• No results found

Volgens Van Manen (1990:28) verwys die term metodologie letterlik na “the study of method”. Daar is ʼn duidelike onderskeid tussen die twee terme metode en metodologie. Terwyl metodologie na die filosofiese raamwerk, die fundamentele veronderstellings en eienskappe van ʼn “menslike studie-perspektief” verwys (Van Manen, 1990:28), kan

metode die sekere wyse of manier van ondersoek impliseer (Van Manen, 1990:28). Ten

denke aan die werk gesit word om op ʼn gestruktureerde wyse inligting te bekom. Die term metodologie kan dus in breë trekke verwys na die teorie agter die metode, met inbegrip van ’n ondersoek van die metode wat die navorser moet gebruik en redes waarom hy/sy dit gaan gebruik.

Hierdie studie is gebaseer op ʼn filosofies-kwalitatiewe sowel as ’n empiriese komponent. Dit is dus vanuit ʼn interpretivistiese paradigma gelei waar die hoofdoelstelling(s) behels het om onderwysers se denkraamwerke aangaande volhoubare ontwikkeling te begryp asook om die implikasies wat dit vir die onderwys inhou, te bepaal. Ek het dus van die ontologiese veronderstellings uitgegaan dat die realiteit wat bestudeer word, uit mense se subjektiewe ervarings van die eksterne wêreld bestaan. Op grond daarvan het ek ’n epistemologiese standpunt ten opsigte van hierdie realiteit ingeneem en gebruik gemaak van metodologieë wat onder andere onderhoude ingesluit het. Dit is maar ’n paar van die eienskappe van die interpretivistiese paradigma wat poog om die subjektiewe redes en betekenisse wat sosiale aksie onderlê, te verduidelik (Terre Blanche, Durrheim & Painter, 2006:7). Hierdie paradigma is verder gebaseer op die onderstaande veronderstellings:

• Die menslike lewe kan net van binne verstaan word. Dit kan dus nie vanuit ʼn eksterne realiteit waargeneem word nie. Juis om hierdie rede fokus die interpretatiewe paradigma op mense se subjektiewe ervaringe, op hoe mense die sosiale wêreld konstrueer deur betekenisse te deel, en hoe hulle interaktief met mekaar omgaan en verwant is aan mekaar (Maree, 2007:59). Hierdie paradigma ondersteun die navorser in ’n begrip van hoe mense (dus ook onderwysers) interaktief met hul sosiale omgewing verkeer en dit interpreteer.

• Die sosiale lewe is ʼn distinktiewe menslike produk. Hiervolgens word realiteit veronderstel as iets wat sosiaal gekonstrueer is en nie objektief bepaal word nie (Maree, 2007:59). Die onderliggende veronderstelling is dat daar deur mense in hul sosiale opset te plaas, ʼn groter moontlikheid bestaan om die persepsies wat hulle van hul eie aktiwiteite het, te begryp. Die uniekheid van ʼn gegewe situasie (die opset) is belangrik om die betekenisse wat gekonstrueer is, te begryp en te interpreteer (Maree, 2007:59). Wat hierdie studie betref, wou daar juis deur

middel van hierdie paradigma tot die uniekheid van elke onderwyser se denkraamwerk deurgedring word.

• Die menslike verstand is die doelstellende bron of oorsprong van betekenis. Deur die rykheid, diepte en kompleksiteit van ʼn verskynsel te verken, kan ʼn begrip ontwikkel word van die betekenisse wat mense oor die verskynsel sowel as oor hul sosiale opset meedeel. Maree (2007:59) voer verder aan dat die bekendmaking van die wyse waarop betekenisse gekonstrueer word die navorser in staat stel om insigte oor hierdie betekenisse te verkry en sodoende word sy/haar begrip van die geheel verbeter. In hierdie studie is daar van ses verskillende onderwysers se denkraamwerke gebruik gemaak om my sodoende in staat te stel om ʼn beter begrip van hul onderskeie denkraamwerke (indien enige) te ontwikkel. Dit sou my in staat stel om ʼn verbeterde begrip van die geheel te ontwikkel.

