• No results found

1.6.1 Die narratiewe navorsingsmodel3

Die narratiewe navorsingsmodel ABDCE, was van toepassing met die ontwikkeling van die navorsingsverhaal. Die navorsingsverhaal verloop van die Aksieveld (“Action” - A), Agtergrond (“Background” - B), Ontwikkeling (“Development” - D), Klimaks (“Climax” - C) tot die Slot (“Ending” - E). Hierdie benadering tot narratiewe navorsing word aanbeveel deur Müller, van Deventer en Human, in ‟n artikel: “Fiction writing as metaphor for research: A narrative approach” (2001:76-96). Met die narratiewe benadering word beoog om ‟n alternatiewe verhaal oor die navorsingsveld te ontwikkel wat nie so probleemgerig is nie. Die narratiewe benadering tot terapie asook narratiewe navorsing, funksioneer as ‟n reël in die praktyk met ‟n antropologiese swaartepunt.

Narratiewe navorsers plaas hulle binne die Sosiale Konstruksionistiese paradigma, waar die verhale wat mense vertel belangrik word. Dit hou ook implikasies in vir die manier waarop mense die waarheid beskou (Müller & Schoeman 2004:8), aangesien die sosiale proses beklemtoon word waarvolgens kennis ontwikkel (Müller 2000:58). Die antropologiese, narratiewe navorsingsfokus het groot waarde omdat dit die werklikheidsverstaan, beskouings, ervarings en persepsies van Medenavorsers binne die konteks belig. Deur verhaling word hierdie eksponente se besonderhede blootgelê.

Die narratiewe benadering tot terapie asook die narratiewe navorsingsmetode besit, wat sommige fokusse betref, ‟n uitstaande benadering tot terapie/navorsing. ‟n Paar voorbeelde is die fokus op (1)‟n verbeelde toekoms in die oplossing van probleme, (2) die konstruering van ‟n alternatiewe verhaal wat nie so probleemgedrewe is nie en (3) verhale wat ervarings, persepsies, tendense, onwaarhede en oortuigings verwoord. Daar kan ook nadele aan die narratiewe benadering/navorsingsmetode gekoppel word,

3

Die proefskrif is gegrond op die model van J.C. Müller (2005:82-86) soos gestel in sy artikel “A Postfoundationalis, HIV-positive Practical Theology”. Practical Theology in South Africa. 20(2), 72-88.

9

waarvan die grootste sekerlik die verontagsaming van die verbintenis tussen God en mens is, of kan wees.

Hoewel die narratiewe navorsingsmetode, wat postmoderne trekke vertoon, tydens navorsing gebruik is, is die Medenavorsers gelowiges en hou die verhale wat hulle vertel, verband met die ontvouing van die Christelike geloof in hulle lewe. Daarom sou ‟n miskenning van die geloofsband met God tydens navorsing onmoontlik wees. Daar is gepoog om Medenavorsers se volle verhale te verwoord – wat die geestelike dimensie insluit. Alternatiewe interpretasies (Hoofstuk 6), waarin voor die Skrif as enigste gesagvolle bron gebuig word, het ook deeglik met hierdie verband rekening gehou.

Die mensdom se oorsprong lê by die Skepper-God en mense vind opnuut die ewige bestemming in en deur Christus se verlossingsdaad. In die lig hiervan is God se belang by die mens (in dié geval gelowiges) onomwonde seker. God se Woord is skeppingsmagtig en die enigste waarheid waarvolgens ʼn mens se lewe ingerig kan word. So hou die alreeds geopenbaarde waarheid van die Christelike geloof met ‟n sigbare en onsigbare nog nie-werklikheid verband. Die Gereformeerde Skrifbeskouing soos dit tot uitdrukking kom in die Nederlandse Geloofsbelydenis (GKSA 2004:9 e.v.), bied die geloofsbegronding en vorm die oortuigings van die Navorser en was tydens die navorsingsproses deurslaggewend. Die verskillende fokuspunte van die navorsingsmodel word vervolgend belig:

Aksieveld (A)

“Die verhalende benadering het ontdek dat mense nie net vir interessantheid of vermaaklikheid stories vertel nie, maar dat die grein van die lewe deur verhale blootgelê word” (Müller 2000:10). Volgens Müller, word ons identiteit nie net ontdek in die verhale wat ons vertel nie, maar word deur daardie verhaling tegelyk aan ons identiteit gebou (Müller 2000:10). Ons organiseer ons ervarings in verhale, daarom ontbloot die verhale wat ons vertel heelwat van hoe ons die werklikheid verstaan. Die Aksieveld (A) van die narratiewe navorsingsmodel belig wel die navorsingsprobleem, maar fokus tegelyk op die nou van die navorsingsverhaal. Verhale word vertel en gedokumenteer. Die huidige optrede (aksie) van

10

Medenavorsers word empiries beskou. In hierdie stadium van die navorsing word daar nie met hipoteses gewerk nie, die Navorser wil die habitus van die subjekte binne die navorsingsveld verstaan (Müller et al. 2001:78). Die narratiewe Navorser werk met ʼn dekonstruktiewe agenda: “Things need to be unpacked and alternatives have to be explored. According to this approach, not only the problem areas of life have to be researched, but every action, with a possible alternative story in mind” (a.w.:79).

