• No results found

HOOFSTUK 4 GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

4.2 AANBEVELINGS

4.2.2 Kliniese Praktyk

4.2.2.1 Nouer samewerking tussen instansies

Volgens Kloster et al. (2007:161) kan die gebruik van slegs onderrigmetodes nie die studentverpleegkundige se beroepsvoorkeur verander nie. Die omgewing moet ook sekere veranderings ondergaan. Alhoewel opleidingskole gewoonlik min invloed in psigiatriese inrigtings en hul personeel se funksionering het, kan sekere aanbevelings wel gemaak word om die leerervarings te probeer verbeter.

Volgens die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging moet alle akkrediteerde opleidingsinstansies oor onderlinge samewerkingsooreenkomste beskik. Dit kan as die grondslag vir nouer samewerking dien om optimale werkplekleerervarings aan die studentverpleegkundiges te verseker. Verpleegopleidingskole word gesien as plekke waar studente onderrig word, in teenstelling met die plasingsareas wat beskou word as plekke waar studente klinies praktiseer. Die lewering van kundige, vaardige en bevoegde verpleegkundiges is egter ʼn gedeelde verantwoordelikheid (Happell, 2009b:375).

Nouer samewerking tussen al die instansies het ten doel dat wedersydse insette van beide die opleidingskole en praktyk aangehoor word om sodoende die leerervaring van studentverpleegkundiges positief te verander. Nog ʼn doel is om die personeel van die instansies te bemagtig ten opsigte van hul eie professionele vaardighede en ontwikkeling. Opleidingskole moet dus moeite doen om effektiewe ooreenkomste met alle psigiatriese instansies te sluit.

Strategieë vir nouer samewerking wat hier aanbeveel word, is:

 ʼn kwartaallikse vergadering met al die betrokke personeel van die opleidingskole en psigiatriese instansies;

 die uitruil van inligting oor praktykvereistes, leeruitkomste, doelwitte, take, pasiëntbehoeftes;

 kwartaallikse terugvoer van alle partye indien enige probleme met opleiding of studente ervaar is;

 die beskikbaarheid en toeganklikheid van alle hulpbronne en –middels aan studentverpleegkundiges by elke instansie;

 uitruiling van probleemoplossingstegnieke en die oordeelkundige implementering daarvan; en

 wedersydse effektiewe kommunikasie wat deur senior verpleegbestuurslede koördineer word.

Opleidingskole kan as opvoedkundige hulpbronne dien en opleiding op gebiede wat deur die betrokke instansie as leemtes geïdentifiseer is, verskaf. Soortgelyke werkswinkels as vir die studentverpleegkundiges kan ook vir die kliniese inrigtings se personeel aangebied word. Sodoende kan die psigiatriese praktykverpleegkundiges op hoogte gehou word van enige vakveranderings of aanpassing in die leeruitkomste wat studentverpleegkundiges moet bereik. Dit is ook die ideale geleentheid waar al die kliniese psigiatriese instansies en opleidingskole se personeel mekaar beter kan leer ken. Professionele verhoudings en brûe kan op die manier gebou word.

4.2.2.2 Preseptors

ʼn Preseptor is ʼn professionele verpleegkundige wat die student in die praktyk begelei. Kenmerkend van dié fasilitering is die integrasie van teorie en praktyk, die ontwikkeling van vaardighede en ondersteuning van die studentverpleegkundige. Elke studentverpleegkundige ontvang persoonlike aandag wat kan lei tot optimale leerervarings (Happell, 2008:850; Yonge, Billay, Myrick et al., 2007:9). Positiewe leerervarings het ʼn meer ontspanne houding tot gevolg, wat op die beurt weer leer gaan bevorder. In hierdie klimaat word psigiatriese verpleegkunde outomaties ook dan gunstiger gesien (Charleston & Happell, 2005:1175; Gough & Happell, 2009:3161).

Geskikte preseptore wat voldoen aan die voorgeskrewe vereistes van die opleidingskool en erkende verpleegkwalifikasies moet aangewys word. Die preseptor tree as ʼn mentor, fasiliteerder, rolmodel en leier op. So ʼn preseptor kan ʼn kliniese fasiliteerder of professionele verpleegkundige uit die praktyk wees.

Die doel van preseptorskap is dat die studentverpleegkundiges deurlopend ondersteuning van ʼn kundige persoon in die praktyk ontvang. Hierdie persoon moet ook die fynere punte van teorie en praktyk integrasie aan die studentverpleegkundige kan vertoon.

Vereistes waaruit so ʼn preseptorskap sou bestaan, sluit in:

 die verpligte bywoning van ʼn induksieprogram en toepaslike opleiding;  die bywoning van gereelde vergaderings met die programkoördineerders;  die aanbieding en frekwensie van terugvoer-geleenthede (feedback) wat aan

studentverpleegkundiges gebied moet word; en

 verpligte reflektering wat met studentverpleegkundiges na elke plasing in die psigiatriese gesondheidsorg instansie gedoen moet word.

4.2.2.3 Informele aktiwiteite

Studentverpleegkundiges kan jaarliks ʼn geleentheid in samewerking met ʼn psigiatriese instansie bywoon of reël. ʼn Goeie voorbeeld van só ʼn geleentheid is die jaarlikse institusionele atletiekbyeenkoms wat reeds by verskeie psigiatriese instansies gehou word. Hierdie byeenkoms is sosiaal van aard en totaal ontspanne, waartydens studentverpleegkundiges hul pasiënte op ʼn heel ander manier kan leer ken. Studentverpleegkundiges kan ook ʼn jaarlikse sosiale geleentheid help reël wat volgens ʼn spesifieke tema aangebied kan word, byvoorbeeld ʼn dans. Hierdie is ʼn ideale kans vir die senior studentverpleegkundiges om die eerstejaars uit te nooi en sodoende die psigiatriese pasiënte op ʼn meer sosiale vlak aan hulle bekend te stel. Die senior studentverpleegkundiges kan as mentors vir die eerstejaars optree. So ʼn sosiale geleentheid waar studentverpleegkundiges in ʼn ontspanne atmosfeer en onder die oog van hul meer senior kollegas met pasiënte omgaan en kommunikeer, sal waarskynlik hul persepsies oor psigiatriese verpleegkunde meer positief verander (Hoekstra et al., 2010:7).

4.2.2.4 Institusionele konferensies

Oerman en Sperling (1999:78) stel voor dat studentverpleegkundiges van opleidingskole ʼn konferensie reël waar alle studente van verskeie instansies beraadslag oor verskeie onderwerpe. Terapeutiese tussentredes wat geevalueer / gekritiseer word en bespreking van verskillende kliniese situasies kan byvoorbeeld as netwerk of leergeleenthede benut word. Nog ʼn voorstel is die reël van institusionele debatte. Op so ʼn wyse kan etiese dilemmas, die gebruik van tegnologie in die psigiatriese verpleegpraktyk en spesifieke terapeutiese tussentredes se voor- of nadele beredeneer word. Relevante en selfs kontroversiële temas kan in so ʼn sessie bespreek en ontleed word. Sodoende kan psigiatriese verpleegkunde so interessant moontlik vir die studentverpleegkundiges voor gehou word. Ten laaste kan jong, dinamiese en kundige gassprekers genooi word om studentverpleegkundiges toe te spreek en hulle sodoende motiveer om psigiatriese verpleegkunde as beroep te oorweeg.