• No results found

Hoofstuk 2: Die begrip kerk: die wese, kenmerke en eienskappe met die oog op

2.3 Kenmerke van die kerk

2.3.6 Samevattend

As kerk moet die gemeente die Woord, sakramente en tug suiwer bedien. Die suiwere bediening van die Woord hoort by die wese van die kerk (being) terwyl die sakramente en die tug met die welwese (well being) van die kerk te doen het (Raymond, 1998:854). Dit is noodsaaklik vir die behoud van die kerk van die Here (universeel en plaaslik). Aan die hand van hierdie drie kenmerke moet ‘n kerk getoets word om vas te stel of dit ‘n ware of valse kerk is. Visitatore moet dan die drie kenmerke verreken in hulle ondersoek en besoek, want kerkvisitasie is kerkleiding en reformasie (Van Wyk, 1996:8).

In die teologies-etiese benadering is dit belangrik dat die kenmerke gehandhaaf word. Dit wat verkeerd is moet afgebreek (vermaan) word, dit wil sê suiwere bediening van die tug. Die kerk

moet opgebou word in die geloof en so vertroos word en verder moet die kerk uitgebou word en so versterk word in die hoop.

2.4 Eienskappe

2.4.1 Inleidend

God in Christus versier sy kerk met eienskappe. Hierdie eienskappe is verweef met mekaar en vorm so ‘n eenheid (vgl. Die belydenis van Nicea en die Apostoliese Geloofsbelydenis).

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (art. 27) gee die volgende eienskappe van ‘n kerk:  Eenheid

 Heiligheid  Algemeenheid

 Apostolisiteit (Dijk, 1976:259; Heyns, 1992:327-332).

Die ware kerk moet die eienskappe in sy geheel betoon saam met die kenmerke van die kerk en dit moet gebruik word deur visitatore as maatstawwe om te meet of ‘n kerk ‘n ware kerk is. Die gawe, nl. God wat dit gee, hou ook in dat daar ‘n opgawe is. Visitatore moet help om hierdie eienskappe uit te bou.

2.4.2 Eenheid

Die begrip eenheid is onlosmaaklik verbonde aan die begrip kerk (Pretorius, 1996:64). Kerkwees dui op eenheid in Christus (Raymond, 1998:839). Dit is ‘n eenheid deur die Woord en Gees van dié wat in Jesus Christus glo (Joh. 17:21; Ef. 4:4-6). Die oorsprong is dus God die Vader wat die kerke roep en verkies deur die Seun en die Heilige Gees. Dis ‘n roeping tot een belydenis in die Drie-eenheid (Celliers, 1995:20).

Volgens Heyns (1978:377) kan die eenheid van die kerk in verskillende aspekte aangedui word waarin hy die eenheid rondom oorsprong, roeping (1 Kor. 1:24), belydenis (1 Kor. 1:2), getuienis, gemeenskap, diens (Matt. 20:28) en organisasie (1 Kor. 12:12) onderskei. Heyns (1977:119-121) voeg nog ‘n verdere aspek by, naamlik die eenheid van wese.

Van Genderen en Velema (1992:643) onderskei die eenheid van die kerk as gawe (Joh. 17; Hand. 2:41-47; 1 Kor. 12:4-27; Ef. 4:1-6). Die kerk is een liggaam. Hulle gaan verder en wys op die eenheid as roeping (Ef. 4:1-6; NGB, art. 27). Volgens die skrywers is verdeeldheid ‘n situasie waarmee niemand vrede kan hê nie (Van Genderen et al, 1992:646). Daar moet egter

gelet word dat daar ook ‘n verskeidenheid is in kerkwees en dit moet egter verreken word. Die eenheid is volgens Du Plooy (1982:401) tereg ‘n eenheid en verskeidenheid.

