• No results found

HOOFSTUK 2: ANALISE VAN ’N KORPORATIEWE

2.2 Metateoretiese tradisie: Kubernetika

Kubernetika is kompleks en verwys na ’n sirkulêre proses wat die oorsaak en gevolg van aspekte bepaal (Littlejohn & Foss, 2005:42). Dit poog om verduidelikings van die prosesse en aksies in die supra-sisteem oor die fisiese, biologiese, sosiale en

_________________________________________________________________________________ Personeel se persepsies van onderskeidelik die NWU en Potchefstroomkampus se korporatiewe

handelsmerk en –bestuur | N Grundling 19

gedragsprosesse te gee (Kast & Rosenzweig, 1972:450; Duffy, 1984:33; Littlejohn & Foss, 2005:39; Wang et al., 2009:823). Kubernetika verwys in essensie na ’n supra- sisteem wat uit verskillende subsisteme bestaan (Infante et al., 1990:81). Elk van die subsisteme het ’n invloed op mekaar sowel as die supra-sisteem met verwysing na die terugvoer en beheer van die betrokke sisteem. Dit impliseer dat ’n sisteem ’n stel interaktiewe komponente is wat saam meer werd is as afsonderlik (Littlejohn & Foss, 2005:39).

Dit kan aan die hand van ’n voorbeeld verduidelik word. Gestel die Skool vir Kommunikasiestudies is ’n sub-sisteem in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte wat weer deel vorm van die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus as ’n supra- sisteem. Volgens die kubernetiese tradisie word aanvaar dat die verskillende skole, departemente en fakulteite ’n invloed op mekaar sowel as die Potchefstroomkampus en Noordwes-Universiteit as oorkoepelende instelling het.

Enige deel binne die sisteem is altyd beperk deur sy afhanklikheid van ander dele van die sisteem (Boulding, 1956:201; Gershenson et al., 2013). Geen sisteem kan oorleef sonder nuwe hulpbronne wat in die sisteem gebruik kan word nie en daarom is nuwe innoverende insette van kardinale belang om die sisteem se uitsette te verbeter (Infante et al., 1990:81; Littlejohn & Foss, 2005:39). Die insette kan materieel of selfs iets soos inligting wees (Kast & Rosenzweig, 1972:450; Littlejohn & Foss, 2005:40). ’n Sisteem gebruik die insette van die omgewing en prosesseer dit om verbeterde uitkomste aan die omgewing te bied. Sisteme word verder gekenmerk deur self-regulering en beheer. Sisteme moniteer, reguleer en beheer hulle uitsette om te verseker dat hulle uitsette gebalanseer is ten einde hulle doelwitte te bereik (Infante et al., 1990:81). Dus is enige sisteem dinamies en moet dit aanpasbaar wees sodat dit die voortbestaan van die sisteem kan verseker. Aangesien sisteme deel vorm van ander sisteme moet daar die moontlikheid wees vir terugvoer, oftewel terugvoerlusse (feedback loops) wat netwerke vorm. Terugvoer is belangrik om insette te verkry wat die sisteem, oftewel organisasie, kan verbeter (Kast & Rosenzweig, 1972:450; Littlejohn, 1983:33; Duffy, 1984:35; Craig, 1999:142; Littlejohn & Foss, 2005:40; Seising, 2010:4469; Adams et al., 2013). Daar word

_________________________________________________________________________________ Personeel se persepsies van onderskeidelik die NWU en Potchefstroomkampus se korporatiewe

handelsmerk en –bestuur | N Grundling 20

verder onderskei tussen “oop” en “geslote” terugvoer. Oop terugvoer getuig van interaksie tussen die sisteem en die omgewing. Geslote terugvoer is wanneer daar slegs interaksie binne die gegewe sisteem is (Duffy, 1984:36).

Daar is verskillende variasies in die metateorie van kubernetika met verwysing na die basiese sisteemteorie, algemene sisteemteorie en tweede-orde kubernetika (Littlejohn & Foss, 2005:42). Volgens die basiese sisteemteorie kan enige sisteem van buite geanaliseer word. ’n Persoon kan die sisteem en die wyse waarop interaksie plaasvind, waarneem. Volgens hierdie denkskool neem ’n persoon die sisteem as buitestander waar en is dus in staat om objektiewe afleidings van die sisteem se kragte asook die insette en uitsette van die sisteem te maak. Gevolglik is dit moontlik om die sisteem se uitsette te verander deur die insette aan te pas.

Die algemene sisteemteorie is oorspronklik deur Ludwig von Bertalanffy, ’n bioloog, ontwikkel as ’n multi-benadering tot kennis omdat die inligting van verskillende bronne bekom word (Litttlejohn & Foss, 2005:42). Hierdie teorie word gebruik om verskillende sisteme te ontleed in terme van die ooreenkomste wat gevind kan word. Hierdie teorie maak aanspraak op die universele aard van sisteme deur algemene ooreenkomste vas te stel.

