• No results found

HOOFSTUK 1: Inleiding, probleemstelling en doelstellings van die studie

1.3 Literatuuroorsig

1.3.7 Samevatting

Vanuit bogenoemde beredenering kan die probleemstelling van die navorsing vervolgens geformuleer word. Die voorafgaande beklemtoon die belangrikheid van optimale ontwikkelingsvlakke van fundamentele bewegingsvaardighede en motoriese behendigheid vir die Senior Fase leerder, en ook vir die Liggaamlike Opvoeding-onderwyser. Dit word daarom van ‟n Liggaamlike Opvoeding-onderwyser in die hoërskool verwag dat daar klem gelê moet word op die bemeestering van sportvaardighede met die oog op die bevordering van deelname aan fisieke aktiwiteit (DBE, 2010). Hierdie vereiste van die KABV is egter onderhewig aan die aanname dat die fundamentele bewegingsvaardighede van hoërskoolleerders reeds op ongeveer sewe jaar volwasse bewegingspatrone getoon het en hulle dus lank reeds gereed is om verder in sportvaardighede te verfyn. Hoewel verskeie studies, soos reeds hierbo bespreek, toon dat ‟n wesenlike persentasie van leerders onder die ouderdom van 12 jaar motoriese agterstande toon en dat hierdie agterstande nie vanself ontgroei word nie, is daar geen literatuur beskikbaar met betrekking tot die stand en aard van fundamentele bewegingsvaardighede en motoriese behendigheid van Suid-Afrikaanse leerders ouer as 12 jaar; dus adolessente of Senior Fase leerders nie. Die vraag ontstaan dus of Senior Fase leerders se fundamentele bewegingsvaardighede en motoriese behendigheid werklik op so ‟n vlak is dat die onderwyser kan fokus op die bemeestering van nuwe sportvaardighede, en dat leerders fisiek daartoe in staat is om aan fisieke aktiwiteite deel te neem. Indien die fundamentele bewegingsvaardighede van die leerders in die Senior Fase Liggaamlike Opvoedingklas nie op so ‟n vlak ontwikkel is soos verwag nie, sal dit verreikende implikasies vir die samestelling en aanbieding van die Liggaamlike Opvoedingsprogram inhou. Vir leerders met agterstande sal Liggaamlike Opvoeding-onderwysers eers weer op die ontwikkeling en remediëring van fundamentele bewegingsvaardighede moet fokus voordat die verfyning

HOOFSTUK 1

12

daarvan tot sportvaardighede aandag kan kry. Die Liggaamlike Opvoeding-onderwyser sal verder aanpassings in die Liggaamlike Opvoedingsprogram moet maak ten opsigte van verskillende spesifieke fundamentele vaardighede wat agterstande toon, sowel as fundamentele vaardighede en motoriese behendigheid wat tussen geslagte en etniese groepe verskil.

Indien die fundamentele bewegingsvaardighede van leerders verder nie op die aanbevole ontwikkelingsvlak is nie, sal dit ook leerders se motoriese behendigheid negatief beïnvloed, wat weer ʼn impak kan hê op leerders se fisieke aktiwiteitsvlakke en akademiese prestasie. Benewens die leemte met betrekking tot navorsing oor die ontwikkelingstatus van Senior Fase leerders in Suid-Afrika met betrekking tot fundamentele bewegingsvaardighede, kon daar ook min studies gevind word oor die verskille in motoriese behendigheid tussen geslagte en etniese groepe, die verband tussen motoriese behendigheidsvlakke en fisieke aktiwiteitsvlakke, en tussen motoriese behendigheidsvlakke en akademiese prestasie van leerders in hierdie ouderdomsgroep in Suid-Afrika. Hierdie geïdentifiseerde leemtes dien as rasionaal vir hierdie navorsing.

1.4 Navorsingsvrae

Die navorsingsvrae wat met die oog op hierdie studie ontstaan het is:

1.4.1 Wat is die stand van fundamentele bewegingsvaardighede van Senior Fase leerders in ‟n omgewing in Suid-Afrika, spesifiek die Potchefstroom-omgewing? Ten einde hierdie vraag te beantwoord, word die volgende subvrae gestel:

1.4.1.1 Wat is die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing?

1.4.1.2 Is daar ʼn verwantskap tussen die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede van Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing? 1.4.2 Is daar ‟n verskil tussen geslagte en etniese groepe ten opsigte van motoriese

behendigheid by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing?

1.4.3 Is daar ‟n verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en fisieke aktiwiteitsvlakke by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing?

1.4.4 Is daar ‟n verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en akademiese prestasie by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing?