Die eenheid van die kerk is ‘n eenheid in die ware geloof (Van’t Spyker, 1990:261). Die geloof is ‘n gewisse kennis en ‘n vaste vertroue (HK So 7, vr. en antw. 21) wat ‘n gelowige laat vasgryp aan die één God omdat hy reeds deur Hom gegryp is (Fil. 2:12). Hierdie eenheid is die eenheid in ware geloof, eenheid in die waarheid (Van der Merwe, 2009:16; Van’t Spyker, 1990:262). Christus is die waarheid en sy Gees en Woord getuig van die waarheid en so lei die Gees die kerk in die waarheid (Joh. 14:16; Van der Merwe, 2009:16; Van’t Spyker, 1990:261).

Die eenheid van die kerk word ook geopenbaar in sy belydenis en in die besonder die belydenis dat Jesus die Christus is (Matt. 16:15-19). Christus sê self dat Hy op hierdie belydenis sy kerk sal bou: “Hierdie belydenis aangaande Jesus het die middelpunt van die Apostoliese

geloofsbelydenis geword – ‘n belydenis wat baie kerke met mekaar gemeen het, ten spyte van talle ander verskille” (Heyns, 1992:327). Sonde bring verdeeldheid, maar die Skriftuurlike

belydenis bring eenheid. Die belydenis en geloof in God en in Christus, is die diepste motief vir die eenheidsband wat kerke aan mekaar bind (Du Plooy, 1982:61).

Die eenheid in geloof en eenheid in belydenis en getuienis (Celliers, 1995:20) moet noodwendig die gelowiges (versoendes) tot ‘n eenheid saambind. Hulle is trouens almal mense wat gewas is met die bloed van Christus. Dit beteken dat die gelowiges nie net met God versoen is nie, maar ook met mekaar (Pretorius, 1996:64). Daar is ‘n gemeenskap wat op ‘n etiese wyse uitgeleef moet word (Celliers, 1995:20) met die regte motief, doel, middel en gevolg.

Hierdie eenheid in versoening bring nog ‘n verdere eenheid na vore, naamlik die van die gemeenskap van die heiliges. Dit is wat Paulus ook beklemtoon as hy sê: “As een lid ly, ly al

die lede saam en as een lid vreugde ervaar, is almal saam bly.”(1 Kor. 12:26.) Die

gemeenskaplike band met God deur Christus bind die gelowiges tot ‘n geloofseenheid saam as broers en susters in die een huisgesin van God (1 Tim. 3:15). Eenheid moet egter nie met eendersheid verwar word nie. Van Genderen en Velema (1992:646) wys daarop: “Uniformiteit

is geen vereiste voor eenheid. We behoefen het niet in alles met anderen eens te zijn om toch met hen één te kunnen zijn”. Uniformiteit of eendersheid tref ‘n mens by die sekte- en

kultewese aan. Verskeidenheid is deel van kerkwees solank dit in die eenheid geskied van die Bibliologiese, Dogmatologiese en Diakonale eenheid (Du Plooy, 1982:199 en verder).

2.4.2.1 Die eienskap eenheid en implikasie vir kerkvisitasie

 daarop let dat eenheid ‘n gawe en opgawe is. Die Here gee die gawe, nl. die eenheid in Christus. Die opgawe , nl. om een te wees in Christus, moet uitgebou word. ‘n Gelowige moet hom voeg by die ware kerk (NGB, art. 28) en mag hom nie afskei van die ware kerk nie (NGB, art. 29). Hierdie eenheid is ‘n eenheid in die waarheid en in liefde. Daarom moet visitatore in die eenheid aandag gee aan die suiwere leer (Kerkorde, art. 44, 54, 55). Dit bind die kerk as ‘n eenheid saam. Eenheid beteken nie eendersheid nie. Kerke is nie fotostate van mekaar nie.

 daarop let dat daar ‘n verskeidenheid in die eenheid is.

 hulle broederlik vermaan indien daar skeuring en verdeeldheid is, want dit is oneties.

 lewende kerke vertroos en versterk om die eenheid uit te bou. Dit is teologies-eties reg (motief, doel, middel en gevolg).

 met herderlike besorgdheid sorg dra dat die suiwerheid van die geloof toegepas word en dat dit eties uitgeleef word.

 toesien dat die belydenis van eenheid ook ‘n belewenis is, want verdeeldheid bedreig eenheid en is sonde en moet vermaan word.

