• No results found

HOOFSTUK 5: Slot en gevolgtrekking

5.3 Strategiese bestuur van kommunikasie op die Weg-tydskrifte se Facebook-blaaie

5.4.2 Interaktiwiteit van Weg se Facebook-blaaie

Uit die inhoudsanalise is dit duidelik dat daar talle geleenthede gebied word waar Weg- tydskrifte se Facebook-bladgebruikers betrokke kan raak by gesprekke en ander inhoud wat op hul Facebook-blaaie gedeel word. Die Weg-organisasie ervaar die funksie van interaktiwiteit deur middel van hul Facebook-blaaie as veeldoelig, byvoorbeeld vir marknavorsing en die vestiging van gesonde Weg-tydskrifte Facebook-bladgemeenskappe.

Ten opsigte van marknavorsing vergemaklik tweerigtingkommunikasie die bepaling van Facebook-bladgebruikers se behoeftes en sienswyses. Hierdie behoeftes kan dan verder ondersoek word en as inhoud in die tydskrif of op die Facebook-blaaie gepubliseer word, sodat ’n groter aantal Facebook-bladgebruikers se behoeftes bevredig kan word. Hierdie vorm van interaktiwiteit skep by Facebook-bladgebruikers die gevoel dat hulle kan bydra tot die bepaling van die inhoud van die tydskrif en die onderskeie Facebook-blaaie, wat ’n gevoel van wederkerige beheer in die verhouding tussen die Weg-organisasie en sy Facebook-bladgebruikers skep.

Die interaktiwiteit tussen die Facebook-bladgebruikers, en Weg-tydskrifte se gewilligheid om hierdie interaktiwiteit te fasiliteer, is ook ’n kenmerkende faktor uit die inhoudsanalise. Hierdeur skep Weg-organisasie die indruk dat hulle waarde heg aan hul gebruikers se behoeftes, wat sterk aansluit by Hon en Grunig (1999:14-17) se 'versekering van egtheid' verhoudingsboustrategie.

Die vinnige aard van tweerigtingkommunikasie deur Facebook sorg vir meer doeltreffende kommunikasie en dat Weg-organisasie ’n beter diens aan hul Facebook-bladgebruikers kan bied, wat in effek hul lojaliteit teenoor die organisasie verhoog.

’n Ander vorm van interaktiwiteit wat uit die onderhoude geïdentifiseer is, is die deelbaarheid van die inhoud wat gepubliseer word. Die doel met elke publikasie is nie net om kommentaar te verkry nie, maar ook dat die Facebook-bladgebruikers hierdie inhoud verder met hul Facebook-vriende sal deel. Hierdie fokus op deelbaarheid van inhoud gee vir Weg- organisasie meer blootstelling onder mense wat nie gebruikers van die Facebook-blaaie is nie en bevorder die Weg-handelsmerk.

115 Die inhoudsanalise het ook getoon dat kompetisies ’n belangrike rol speel op die onderskeie Facebook-blaaie. Hierdie kompetisies bied vir Facebook-bladgebruikers die geleentheid om aktief deel te neem aan Weg-organisasie se besluitnemingsprosesse en laat hulle voel asof hulle tot ’n sekere mate beheer het oor die inhoud wat in die onderskeie tydskrifte of op hul Facebook-blaaie verskyn. Die feit dat die Facebook-bladgebruikers se opinies en stories in ag geneem word, dui op ’n verhouding gekenmerk deur wederkerige beheer tussen die organisasie en sy Facebook-bladgebruikers.

5.4.3 Nuttigheid

Weg-organisasie se onderskeie Facebook-blaaie fokus baie sterk op die verspreiding van

inligting en dit word doeltreffend toegepas. Die inligting wat op die Facebook-blaaie gepubliseer word, is belyn met die inligting en artikels wat in die tydskrifte verskyn. Publikasies op Facebook word ondersteun deur foto’s of aanhalings van joernaliste uit die

Weg-tydskrifte se artikels. Interaktiwiteit na aanleiding van publikasies is ’n aanduiding dat

die tydskrifte se Facebook-bladgebruikers die inhoud wat gedeel word, as nuttig beskou.

