• No results found

Postkoloniale diskoers: perspektief en narratief

Hoofstuk 3 – Teoretiese uitgangspunte

3.5 Perspektief en narratiwiteit

3.6.1 Postkoloniale diskoers: perspektief en narratief

3.6.1 Postkoloniale diskoers: perspektief en narratief

Die postkoloniale instelling van ’n roman word dikwels veral bewerkstellig op die vlak van fokalisasie. Dit gaan hier oor “who is representing whom, and how?” soos Gayatri Spivak tereg vra (Childs & Williams, 1997:160), asook om: wie kyk na wie? Soos blyk uit die oorsig in Hoofstuk 2, het Hella Haasse haar as skrywer in haar oeuvre meermale met die koloniale geskiedenis van Indonesië bemoei. Aangesien daar in Sleuteloog sprake is van ’n Nederlandse karakter se perspektief op haar Indonesiese vriende en kennisse (veral Dee), is dit dus nodig om kortliks in te gaan op die teoretisering binne die koloniale en postkoloniale diskoers.

Edward Said se studie Orientalism (1978) het ’n belangrike impuls verleen aan die steeds groeiende veld van akademiese ondersoek wat die naam koloniale diskoers dra. Said (1991:2-3) definieer die Oriëntalisme as “a Western style for dominating, restructuring,

and having authority over the Orient”. ’n Soort mega-diskoers oor die Oriënt het ontwikkel wat die Oriëntalisme besonder magtig gemaak en die idee laat ontstaan het dat slegs Westerlinge regtig die Oriënt ken (Childs & Williams, 1997:99). In Orientalism ondersoek Said, na aanleiding van onder andere Foucault (1989) se opvattinge (Huigen, 1994:124), hoe dié diskoers oor die Nabye Ooste ontstaan en ontwikkel het, en hoe dit die koloniale maguitoefening daar beïnvloed het.

Die nadruk op die Oriëntalisme as ’n diskoers wat bestudeer word vir sy interne samehang eerder as op grond daarvan dat sy representasies van die ‘werklike’ Oriënt geldig is of nie, is gebaseer op Nietzsche se uitgangspunt dat daar geen ware representasie van enigiets kan wees nie (Viljoen, 1996:54). Volgens Huigen (1994:124) val Said nie soseer die Oriëntalistiese diskoers aan deur dit te konfronteer met die werklikheid wat as Oriënt aangedui word nie, maar beskou hy die diskoers (of narratief – LB) eerder as ’n representasie van die werklikheid wat dit voorgee om na te boots, dit wil sê as ’n vervanging van die werklikheid. Hoewel die diskoers slegs ’n taalbousel is, dwing dit wel deur die inbedding in gesaghebbende instituties geloof in die waarheid daarvan af (Huigen, 1994:125). Ook Mackenzie (1995:xii) voel die Oriëntalisme verteenwoordig ’n konstruksie, nie ’n werklikheid nie, maar ’n embleem van oorheersing en ’n wapen van mag.

Een van die mees invloedryke aspekte van Said se Orientalism is sy ondersoek na die manier waarop die Weste die Oriënt as die ‘ander’ konstrueer, dit wil sê as ’n versameling van al die karaktereienskappe wat as nie-Westers (en daarom negatief) beskou word (Childs & Williams, 1997:100). Said is van mening dat die belangrikste taak van die Oriëntalisme in die toekoms sal wees om studies te onderneem wat kontemporêre alternatiewe kan verskaf vir die vroeëre Oriëntalisme en om te ondersoek hoe kulture en mense bestudeer kan word vanuit, wat hy noem, “a libertarian or a non-repressive and nonmanipulative perspective” (1991:24). Die meeste van die resente studies oor die koloniale diskoers sentreer dan ook rondom die vraag op watter wyse die ‘ander’ geken kan word sonder dat dit saamgaan met die vestiging van outoriteit en uitoefening van mag (Viljoen, 1996:54).

Schipper (1990:167) sien dit as volg: die tendens om die vreemde negatief te beoordeel, blyk ’n reël eerder as die uitsondering te wees. Kulturele verskeidenheid word selde aanvaar as iets vanselfsprekends. Inteendeel, meestal word anders-wees nie goedgekeur nie en hou mense by die grense van hul eie groep, ras, geslag, taal, wêrelddeel en kultuur. Schipper bekyk hoe allerhande vooroordele dit vir ons onmoontlik maak om objektief om te gaan met ander volke, kulture en literature en pleit vir groter beskeidenheid wanneer Westerse literatuurwetenskaplikes die literêre produksie van nie-Westerse volke bestudeer. David Spurr (1993:189) stel in The Rhetoric of Empire ’n oplossing ten opsigte van die beskrywing en representasie van die ‘ander’ voor, naamlik dat dié soort teks op selfbewuste wyse sy eie veronderstellings sal ondersoek en erken. In hierdie studie word ondersoek of Haasse tekens hiervan toon in Sleuteloog.

