• No results found

Hoofstuk 2: Filosofiese en Metodologiese oorwegings

2. Epistomologiese bespreking van Postmodernisme

2.7 Ineenstorting van eenheid

Wanneer “grand narratives” van vasgestelde strukture en absolute waarhede verwerp en verruil word vir die dekonstruksie van narratiewe, en wanneer die waarheid verstaan word as slegs relevant tot die bepaalde konteks, dan stort die hele gedagte van eenheid in duie. Eenheid verwys hier na slegs een sisteem, een verduideliking, een manier van verstaan en een waarheid vir almal (logosentrisme). Die ineenstorting van eenheid dui daarom op die postmodernisme se verwerping van ’n sisteem wat universeel van toepassing is op waarheid en beginsels (Janse van Rensburg 2000:8-9).

2.8 Fragmentering van narratiewe

Volgens Neal (1996:66) word die volgende met die konsep narratief bedoel:

” A narrative can be understood as the ’frame of intelligibility‘ persons use to interpret reality.“

Deur middel van ’n narratief is dit vir die individu moontlik om sy/haar realiteit verstaanbaar te interpreteer. ’n Narratief is nooit neutraal nie, maar word deur die betrokke individu se kultuuromgewing en taal beïnvloed. Dit bring mee dat

die narratief gevolglik ook subjektief is in terme van die effek wat dit sal hê op ander mense.

Saleebey (1994:353) benadruk die kulturele verbondenheid van die begrip narratief soos volg:

”. . . narratives are grounded in culture, are widespread, and more attentive to form and style, and are essential to the culture.“

Narratiewe ontstaan binne kulturele omgewings waar dit die rol vervul van diensbaarheid aan die individu. Deur middel van ’n narratief gee die mens betekenis aan sy/haar lewe en situasie. Die mens gee ook binne die konteks van ’n narratief betekenis aan sy/haar ervaringe, en gee ook via die narratief, uitdrukking aan die ervaringe wat deur hom/haar beleef word. Deur die narratief vind die mens die medium waardeur hy/sy in taal, sy/haar interpretasie van lewensgebeure en ervaringe aan die sosiale omgewing bekend maak.

Die interpretasie van lewensgebeure en die gepaardgaande betekenisgewing van die lewensgebeure vind altyd plaas binne die breër kultuursfeer. Dit het tot gevolg dat die navorser moet kennis dra van die breër kultuursfeer waarbinne die narratiewe vertel word, sodat die narratiewe wat vertel word binne konteks verstaan en geïnterpreteer kan word. Narratiewe kan met reg die essensie van kultuur genoem word (Saleebey 1994:352).

Hierdie standpunt bring mee dat die individu se lewenservaring betekenis en uitdrukking kry binne die sosiale omgewing van die kultuurgemeenskap waartoe hy/sy behoort. Binne die kultuuromgewing word taal voorsien waarin die narratiewe betekenis kry. Die narratief is dus die produk van die kultuurgemeenskap waarbinne die verteller hom/haar bevind.

Narratiewe word nie net in ’n bepaalde kultuur en konteks gevorm en vertel nie, maar dit word ook in daardie konteks aangehoor en op dié manier gebeur dit dat die kultuur self vorm aan die narratief gee (Dean 1995:292). Binne die kultuurmilieu is daar ’n dinamiese aaneenlopende proses van vervorming en omvorming van narratiewe aan die gang. Dit bring mee dat ’n narratief in een kultuur as waarheid aanvaar en beskou word, maar binne ’n ander kultuur sal dit nie as waarheid geïnterpreteer word nie. Geen kulturele groepering kan dus daarop aanspraak maak dat hulle die alleenreg op die waarheid het en dat dit net in hulle narratiewe vasgevang word nie.

Die sleutelidee van postmodernisme is dat die waarheid, as ’n objektiewe realiteit, nie bestaan nie. Volgens die epistomologie van die postmodernisme bestaan die realiteit uit ’n veelvoud van narratiewe wat gehanteer moet word as oop-einde refleksies van die realiteit. Hulle is oop-einde aangesien die waarde en die interpretasie van die narratiewe alleen staatmaak op die uitkoms. Die uitkoms van ’n narratief bepaal die etiese evaluasie daarvan. Die uitdaging van die postmodernisme lê daarom nie op die vlak van om die waarheid te vertel

soos wat dit is nie, maar om die waarheid te vertel soos wat dit kan word (Janse

van Rensburg 2002:9).