• Menslike gedrag word deur kennis van die sosiale wêreld geaffekteer. Daar bestaan veelvuldige realiteite van die verskynsel wat ondersoek word en hierdie realiteite kan varieer ten opsigte van tyd en plek. Soos wat die mens se kennis en begrip van die sosiale wêreld en die realiteite wat gekonstrueer is, verhoog, word sy/haar teoretiese en konseptuele raamwerk ook verryk. Ek stem dus onder andere saam met (Maree, 2007:60) waar hy beweer dat daar ‘n tweerigtingverhouding tussen teorie en navorsing is – sosiale teorie lig die mens se begrip van kwessies toe, wat op sy beurt die mens ondersteun in die neem van navorsingsbesluite en die wyse waarop hy of sy sin maak van die wêreld.

• Die sosiale wêreld bestaan nie onafhanklik van menslike kennis nie. Kennis en begrip van ʼn verskynsel beïnvloed die navorser konstant wat betref die soort vrae wat hy/sy vra en in die manier waarop hy/sy die navorsing doen. Die navorser se kennis en begrip is altyd beperk tot die dinge waaraan hy/sy reeds blootgestel is, sy/haar unieke ervaringe en die betekenisse wat meegedeel word. Soos wat die navorser deur die navorsingsproses gaan, lig sy/haar menslikheid en kennis hom/haar in en dui soms rigting aan. Ek stem saam met (Maree, 2007:60) dat subtiliteite soos intuïsie, waardes, oortuigings en vorige kennis gereeld die navorser se begrip van die verskynsel wat ondersoek word beïnvloed. Indien die

navorser die wêreld as ekstern en onafhanklik van sy/haar eie kennis en begrip wil beskou, moet hy/sy die subjektiwiteit van sy eie pogings ignoreer (Maree, 2007:60).

2.3 Navorsingsontwerp

Volgens McMillan en Schumacher (2006:117) verwys die navorsingsontwerp na ’n plan vir die selektering van subjekte, die navorsingsomgewing en data-insamelingsprosedure ten einde die navorsingsvraag of -vrae te beantwoord. Dit som dus die prosedures vir die uitvoer van die studie op, met inbegrip van waar, van wie en onder watter omstandighede die data verkry sal word. Anders gestel, die navorsingsontwerp dui die algemene plan aan: hoe die navorsing opgestel is, wat met die subjekte gebeur en watter data-insamelingsmetodes gebruik word. Die bedoeling is om ’n ontwerp te gebruik waar die geldigste en kredietwaardigste gevolgtrekkings vanuit die antwoorde op die navorsingsvrae gemaak kan word. Bogenoemde skrywers het drie hoofkategorieë navorsingsontwerpe identifiseer, naamlik die kwantitatiewe, kwalitatiewe en vermengde metode (mixed method) (McMillan en Schumacher, 2006:22). Binne elk van hierdie hoofkategorieë is daar verskillende soorte ontwerpe. Vir die doel van hierdie studie is daar net op die een kategorie gefokus naamlik kwalitatief aangesien die studie van hierdie aard is. Die kwalitatiewe kategorie bestaan dus onder andere uit etnografie, gevallestudie en gegronde teorie (McMillan en Schumacher, 2006:23).

Hierdie studie is gebaseer op ʼn veelvuldige gevallestudieontwerp. Johnson (1994:20) definieer ʼn gevallestudie as “an enquiry which uses multiple sources of evidence”. McMillan en Schumacher (2006:26) beweer verder dat ʼn gevallestudie ʼn gebonde stelsel of geval is wat oor tyd in besonderhede bestudeer word deur van veelvuldige bronne wat binne die opset aangetref word, gebruik te maak. Die geval kan moontlik ʼn program, gebeurtenis, aktiwiteit, of ʼn stel individue wat deur tyd en plek gebind is, wees. Die navorsing definieer die geval en sy grense. Stake (1995) beweer dat ʼn geval gekies kan word op grond van sy uniekheid of gebruik kan word om ʼn kwessie te illustreer. Die fokus kan dus op een entiteit of verskeie entiteite wees.

