• No results found

Die semiotiese en funksionele sisteembenadering wat bogenoemde model bied, stel die navorser in staat om die komplekse verhouding tussen wat Lambert & Van Gorp (1985:52) klassifiseer as voorlopige data, die makrotekstuele vlak, die mikrotekstuele vlak en die sistemiese konteks, te bestudeer. Die geskrewe tekste staan primêr as objekte van studie binne die literêre sisteem van die bron- en doelteks onderskeidelik en word binne die model ook as sodanig bestudeer ten einde die verhoudings van produksie en teksvorming te beskryf. ’n Vergelyking tussen twee tekste27 bied steeds die mees konkrete materiaal waaruit die navorser die verskillende vertaalstrategieë kan probeer vasstel, wat op sy beurt die mees eksplisiete inligting weergee omtrent die verhouding tussen bron- en doelsisteme asook die posisie van die vertaler binne en tussen hierdie sisteme. Volgens Toury (1980:112) is enige teksvergelyking indirek, en is dit altyd ’n vergelyking van kategorieë deur die navorser geselekteer, binne ’n vertolking wat

27 Lambert en Van Gorp (1985:47) is wel deeglik bewus van die reduksionistiese element in ’n teksgerigte

hipoteties is. Tekste kan nooit vergelyk word deur dit bloot teenoor mekaar te stel nie. Die navorser het ’n verwysingsraamwerk nodig wat uit ’n kombinasie van kategorieë afkomstig van sowel die bron- as die doelteks moet bestaan, en gevolglik verryk moet word deur vrae vanuit beide sisteme.

Die skakel wat bestaan in die kommunikasie tussen bron- en doelteks kan nie voorspel word nie; dit staan vir ’n oop verhouding waarvan die aard afhang van die prioriteite van die vertaler en sy/haar gedrag, wat weer gesien moet word as funksie van die dominante norme binne die doelsisteem. Die hoofdoel van die model is om die eksakte verhouding tussen die literêre sisteem van die bronkultuur met dié van die doelkultuur te vergelyk (Lambert & Van Gorp 1985:44). Benewens hierdie verhouding word alle verhoudings wat teenwoordig is binne die skema bestudeer (ibid.). Soos enige model, is die volle model nie noodwendig toepasbaar nie en hang dit af van die aard van die studie en die fokus van die navorser.

Vanuit ’n empiriese oogpunt, konsentreer die huidige studie derhalwe op die volgende: T1 – T2, wat die verhoudings tussen die individuele tekste, d.i. tussen die bronteks en die doelteks, voorstel. Die waarneming berus op ’n omvattende stel vrae eerder as stellings waarvan die sentrale vraag die konsep van ekwivalensie hanteer: watter tipe ekwivalensie kan waargeneem word tussen beide kommunikasieskemas, of tussen die spesifieke para- meters daarbinne; is die vertaling doelgeoriënteerd (m.a.w. aanvaarbaar; vergelyk par. 1.3.) of brongeoriënteerd (m.a.w. geskik; vergelyk par. 1.3.)? Hierdie basiese oorwegings lei tot meer konkrete vrae wat betref die prioriteite teenwoordig in die verskillende vlakke van die vertaalproses in beide sisteme. Die proses sowel as die produk, die teks, en die resepsie daarvan word gevolglik bestudeer vanuit óf ’n makrostrukturele óf ’n mikrostrukturele oogpunt, waar die fokus hoofsaaklik val op verskillende linguistiese patrone, literêre kodes, morele, religieuse of ander nie-literêre patrone. Die navorser volg ’n praktiese model waar hy/sy eerstens inligting versamel rakende die algemene makrostrukturele kenmerke van die vertaling: word die vertaling byvoorbeeld as ’n vertaling geïdentifiseer; word die vertaler se naam aangedui; word die vertaling as geskik beskou; verskaf die vertaler of redigeerder enige meta-/paratekstuele kommentaar? ’n Voorlopige ondersoek soos bogenoemde gee die navorser reeds ’n basiese idee van die

oorkoepelende vertaalstrategie en die hoofprioriteite daarbinne. Lambert en Van Gorp (1985) gaan van die veronderstelling uit dat ’n teks wat op makrotekstuele vlak geskik (en derhalwe aanvaarbaar) is, heel waarskynlik ook op mikrotekstuele vlak geskik en aanvaarbaar sal wees, hoewel dit nie in elke spesifieke geval waar sal wees nie.

Dit is vanselfsprekend dat nie elke individuele tekstuele kenmerk bestudeer kan word nie, en daarom word ’n sekere volgorde in die analise gevolg. In die eerste plek word verskillende fragmente van beide tekste vanuit die oogpunt van sekere tekstuele reëls geanaliseer: vertaal die vertaler woorde, sinne, paragrawe, metafore, opeenvolgende narratiewe gebeure, en tot watter mate is elk van hierdie teksvlakke vertaal? Die mikroskopiese analise stel die navorser in staat om die konsekwentheid en die hiërargiese struktuur van die vertaalproses waar te neem, en hipoteses te formuleer rakende die oorsprong en posisie van die vertaalstrategie. In ’n tweede fase kan die gevolgtrekkings hierbo bereik, gebruik word om die analise van ander gedeeltes van die teks te rig: maak die vertaler gebruik van weglatings van, of toevoegings tot paragrawe, woorde, beelde, literêre kenmerke, ens. regdeur die teks, of slegs in sekere gedeeltes van die teks? En indien wel, hoe kan die diskrepansies (indien teenwoordig) verklaar word? Die buigsaamheid van hierdie tipe analise stel die navorser in staat om bogenoemde verskynsels (reëls) met ander verskynsels, of die hele sisteem, in verband te bring.