2.4.3 Heiligheid

Die kerk is ‘n heilige eenheid, ‘n vergadering van geheiligdes in Christus (Raymond, 1998:842). Die gelowiges word ook in die Skrif heilig genoem (Rom. 1:7; 15:25; Ef. 2:21; 1 Pet. 2:9). Van Genderen en Velema (1992:647-8) wys op heiligheid as iets sonder sonde, rein, volmaak, verhewe en onkreukbaar. Heilig beteken enersyds afsondering van wat sondig is en andersyds toewyding aan die Here en sy diens (Brown, 1971:224; Van’t Spyker, 1990:268). Van Genderen en Velema (1992:648) wys ook op ‘n verdere aspek om aan God toe te behoort. Die gelowige is heilig omdat hy deur die bloed van Christus bevry is van sonde (Rom. 6) en daarom opgeroep word om heilig te leef (Heb. 12:14; 1 Tes. 4:3). Heilig lewe beteken om volgens die Woord te lewe. Tereg sê Heyns (1992:328): “Die heiligheid van die kerk is sy innige

verbondenheid met God in sy Woord. Die kerk is kerk-van-die-Woord en leef voortdurend en nougeset onder die heerskappy van die Woord”. Die Woord is die tweesnydende swaard wat

die sonde (onheiligheid) raaksteek, oopvlek en uitsny (Heb. 4:12,13), maar die wond ook weer genees en reinig met die bloed en Gees van Christus (Heb. 9:14; 1 Joh. 1:7). Dit gebeur deur die tweesnydende swaard. Dit steek raak, vlek oop en sny uit. Die Woord vestig die heiligheid in ‘n gelowige en in die kerk. Die tug is daar om te waak oor die heiligheid (Du Plooy,

1982:414). Die tug moet egter pastoraal van aard wees (Van’t Spyker, 1990:270-1) en dit moet ook teologies-eties wees, dit wil sê die regte motief, doel, middel en gevolg.

Samevattend kan die heiligheid in twee aspekte verdeel word, naamlik gawe en opgawe. Op die manier word die kerk wat dit is (Van Genderen et al, 1992:649,650). Sy verheerlikte gestalte sal eers vergestalt met die wederkoms van ons Here Jesus Christus. In die nuwe Jerusalem sal daar niks onreins inkom nie (Op. 21:2,10,27).

2.4.3.1 Die eienskap heiligheid en implikasie vir kerkvisitasie

‘n Visitator moet

 besef dat heiligheid as eienskap ‘n gawe (Rom. 1:7) asook ‘n opgawe is.

 die gemeente opskerp om heilig te leef. Dit beteken dat hulle in Christus geheilig is, toegewy is aan Hom en afgesonder is vir Hom. Dit moet uitgeleef word sodat hulle eties verantwoord op die roeping. Dit moet hulle erns wees.

 die kerkraad en gemeente opskerp en indien hulle nie heilig leef nie, moet die tug toegepas word (Kerkorde, art. 44). Dit geskied in liefde (waarheid in liefde) en geestelik. Visitatore moet saam met die gemeente stry in waarheid in liefde (nie veroordelend nie, maar beoordelend). Die middel wat gebruik word, is die Woord en wet.

 die heiligheid teologies-eties beoordeel met motief, doel, middel en gevolg.

2.4.4 Algemeenheid

Die begrip algemeen of katoliek dui op algemeen, universeel of op die geheel. Daarteenoor staan gedeeltelik of afsonderlik (Van Genderen et al, 1992:650; Heyns, 1977:137). Die woord

algemeen of katoliek wys daarop dat die kerk nie op een plek en tyd vasgevang kan word nie

(Dijk, 1976:259; Pretorius, 1996:65). Dit is geheel omvattend (Van’t Spyker, 1990:275) en is nie eksklusief nie (Raymond, 1998:843).