Antwoorde op hierdie vrae is noodsaaklik vir Liggaamlike Opvoeding-onderwysers met betrekking tot die stand van adolessente se fisieke– en motoriese ontwikkeling ten einde hulle Liggaamlike Opvoedingsprogramme dienooreenkomstig aan te pas om uiteindelik aan die vereistes van die KABV te voldoen. Liggaamlike Opvoeding-onderwysers sal hierdie kennis kan gebruik om spesifiek te differensieer in hulle Liggaamlike Opvoedingsprogramme ten opsigte van agterstande wat by Senior Fase leerders voorkom asook ten opsigte van die spesifieke tipes fundamentele bewegingsvaardighede en motoriese behendighede waarin agterstande voorkom en wat by die verskillende geslagte voorkom. Kennis oor verskille tussen geslagte en etniese groepe, verwantskappe tussen motoriese behendigheidsvlakke en fisieke aktiwiteit, asook verwantskappe tussen motoriese behendigheidsvlakke en akademiese prestasie by hierdie groep Senior Fase leerders, sal voorts dien tot sterk motivering vir die waarde en noodsaaklikheid van die korrekte implementering van Liggaamlike Opvoedingsprogramme by skole.

1.5 Doelstellings

Die algemene doelstellings en spesifieke doelwitte van hierdie studie is:

1.5.1 Om die stand van fundamentele bewegingsvaardighede van Senior Fase leerders in ‟n omgewing in Suid-Afrika, spesifiek die Potchefstroom-omgewing, te bepaal. Ten einde hierdie doelstelling te bereik, word die volgende spesifieke doelwitte gestel:

1.5.1.1 Om die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal.

1.5.1.2 Om die verwantskap tussen die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom- omgewing te bepaal.

1.5.2 Om die verskil tussen geslagte en etniese groepe ten opsigte van motoriese behendigheid by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal.

1.5.3 Om die verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en fisieke aktiwiteitvlakke by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal.

1.5.4 Om die verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en akademiese prestasie by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal.

HOOFSTUK 1

14

1.6 Hipoteses

Ten opsigte van die algemene doelstellings en spesifieke doelwitte van hierdie studie word die volgende hipoteses gestel:

1.6.1 Ten opsigte van die eerste algemene doelstelling om die stand van fundamentele bewegingsvaardighede van Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal, kan die hipotese gestel word dat die fundamentele bewegingsvaardighede van Senior-Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing ondergemiddeld sal wees, gemeet aan ouderdomsnorme.

Ten opsigte van die eerste van die spesifieke doelwitte vir hierdie doelstelling (1.5.1.1), naamlik om die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal, kan die volgende sub-hipotese gestel word:

1.6.1.1 Die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamenetele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing, sal ondergemiddeld wees vir hulle ouderdom.

Met betrekking tot die tweede spesifieke doelwit (1.5.1.2), naamlik om die verwantskap tussen die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing te bepaal, word die volgende sub-hipotese gestel:

1.6.1.2 Die kwantitatiewe en kwalitatiewe stand van fundamentele bewegingsvaardighede toon nie „n betekenisvolle verwantskap met mekaar by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing, nie.

1.6.2 Ten opsigte van die doelstelling om die verskil tussen geslagte en etniese groepe ten opsigte van motoriese behendigheid te bepaal, word die hipotese gestel dat daar betekenisvolle verskille tussen geslagte en etniese groepe ten opsigte van motoriese behendigheid by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing sal wees.

1.6.3 Ten opsigte van die doelstelling om die verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en fisieke aktiwiteitsvlakke te bepaal, word die hipotese gestel dat daar ‟n positiewe verwantskap tussen motoriese behendigheid en fisieke aktiwiteitsvlakke by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing sal wees.

1.6.4 Ten opsigte van die doelstelling om die verwantskap tussen motoriese behendigheidsvlakke en akademiese prestasie te bepaal, word die hipotese gestel dat daar ‟n positiewe verwantskap tussen motoriese behendigheid en akademiese prestasie by Senior Fase leerders in die Potchefstroom-omgewing sal wees.

1.7 Navorsingsontwerp en Metodologie

Hierdie studie is ‟n onderafdeling van ‟n groter studie genaamd die PAHL (Physical Activity and Health Longitudinal)-studie, wat ‟n multidissiplinêre longitudinale projek is waarin verskeie gesondheidsaspekte van 13- tot 18-jarige leerders oor ‟n tydperk van vyf jaar ondersoek is. Die huidige studie is gebaseer op data wat ingesamel is tydens die eerste fase van die PHALS- projek, naamlik die eerste toetsing (basislyntoetsing) van die studiepopulasie in 2010. Die navorser het die toetsing van die fundamentele bewegingsvaardighede en motoriese behendigheid behartig, en daarom kan die studie as ‟n sekondêre data-analise beskou word.

