• No results found

HOOFSTUK 2: TEORETIESE PERSPEKTIEWE OP TAAL EN GRAMMATIKA

3.6 KWANTITATIEWE GRAMMATIKOGRAFIE

Anderwald (2014:4) toon aan dat ʼn kwantitatiewe grammatikografie gebruik word om data vanuit ʼn korpusanalise te vergelyk met wat preskriptiewe bronne vanuit dieselfde periode oor die data sê. ʼn Kwantitatiewe grammatikografie is veral geskik om tendense in preskriptiewe bronne diachronies te identifiseer. Taalkundiges kan sien hoe preskriptiewe uitsprake oor tyd ontwikkel het en hoe dit tendense in taalverandering moontlik kon beïnvloed het. Anderwald (2016:1) stel dat “instead of assuming prescriptive influences ex ante, [quantitative grammaticography] empirically investigate[s] what grammarians actually had to say, and relate[s] this to linguistic features actually undergoing change at the time”.

Kirsten (2016:62-63) toon aan dat die metode slegs veralgemenings maak op grond van tendense en dat preskriptivisme slegs ʼn moontlike veranderlike in taalverandering kan wees. Sy (Kirsten, 2016:62) is van mening dat preskriptiewe normering twee tipes uitwerking op taalgebruik en -verandering het binne die kognitiewe gebruiksgebaseerde raamwerk. Hierdie uitwerking is dikwels direk, deurdat skrywers en sprekers preskriptiewe riglyne in gedagte hou wanneer hulle taal gebruik, of indirek, deurdat dit ʼn potensiële uitwerking op die gebruiksfrekwensie van ʼn betrokke verskynsel het en gevolglik die mate van vestiging daarvan beïnvloed (sien ook Curzan, 2014:120; Van Rooy & Kruger, 2016:129).

Hierdie studie steun op die kwantitatiewe grammatikografiese databasis, saamgestel deur Kirsten (2016:63-65), en vir die doeleindes van dié studie is dit aangepas en uitgebrei.

42

Aspekte van Kitchenham (2004) se sistematiese literatuuroorsig is gebruik om die seleksie van normatiewe bronne wat ingesluit word in die kwantitatiewe grammatikografie, te verfyn en sodoende enige onnodige of irrelevante bronne uit te skakel wat die resultate kan beïnvloed. Die hersieningsproses van Kitchenham (2004:3) se sistematiese literatuuroorsig werk op grond van drie stappe, naamlik die beplanning, versameling en verwerking, en rapportering van die literatuur of bronne.

As deel van die beplanningsproses, word gekyk na watter tippe bronne nodig is vir die versameling van die kwantitatiewe grammatikografie en die omvang van die onderwerp. Die normatiewe bronne gebruik vir hierdie studie bestaan uit handboeke, skoolhandboeke, naslaangidse, woordelyste (met aanbevelings) en ander grammatikas oor Afrikaans. Taljaard (1988:18-24) en Kirsten (2016:62-63) toon aan dat hierdie tipes bronne die mees algemene tipe normatiewe bronne is wat beskikbaar is. Die versameling normatiewe bronne bestaan uit vier periodes wat verteenwoordigend is van die vier afdelings van die korpus. Tabel 3.1 verskaf ʼn vergelykende uiteensetting van die periodes in die korpusdata en die ooreenstemmende dekades wat gebruik is as riglyn om die bronne in die kwantitatiewe grammatikografie saam te stel.

Tabel 3.1: Uiteensetting van die korpus en kwantitatiewe grammatikografie se indeling

Korpusindeling Indeling van die kwantitatiewe

grammatikografie

1911-1920 1891-1920 1941-1950 1921-1950 1971-1980 1951-1980 2001-2010 1981-2010

ʼn Verdere komponent van die beplanningsproses het gefokus op prosedures met betrekking tot outeurs en uitgawes. Vir die doel van hierdie studie mag ʼn outeur se stem meer as een keer binne ʼn afdeling van die kwantitatiewe grammatikografie verteenwoordig word, mits die bronne verskillende publikasies is. Verskillende uitgawes van dieselfde publikasie mag verteenwoordig word in elke periode van die kwantitatiewe grammatikografie, mits die nuutste uitgawe per periode oorweeg word.

