• No results found

Parallelle: filmiese allegorie van Suid-Afrika en apartheid

SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING

5.1 Parallelle: filmiese allegorie van Suid-Afrika en apartheid

Watter parallelle kan tussen die film en apartheid in Suid-Afrika uitgelig word? Die doel van hierdie navorsingsvraag is nie net om te toon dat onderdrukkende praktyke in die film ooreenstem met dié van die apartheidsbeleid nie – en dat die ruimtewesens daarom as metafore dien vir onderdrukte ras-identiteite van apartheid nie – maar ook om te bewys dat apartheid die filmiese allegorie is van die verhaalgegewe van District 9. Apartheid verwys, in kort, na die instandhouding, uitbreiding en institusionalisering van geskiedkundige (koloniale) rasse-segregasie (Guelke, 2005:4) wat in 1948 ‘n wetlike instelling geword het in Suid-Afrika (Dubow, 1991:29), hoofsaaklik met die doel om sogenaamde wit superioriteit en “suiwerheid” te onderhou (Dubow, 1991:1). Hierdie program is ideologies geregverdig deur daarna te verwys as “aparte ontwikkeling” (vgl. Rhoodie, 196:69). ‘n Groot aantal

110

ooreenkomste tussen onderdrukkingspraktyke tydens apartheid en gebeurtenisse in die film kom na vore, waarvan die gedwonge verskuiwing van ruimtewesens vanaf Distrik Nege (‘n afgebakende gebied vir ruimtewesens) na Distrik Tien die prominentste is. Dié verskuiwing roep ooreenkomste op met gedwonge verskuiwings (veral die verskuiwing van nie-wit mense vanaf Distrik Ses na die Kaapse Vlakte gedurende 1966) tydens die apartheidsera. Hierdie ontruimings het behels dat die ruimte herbenoem en nuut gekonseptualiseer word deur die onderdrukkende regime. Gevolglik verander die konseptuele aard van die ruimte tesame met die inwoners. Gedwonge ontruimings van nie-wit mense vanuit Distrik Ses (wat verklaar is as ‘n “slegs blankes” gebied) het behels dat duisende mense gedwing is om hul wonings te verlaat onder die Groepsgebiedwet van 1950 (Zegey, 2001:223). Distrik Nege in die film was ‘n oorbevolkte gebied wat vinnig in ‘n plakkerskamp ontaard het (soortgelyk aan Distrik Ses in apartheid). Daarom is daar op gedwonge ontruimings van ruimtewesens besluit.

Soortgelyk aan die apartheidsera is ook openbare fasiliteite wetlik beheer in die film, byvoorbeeld “no non-human loitering” gebiede. “Slegs blanke gebiede” in apartheid bewys dat apartheid grootliks op rassisme gebaseer is (Esterhuyse, 1979:11). Rassisme figureer ook in die film in stellings soos: “at least they’re keeping them seperate from us”. Rassisme kan in die Suid-Afrikaanse konteks onder andere waargeneem word in beledigende benamings wat aan nie-wit mense verskaf is, byvoorbeeld “kaffer”, wat steeds soms gehoor word. ‘n Soorgelyke beledigende kollektiewe bynaam word aan ruimtewesens in die film verskaf, naamlik “prawns”. Hierdie byname (in beide die film en apartheid) het nie slegs op die vermeende “dierlikheid” van die onderdrukte spesie in die film (en rasse in apartheid) gedui nie, maar het ook ‘n neerhalende stereotipiese en kollektiewe rasidentiteit tot gevolg wat individue beroof van individuele identiteite (vgl. Rhoodie, 1968:74).

Onderliggend aan rassistiese beskouings en praktyke is ook die vrees vir sogenaamde verbastering opvallend in die film en stem ooreen met die afskuwelikheid van die idee van bloedvermenging in die apartheidsera (vgl. Esterhuyse, 1979:11). Nadat Wikus valslik beskuldig is van geslagsgemeenskap met ‘n ruimtewese, word hy verwerp deur die mensbevolking. Die film illustreer die intensiteit van die saak in uitsprake soos “I don’t think he can be forgiven – it was like a betrayal”. Volgens die (menslike) samelewing is Wikus ‘n

111

verraaier van alles wat vir mense gangbaar en kosbaar is. Gevolglik is hy nie meer gesien as “een van ons nie” – “he is becoming one of them, a prawn”. Ook die gelykstelling met nie- wit mense in apartheid is beskou as ‘n vorm van rasse-integrasie wat die voortbestaan van die “suiwerheid” van die wit bevolking in die gedrang sou bring (Esterhuyse, 1979:40). In die film is Wikus selfs bereid om sy muterende ledemaat af te kap om aan gelykstelling met ‘n ruimtewese te ontkom. Daardeur het hy ook sy ooreenstemming met ruimtewesens ontken. Hierdie reaksie van Wikus is op ‘n manier verstaanbaar, aangesien hy skaars twee dae vroeër self ‘n onderdrukker van ruimtewesens was. Marginaliserende praktyke van die apartheidsbeleid is ook deur ras-ideologieë versier. Dié onderdrukkende sisteem is byvoorbeeld geregverdig deur ideologiese stellings soos “die swart mens moet op sy plek gehou word” en “ons weet wat goed is vir hulle” (Esterhuyse, 1979:14). Ook in die film praat Wikus met skynbare gesag oor “what the prawn needs”. Ideologiese beskouings in die film het die mense in so mate verblind dat selfs massamoord aanvaar is deur daarna te verwys as bevolkingsbeheer (“population control”). Hierdeur word die magteloosheid en vermeende minderwaardigheid van die onderdruktes beklemtoon.

Volgens Zegey (2001:3) het apartheid hoofsaaklik berus op wit superioriteit teenoor swart ondergeskiktheid. In die film word die ruimtewesens duidelik uitgebeeld as ondergeskiktes – parallel aan swart mense se lot in die apartheidsera – deur onderdruk te word op grond van hul sogenaamde minderwaardige identiteit. Hierdie marginalisering stem ooreen met dié van nie-wit rasse tydens die apartheidsera. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die ruimtewesens metafories is vir onderdrukte rasse van apartheid en dat die mense in die film metafories is vir die bevoordeelde wit ras. Hierdie enkele voorbeelde van ooreenkomste tussen die film en apartheid maak dit duidelik dat apartheid die filmiese allegorie is van

District 9. Die postkoloniale film bied egter weerstand teen die onderdrukkende praktyke

wat ooreenstem met dié van die apartheidsbeleid, byvoorbeeld om die mense (veral van die MNU) aan die einde van die film voor te stel as “boosdoeners”, waar hul eerstens beskou is as “helde” wat die land moes beskerm teen vreemdsoortige ruimtewesens – en om die ruimtewesens (veral Christopher Johnson) voor te stel as helde wat hul marginalisering kon teenstaan. Op hierdie wyse word die onderdrukking van die ander ondermyn.

112