• No results found

9. Bedryfsmodelle

10.3. Inkomste

10.3.1. Ongeag die aanduidings dat die tradisionele inkomstemodel in die mediabedryf, advertensie- en intekengeld, minder geslaag vir Internet-media is, lyk dit of die uitgewers van aanlynnuuswebwerwe dit steeds as die ankerbronne ten opsigte van hul inkomste beskou.

10.3.2. Wat inkomste uit advertensies betref, is dit beslissend dat ʼn maatinstrument gevind word, wat die unieke voordele van aanlynadvertering in hul volle konsekwensie aan potensiële adverteerders kan uitstippel. Daarsonder sal die enorme potensiaal van advertensies as inkomstebron nooit na behore benut kan word nie.

Dit is kommerwekkend dat die uitgewers van nuuswebwerwe oënskynlik nie genoeg doen om eenvormige, bruikbare en behoorlik geouditeerde inligting oor hul gehore aan potensiële adverteerders te veskaf nie.

Daar word aanbeveel dat dringende stappe gedoen word om verfynde maatstawwe te ontwikkel, wat onder meer die volle omvang van die voordeel van interaktiewe advertensies meet en dat sodanige gehoorontledings onafhanklik geouditeer word voordat dit aan potensiële adverteerders beskikbaar gestel word.

10.3.3. Die registrasie van gebruikers as navorsingsinstrument om die demografie van ʼn nuuswebwerf se gehoor vas te stel, sal toenemend van belang word. Uitgewers behoort voortdurend daaraan te skaaf om die omvangrykste databasisse moontlik saam te stel met

die minste moontlike aantasting van die gebruiker se ervaring wanneer hy of sy die webwerf besoek.

10.3.4. Die korrekte prysvasstelling, nie so hoog dat dit gebruikers of adverteerders afskrik nie, maar ook nie so laag dat potensiële inkomste verlore gaan nie, stel nog ʼn tergende vraag wat uitgewers sal moet beantwoord. Eenvormige metingsnorme behoort daartoe by te dra dat prysvasstelling op wetenskaplike voet geplaas word.

10.3.5. In die finansiering van nuuswebwerwe lê die uitdaging vir uitgewers van nuuswebwerwe daarin om die regte modelkruising te vind. Hulle sal egter ook voortdurend nuwe permutasies op die proef moet stel. Die bepaalde model wat elke individuele element van die waardeketting van nuuswebwerwe insluit, sal aangepas moet word na gelang van omstandighede wat op ʼn bepaalde tydstip in die onderneming en sy markomgewing heers en sal voortdurend na gelang van veranderende omstandighede aangepas moet word.

10.3.6. Gebruikers se onwilligheid om vir nuus te betaal, lei daartoe dat byna alle nuuswebwerwe hulle deesdae as portale in die mark posisioneer om inkomste te verdien uit bedrywighede soos aanlyndobbel en e-handel, wat tradisioneel nie deel van die nuusprentjie is nie. Nuus speel toenemend ʼn sekondêre rol en dit is onwaarskynlik dat dit sal verander.

10.3.7. Nuuswebwerwe se soeke na inkomste lei daartoe dat die skerp lyn wat tradisioneel tussen redaksionele stof en advertensies getrek is, besig is om te vervaag en het in bepaalde gevalle waarskynlik reeds verdwyn. Dit is tot voordeel van die uitgewer en adverteerder, maar nie van die gebruiker nie. ʼn Groter deursigtigheid en eerlikheid moet gehandhaaf word en die gebruiker moet duidelik tussen nuus en kommersiële inhoud kan onderskei.

10.3.8. Omdat die groter nuuswebwerwe die massa-advertensiebesteding lok, sal die uitgewers van kleiner webwerwe steeds innoverend na nuwe inkomstebronne moet soek. Kernvaardighede en nisbediening kan ʼn belangrike rol speel in die lewensvatbaarheid van sulke webwerwe.

10.4. Samevatting

10.4.1. Hierdie studie probeer geensins om ʼn volledige beeld te skep of ʼn finale antwoord op die probleem van die lewensvatbaarheid of winsgewendheid van nuuswebwerwe te gee nie. Dit bied bloot ʼn vertrekpunt vir verdere studie ten opsigte van bepaalde deurslaggewende fasette van die uitgee van nuuswebwerwe. Die debat oor die ideale bedryfsmodel sal waarskynlik voortduur solank as wat daar nuuswebwerwe bestaan. 10.4.2. Die inkomstemodelle wat hierbo bespreek word, is hoegenaamd nie uitvoerig nie, maar dui eerder op die bykans oneindige permutasie van modelle wat moontlik is. Die gebruik van modelkruisings is die reël en dit is te betwyfel of enkelvoudige modelle oor die algemeen lewensvatbaar sal wees. Net soos in die geval van die gedrukte media waar advertensies die redaksionele poging kruisfinansier, sal kruisfinansiering binne die onderneming die enigste lewensvatbare uitweg vir nuuswebwerwe bied.

10.4.3. ʼn Lewensvatbare bedryfsmodel sal dus daardie model wees wat die grootste bydrae van elkeen van die samestellende elemente tot die voortgesette bedryf van die onderneming, in hierdie geval die nuuswebwerf, verseker.

10.4.4. Dit is ʼn oorvereenvoudiging om te wil beweer dat die Internet die speelveld gelyk maak en enigiemand ʼn nuuswebwerf kan uitgee. Die groot mediakonglomerate met hul toegang tot ontsaglike kapitaalbronne en eienaarskap van ʼn wye spektrum van massamedia, insluitende rolprente en musiek, is eenvoudig strate beter as die klein uitgewer geposisioneer om geld uit die uitgee van ʼn nuuswebwerf te maak.

10.4.5. Trouens, die blote begrip “nuuswebwerf” word bedreig omdat nuus op sigself klaarblyklik nie ʼn kommoditeit is wat winsgewend op die Wêreldwye Web verhandel word nie.

10.4.6. Dit is juis die laasgenoemde verskynsel wat ernstige twyfel laat ontstaan of nuuswebwerwe, gemeet aan die nisteorie en voldoening, op die lang duur geslaagde media-ondernemings sal word. As die huidige tendense voortduur, sal nuus waarskynlik ʼn ondergeskikte, bloot aanvullende rol in algemene kommersiële webwerwe speel.

10.4.7. Nuuswebwerwe se voortbestaan in eie reg hang eerstens af van die ontwikkeling van ʼn algemeen aanvaarbare metingsnorm ten opsigte van die demografie en omvang van hul gehore en, tweedens, of hulle daarin kan slaag om kostedoeltreffende maniere te vestig om die unieke eienskappe van die Internet ten volle by die aanbieding van nuusinhoud te benut.