Aangesien daar van verskillende onderwysers in verskillende skole en in verskillende opsette gebruik gemaak is, is daar in hierdie studie ʼn kwalitatiewe benadering met ʼn veelvoudige gevallestudieontwerp gevolg, wat deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude gelei is. Hierdie soort navorsingsontwerp het my daarin ondersteun om ʼn duideliker begrip te verkry en kennis omtrent die verskynsel (volhoubaarheid as denkraamwerk) op te doen. Ek het beplan om gedurende een maand onderhoude van om en by een tot twee uur per week elk met onderwysers te voer. Dit het geïmpliseer dat onderhoude ná skool moes plaasvind op die spesifieke tye waarop die onderwysers aangedring het. Data is op band opgeneem, getranskribeer en op grond van inhoud deur middel van die konstante vergelykende metode geanaliseer.

Volgens Fouché (2002) bied ’n gevallestudieontwerp veelvuldige inligtingsbronne aan die navorser terwyl dit terselfdertyd die verkennings- en verduidelikingsproses van die verskynsel fasiliteer. Volgens Bless en Higson-Smith (1995) behels ʼn gevallestudie-ontwerp ʼn verstaanbare en stelselmatige ondersoek van ʼn paar gevalle. Vir die doel van hierdie studie het die monster bestaan uit ses bereidwillige onderwysers binne die NW- en SW-leerareas. Deur middel van semi-gestruktureerde onderhoude en volgens ʼn onderhoudskedule het ek oor ʼn bepaalde tydperk (een maand) data ingesamel, alhoewel Stake (2002) en Fouché (2002) dit duidelik maak dat gevalle soms beperk kan word deur tyd en aktiwiteit.

Wimmer en Dominick (2000) is van mening dat ʼn gevallestudieontwerp voordelig kan wees vir navorsing aangesien dit ʼn groot hoeveelheid inligting en besonderhede van die navorsingsonderwerp verskaf en die navorser in staat stel om met ʼn wye verskeidenheid onverwerkte data om te gaan. Lindegger (2002) voer verder aan dat dit ook voordelig is in dié sin dat hierdie ontwerp voorsiening maak vir oorspronklike idees om vanuit opmerksame en gedetailleerde observasie na vore te kom.

Tog is daar ook beperkings ten opsigte van ’n gevallestudieontwerp. Gevalle kan moontlik ʼn gebrek aan wetenskaplike nougesetheid beleef en gevallestudies kan dalk nie veralgemeenbaar wees nie. Dit kan ook tydrowend wees en navorsing kan groot

hoeveelhede data oplewer wat vir die navorser moeilik kan wees om te analiseer (Wimmer & Dominick, 2000). Met inagneming van hierdie beperkings het ek gepoog om te verhoed dat hierdie uitdagings enigsins inbreuk maak op die gehalte van my studie. Ek het dus probeer om bevooroordeelde perspektiewe te elimineer en om deurlopend alle interpretasies te monitor om dus ʼn nougesette studie te lewer. Die doel van die kwalitatiewe interpretatiewe studie was nie om te veralgemeen nie, maar om ryk beskrywings van die deelnemers se denkraamwerke ten opsigte van hul leefwêreld te verkry.