In periodes waar daar verskeie uitgawes van dieselfde bron deur dieselfde outeur voorkom, word die nuutste uitgawe van daardie bron geselekteer met die aanname dat die invloed van die vorige uitgawes verteenwoordig word deur die een bron. Hierdie beperking veroorsaak wel dat daar tekortkominge in die data van die kwantitatiewe grammatikografie kan wees, aangesien verskillende uitgawes van dieselfde publikasie in die onderskeie periodes van die kwantitatiewe grammatikografie nie noodwendig dieselfde aanbevelings maak oor ʼn voorsetsel nie. Indien outeurs konsekwent gebly het in die verskillende uitgawes, is die potensiële invloed van die aanbevelings op taalverandering groter omrede die aanbeveling

43

moontlik konseptueel meer gevestig is by taalgebruikers. So ook is die potensiële invloed van die aanbevelings op taalverandering aansienlik laer indien outeurs oor die verskillende uitgawes nie konsekwente aanbevelings maak nie, omrede die aanbeveling moontlik konseptueel minder gevestig is by taalgebruikers. Dit is egter nie moontlik om te bepaal of taalgebruikers doelbewus na elke uitgawe van ʼn spesifieke publikasie se aanbevelings gekyk het nie en daarom is die nuutste uitgawe myns insiens die mees verteenwoordigende bron. Om te kontroleer of outeurs wel konsekwent gebly het in hulle aanbevelings, is daar vlugtig gekyk na die nuutste en oudste uitgawes van ʼn publikasie in die spesifieke periodes, en aantekeninge gemaak wanneer ʼn outeur noemenswaardige aanpassings met betrekking tot sy/haar aanbevelings gemaak het.

Tydens die versameling van die bronne was dit egter nie altyd moontlik om die nuutste uitgawe van elke bron te bekom nie en gevolglik is in sekere gevalle met die nuutste uitgawe moontlik gewerk. So ook was dit nie moontlik om in die kontroleproses noodwendig na die oudste uitgawe van elke publikasie te kyk nie, omrede dit nie geredelik beskikbaar of toeganklik is nie.

Gedurende die versamelings- en verwerkingsproses is normatiewe bronne wat onder die omvang van die onderwerp in die beplanningsproses val, versamel en verwerk. Hierdie bronne is nagegaan en gekategoriseer op grond van of hulle iets sê oor voorsetsels oor die algemeen, en vervolgens of hulle iets sê oor elk van die vyf voorsetsels wat in hierdie studie bestudeer word (vir, aan, deur, met en in). Addendum A bied ʼn uiteensetting van die normatiewe bronne ingesluit in die kwantitatiewe grammatikografie op grond van die bogenoemde kriteria. Die normatiewe bronne is noukeurig deurgelees en elke bron se uitsprake oor spesifieke gebruiksinstansies met betrekking tot elke voorsetsel wat geanaliseer word, is in ʼn Microsoft Excel®-dokument opgeteken in kolomme. Waar normatiewe bronne se uitsprake oorvleuel, is dieselfde kolom vir elke uitspraak afgemerk. Die getal verwysings na normatiewe uitsprake in die verskeie bronne is dus kwantifiseerbaar. Normatiewe uitsprake oor die gebruik van die minder frekwente setselgroep, groepvoorsetsels, is aansienlik minder as dié van voorsetsels en ook as aparte inskrywings/afdelings in normatiewe bronne hanteer. Aangesien die fokus van hierdie studie voorsetsels is en die oorgrote meerderheid van normatiewe bronne die twee setselgroepe vanuit ʼn formalistiese tradisie as apart hanteer, is daar nie ʼn kwantitatiewe grammatikografie saamgestel vir aanbevelings met betrekking tot groepvoorsetsels nie.

Die data verkry vanuit die versamelings- en verwerkingsproses van die kwanititatiewe grammatikografie word gevolglik gerapporteer en vergelyk met die resultate verkry vanuit die korpusanalises.

44

3.7

SAMEVATTING

Korpuslinguistiek is ʼn belangrike navorsingsmetode wat dit moontlik maak vir taalkundiges om natuurlike taalgebruik te bestudeer. Die metode is veral geskik vir die diachroniese bestudering van taalverandering en korpusgebaseerde benaderings stel taalkundiges in staat om korpusdata te analiseer en interpreteer aan die hand van bestaande teoretiese raamwerke soos voortkomende en kognitiewe grammatika, asook funksionele sintaksis. Die data verkry vanuit korpusanalises bied ʼn betroubare manier om taalverandering te vergelyk met normatiewe uitsprake oor taalgebruik met behulp van ʼn kwantitatiewe grammatikografie.

45