• No results found

HOOFSTUK 4: DIE NORMATIEWE TAAK OOR DIE ROL VAN

4.10 VERGIFNIS IN MATTEÜS

4.10.4 Matteüs 18:15 – 35 in konteks

4.10.4.1 Konflik hantering in Matteüs 18:15-17

In Matteüs 18:15-18 gebruik Christus twee keer die woord “ekklesia”. Die enigste ander plek waar Hy dit gebruik, is in Matteüs 16:18 (Indermark, 2008:48). In Matteüs 18:15-18 wil Christus juis klem lê op hoe die kerk konflik moet hanteer. In gemeentes in die Skrif is konflik ontbloot, maar daar is sodanig opgetree dat herstel en versoening bewerkstellig kon

124

word. Die rede om versoening te bewerkstellig is omdat haat, wraak en onverge- wensgesindheid ongesond is en die eenheid binne 'n gemeente kan versteur (Adeyemo, 2006:1146; Mitch & Sri, 2010:135).

Om te verstaan wat moet plaasvind wanneer daar konflik is, gebruik Matteüs sinne wat voorwaardes bevat (Garland, 2001:193). Die Grieks wat gebruik word vir “as”, dui aan dat aksies gevolge het. Die voorwaardes is:

a) “as jou broeder teen jou sondig” (Matteüs 18:15)

In die eerste deel van Matteüs 18 is die klem op kinders, maar in Matteüs 18:15-17 skuif die fokus na 'n broeder. Die Griekse woord wat broer beteken verwys na 'n medegelowige, die familie van die liggaam van Christus of 'n dissipel (Barker, 2002:1498; Senior, 1998:209). In Matteüs 18 leer Christus dus hoe sake van oortredinge en vergifnis binne die liggaam van Christus hanteer moet word (Carter, 2001:367; Dobson et al., 1994:1931).

Die Griekse woord vir oortreding, “hamartano”, in Matteüs 18:15 word met “sal oortree” vertaal. Dit kan verder beskryf word met die frase “om die merk te mis” (Michaels, 2008:23). Om die merk te mis beteken dat die betrokke party nie die prys sal verkry nie en die effek daarvan is straf, wat sinoniem is vir die Hebreeuse vertaling van oortreding, “chattaah” (Ambridge, 2013:26). Die woord “sal oortree” in Matteüs 18:15 is in die toekomende tyd geskryf en wys daarop dat dit onvermydelik is dat oortredinge sal plaasvind wat vergifnis vereis (Hauerwas, 2006:78; Yeomans, 1993:138).

Aangesien dit onvermydelik is dat oortredinge plaasvind, moet daar meganismes wees om die konflik binne die liggaam van Christus te hanteer. “As jou broerder teen jou sondig”, moet daar gevolglik teregwysing plaasvind “tussen jou en hom alleen” (Matteüs 18:15). Die Griekse woord vir “bestraf” word vertaal met “beskuldiging”, “in berekening bring”, “vermaan”, “teregwys”, “om fout te vind” of “om reg te stel” (Cosenza, 2009:29). Die verantwoordelikheid rus op die party wat te na gekom is, om privaat met die medegelowige te kommunikeer, om die misstap reg te stel en dit uit te klaar eerder as om dit geborge te hou en te koester (Yeomans, 1993:138; Senior, 1998:209). Die verontregte neem die eerste stap om versoening te bewerkstellig, net soos die goeie herder in Matteüs 18:10-14 (Carter, 2001:367). Wanneer die beskuldigde privaat hanteer word, word eersgenoemde beskerm teen laster (Bridget, 2010:445).

