eerder veelvlakkig is. Dit is ook omdat die allegorie vir sy bestaan staatmaak op ʼn gegewe ‘preteks’ of dan ʼn eksterne situasie wat as byvoorbeeld ʼn historiese werklikheid beskou kan word. Van belang vir die huidige studie is veral die gedagte dat die allegorie daarom ʼn parallelle insig in ʼn bepaalde situasie bied, wat behels dat hierdie situasie deur die oorvertel daarvan geabstraheer word in die allegorie (Titlestad, 2009:116).

Die allegorie word veral in die letterkunde aangewend maar kan ook as strategie in die visuele kuns gebruik word. Titlestad (2009:117) noem dat die gebruik van die allegorie soms gekritiseer word omdat die parallellopende verband tussen die werklikheid en die allegorie sou inhou dat die werklikheid as staties en onveranderbaar gesien moet word. ʼn Ander beskouing is eerder dat die

74

allegoriese wel ruimte laat vir veranderinge, hersienings van ʼn situasie en daarom ook vir meer dinamiese gesprek met die geskiedkundige konteks; vergelyk hierdie stelling: “Rather than an ossified system of mechanical correspondences, allegory is potentially an ongoing dialogue between individual authors and the history of meaning and difference they inherit” (Titlestad, 2009:117). Hierdie gespreksmoontlikheid tussen die allegoriese uitbeelding en die werklikheid waarop dit sinspeel laat met ander woorde ruimte vir geskakeerde interpretasiemoontlikhede. In heelwat gevalle waar die allegoriese in eietydse kontekste gebruik word, beeld dit magsproblematiek uit wat in die allegoriese vergestalting redelik duidelik na vore kom (Titlestad, 2009:118).

Gevolglik bied die allegorie die moontlikheid om ʼn aantal parallelle met ʼn spesifieke konteks aan die hand te doen op so ʼn wyse dat die situasie geabstraheer word en waardeur sake soos magsproblematiek, geweld en dies meer aan die orde gestel kan word. So maak die allegoriese ʼn besinning oor sekere aspekte van die konteks waarna dit verwys moontlik deur ʼn gesprek aan die gang te sit oor hierdie aspekte. Die tweede vlak waarop die allegorie bestaan, naamlik die morele of geestelike idees wat daarin na vore kom, is steeds in hierdie geval die belangrikste. Sodoende kan die sosiale problematiek waarop African Adventure sinspeel, gesien word as die tweede vlak wat die kunswerk se allegoriese dimensie rig.

In hierdie studie word die moontlikheid ondersoek dat die ruimte van die kunswerk nie slegs interessante figure vir aanskoulike plesier tentoonstel nie, maar ʼn meer ontstellende toon te midde van ʼn skynbaar apokaliptiese landskap suggereer. Die bewuswording van die karakters se tydruimtelike veelfasettigheid word hiervolgens oorweeg as ʼn allegorie van ʼn distopiese realiteit. Hiermee word geargumenteer dat dít wat vir verbruik tentoongestel word, die mag het om die aanskouer se aannames oor aanskoulikheid en mag te destabiliseer. In die aanloop na die einde van die allegoriese lees word daar besin oor die moontlikheid van ʼn spaning tussen distopie en vernuwing.

Na aanleiding van die benadering wat hierbo uiteengesit is, sien die lees en interpretasie van die kunswerk kortliks soos volg daar uit: die eerste stap in die proses is beskrywend van aard, en hier word die opvallendste waarnemings van vreemdheid en andersheid aangedui. Hierdie waarnemings wil op die oog af blyk om ʼn avontuur en toerisme-ervaring van aanskoue, vertoon, afsku en fassinasie te wees. In hierdie deel van die interpretasieproses word die gedagte ondersoek dat die kreature nie bloot aanskoulik is nie, en word oor hul andersheid en die implikasie daarvan besin.

75

Met die gedagte dat Suid-Afrika ʼn plek is wat op die oog af in die kunswerk allegories tentoongestel word vir aanskoue, word die installasie verder ondersoek om die oorsaak van die ongemak wat dit waarskynlik tuisbring, te bepaal.

Dan word die allegoriese aard van African Adventure as uitgangspunt geneem aan die hand van Jamal (2011:57) se argument dat dit inderdaad as sodanig beskryf kan word. Hiérdie uiteensetting veronderstel dan verwysing na karakter, ligging (tyd en ruimte) en atmosfeer as die visuele elemente wat die toon van die werk aangee. Hierdie allegorie het ʼn narratiewe karakter, met ander woorde daar is sprake van narratiewe elemente: karakter, tyd en ruimte (inderdaad ook die kernelemente van vele installasiekunswerke). Daarom word die interpretasie gerig volgens die wyse waarop die karakters, tyd en ruimte in African Adventure elkeen afsonderlik maar ook in samehang binne die raamwerk van fratse, die eksotiese en hibriditeit gelees kan word. Die bespreking word verder spesifiek gerig deur die wyse waarop die karakters, tyd en ruimte in African Adventure as fratse, eksoties en hibried – as elemente van 'n allegoriese weerspieëling van ʼn hedendaagse Suid- Afrikaanse samelewing – gelees kan word.

76

HOOFSTUK VIER: LEES EN INTERPRETASIE VAN DIE INSTALLASIEWERK