• No results found

Korpusondersoek en taalspesifieke gevolgtrekking

Hoofstuk 4: Die korpusondersoek

5.5 Korpusondersoek en taalspesifieke gevolgtrekking

In die vierde hoofstuk is die korpusondersoek, wat uitgevoer is om die unieke gebruike van die grammatikale VPOS in Griekwa-Afrikaans te ondersoek, bespreek.

Die proses van die dataverwerking is in meer besonderhede beskryf, waarna die resultate van die studie se empiriese gedeelte uiteengesit is.

Gebaseer op die teoretiese besprekings in die voorafgaande hoofstukke, kon Hoofstuk 4 eerstens fokus op die universele ontwikkeling van die VPOS-konstruksie

soos aangebied deur Lemmens (2005). Daar is getoon dat hierdie konstruksie ʼn lokatiewe oorsprong het en ʼn ouksiliëringsproses ondergaan het

Volgende is die twee konkordansies wat vir die studie saamgestel is ondersoek aan die hand van vier parameters. Eerstens is daar gekyk na die frekwensie van sit,

staan, loop en lê. Daar is gevind dat loop die mees frekwente gebruiksfrekwensie

toon in GrAfr. Die VPOS wat die meeste gebruik word in StAfr was egter sit. Hierdie

verskil wat in die twee konkordansies voorgekom het, is ʼn aanduiding dat loop al verder gegrammatikaliseer het as die ander VPOS’e in GrAfr, aangesien die hoër

110

frekwensierangorde van VPOS’e in GrAfr loop > sit > staan > lê is, terwyl dit sit > staan > loop > lê is in die TK-konkordansie is.

Tweedens is die verskillende funksies van die VPOS-konstruksie (hetsy leksikaal of

grammatikaal) getoon en bespreek, om vas te stel wat die verskil met betrekking tot grammatikale gebruik van die VPOS’e tussen die twee variëteite is. Die bevinding dat

66,93% van die VPOS'e in die Gr-konkordansie grammatikale voorbeelde voorstel, is

ʼn positiewe aanduiding dat die VPOS-konstruksie in GrAfr verder gegrammatikaliseer

is as die konstruksie in StAfr, wat slegs 11,90% grammatikale voorbeelde in die TK- konkordansie bevat het.

In die derde plek is die verhouding van sinstipes in albei konkordansies bespreek. Stelsinne, bevelsinne, vraagsinne en uitroepsinne was die onderafdelings vir hierdie vergelyking en aan die einde van die afdeling is daar tot die gevolgtrekking gekom dat die verskillende sinstipes in die twee konkordansies nie ʼn oorsaak kan wees vir die aangeduide frekwensieverskille van VPOS’e nie.

Vierdens is enige interessante en unieke sintaktiese verskynsels van die GrAfr-VPOS

bespreek. Daar is eerstens aangetoon dat die hulpwerkwoordelike VPOS in GrAfr met

of sonder enige bindpartikel kan kombineer met die infinitiewe werkwoord. Bv: “Dan

staan loop hy jimmers”. In StAfr is dit noodsaaklik om so ʼn konstruksie met ʼn

verbindings-en te verbind (VAUX + en + V), bv. “Sy't gestaan en koffie drink”. Dit is

wel nie uitsluitlik die geval dat GrAfr nie die verbindings-en gebruik nie soos gesien kan word in “Dan staan en kyk die ouma”, geneem uit die Gr-konkordansie.

In totaal is 44 voorbeelde in die Gr-konkordansie gevind waar daar meer as een VPOS direk na mekaar geplaas is, sonder ʼn verbindingspartikel, soos in “Nou sit-lê hom innie hok”. Verder kan GrAfr ook meer as een hulpwerkwoordelike VPOS inspan

saam met ʼn leksikale werkwoord, almal sonder ʼn verbindingspartikel, bv. “Aljimmers

dan stan lê hool (hol, hardloop) hy 'n end”. Hierdie verskynsel bevestig dat die

verbindings-en in GrAfr uitgelos kan word en dat daar baie meer sintaktiese variasie teenwoordig is in GrAfr – ook omdat daar meer as een VPOS langs mekaar geplaas

kan word, wat as 'n string (unit) van hulpwerkwoorde gebruik word om een funksie te verrig. Die afdeling het weereens bevestig dat die VPOS-konstruksie in GrAfr baie

111

Volgende is daar ondersoek ingestel na die aantal gevalle in die Gr-konkordansie waar loop en lê as wisselvorme van gaan gebruik word. 26% van al die GrAfr’e gevalle wat loop bevat het, het as sinonieme van gaan gefunksioneer en dit dui aan dat die VPOS gegrammatikaliseer het tot ʼn inchoatiewe merker in elkeen van die

voorvalle wat in die Gr-konkordansie gevind is. Verder is daar ook voorbeelde van lê wat gelykgestel word aan gaan, wat kan beteken dat hierdie verbleekte gebruik van

loop uitgebrei het na 'n ander VPOS, naamlik lê. Daar was geen soortgelyke gevalle

met loop of met lê in die TK-konkordansie gevind nie.

In totaal is vyf unieke gebruike van GrAfr in hierdie studie uitgelig: Eerstens is vasgestel dat die bindpartikel nie nodig is nie, maar steeds willekeurig gebruik kan word soos die spreker dit verkies en ook dat kombinasies met meer as een VPOS en

ʼn leksikale werkwoord moontlik is; tweedens is getoon dat loop baie gereeld gelykgestel aan gaan en daar is ook gevalle waar lê dieselfde patroon begin volg; in die derde plek is kombinasies met meer as een grammatikale VPOS moontlik,

vierdens is gevind dat onverwagse VPOS’e saam met leksikale werkwoorde

kombineer (loop dood); en in die vyfde en laaste plek was dit interessant om voorbeelde te sien waar die grammatikale VPOS na die leksikale hoofwerkwoord

geplaas word. Die konstruksie hoef dus nie in die tradisionele sinsposisie, dit is vóór die hoofwerkwoord, geplaas te word nie.

In totaliteit het Hoofstuk 4 die laaste belangrike bewysstukke vanuit die korpusondersoek opgelewer om die hipotese te ondersteun dat die VPOS-konstruksie

in GrAfr, in besonder met loop, verder gegrammatikaliseer is as die ewekniekonstruksie in StAfr.