• No results found

Die hooffoto van die artikel beslaan die hele eerste bladsy en wys ’n gelukkige Ina Bonnette waar sy op haar sitkamerstel sit omring deur haar geliefde diere. Ina glimlag blymoedig vir die kamera met haar voëltjie op haar skouer, terwyl sy die kat langs haar vryf. MY PAD NA GENESING lees die hoofopskrif en in die subopskrif stel Huisgenoot Ina Bonnette, slagoffer van die ‘Modimolle-monster’, vertel sy wil ander help

(Scholtz, 2012e: 14).

Huisgenoot se raming van Ina Bonnette in hierdie artikel kontrasteer sterk met hul

raming van haar in vorige stories. “Ina Bonnette se hare is nou pers vir haar Go-Purple projek wat vernielde vroue bystaan” skryf Huisgenoot in die fotobyskrif (Scholtz, 2012e:

14). Op bladsy vyftien verskyn die onderstaande foto van Ina en haar dogter, Angelique.

Huisgenoot wys ook Ina by een van haar motiveringspraatjies en in die fotobyskrif sê

Ina, “haar boodskap aan die vroue is baie eenvoudig” (Scholtz, 2012e: 15).

Die onderstaande foto van die vermoorde seun saam met sy stiefpa, wat voorheen ook gepubliseer is deur Huisgenoot, word weer gebruik op bladsy vyftien.

Huisgenoot gebruik die menslikebelangraam deurlopend in die storie en raam die

artikel emosioneel deur die nuus te verpersoonlik. Ina se gevoelens, haar ervaring en haar aangrypende persoonlike beskrywing van haar herstelproses is die vertrekpunt van die vertelling. Huisgenoot gebruik dus die menslikebelangraam omdat die vertelling sterk gekoppel word aan ’n menslike element (sien afdeling 2.6).

In die inleiding raam Huisgenoot die storie sensasioneel: “Ina Bonnette het nou die dag haar vermoorde seun, Conrad, weer gesien. Nie in haar album of in die geraamde foto in die eetkamer waar sy twee kerse vir hom laat brand nie. Reg voor haar, lewensgroot” (Scholtz, 2012e:15). Ina vertel: “Ek het ’n duidelike visioen gehad” (Scholtz, 2012e:15).

Die emosionele, narratiewe vertelling van Ina wat haar vermoorde seun in ’n visioen sien raam die storie sensasioneel. Lesers identifiseer makliker met nuus wat verduidelik word deur iemand se persoonlike ervaring en die vereenvoudiging en verpersoonliking van nuus is volgens Bird (2009:41) ’n teken van sensasionalisme.

Die oomblik waarna sy so gesmag het, het in haar sielkundige se spreekkamer plaasgevind vertel Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). “Sy kon hom weer in die oë kyk en hom vertel wat sy graag wou” (Scholtz, 2012e:15). Die emosie van die vertelling is aangrypend. “Boeta, jy’t dit gemaak. Boeta, Ma is jammer. Ek hoop nie jy is kwaad vir my nie” vertel Ina (Scholtz, 2012e:15). Huisgenoot beskryf hoe Ina ’n paar dae ná haar seun se dood met “rooi gehuilde oë en sy eksamenuitslae” op haar skoot gesit het (Scholtz, 2012e:15). “Hy het onderskeidings vir al sy vakke gekry” (Scholtz, 2012e:15).

Huisgenoot gebruik die menslikebelangraam hier baie sterk in die raming van die

storie. Die sterk emosionele invalshoek, die beskrywende, narratiewe vertelling en die treffende aanhaling van Ina se hartseer woorde raam die storie sensasioneel (sien afdeling 2.7). Die konflikraam is ook deur Huisgenoot gebruik wanneer die beriggewing fokus op Ina se innerlike wroeging.