1.7.1 Navorsingsontwerp

Die doel van die navorsingsontwerp is om geldige en betroubare data in te samel, en die keuse van die ontwerp hang af van die navorsingsdoelwitte (Fraenkel & Wallen, 2008:259; Van Vuuren, 2008:20).

Hierdie studie het van kwantitatiewe navorsing met ‟n eenmalige dwarssnitontwerp gebruik gemaak. Kwantitatiewe navorsing se oogmerk is om hipoteses te toets met numeriese waardes eerder as om komplekse verskynsels deur verbale beskrywings te verduidelik (Suter, 2006:11). Die kwantitatiewe navorsingsontwerp is die mees gepas in die lig van die doelstellings van hierdie studie, aangesien kwantitatiewe navorsing gebruik word om feite te bepaal, om beskrywende statistiek te bereken, om korrelasies te bepaal en om voorspellings te maak (Thomas et al., 2008:18). Kwantitatiewe navorsingsmetodes sluit statistiese analises van gestandaardiseerde meetinstrumente, prestasie data, en sensusdata, in (Pine, 2009:2). Die kwantitatiewe navorsingsontwerp is verder spesifiek uitgesoek vir die volgende redes, wat ook in die huidige studie na vore gekom het, soos deur Creswell (2003:19) genoem:

 Dit staaf voorafbepaalde benaderings.

 Verkry numeriese data sodat leerders se persentiele en versamelde data geëvalueer kan word.

HOOFSTUK 1

16

 Dit identifiseer veranderlikes van die studie en verbind dit om navorsing uit te voer.

 Gebruik van toetsbatterye wat geldig en betroubaar is. Data wat in die studie bevind is, kan met norme vergelyk word.

 Dit observeer en meet inligting numeries.

 Maak gebruik van onpartydige en statistiese benaderings.

 Dit is oorsaak-en-gevolg denke, vermindering van spesifieke veranderlikes en hipoteses en vrae, en maak van metings en waarneming gebruik, en die toets van teorieë.

 Maak gebruik van strategieë soos eksperimente en ondersoeke, en samel data in van voorafbeplande instrument wat statistiese data oplewer.

Verder word die kwantitatiewe benadering met die filosofie van positivisme (Ary et al., 2010:23; Fraenkel & Wallen, 2008:423) geassosieer. Positivisme is ‟n navorsingsfilosofie wat gekenmerk word deur objektiewe ondersoek, gebaseer op meetbare veranderlikes (Ary et al., 2010:23). Dit behels dat die wetenskap primêr gemoeid moet wees met die verduideliking en die voorspelling van gebeurtenisse wat waargeneem en gemeet is. Positiviste glo dat ware kennis op wetenskap gebaseer is (Welman, 2005:11). Hierdie studie het dus ‟n kwantitatiewe navorsingsontwerp geïnkorporeer met ‟n sterk positivistiese grondslag.

1.7.2 Ondersoekgroep

Proefpersone is vir die doel van hierdie studie geïdentifiseer deur in die groter projek van steekproefneming gebaseer op veelvoudige fases gebruik te maak volgens die riglyne van Gay en Airasian (2000) en Leedy en Ormrod (2005), en wel volgens die volgende stappe:

 Stap 1: Daar is besluit op die stedelike omgewing waarin die studie gedoen is, naamlik die Potchefstroom-omgewing

 Stap 2: ‟n Tros- of bundelsteekproef van agt skole is ewekansig gedoen uit al die skole in die Potchefstroom-omgewing (N=312)

 Stap 3: ‟n Ewekansige steekproef van ≈ 40 proefpersone is uit elk van die agt skole gekies

 Stap 4: ‟n Beskikbaarheidsteekproef van ≈ 25 proefpersone is gekies uit die ≈ 40 proefpersone wat ewekansig uit elke skool gekies is.

Die totale aantal proefpersone wat uiteindelik spesifiek vir die doel van hierdie studie getoets is, was 239 Senior Fase leerders (98 seuns en 141 meisies) tussen die ouderdomme 13 en 14 jaar. Die verspreiding van die proefpersone wat geïdentifiseer is, is binne die verskillende bevolkingsgroepe en proporsioneel in die steekproef verteenwoordig (45 Wit, 192 Swart en twee Bruin leerders).

GERELATEERDE DOCUMENTEN