Die woord ekumenies wat as wêreldwyd of universeel verstaan moet word, sê dan ook duideliker wat hiermee bedoel word (Dijk, 1976:259). Die algemeenheid as eienskap van die kerk dui aan dat al die gelowiges van alle eeue en plekke hulle volle saligheid van Christus verwag en verkry. In artikel 27 van die NGB kom die algemeenheid van die kerk sterk na vore as die kerk aangedui word as “’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat

almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag…”. Die katelositeit is juis gesetel in Jesus

Van Genderen en Velema (1992:652) wys op die kwantitatiewe aspek, naamlik dat uitverkorenes van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader word. Hulle wys ook op die kwalitatiewe aspek (HK, So. 21), naamlik dat die kerk vergader word in die eenheid van ware geloof. Dit hou in dat die katelositeit (algemeenheid) ook die veelheid van tale en kulture insluit (Matt. 28:19; Gal. 3:28; Op. 5:9,10; 7:9). Die kerk is in veelheid en veelkleurigheid (Van’t Spyker, 1990:274).

2.4.4.1 Die eienskap algemeenheid en implikasie vir kerkvisitasie

‘n Visitator moet

 wys dat die kerk katoliek (universeel) en ‘n gawe van God is. Daar is egter ook ‘n verskeidenheid en word deur afstand geskei. Hierdie skeiding is nie ‘n beginsel nie, maar prakties. So is dit dat kerke in kerkverband met mekaar staan.

 wys dat die gawe uitgeleef moet word. Dit hou ook ‘n opgawe in en dit moet gesoek en opgesoek word. Indien ‘n kerk homself afskei van die kerkverband, moet daar duidelik navraag gedoen word na die saak. ‘n Kerk moet homself voeg by die ware kerkverband. Dit is ook ‘n etiese vraagstuk.

 vermaan indien die katolieke belewing ‘n skeiding word (Kerkorde, art. 44) in plaas van ‘n onderskeiding.

 let daarop dat skeiding kragtens die uitlewing kan plaasvind. Hierdie skeiding moet dan verantwoord word. Indien daar eenheid in diens, leer en tug is en daar nogsteeds ‘n skeiding is, moet dit met die etiese sleutels ontsluit word.

2.4.5 Apostolisiteit

Volgens Heyns (1977:147; 1992:332) word die kerk slegs in die geloofsbelydenis van Nicea

apostolies genoem. Dit verwys waarskynlik na die historiese band tussen die kerk en die

apostels, dit wil sê dat dit ooreenstem met die leer van die apostels (Raymond, 1998:844; Van’t Spyker, 1990:279).

Die begrip het egter ook ‘n verdere betekenis, naamlik die opdrag wat die Here aan die apostels gegee het voor sy hemelvaart: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my

dissipels…” (Matt. 28:19). Verder het die Here Jesus aan die apostels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…”(Hand. 1:8).

As dit so verstaan word, dui die apostolisiteit van die kerk op sy gerigtheid en verantwoordelikheid om die evangelie in die wêreld uit te dra. Dit was die taak van die apostels

om die grense tussen waarheid en dwaalleer aan te toon (Gal. 1:6-9; 1 Joh 4:1-3). Die apostels moes die basis daar stel, maar ook die opbou van die kerk van die Here (Ef. 4:11,12). Die gemeente-opbou is deur andere na hulle dood voortgesit (Van Genderen et al, 1992:655). God roep diensknegte om die gemeente/kerk op te bou. Hulle het ‘n besondere taak wat deur Venter (1976:37-8) beskou word as bediening van die versoening (2 Kor. 5:18). Hierdie bediening van die versoening kan deur elke Christen in die amp van die gelowige gedoen word (2 Kor. 5:11a), maar dit moet veral gedoen word deur die besondere ampte (2 Kor. 5:20a). Die boek Handelinge toon aan hoe die taak uitgevoer is deur die gelowiges en die ampsdraers van die eerste Christelike kerk. Die kerk sal hierdie taak egter nooit in eie krag kan uitvoer nie, maar slegs as hy daartoe in staat gestel is deur die Heilige Gees (Hand. 1:8).

Die bediening van die versoening kan slegs plaasvind deur die bediening van Woord en sakramente. Dit moet suiwer wees. Die Woord moet sy loop neem onder leiding van die Gees. God is aan die stuur met die uitbreiding van sy kerk, maar die gelowiges moet in die verband gewillige instrumente in sy hand wees.