Die studie word eerstens gelei deur ʼn kritiese bespreking van “volhoubaarheid as ’n denkraamwerk” te verskaf en daarna spesifiek te kyk na die denkraamwerke van onderwysers binne die leerareas Sosiale Wetenskappe en Natuurwetenskappe. ʼn Kritiese bespreking oor die data wat verkry is, volg daarna. Hierdie bespreking sal aspekte aanraak soos byvoorbeeld of onderwysers wel verskillende denkraamwerke het, of die denkraamwerke wel die manier waarop hulle onderrig beïnvloed, en watter moontlike voorstelle ter verbetering van ’n denkraamwerk ten opsigte van volhoubare ontwikkeling met in-diens-onderwysers (dalk opleiding) sowel as met onderwysers-in-opleiding gemaak kan word.

Alhoewel die gedagte van “volhoubare ontwikkeling as denkraamwerk” in hierdie studie verken is, is dit belangrik om in gedagte te hou dat daar nie ’n vasgestelde denkraamwerk of model ten opsigte van volhoubare ontwikkeling voorgestel gaan word nie. Juis as gevolg van die omstredenheid en kontroversie wat die term volhoubare ontwikkeling ontlok, is dit onmoontlik om ’n rigiede model vas te stel. Hierdie studie het ook nie ten doel gehad om my posisie of standpunt ten opsigte van “volhoubaarheid as ’n denkraamwerk” weer te gee nie, maar om die moontlikheid van hierdie gedagte krities te bespreek deur van uiteenlopende literatuur gebruik te maak, sodat die leser self tot nuwe insigte kan kom deur die moontlikheid van hierdie gedagte in oorweging te neem.

Terre Blanche et al. (2006:21) noem dat dit ’n belangrike deel van die navorsingsproses is om duidelike en ondubbelsinnige definisies van sleutelbegrippe te verskaf. Dié

skrywers beweer verder dat ’n literatuuroorsig aan die navorser bronne verskaf vir die genereer van definisies van sleutelbegrippe wat tydens die studie geoperasionaliseer moet word.

Lewandowski (1990:165) definieer begrippe as kenniseenhede, en beweer dat objekte na gelang van hul eienskappe in eenhede saamgevoeg moet word. Sartori (1984:11) is van mening dat ʼn konseptuele analiseringsproses in drie stadiums voorkom: anatomie, rekonstruksie en begripsformulering. As gepraat word van die anatomie van ʼn begrip, beteken dit dat die konstituerende elemente (eienskappe) van die begrip geïdentifiseer word. Rekonstruksie beteken dat die konstituerende elemente herorganiseer en op ʼn logiese manier voorgestel word. Begripsformulering kan dus ook beskryf word as ’n definisie aangesien dit die finale veralgemening waarin die begrip so breed en wyd moontlik beskryf word, behels.

Hirst en Peters (1998:33) is van mening dat die bedoeling met ʼn konseptuele analise is om deur die woorde te sien, om ʼn beter begrip van die ooreenkomste en verskille wat aantoonbaar is, te verkry. Verder beweer die skrywers dat ʼn konseptuele analise ons help om meer spesifiek te wys op dit wat implisiet in ons morele bewustheid is. Dit stel ons verder in staat om effens terug te staan en oor die status van die vraag te reflekteer. Dit bevry ons dus om ʼn fundamentele vraag in etiek te vra, naamlik of hierdie aanspraak regverdigbaar is. Van Wyk (2004:8) beweer dat ʼn konseptuele analise oor die totstandkoming van betekenisse of terme handel en sê dit kan soms met regverdiging verbind word.

In hierdie studie is daar dus na die begrip volhoubare ontwikkeling as denkraamwerk gekyk deur onder andere na die werke van Bonnett (1999, 2002, 2003, 2007), Scott (2002), Reid, Teamey en Dillon (2002), Stables (2002) en so meer te verwys. Volhoubare

ontwikkeling as denkraamwerk sal egter nie volgens bogenoemde drie stadiums soos deur

Sartori (1984:11) beskryf, bespreek word nie. Alhoewel ek melding maak van hierdie fases, is die begrip volhoubaarheid as ’n denkraamwerk nie konseptueel geanaliseer nie, en weens beperkte tyd en ruimte word slegs ’n breë kritiese bespreking verskaf.