Huisgenoot skryf: “Onbeantwoorde vrae kwel haar steeds” (Scholtz, 2012e:15). Sy

wonder of Conrad geweet het “sy was bloeiend aan haar bed vasgebind” toe Kotzé hom doodgeskiet het (Scholtz, 2012e:15). “Het hy my krete uit die kamer gehoor en dat ek hom wou help?” vra Ina emosioneel (Scholtz, 2012e:15).

Die prosastyl van beriggewing, wat Huisgenoot voortdurend gebruik het in hul dekking van die Modimolle-tragedie, is ook duidelik in hierdie artikel.

Sedert Ina die visioen gehad het, “het ’n rustigheid oor haar gekom” skryf Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). “Sy het berusting begin vind, ’n nuwe fase van rou betree. Sy bevind haar nou op die weg van hoop, genesing en oorwinning” berig Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). Die emosionele, beskrywende narratief wat Huisgenoot hier gebruik dui op die sensasionele raming van die storie (sien afdeling 2.7). Huisgenoot berig dat elkeen van Ina se motiveringspraatjies eindig met ’n staande applous van die gehoor en dan speel haar spesiale lied van Juanita du Plessis, Tel op jou oë, op na Bo. So eindig die eerste afdeling van die artikel.

In die volgende afdeling fokus Huisgenoot op die voorval wat alles begin het.

Huisgenoot skryf weer in ’n aangrypende prosastyl. “Ina skryf nou haar verhaal”

(Scholtz, 2012e:15). Sy was op soek na ’n nuwe begin toe sy met slegs ’n tas klere in Modimolle aangekom het, berig Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). “Min het sy toe geweet haar pad sou vier jaar later kruis met dié van die man wat as die Modimolle- monster bekend sou word, die man wat in November verhoor sal word op aanklag van haar seun se moord” (Scholtz, 2012e: 15).

Die raming van die storie is sensasioneel, omdat Huisgenoot in hul raming die nuus drasties verpersoonlik en die emosie buitengewoon sterk beklemtoon (sien afdeling 2.7). Hierdie emosionele raming hou verband met die menslikebelangraam en verhoog ook die drama en intensiteit van die storie.

In die volgende paragraaf gebruik Huisgenoot weer die konflikraam wanneer hul die geweldsmisdaad beskryf. Huisgenoot skryf sy is na haar vervreemde man se huis “gelok” en “oorval” en toe op die bed “vasgemaak” waar sy “herhaaldelik verkrag en wreed gemartel is” (Scholtz, 2012e:15). Daar het hy vir haar gefluister: “‘Ounooi, jy het geen idee hoe lief ek vir jou is nie’” (Vermink deur ’n monster, 19 Januarie).

Huisgenoot versterk die konflikraam deur Johan Kotzé se siek woorde weer aan te haal

en die emosiebelaaide woorde; “oorval”, “gelok” en “wreed” verhoog verder die konflik en emosionele impak van die storie (Scholtz, 2012e:15).

Volgende verskuif die fokus na Ina en Huisgenoot beskryf hoe haar pers kapsel blink in die son en vertel hoe Ina lag omdat sy gewig aangesit het (Scholtz, 2012e:15). Die prosastyl van vertelling en die menslikebelangraam word hier sterk deur Huisgenoot gebruik in hul sensasionele raming van die storie (sien afdeling 2.7 & 2.6).

Ina was van die begin af “verbysterend vasbeslote” om “op te staan en die verskrikking te oorleef” (Scholtz, 2012e:15). Huisgenoot berig oor die Go-Purple- projek wat Ina begin het. “Sy wil ’n plek van veiligheid vir mishandelde vroue stig en dit na Conrad noem” (Scholtz, 2012e:15). Huisgenoot skryf dat sy onkant betrap is deur die baie vroue wat haar raad op Facebook vra (Scholtz, 2012e:15). “Hallo! Ek is net Ina! Ek gaan my nie slim hou nie” het sy gedink (Scholtz, 2012e:15).