Agtergrond (B)

Die verledeverhaal van die navorsingsveld kom hier ter sprake. Die nou van die verhaal (huidige optrede) word teen die agtergrondverhaal geplaas. Die agtergrondverhaal word vertel en gedokumenteer. Herinnerings word verwoord. Nuwe insigte oor die navorsingsveld kom na vore.

Ontwikkeling (D)

Ontwikkeling van verhale duur voort. Navorsingsinligting vanuit Bybelse eksegese en interdissiplinêre ondersoek vul die navorsingproses aan. Narratiewe navorsing laat toe vir die verwikkelingsplan om te ontwikkel, groei en ontvou: “The narrative researcher is curious and waits for the research plot to develop” (Müller 2001:84). Die navorsingsproses behels nie net verhaling nie, maar ook verhaal-ontwikkeling.

Klimaks (C)

Tydens die navorsingsproses, ontstaan ‟n nuwe, alternatiewe verhaal vir die navorsingsveld. Alternatiewe interpretasies kan heenwys na byvoorbeeld ‟n alternatiewe leefstyl.

Slot (E)

Die slot van die navorsingsverhaal is anders as die aanvang daarvan. Nuwe kennisinsigte het in die proses na vore gekom.

11

1.7 KWALITATIEWE NAVORSING

In die huidige studie is die kwalitatiewe navorsingsmetode gebruik. Volgens Babbie en Mouton (2001:53) is die doel van kwalitatiewe navorsing om te beskryf en te verstaan. Creswell (1998:15) sê oor die proses van navorsing: “The researcher builds a complex, holistic picture, analizes words, reports detailed views of informants, and conducts the study in a natural setting.” Narratiewe navorsing onderskryf ook navorsing wat betrokke en deelnemend is („Participatory action research‟; Müller & Schoeman 2004:7-12). Interaksie tussen Navorser en Medenavorser word in hierdie model veronderstel.

Die narratiewe navorsingsproses word beskou teen die agtergrond van die Sosiale Konstruksionistiese paradigma. Die sentrale uitgangspunt van Sosiale Konstruksionisme is dat die volgende kwaliteite gesien word as sosiale realiteite wat kultuurgroepe sanksioneer: oortuigings, waardes, institusies, gebruike, klassifikasies, wette en die afbakening van werk. Dit gebeur wanneer interaksie tussen mense plaasvind en word van geslag tot geslag oorgedra. Die gemeenskappe vorm met ander woorde die lense waardeur die lede die wêreld rondom hulle interpreteer (Freedman & Combs 1996:16). Sodoende ontstaan gedeelde konstrukte van die werklikheid rondom die mens. Hierin speel taaluiting ʼn sleutelrol. Müller sê, “Betekenisse word met mekaar gedeel en uiteindelik toegeken deur taal” (2000:58; Bauman 1995:3-13).

Met kwalitatiewe navorsing word inligting gevind in die verhale wat mense vertel. Daarom behoort die verstaan en interpretasie van verhale deel uit te maak van die narratiewe navorsingsproses en nie net ‟n analise van data te wees nie (Müller & Schoeman 2004:7-12). Alice Morgan skryf die volgende: “Viewing the research question from a narrative angle entails stories/events, which in the course of time, are linked together to form a „plot‟ („story line‟)” (2000:5). Met die voer van onderhoude asook die hantering van navorsingsinligting het etiese handeling in die huidige studie voorkeur geniet. Etiese handeling wil reg laat geskied aan Medenavorsers/navorsingstemas. Gevolglik het respek, akademiese integriteit en sensitiwiteit die toon in die studie aangegee. Die doel was dat navorsing in belang van die waarheid (kennis van die waarheid) geskied. Onderhoude/gesprekke is slegs gevoer nadat toestemming vir empiriese navorsing by die Etiekkomitee van die NWU verkry is.

12

Daarby was die nodige dokumente in hierdie verband bekom wat aan Medenavorsers beskikbaar gestel is. Op hierdie vorms het hulle toestemming verleen vir deelname aan die navorsingsprojek.4

1.8 RIGTINGGEWENDE BEGRONDING TYDENS DIE NAVORSINGS-