• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSONTWERP EN -METODOLOGIE

3.6 Metodes van dataversameling

Dataversameling is ʼn ingewikkelde proses wat bestaan uit verskeie stappe wat met die nodige insig en deernis aangepak moet word (Cohen et al., 2011). Ek het besluit op semi-gestruktureerde individuele onderhoude, sowel as ʼn fokusgroep-onderhoud en waarneming as metodes van dataversameling. Bateson (1990) ondersteun my keuse van die gebruik van onderhoudvoering as ʼn primêre dataversamelingsmetode, omrede dit die geskikste dataversamelingsmetode in die uitvoering van ʼn gevallestudie as navorsingontwerp is. In hierdie studie het die navorser dus gepoog om die leser binne die lewenswyse en ervarings van ʼn plaaswerker as enkelouer te plaas.

3.6.1 Semi-gestruktureerde individuele onderhoude

Semi-gestruktureerde individuele onderhoude is as die primêre dataversamelingsmetode gebruik. Die metode het ten doel gehad om die deelnemers se gevoelens, denke en bedoelings beter te verstaan (Patton, 2002).

Volgens Kvale (1996) fokus ʼn onderhoud op verskeie sieninge van verskillende deelnemende individue oor ʼn spesifieke onderwerp waar wedersydse belang die fondasie daarvan vorm. ʼn Onderhoud word as ʼn tipe intersubjektiewe benadering beskou, eerder as subjektief of objektief van aard. Onderhoude gee aan deelnemers die geleentheid om hul vertolkings van die wêreld waarin hul leef, te omskryf op grond van hul eie opinies in sekere situasies (Merriam, 2009). Onderhoude as ʼn dataversamelingsmetode is ʼn effektiewe, buigbare instrument deurdat verbale sowel as nieverbale data hierdeur verkry kan word (Dyer, 1995).

Tydens die semi-gestruktureerde individuele onderhoude het die navorser gefokus op die idee dat alle deelnemers oor grondige kennis oor die onderwerp, naamlik ouerondersteuning en -betrokkenheid, beskik. Na afloop van die semi-gestruktureerde individuele onderhoude is die onderhoude getranskribeer en ontleed. Uit hierdie prosesse kon temas identifiseer word. Die metode van dataversameling is gevolg deur ’n fokusgroeponderhoud met die deelnemers. Volgens Patton (2002) is die voordeel van die metode dat die gesamentlike stem van die deelnemers gehoor kan word, om sodoende bepaalde gedeelde kwessies verder te ondersoek.

Volgens Parker en Lynn (2002) is daar min opvoedkundige navorsing wat op gemarginaliseerde groepe in landelike gemeenskappe fokus. Die navorser het tydens die semi-gestruktureerde onderhoude belanggestel in die gebeure en opinies van die verlede en hoe die deelnemers hul huidige wêreldbeskouinge fokus op die tipe ondersteuning wat enkellopende plaaswerkerouers aan hul kinders bied (Merriam, 2009). Semi-gestruktureerde individuele onderhoude koppel ʼn stem aan deelnemers se stories, wat help om die navorsingsbevindings te versterk. Dit was vir my ook belangrik om ʼn veilig omgewing vir die deelnemers te skep om hulle stories te deel, om sodoende wedersydse respek en vertroue te openbaar en te vestig en die dataversamelingsproses eties te bevorder (Cresswell et al., 2007).

Ek het gebruik gemaak van oop-einde vrae tydens die onderhoudsvoering sodat deelnemers hul onbeperkte gevoelens en opinies ten opsigte van gestelde vrae kon lewer. Geen vooropgestelde moontlikhede is met die vrae aan die deelnemers gegee nie, en om hierdie rede kon deelnemers sonder enige invloed hul eie mening en opinies uitspreek. Die onderhoude is gevoer met gemarginaliseerde individue, en daarom was dit belangrik om die onderhoudsvoering te onderneem op ʼn gemaklike, informele manier waarop die deelnemer effektief bereik kon word. Die gebruik van gepaste taalvoorkeure in die konteks was ook van kardinale belang, om dataryke response te kon verseker (Swain, Heyman, & Gillman, 1998). Navorsing deur Swain et al (1998) dui daarop dat die navorser vir haar deelnemers die geleentheid moes gee om hul stories in hul eie woorde te vertel om sodoende hul eie lewens-narratief te vorm en aan hulle binne opvoedkundige navorsing ʼn stem te gee.