Vanweë die kritiese manier waarop Haasse omgaan met die koloniale ervaring in haar romans in die algemeen en in Sleuteloog in die besonder, kan haar werk in ’n groot mate as postkoloniaal gesien word. Die term postkoloniaal word immers gebruik vir die soort literatuur wat krities omgaan met die kolonialisme en weerstand bied teen koloniale perspektiewe (Viljoen, 2002:93). Elleke Boehmer (1995:3-4) onderskei naas postkoloniaal ook post-Koloniaal (die periode na die Tweede Wêreldoorlog). Sleuteloog kan gedeeltelik as post-Koloniaal beskryf word, omdat heelwat van die gebeure afspeel na die Tweede Wêreldoorlog. Die roman is egter eerder ten opsigte van tyd gesitueer in verskillende stadia: vooroorlogs, gedurende die oorlog, tydens die sosiaal-politieke omwenteling in Nederlands-Indië en Indonesië, en na die oorlog (veral die sestigerjare en die romanhede). ’n Representasie van die Indonesiese geskiedenis word gegee teen die agtergrond van beide Indonesië en Nederland.

Die begrip ‘postkoloniale literatuur’ verwys nie alleenlik na die literêre produksie wat gevolg het na die koloniale literatuur nie; maar spreek ook van ’n kritiese skrutinering van en ingaan teen koloniale verhoudinge en perspektiewe in hierdie tekste, sodat gekoloniseerdes ’n kans gebied word om hulle plek in te neem as historiese subjekte. Daarby het dit dikwels te doen met ’n simboliese omkering, ’n ‘hervorming’ van

dominante betekenisse en algemeen-aanvaarde aspekte. In die proses word tematies en formeel ingegaan teen pro-kolonialistiese diskoerse, soos die mites van mag, rasseklassifikasies, die beeldspraak van onderdanigheid, kulturele eksklusiwiteit, asook verdeling en groepering (sien Boehmer 1995:3). Op dié manier verskuif die swaartepunt deur ’n omkering in perspektief, sodat die leser se simpatie nou nie meer by die sentrum, by die magshebbers lê wat eeue lank die dagregisters en ander tipe geskiedenisse opgelewer het nie, maar eerder by die gemarginaliseerdes wat hier stem kry (Van Zyl, 2003:60). Soos uiteengesit in Hoofstuk 4 geld laasgenoemde voorbeelde in ’n groot mate vir Sleuteloog.

Wanneer daar wel in Sleuteloog deur die oë van die gekoloniseerde gekyk word, al is dit dan ook op ’n indirekte wyse, kan dit op ’n manier gesien word as ’n variasie op “the empire writes back”. Oor hierdie soort postkoloniale literatuur sê Ashcroft, Griffiths & Tiffin (1989:34): “Received history is tampered with, rewritten, and realigned from the point of view of the victims of its destructive progress”. Oor die perspektief van die gekoloniseerde besin Spivak (1988) in haar artikel “Can the Subaltern speak?” Sy noem voorwaardes waaronder die postkoloniale intellektueel stem kan gee aan die stemloses wat uitgeskryf is uit die konvensionele historiografie. Spivak is veral krities teenoor die “first-world intellectual masquerading as the absent nonrepresenter who lets the oppressed speak for themselves” en kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat dit bykans onmoontlik is om stem te gee aan die stemlose ‘ander’ (Viljoen, 2002:92).

In hierdie opsig kan ’n mens vra of die karakter van Dee nie eerder geapproprieer word deur ’n wit skrywer met ’n eie agenda nie. Terry Goldie (1989, in Ashcroft, Griffiths en Tiffen, 1995:232) lewer in hierdie opsig die volgende beswaar: “The indigene is a semiotic pawn on a chess board under the control of the white signmaker”. Myns insiens is dit nie die geval nie, aangesien Haasse juis die subjektiwiteit van Herma se representasie uitlig. Die uitbeelding van Dee in Sleuteloog gaan in heelwat opsigte juis teen hierdie tipe visie in.