• No results found

Die woord motivering is afgelei van die Latynse werkwoord movere, wat beweeg beteken (Griffiths 2008;19). Motivering kan dus beskryf word as 'n interne toestand wat 'n persoon beweeg om sekere keuses te maak, tot aksie oor te gaan en die aksie te handhaaf (Woolfolk 2010:410; Griffiths 2008:19). Corder in Griffiths (2008:19) skryf die volgende: “ Let us say that, given motivation, it is inevitable that a human being will learn a second language if he is exposed to the data”. Empiriese verifikasie van hierdie stelling, het 'n groot hoeveelheid navorsing deur behavioriste, humaniste, kognitiewe en sosio-kognitiewe sielkundiges gegenereer (Block & Parris 2008:227; Griffiths 2008:19).

Dit is dus nodig om die pertinente teorieё van motivering te bestudeer ten einde die huidige begrip van geletterdheidsmotivering te fundeer.

2.5.1 Motiveringsteorieё

Behavioriste beklemtoon ekstrinsieke motivering; leerders word met ander woorde gemotiveer deur belonings, aansporings en straf. Daar is navorsers wat die kwaliteit van leerders se interaksie met die teks onder hierdie omstandighede bevraagteken, maar opvoeders en ouers argumenteer dat hierdie ekstrinsieke belonings die enigste rede is waarom sommige leerders 'n poging aanwend om te lees (Woolfolk 2010:378; Block & Parris 2008:228).

Die selfbeskikkingsteorie word deur Deci en Ryan in Block en Parris (2008:228) beskryf as 'n behoefte om beheer oor ons lewens te verkry. Daar is bevind dat leerders wat beheer oor hulle leer ervaar, meer gemotiveerd is om leertake aan te pak en uitdagings te aanvaar, soos wanneer hulle toegelaat word om hulle eie keuse ten opsigte van assesseringstake te maak (Woolfolk 2010:381; Block & Parris 2008:228).

Kognitiewe teoretici beklemtoon intrinsieke motivering, met ander woorde, 'n taak word aangepak weens die volgende redes: dit is genotvol en uitdagend of dit ontwikkel spesifieke vaardighede en k ennis. N avorsing dui aan dat intrinsieke motivering nie slegs spontane leer bevorder en volhou nie, maar dat dit tot meer effektiewe leer lei as eksterne vorms van motivering (Woolfolk 2010:379; Block & Parris 2008:228; Griffiths 2008:21).

Sosio-kognitiewe teoretici, soos Bandura, beskou motivering as 'n kombinasie van kognitiewe vermoёns, omgewingsfaktore en gedrag in 'n gegewe situasie (Woolfolk 2010:17). Hulle glo dat individue gemotiveer word deur hulle selfpersepsie en deur hoe belangrik hulle die taak wat aangepak word, ag. Selfwerksaamheid vorm 'n belangrike komponent van sosio-kognitiewe teorieё en word beskou as 'n persoon se oortuiging dat 'n taak suksesvol uitvoer kan word. Dit word bepaal deur suksesse, mislukkings, inligting wat van ander persone ontvang word, asook deur fisiologiese reaksies wat deur omgewingsfaktore bemiddel word. Vygotsky se sosiokulturele teorie beklemtoon dat motivering sosiaal gekonstrueer word en dat hoё orde kognitiewe funksies slegs bereik kan word deur interaksie met meer bekwame persone in 'n sosiale leeromgewing (Grabe 2009:178; Block & Parris 2008:229; Griffiths 2008:25).

Die rol wat motivering in tweedetaalverwerwing speel, word oorheers deur Gardner se sosio-sielkundige teorie van integrasie- en instrumentele motivering (Gardner in Grabe 2009:187). Integrasiemotivering verwys na 'n begeerte om met die teikentaal en kultuur te identifiseer. Dit word gedryf deur positiewe houdings en gevoelens. Instrumentele motivering verwys na di e aanleer van 'n tweede taal as 'n wyse om persoonlike doelwitte te bereik, soos om byvoorbeeld beter werksgeleenthede te verkry (Grabe 2009:187; Griffiths 2008:22; Ramírez 1995:164). Noels in Grabe (2009:188) het bevind dat integrasiemotivering hoofsaaklik bepaal word deur die verband tussen taal en kultuur en di e wyse waarop etniese groepe die wêreld ervaar, terwyl intrinsieke en ekstrinsieke motivering bepaal word deur die wyse waarop die tweede taal in die klaskamer aangebied word.

2.5.2 Motivering in die klaskamer

Motivering speel 'n belangrike rol wanneer aktiwiteite aangepak word, en is die sleutel tot die suksesvolle voltooiing daarvan. Motivering is nie slegs 'n enkele aksie wat deur

die onderwyser uitgevoer word nie, maar behels die ontwikkeling van houdings en aktiwiteite wat leerders tot entoesiastiese deelname aan alle geletterdheidsaktiwiteite aanspoor. G evolglik neem leerders eienaarskap van hulle eie leer wat tot positiewe houdings ten opsigte van geletterdheid lei (Cooper 2000:26).

Linnenbrink & Pintrich (2003:125) het bevind dat opvoeders daarna strewe om leerders se persoonlike belangstellings in ag te neem, sowel as om positiewe emosionele ervarings tydens die onderrigproses te skep. D aar is ten minste drie aspekte van emosionele ervarings wat navorsers as belangrik beskou, naamlik persoonlike belangstelling in die leerinhoud en leermateriaal, die gebruikswaarde van die taak in die alledaagse lewe en hoe belangrik die leerder die toekomstige gebruikswaarde van die leerinhoud beskou (Linnenbrink & Pintrich 2003:125; Applegate & Applegate 2010:226). Leerders se affektiewe of emosionele ervarings in die klas bepaal ook hoe gemotiveerd hulle gaan wees om betrokke te raak in die leerproses. Positiewe emosionele ervarings soos geluk en gevoelens van bekwaamheid motiveer leerders om harder te werk. In teenstelling hiermee, veroorsaak negatiewe emosies soos woede, frustrasie en angs dat leerders ontmoedig word om take te voltooi (Linnenbrink & Pintrich 2003:126-127; Lemmer 1995:93).

Opvoeders kan leerders help om selfvertroue te ontwikkel deur geleenthede te skep waartydens hulle sukses kan beleef deur die effektiewe demonstrasie van vaardighede. Oormatige klem op punte, prestasie en kompetisie moet vermy word (Woolfolk 2010:408; Spencer & Guillaume 2006:209; Lessing & De Witt 1999 50). Leerders moet geleentheid gegee word om hulle lees- en leerervarings te deel, aangesien navorsing aandui dat sosiale interaksies en s amewerking tussen leerders kognisie, intrinsieke motivering en prestasie verhoog (Guthrie et al. in Kennedy 2009/2010:2). Opvoeders kan leerders se metakognitiewe bewustheid ontwikkel deur hulle aan te moedig om na te dink oor die geletterdheidstrategieё wat hulle gebruik. Die toepassing van

metakognitiewe strategieё om hulle eie leerdoelwitte te stel en suksesvol te bereik, vermeerder leerders se selfvertroue en motivering (Kennedy 2009/2010:2).