Deur haar landwye motiveringspraatjies het Ina besef mense “wil by haar leer oor hoop” omdat die meeste van hulle ook traumatiese en gewelddadige verhoudings ken

(Scholtz, 2012e:15). “Jy’t ’n keuse: Staan op of bly lê. Dis nie die Here se doel vir enigeen om mishandel te word nie” sê Ina wat besef het God se doel met haar lewe is om vir ander hoop te gee (Scholtz, 2012e:15).

Die moraliteit- en menslikebelangraam figureer prominent in die raming van die storie.

Huisgenoot vereenvoudig ook deurlopend die artikel deur die verpersoonliking van die

nuus (sien afdeling 2.7). In hierdie geval is Ina die verteller en hoofbron van die storie en Huisgenoot skryf die artikel volgens ’n prosavertelstyl wat die storie emosioneel raam.

In die volgende paragraaf verhoog die drama en emosie verder wanneer Huisgenoot berig dat die pad na genesing moeilik is vir Ina. Ina vertel dat sy en haar dogter, Angelique, gesukkel het met rekeningkundehuiswerk en toe sê sy sonder om te dink: “Ag man, bel net vir Boeta” (Scholtz, 2012e:15). Ina vertel ook hoe sy haar wekker vir halftwee in die oggend stel om nagmerries te voorkom en dat sy sukkel om te konsentreer. Soos toe sy “blank” geslaan het in haar finansiëleraadgewerseksamen. “Ek het net my pen neergesit en gebid” sê Ina.

Huisgenoot berig verder ook dat sy weggetrek het uit haar vorige meenthuis weens

slegte herinneringe (Scholtz, 2012e:15). Die konflikraam is weer effektief gebruik wanneer Ina van haar kind se moordenaar praat. “Sy kon die teenwoordigheid van haar aanvaller en haar kind se moordenaar daar aanvoel” berig Huisgenoot. “Hy het op daardie banke gesit; sy voetspore was daar. Ek kon net nie rustigheid kry nie” vertel Ina (Scholtz, 2012e:15).

Nou het sy en Angelique ’n rustige hawe gevind (Scholtz, 2012e:15). Huisgenoot raam die storie volgens die menslikebelangraam en noem die drie katte, drie honde, die klomp hamsters en die klein papegaai, Spirit, wat almal saam getrek het na die nuwe huis (Scholtz, 2012e:15). Die menslikebelangraam word versterk wanneer Huisgenoot beskryf hoe Spirit by Ina se bloes uitkruip toe sy vir hom die tuinsproeier wou aansit vir ’n stortbad (Scholtz, 2012e:15). “Spirit is natuurlik al wat ek nog van Kotzé het” sê sy (Scholtz, 2012e:15).

In die volgende paar paragrawe beklemtoon Huisgenoot weer die konflikraam.

Huisgenoot skryf Ina kan steeds nie sy naam “oor haar lippe kry nie” (Scholtz,

Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). Sy kan selfs ander mense met die naam Johan nie

uitspreek nie (Scholtz, 2012e:15). Ina kan ook nie vir haar self in die spieël kyk nie (Scholtz, 2012e:15). Sy draai haar lyf skuins sodat sy nie na die letsels op haar lyf hoef te kyk nie, skryf Huisgenoot (Scholtz, 2012e:15). Sy wil ook verdere rekonstruktiewe chirurgie ondergaan aan haar borste wat Kotzé met spykers geskend het (Scholtz, 2012e:15). Huisgenoot berig dat sy nog glad nie “haar kind se moordenaar en haar folteraar” in die oë gekyk het nie (Scholtz, 2012e:15). Daarom berei sy haarself op ’n geestelike vlak voor vir die verhoor. Sy hou haar kop omhoog, skryf Huisgenoot.

Die artikel eindig met Ina se woorde: “‘Ek sal nooit kan sê ek is reg nie,’ Sy kyk weg. ’n Oomblik is sy stil. Dan kyk sy jou stip in die oë. ‘Maar ek is fine,’” (Scholtz, 2012e:15).