Voorlopige data Makro-vlak Mikro-vlak Sistemiese vlak

titel en titelblad uitleg van teks keuse van leksikale items opposisies tussen mikro- (tekslinguistiese norme) en makro-vlak; teks en

teorie

parateks aanbieding van teks grammatikale en intertekstuele verhou-

literêre strukture dings (n.v.t. in studie)

algemene strategie verhouding tussen ver- narratiewe, perspek- intersistemiese verhou- (inisiële norm) skillende tipes teks tiewe, standpunte dings (n.v.t. in studie)

interne poëtiese modaliteit

struktuur taalvlakke

Die Lambert & Van Gorp-model (1985) veronderstel ’n vergelyking tussen die bronteks en doelteks op polisistemiese vlak. Dit voorveronderstel dat sowel die bronteks as die doelteks wel binne so ’n sisteem gesitueer is. Wat so ’n vergelyking in die lig van hierdie studie kompliseer, is die bestaan van die Engelse vertaling van die getranskribeerde materiaal as bronteks van die Afrikaanse vertaling. Die bestaan van hierdie teks skep uiteraard ’n derde sisteem buiten die veronderstelde bronsisteem van die /Xam en die doelsisteem van Afrikaans, naamlik die Engelse literêre sisteem van die 19de eeu. In hierdie studie fokus die navorser egter nie op laasgenoemde literêre sisteem nie omdat dit nie beskou kan word as die oorspronklike sisteem van die brontaal nie. /Xam as dialek van die Boesman-taal soos dit in die 19de eeu bestaan het, verteenwoordig ’n orale sisteem – daar bestaan geen omvattende sisteem vir vergelykende doeleindes behalwe dit wat deur Bleek en Lloyd geskep is nie. En omdat die studie op die verband tussen die Afrikaanse vertaling en die /Xam-tekste fokus, verteenwoordig die Engelse teks dít wat in terme van betekenisgewing deel is van die getranskribeerde /Xam-tekste. Vanweë die diverse aard van die Afrikaanse en die /Xam-sisteem, val die sistemiese vergelyking buite die raamwerk van hierdie studie. Die Engelse teks word hier beskou as die ‘medium van toegang’ tot die kultuur en taal van die /Xam. Dit word derhalwe as die bronteks hanteer.

2.5. Samevatting

Die vertaalteoretiese konsepte wat in hoofstuk 2 bespreek is vorm die basis vir die beskrywing van die sterre sê ‘tsau’ as doelteks van die getranskribeerde /Xam-tekste. As agtergrond tot die bespreking en die kontekstualisering van die teoretiese benaderings, is die konsep van kultuur as ideologiese konstruksie binne ’n linguistiese en sosiale verband kortliks bespreek. Kultuur as ’n dinamiese sisteem hou relevansie in vir die kultuurspesifiekheid van die bronteks wat, volgens Geertsema (1996) as eggo daarvan voortleef in die interpretasie daarvan binne die vertaling. Die belangrikheid van die behoud en die bevestiging van die oorsprongsidentiteit van die vreemde in vertaling is gekoppel aan Venuti (1995) se domestikering-/vervreemding-teorie as moontlike basiese vertaalstrategie van die vertaler in die sterre sê ‘tsau’. Binne die konteks van Afrikaans (as dominante taal) en /Xam (as sekondêre, nie-dominante taal) impliseer domestikering

die oordrag van die kultuurvreemdheid van die bronkultuur na die doelkultuur via die doelteks. Die proses van vervreemding daarenteen, staan die vloeiendheid en deursigtigheid van eersgenoemde proses teen, en streef na ’n verdieping en transformasie van die doeltaal ten einde die oorheersende invloed van die dominante taal te verminder en erkenning te gee aan die kulturele uniekheid van die bronkultuur. Die aanname is dat Krog as vertaler van beide benaderings gebruik gemaak het om (bewus of onbewus) sowel die uniekheid van die brontaal as haar eie digstyl in die doelteks te laat deurskemer.

Die deskriptiewe vertaalstudie hanteer die vertaling as teks soos die teks hom voordoen, en bied dus aan die navorser riglyne waarvolgens die faktore wat tot die spesifieke aard van ’n teks bygedra het, vasgestel kan word. Die riglyne wat Toury (1985) bied, is kortliks bespreek as aanvullend tot die Lambert & Van Gorp-model (1985) wat as semiotiese en funksionele model die navorser in staat stel om die komplekse verhouding tussen voorlopige data, die makrotekstuele vlak, die mikrotekstuele vlak en die sistemiese konteks van die bundel te bestudeer. Enkele poststrukturalistiese opvattings, onder andere différance, word in hierdie studie ingespan, wat die navorser in staat stel om die tydruimtelike dimensies van vertaling, asook die veelvuldigheid van perspektiewe op betekenisaanduiding, beter te kan kontekstualiseer.

Dit wat in hoofstuk 2 bespreek en uiteengesit is, vind praktiese toepassing in hoofstuk 5. In die hoofstuk wat volg, hoofstuk 3, word ’n kontekstuele posisionering van die /Xam- narratiewe gebied waarin die historiese posisie van die Boesmans asook die uitsterf van die /Xam-kultuur en -taal bespreek word. Die aard van die /Xam-narratiewe word gevolglik bespreek binne die konsep van orale literatuur, en die kenmerke van laasgenoemde. ’n Kort oorsig word gegee oor bestaande literatuur in Suid-Afrika wat spesifiek betrekking het op die korpus vertaalde Boesman-narratiewe in Engels sowel as Afrikaans. Dit dien as konteks vir die bestudering van Krog se vertaling binne hierdie korpus en ook binne die linguistiese/antropologiese veld waarbinne die vertaling gesitueer is.