Daar word ook dikwels op die onderskeie Facebook-blaaie ander projekte aan gebruikers bekend gestel om hulle betrokkenheid by hierdie aktiwiteite te bevorder. Hierdeur stel Weg- tydskrifte hul gebruikers in kennis dat hulle betrokke is by eksterne geleenthede waar hulle in samewerking met ander organisasies probleme oplos en ’n positiewe impak op die omgewing en samelewing het. Hierdie is ’n voorbeeld van netwerkversterking as verhoudingsboustrategie (Hon & Grunig, 1999). Uit die inhoudsanalise was daar publikasies van eksterne aktiwiteite op elk van die onderskeie Facebook-blaaie wat in meeste gevalle waarde bied vir die Facebook-bladgebruikers. Laasgenoemde het hoë belangstelling in hierdie aktiwiteite en projekte getoon.

Uit die inhoudsanalise, asook die semi-gestruktureerde onderhoude, is daar ook vasgestel dat nie alle vorme van nuttigheid net op sosiale media plaasvind nie, maar dat tradisionele media steeds ʼn belangrike rol speel. Weg-organisasie is daarvoor bekend om elke jaar addisionele tydskrifte te publiseer met eksklusiewe inhoud wat benewens die gewone tydskrifte aan hul lesers beskikbaar gestel word. Hierdie tydskrifte is tydloos en word spesiaal gepubliseer om vir die lesers iets ekstra en nuttig te bied, wat daarop dui dat Weg- organisasie toegewyd is aan hul gebruikers en baie waarde heg aan die verhouding met hul belangegroepe. In hierdie geval ondersteun die Facebook-publikasies die bekendstelling en verkope van die tydskrifte.

116

5.4.4 Samevatting

Weg-organisasie moet aandag gee aan die organisatoriese inligting wat op die onderskeie

Facebook-blaaie verskaf word. Weg!, WegRy en WegSleep moet verseker dat alle inligting wat op hul Facebook-blaaie gepubliseer word, korrek is en dat webtuisteskakels korrek gebruik word. Die beskrywende inligting oor die aard van die onderskeie tydskrifte, asook hoe elk van die tydskrifte oorhoofs inskakel by die Weg-organisasie, kan beter beplan word om konsekwentheid te verseker tussen die onderskeie Facebook-blaaie. Daar is ook inligting wat onvolledig aangedui word en onder die verkeerde kategorieë gepubliseer is wat gekorrigeer moet word om by te dra tot die professionele voorkoms en volledigheid van die onderskeie Facebook-blaaie.

Deur gebruik te maak van ’n inhoudstrategie en -kalender kan WegRy en WegSleep die inhoud van hul Facebook-publikasies beter beplan en ook meer gereeld inhoud publiseer. Die publikasietydriglyne van Weg!-tydskrif kan gevolg word sodat Facebook-bladgebruikers weet wanneer hulle nuwe inhoud op die Facebook-blaaie kan verwag. Inhoud wat gepubliseer word, kan ook meer strategies beplan word om oop en eerlike kommunikasie, interaktiwiteit en nuttigheid te bevorder en so die verhoudings met hul Facebook- bladgebruikers te versterk.

Alhoewel daar in sekere gevalle verbeterings ten opsigte van die bestuur van die kommunikasie deur die Weg-tydskrifte se onderskeie Facebook-blaaie gemaak kan word, kan daar steeds afgelei word dat Weg-organisasie Waters et al. (2009:103) se drie verhoudingsboustrategieë, naamlik dat kommunikasie oop en eerlik moet wees, dat die Facebook-blad vir die gebruikers nuttig moet wees, en dat dit interaktief moet wees, toepas. Aangesien die strategieë toegepas word, behoort die uitkomste van verhoudings daardeur versterk te word.