• No results found

Hoofstuk 4: Bepaling van ʼn idiolek: outeurskapidentifikasie

4.3 Korpuslinguistiek

4.3.2 Korpuslinguistiek en sosiolinguistiek

Baker (2010:2) stel dat ʼn sosiolinguistiese benadering tot korpusanalise ondersoek instel na die wyse waarop taal gebruik word om eerstens ʼn sosiale konteks te skep, en terselfdertyd ondersoek in te stel na die wyse waarop die sosiale konteks die taalgebruike en die kommunikasiebetekenis beïnvloed. Hy, Baker (2010:2), gaan voort deur te stel dat sosiolinguiste dus geïnteresseerd is in die wyse waarop ʼn individu of ʼn groep se identiteit deur taalgebruik beïnvloed en uitgebeeld word. Coyotl-Morales et al. (2006:844) beweer dat die werklike probleem gevind kan word in die kenmerke van ʼn teks wat in die identifiseringsproses gebruik moet word. McEnery en Wilson (2001:115) voeg hierby dat korpuslinguistiek, soos dialektologie en stilistiek, ’n empiriese benadering vereis, en dat navorsingspesifieke data ingesamel moet word.

Aangesien daar dus ʼn sosiolinguistiese inslag tot die korpuslinguistiek is, is dit belangrik om die konsepte variasie en verandering deurgaans in gedagte te hou. Volgens Baker (2010:4-6) is daar verskillende tipes variasies wat ingedagte gehou moet word. Soos reeds bespreek (vgl. 3.4) is daar verskeie sosiale veranderlikes soos ouderdom, sosiale stand, geslag, etniese veranderlikes en dies meer. Daar is egter ook afhanklike en onafhanklike veranderlikes wat veral van belang is wanneer daar statistiese analises van ʼn teks gedoen word, en waar die areas sosiolinguistiek en korpuslinguistiek oorkruis.

Die bogenoemde word ook na verwys as die variëteite van ʼn taal, waar variëteit betrekking het op die verskil in taal, sonder om spesifiek te verwys na, hetsy, aksent, dialek of selfs ʼn nuwe vorm van die bepaalde taal (Baker, 2010:5). Daar is dan ook die sosiolinguistiese variasie-aspek. Dit verwys na taalgebruikers wat taal op verskillende wyses gebruik (woordkeuses, uitspraak en idiome) soos bepaal deur die sosiale situasie waarin hulle hulself bevind. Du Plessis (1995:10) sluit hierby aan deur te beweer dat variasie voorbeelde van tale, dialekte en self registers insluit. Volgens Du Plessis (1995:13) bestaan daar dus ʼn verskeidenheid linguistiese variasies binne ʼn taal, en sou dit aan die hand van die feit dat taal geen homogene eenheid veronderstel nie, kon beskryf word, en dat dieselfde konsep in een taal op meer as een manier gestel kan word.

Biber et al. (1998:2) vra hoe kan die taal wat deur ʼn bepaalde outeur gebruik word, vergelyk word met die taal wat deur die outeur se eweknieë gebruik word. Hulle, Biber

et al. (1998:2), gaan voort deur te argumenteer dat verskillende variëteite van ʼn taal in

verskillende gespreksituasies gebruik word. Daar word na dié variëteite as registervariëteite verwys. Dus kan die aanname gemaak word dat elke individu, buiten vir ʼn idiolek, ook oor verskillende registers beskik, wat binne die idiolek sal voorkom. Carstens (2006:147) sluit by bogenoemde aan deur te postuleer dat die Taalkommissie deur middel van hulpmiddele soos die AWS poog om die standaardvariëteit daar te stel, en leiding te gee in terme van konsekwente en eenvormige spelling en taalgebruik. Daar kom dus verskillende variëteite in 'n taal voor, maar juis daarom word 'n norm daar gestel. Wanneer daar egter stilistiese analises onderneem word, gaan daar juis ondersoek ingestel word na afwykings van die norm.

Baker (2010:4) verwys na die sinchroniese en diachroniese variasie. Sinchroniese variasie verwys na taalgebruikers wat op dieselfde tyd bestaan, alhoewel hulle nie dieselfde identiteitveranderlikes het nie, en ook nie in dieselfde omgewing woon nie. Dit (sinchroniese variasies) verwys ook na die verskillende variëteite van ʼn taal (dialekte). Die diachroniese variasies kan volgens Baker (2010:4) gedefinieer word as ʼn variasie wat oor ʼn tydperk gebeur. Hierdie tipe variasie kan op ʼn individuele vlak, of op ʼn groepsvlak bestudeer word. Op individuele vlak word daar ondersoek ingestel na ʼn individu se taalverandering, hoe die persoon se taalgebruik oor ʼn tydperk, soos die individu ouer word, en met verskillende mense interaksie het, verander. Die veranderinge op groepsvlak verwys na hoe die taal van ʼn sosiale groep verander.

Dit is belangrik om verder ondersoek in te stel na die effektiwiteit van ʼn korpus- en sosiolinguistiese ondersoek. Baker (2010:9) stel dat daar vyf redes is wat bydra tot die waarde en effektiwiteit van ʼn kombinasie van sosiolinguistiek en korpuslinguistiek:

 Korpuslinguistiek en sosiolinguistiek stem ooreen in terme van fundamentele beginsels. Beide die benaderings maak gebruik van ʼn versameling en analise van ʼn teks (korpus) waarin taal beskou kan word, soos dit natuurlik deur die gebruikers gebruik word. Verder word daar ook klem gelê op die voorkoms van hoe taal gebruik word en die sosiale konteks. Dus geld die beginsel dat die analise van taal binne ʼn sosiale konteks met empiriese data ondersteun kan word.

 Beide korpus- en sosiolinguiste maak gebruik van kwantitatiewe metodologie om sodoende vergelykende studies uit te voer. In hierdie tipe studies word daar ondersoek ingestel na die verskille en ooreenkomste in tekste, en die taalgebruik wat daarin gevind word.

 Beide sosio- en korpuslinguistiese benaderings maak gebruik van steekproefnemings om sodoende ʼn groter korpus saam te stel, wat die taalgebruik in die ondersoek meer getrou sal uitbeeld.

 Beide die benaderings stel ondersoek in na variasie en verandering in ʼn taal, en daarvoor word daar na ʼn verskeidenheid taalkundige faktore, soos fonetiek, morfologie, leksikon, grammatika, diskoers en pragmatiek, ondersoek ingestel.

 Laastens poog beide die sosio- as korpuslinguiste om die bevindinge van studies nie net te regverdig nie, maar ook te verduidelik aan die hand van die sosiale konteks waarin die studie plaasgevind het. Hoekom sekere veranderinge in ʼn taal plaasvind word dus verduidelik.

Baker (2010:9) sluit dan af deur te stel dat sosio- en korpuslinguistiek oorvleuel in terme van epistomologie, fokus en skopus. Dus kan ʼn korpuslinguistiese benadering aangewend word wanneer daar ʼn sosiolinguistiese studie gedoen word, om sodoende groot hoeveelhede bestaande data of hulpmiddele oor hoe om ʼn korpus, wat as ʼn omvattende voorstelling van die taal van ʼn individu of groep gesien kan word, saam te stel. Verder is dit ook belangrik om na die rekenaarhulpmiddels en -programme, sowel as die metodes, te kyk wat deur korpuslinguiste gebruik word om taalpatrone en die frekwensie van woordgebruike te ontleed.