Visitatore moet egter daarmee rekening hou dat die kerk sy roeping in ‘n sondige wêreld moet vervul en telkens sal stuit op die teëwerking van Satan deur valse lerings en selfs openlike vyandskap (Matt. 24:11; Mark. 13:22; Op. 2:2; 1 Pet. 5:8; 2 Tim. 4:3,4). Dit mag die kerk egter nie verhinder om sy roeping te vervul nie, maar hom eerder aanspoor om dit met nog groter erns te doen. Dit sluit ook in die beoordeling van mense se optrede en standpunte (1 Joh. 4:1). Die kerk het immers van die Here die opdrag ontvang om sy roeping te vervul (Matt. 28:19; Hand. 1:8; 2 Tim. 4:2-4), maar ook die belofte dat Christus deur sy Gees die krag sal gee om die roeping te kan vervul (Matt. 28:20; Hand. 1:8).

Daar is ‘n verband tussen apostolisiteit en apostolaat. Die gevaar bestaan egter dat ‘n mens in die teologie van apostolaat kan verval. Tog moet die kerk uitreik na die wêreld, maar die klem moet op die apostolisiteit val (Van Genderen et al, 1992:657).

2.4.5.1 Die eienskap apostolisiteit en implikasie vir kerkvisitasie

‘n Visitator moet

 aandag gee daaraan dat ‘n kerk die gemeente moet bewaar in diens, leer en tug, maar ook dat die kerk vermeerder moet word. Die apostolisiteit is die roeping van die kerk. Hierdie opgawe is van groot belang omdat Jesus Christus, die Hoof van die kerk, die opdrag gegee het in Matteus 28:18-20. Die kerk moet Bybels wees (Celliers, 1995:22).

 vermaan indien ‘n kerk die getuienis nalaat (Kerkorde, art. 44). Hierdie vermaning moet in liefde en geestelik wees.

 kyk of ‘n kerk reformerend is. Kerkvisitasie is juis daar vir kerkleiding en reformasie (Van Wyk, 1996:8).

 apostolisiteit teologies-eties bejeen (motief, doel, middel en gevolg).

2.5 Samevatting

Uit die voorafgaande het dit duidelik geword dat die kerk nie deur mense gestig is nie, maar van God afkomstig is. Die verskillende terme waarmee dit aangedui word, toon ook aan dat God dit nie net in aansyn geroep het nie, maar dit steeds onderhou en regeer deur sy Woord en Gees. Visitatore moet deeglik rekening hou met hierdie implikasie (2.2.3).

Die kenmerke van die kerk is die suiwer bediening van die Woord en sakramente en die suiwer toepassing van die tug. Met suiwer word by al drie die kenmerke bedoel dat dit ooreenkomstig die Woord van God moet wees. Visitatore moet rekening hou met die implikasie (2.3.5).

Die eienskappe van die kerk is eenheid, heiligheid, algemeenheid en apostolisiteit. Hierdie eienskappe moet in leer en lewe deur die lidmate van die kerk vertoon word. Visitatore moet rekening hou met die implikasies (2.4.2.1, 2.4.3.1, 2.4.4.1, 2.4.5.1).

Genoemde oorsprong, kenmerke en eienskappe van die kerk behoort by enige ware kerk aanwesig te wees. Met kerkvisitasie moet daar, deur besoek af te lê, gekyk word of ‘n kerk nog waarlik kerk is en of die kenmerke en eienskappe aanwesig is. Visitatore moet die kerke vermaan, vertroos en versterk om waarlik kerk van Christus te kan wees.

Buite die kerk is daar nie heil nie (Van’t Spyker, 1990:282) en visitatore behoort dit vir die kerke ook te sê. Daarom moet ‘n gelowige aansluit by die ware kerk (NGB, art. 28). Wie die kerk nie as moeder het nie, kan God ook nie as Vader hê nie (Van’t Spyker, 1990:282). Dit moet teologies-eties bejeen word deur te vermaan, vertroos en versterk en die etiese sleutels, nl. motief, doel, middel en gevolg moet gebruik word om dit te ontsluit.