Ek het ’n onderhoudsgids met ʼn raamwerk van vrae oor temas ontwikkel wat tydens die onderhoude verken is. Ek het die gids gebruik as ʼn geleentheid om op bepaalde vrae uit te brei en reaksies verder te ondersoek. Hierdeur is die onderhoudgesprek effektief gelei en kon bepaal word watter vrae meer in diepte ondersoek moes word (Patton, 2002). Die navorser het dus haar vrae gerig op grond van sekere temas wat uit die literatuuroorsig verkry is. ʼn Onderhoudsgids word gebruik om te verseker dat dieselfde basiese ondersoeklyne of vrae aan alle deelnemers gestel word. Die onderhoudgids het die effektiewe gebruik van tyd tydens die onderhoude vergemaklik (Patton, 2002). Hierdie kwalitatiewe studie het dit vir die deelnemers moontlik gemaak om op enige bepaalde tydstip binne die bepaalde raamwerk van die navorsing hulle

eie persepsies en oortuigings aan die onderhoudsvoerder uit te lig (Nieuwenhuis, 2007).

3.6.2 Fokusgroeponderhoud

ʼn Fokusgroeponderhoud is as ʼn sekondêre dataversamelingsmetode gebruik. Hierdie metode het die navorser aan die deelnemers se wêreldbeskouings en die aard van onderlinge verhoudings tussen die ouers blootgestel (Nieuwenhuis, 2007). Tydens die fokusgroeponderhoud het die deelnemers die geleentheid gekry om mekaar se idees en sieninge aan te vul ten einde data te verkry wat nie by individuele betekenisskepping volstaan nie, maar temas identifiseer wat as ʼn groep beskryf en uitgebou is (Cresswell et al., 2007). Die fokusgroeponderhoud het dus die groter gemeenskap se menings verkry deurdat dit gepoog het om op die stem van die kleiner gemeenskap, naamlik die enkellopende plaaswerkerouer in die groter landelike gemeenskap, te fokus (Joubert et al., 2016).

Hierdie sosiaal-georiënteerde navorsingsprosedure het bepaalde interaksies tussen groeplede gefasiliteer en word ondersteun deur Morgan (1996), wie daarop dui dat fokusgroeponderhoude meestal gebruik word in studies wat gemarginaliseerde groepe insluit. Tydens die fokusgroeponderhoud was die deelnemers in interaksie met mekaar eerder as met die onderhoudsvoerder, en hierdie interaksies was belangrik vir die aanhoor van verskeie opinies oor ouerskap. Sekere verskynsels kon verder ondersoek word, en die geldigheid van reeds versamelde data kon bevestig word (Joubert et al., 2016).

3.6.3 Waarneming

Cresswell (2007) definieer waarneming as die proses waarin eerstehandse inligting van individue op ʼn bepaalde plek binne die navorsingproses versamel word. Tydens waarneming as ʼn dataversamelingsmetode word menslike gedrag in ʼn natuurlike omgewing waargeneem om so ʼn holistiese perspektief van ʼn bepaalde teikengroep te ondersoek (Patton, 2002). Volgens Nieuwenhuis (2007) help waarneming die navorser om die werklikheid tydens die dataversamelingsproses eerstehands te ervaar deur dit te sien, te hoor en te beleef. Individue mag soms huiwerig wees om

waarneming ʼn gepaste metode van dataversameling. Ek het tydens die waarnemingsproses die geleentheid gekry om die sosiaal saamgestelde werklikheid van deelnemende individue te begryp deur die taal, kommunikasie, mag en diskoers in die navorsingskonteks in ag te neem.

Ek is ʼn blanke Suid-Afrikaanse vrou wie se lewenservaring en kulturele agtergrond van dié van plaaswerkerouers verskil. Ek het my posisie as buitestander as ʼn potensiële nadeel tydens waarneming identifiseer, omdat ek aanvanklik in die navorsingkonteks vreemd en onnatuurlik gevoel en voorgekom het. Ek was bewus daarvan dat my posisie as buitestander tot waarnemer-eensydigheid kon lei en dat dit die optredes van die waargenome individue kon beïnvloed (Cresswell et al., 2007). Tydens hierdie studie het ek tydens waarneming ʼn waarnemingsposisie as ʼn deelnemer ingeneem, deurdat ek ʼn bepaalde tyd met die groep spandeer het om hulle beter te leer ken en ook om ʼn gemaklike omgewing te skep waarin die dataversamelingsproses kon plaasvind. Ek het tyd geneem om hulle aan huis te besoek, om so beter begrip te verkry van hul daaglikse leefwyse as enkellopende plaaswerkerouers. Daar was ook verskeie aktiwiteite, soos kerk oor naweke en sportdae, waar ek die omgang van die enkelouers met hul kinders en ook ander individue waargeneem het. Hierdie waarneming het tot dataryke bevindings tydens my studie bygedra.