125

Matteüs 18:15 verduidelik die voordeel om konflik te hanteer.

b) “as hy na jou luister” (Mat 18:15)

Die woord “luister” wat gebruik word in Matteüs 18:15 verwys na die verlies wat sal plaasvind indien belydenis en berou nie geskied nie. Volgens Carter (2001:367) kan versoening slegs plaasvind wanneer die oortreding erken is, belydenis gedoen is en vergifnis verleen en ontvang is. Die hoofdoel van teregwysing is “om te wen”, (“kerdainō”), en dus om vrede te bewerkstellig (Myers & Enns, 2009:67). Wanneer geen vrede bewerkstellig is nie, word hindernisse en gevoelens nie uit die weg geruim nie (Yeomans, 1993:138). Versoening word moontlik indien ag gegee word op teregwysing.

c) “as hy nie luister nie” (Mat 18:16)

Wanneer 'n broeder nie luister na teregwysing waar dit privaat geskied het nie, mag daar getuies ingeroep word. Deuteronomium 19:15, bespreek die wettelike aspek ten opsigte van twee of drie getuies (Senior, 1998:209). Deuteronómium 19:15 stel dit duidelik dat geen saak bekragtig mag word met minder as twee getuies nie (O'Grady, 2007:146). Getuies in dié geval, verteenwoordig die outoriteit van die gemeenskap wat teenwoordig is (Carter, 2001:368). Verslag oor wat plaasgevind het, word weergegee, omdat daar 'n begeerte bestaan dat versoening moet plaasvind (Carter, 2001:368). Matteüs 18:16 noem dat een of twee getuies teenwoordig moet wees waar teregwysing plaasvind in die geval waar 'n oortreder nie luister nie.

d) “as hy na hulle nie luister nie” (Matteüs 18:17)

Wanneer die oortreder nie luister na vermaning in die teenwoordigheid van een of twee getuies nie, word die gemeente ingeroep (O'Grady, 2007:146). Die Griekse woord “ekklesia”, wat met “kerk” vertaal word, is afgelei van die Hebreeuse woord wat 'n gemeente beteken en verwys ook na gelowiges en dus die wat Christus navolg (Senior, 1998:209). Die woord “ekklesia” is ook ’n verwysing na 'n politieke vergadering waar besprekings en besluite geneem is. Christus gebruik dus die woord om te verduidelik dat die gemeente ook oor belangrike sake bymekaar geroep moet word (Atkersin, 2005:76). Die oorspronklike

126

konteks hou verband met die plaaslike gemeente wat 'n saak beoordeel (Barker, 2002:1498). Die doel is dat eenheid in die gemeente bewerkstellig kan word oor die saak, sodat vergifnis soos in Matteüs 6:14-15, 18:12-14, 21-25 vermeld, kan plaasvind (Adeyemo, 2006:1147).

Daar is geen versekering dat versoening bewerkstellig sal word nie. Matteüs 18:17 bied verdere leiding in verband met die hantering van 'n oortreder wat nie tot inkeer kom nie. Wanneer geen versoening bewerkstellig is nie, moet so 'n oortreder dieselfde as 'n heiden of 'n tollenaar, met ander woorde, as 'n ongelowige, behandel word (Senior, 1998:209; Yeomans, 1993:138). Oor die algemeen word aangevoer dat so 'n oortreder heeltemal ignoreer moet word. Wanneer iemand nie 'n oortreding erken nie, word dié persoon egter verwerp uit die gemeenskap van gelowiges om sodoende gelei te word tot insig en berou (Yeomans, 1993:139). Die isolasie van 'n oortreder wat geen berou betoon nie, verwys moontlik na ongehoorsaamheid teenoor God en dat die verhouding met so iemand verbreek is (Carter, 2001:368). 'n Gelowige wat geen berou toon nie, moet dus verwerp word uit die gemeenskap van gelowiges, maar tog na uitgereik word in dieselfde manier wat daar na ongelowiges uitgereik word (O'Grady, 2007:146).

Weekes (2001:11) meld dat 'n belastinggaarder onder die outoriteit van die staat funksioneer. Sy taak is om belasting in te vorder en om nie belastingbetalers te verskoon of vry te spreek nie. God verwag vergifnis. Die onvergewensgesinde word in dieselfde lig beskou as 'n belastinggaarder wat nie aan die vereistes van God voldoen nie. So iemand staan nie onder God se gesag nie (Weekes, 2001:11).

Die gevolge van onverwerkte konflik veroorsaak verdeeldheid onder gelowiges, wat 'n negatiewe uitwerking het op gemeenskaplike gebed. Matteüs 18:19-20 bespreek die krag van gebed van gelowiges wat in eenheid is.