Tweede-orde kubernetika kom ter sprake wanneer die waarnemer nie objektiewe

oordele kan vel oor ’n betrokke sisteem nie juis omdat die waarnemer altyd direk betrokke in die sisteem is (Littlejohn & Foss, 2005:42). Die waarnemer beïnvloed die sisteem en word deur die sisteem beïnvloed en daarom is objektiwiteit nie moontlik nie. Gevolglik word kennis beskou as die resultaat wat verkry word vanuit terugvoerlusse (feedback loops) (Littlejohn & Foss, 2005:42).

Vanuit die bostaande bespreking blyk dit dat kubernetika as ’n metateorie gebruik kan word om ’n deel van ’n organisasie te bestudeer deur ondersoek te doen na die verskillende interaktiewe komponente wat mekaar beïnvloed. Die terugvoer wat verkry word kan gebruik word om die insette te verbeter.

Soos reeds in paragraaf 1.2 gestel bestaan die Noordwes-Universiteit uit vier besigheidseenhede, naamlik die Institusionele Kantoor, Mafikengkampus,

_________________________________________________________________________________ Personeel se persepsies van onderskeidelik die NWU en Potchefstroomkampus se korporatiewe

handelsmerk en –bestuur | N Grundling 21

Potchefstroomkampus en Vaaldriehoekkampus. Deel van hierdie struktuur is dat die Noordwes-Universiteit oor ’n oorkoepelende korporatiewe handelsmerk vir die instelling beskik, maar dat elk van die besigheidseenhede hulle eie korporatiewe handelsmerk vestig. Dit bring mee dat elk van die kampusse van hul unieke karaktereienskappe en nisarea gebruik maak om die kampusse te posisioneer. Gegewe die unieke samestelling van die Noordwes-Universiteit blyk dit dat die instelling se korporatiewe handelsmerk uit verskeie komponente bestaan wat mekaar beïnvloed en saam ’n eenheid vorm.

Vir die doeleindes van hierdie studie word tweede-orde kubernetika as uitgangspunt geneem. ’n Organisasie, so ook in die geval van die Noordwes-Universiteit en Potchefstroomkampus, se korporatiewe handelsmerk bestaan uit ’n verskeidenheid komponente (verwys na die tweede rigtinggewende argument in paragraaf 1.5). Afgesien hiervan is daar ook verskillende riglyne wat in die bestuur van die korporatiewe handelsmerk gevolg kan word (verwys na die derde rigtinggewende argument in paragraaf 1.5). Sodoende is dit duidelik dat die instelling se korporatiewe handelsmerk as die supra-sisteem uit verskeie komponente bestaan wat deel hiervan vorm. Dit is ook die geval van die Potchefstroomkampus se korporatiewe handelsmerk. Elk van die verskillende komponente, alhoewel daar unieke karaktereienskappe van elke kampus is, dra by tot die geheel van die Noordwes-Universiteit se oorkoepelende korporatiewe handelsmerk. Die argument kan ook gemaak word dat enige terugvoer oor die korporatiewe handelsmerk en die bestuur daarvan gebruik kan word om die korporatiewe handelsmerk te verbeter. Omdat die studie ten doel het om die personeel se persepsies rakende

onderskeidelik die Noordwes-Universiteit en Potchefstroomkampus se korporatiewe handelsmerk en –bestuur te bepaal, gaan hulle subjektiewe inligting gee. Daar kan

geredeneer word dat die korporatiewe handelsmerk as die supra-sisteem slegs verbeter kan word deur die terugvoer te gebruik. Dit impliseer dat die korporatiewe handelsmerk van die Noordwes-Universiteit en Potchefstroomkampus nie alleenlik uit verskillende komponente bestaan nie, maar dat die komponente ’n invloed op mekaar en die oorkoepelende korporatiewe handelsmerk het. Sodoende kan die

_________________________________________________________________________________ Personeel se persepsies van onderskeidelik die NWU en Potchefstroomkampus se korporatiewe

handelsmerk en –bestuur | N Grundling 22

korporatiewe handelsmerk as die supra-sisteem gereguleer word met behulp van die effektiewe bestuur van die Noordwes-Universiteit en Potchefstroomkampus se korporatiewe handelsmerk. Verder kan die argument gevoer word dat die Noordwes- Universiteit en Potchefstroomkampus se korporatiewe handelsmerk dinamies is omdat dit aangepas kan word. Die terugvoer wat vanuit die evaluering en monitering van die Noordwes-Universiteit en Potchefstroomkampus se korporatiewe handelsmerk verkry word, kan gebruik word om dit te verbeter. Alhoewel die studie nie op die ander twee kampusse fokus nie, sal dieselfde beginsels ook geld in die geval van die Vaaldriehoekkampus en Mafikengkampus se onderskeie korporatiewe handelsmerke en die bestuur daarvan.

Vervolgens gaan korporatiewe handelsmerke bespreek word deur ’n oorsig van die konsep te gee.