2.4 Operasionalisering

Volgens Mouton en Marais (1990:64) behels operasionalisering die ontwikkeling van ’n meetinstrument waardeur moontlike akkurate data van ’n spesifieke verskynsel verkry kan word. Terre Blanche et al. (2006:51) is van mening dat operasionalisering meer bekend is in positivistiese navorsing waar die teoretiese definisie in waarneembare aanwysers van ’n konstruk vertaal word. Geldigheid word dus gedefinieer tot die mate waartoe die operasionele definisie ’n ware refleksie van die konseptuele definisie reflekteer.

Kwalitatiewe navorsers is dus gekant teen “betroubare”, “objektiewe” metings en beskou dit as ongeldig. Hulle voer aan dat ’n sosiale verskynsel konteks-afhanklik is en dat dít wat die navorser ondersoek, afhang van die besondere situasie waarin die individu verkeer. Terre Blanche et al. (2006:51) is van mening dat kwalitatiewe navorsing, in plaas van die gebruik van ’n maatskaal as waarnemingsinstrument, eerder die navorser as die waarnemingsinstrument beskou. Data word dus deur middel van onderhoude, waarnemings of die optekening van menslike gedrag ingesamel. Soos reeds genoem, het hierdie studie nie beoog om ’n bepaalde teorie of model voor te stel en dit in die praktyk te toets nie. Dit was ’n interpretivistiese studie wat ten doel gehad het om onderwysers se denkraamwerke te verstaan. Met ander woorde geen konstruk is gemeet nie, maar daar is wel gepoog om tot ’n dieper, ryker en meer insiggewende begrip ten opsigte van onderwysers se denkraamwerke te kom.

Deur die gebruik van semi-gestruktureerde onderhoude is die denkraamwerke van onderwysers rakende volhoubaarheid bepaal om sodoende meer beduidendheid aan die kritiese bespreking te verleen en dit te versterk. Hierdie empiriese komponent moes die verband(e) (indien enige) tussen die literatuur en die praktyk aandui deur die moontlike kontraste, oorvleuelings en verskille in onderwysers se denkraamwerke uit te lig.

Volgens Maree (2007:87) word semi-gestruktureerde onderhoude meestal in navorsingsprojekte gebruik om data wat vanaf ander data opduik, te bevestig. Dit vereis

gewoonlik van die deelnemer om ʼn stel vooropgestelde vrae te beantwoord en laat ook genoeg ruimte om deur te dring tot antwoorde en duidelikheid daaroor te verkry. Semi-gestruktureerde onderhoude definieer gewoonlik die lyn van ondersoek.

Ek het volgens ʼn onderhoudskedule tydens onderhoudvoering van bandopnames en transkripsies gebruik gemaak vir effektiewe data-analise. Data is met woorde geanaliseer deur middel van ʼn opsomming op grond van dit wat ek waargeneem en gehoor het. Die analise is daarna in voorafbepaalde kategorieë sowel as kategorieë wat uit die data self ontstaan het, opgeteken om die moontlike kontraste, oorvleuelings en verskille tussen die verskillende onderwysers aan te dui. Verder is daar van inhoudsanalise gebruik gemaak.

Ter motivering van bogenoemde verloop van die navorsingsproses voer Maree (2007:51) aan dat ʼn kwalitatiewe benadering gebaseer is op ʼn naturalistiese komponent wat poog om verskynsels binne verband (werklike situasies) te verstaan. Hierdie studie is dus in werklike situasies (binne skoolverband en spesifieke leerareas, naamlik Sosiale Wetenskappe en Natuurwetenskappe) uitgevoer om te begryp hoe onderwysers op grond van hul denkraamwerke betekenis maak van volhoubare ontwikkeling binne hul werklike omgewing. Dit het dus nie ʼn eksperimentele (toets-hertoets) situasie behels nie.