Kvale (1992:27) ondersteun ook hierdie oop-einde benadering as metode om ’n nuwe dimensie te verskaf aan sielkundige metodologie. Dit bring nuwe vorme van teorie, interpretasie en verstaan mee. Binne hierdie strategie van verstaan word die “grand narrative” gefragmenteer in ’n veelheid van narratiewe wat ontwikkel uit die teks. Hierdie strategie staan bekend as dekonstruksie.

2.9 Dekonstruksie

Degenaar (1996:13-14) gee ’n baie goeie samevatting en beskrywing van die aard en metodologie van dekonstruksie. Dekonstruksie het aanleiding gegee tot die ineenstorting van eenheid deur die logosentriese manier van dink van die Westerling en om hom/haar sodoende uit te daag en te konfronteer. Volgens

die logosentriese benadering moet ’n teks deur die rede en konsepte geïnterpreteer word. Vanuit die dekonstruksie moet die teks eerder beskou word vanuit die perspektief van taal. Taal is ’n kontinuum met voortgaande betekenis wat aan die spreker ’n allesomvattende woordeskat gee en waar betekenis altyd dieselfde bly. Hierdie stelling word uitgedaag deur die voorveronderstelling van dekonstruksie dat die betekenis van woorde in ’n voortgaande proses van konstante verandering is. Dekonstruksie vereis die opheffing van die aanname dat woorde verwys na ’n objektiewe realiteit buite die teks, insluitend die subjek.

In dekonstruksie is die teks nie ’n entiteit wat beklee is met “waarheid” en “betekenis” nie. Betekenis is altyd arbitrêr. Betekenis hang af van die groeperinge wat dit met ander tekste sluit. Hierdie intertekstuele verhoudings wat met ander tekste gesluit word, ontken die outonome bestaansreg van die teks. Benewens die ontkenning van die struktuur en die outonome bestaansreg van die teks, is die dekonstruksie ook krities oor die konsep van metataal. Die gebruik van metataal sal beteken dat die leser glo in ’n aparte, objektiewe diskoers wat benewens die diskoers van die teks ook aanspraak maak op onveranderlikheid. Dit is juis wanneer die leser in aanraking kom met die literêre dat die betekenis van die teks bepaal word. Teks en leser “ent” mekaar met betekenis in. Dit bring mee dat die leser nie meer net lees om “insigte” te verkry of om ’n “analise” van die teks te maak nie – lees word ’n dubbele aktiwiteit wat iets te sê het oor die teks én die beperkinge van ons begrip (Hambidge 1992:68).

Hambidge (1992:68) wys daarop dat betekenis nie vasgepen kan word nie; daarom kan die teks nie geïsoleer word tot ’n outonome eenheid nie. Die leser benader die teks met etlike ander tekste. Iedere teks neem vorm aan as ’n mosaïek van aanhalings, en iedere teks is die absorbering en transformasie van ander tekste. Betekenis is daarom ’n instrument van verandering.

Dit is egter nie moontlik om van dekonstruksie te praat sonder om na Jacques Derrida te verwys nie. Daarom is dit nodig om te let op Derrida se verduideliking van wat dekonstruksie is. Dekonstruksie behels die volg van ’n linguïstiese benadering wat verskil onderstreep en ’n statiese interpretasie van woorde of betekenis ondermyn. Elke woord verwys na die volgende woord en word gedefinieer deur dit wat volg. So word daar ’n aaneenlopende verandering van betekenis bewerkstellig. Die veelvuldigheid van narratiewe wat aaneenlopend verander, verteenwoordig dan die beginsels van differánce. Hierdie beginsels van differánce is soos die nimmereindigende eb en vloei van die oseaan; dit verander voortdurend. Met hierdie definisie van dekonstruksie raak die paradigmaskuif wat gemaak word van modernisme na postmodernisme duidelik. In modernisme word die teks bepaal deur logika wat binne die kader van vasgestelde interpretasie (betekenis) van die werklikheid funksioneer. Wanneer die teks egter benader word vanuit ’n linguïstiese oogpunt, soos verteenwoordig deur die postmodernistiese epistomologie, is verandering die woord van keuse. Die konstante verandering in betekenis noodsaak dekonstruksie. Die betekenis van die teks moet gedekonstrueer word om sy metafiese betekenis te vind in ’n bepaalde konteks (Janse van Rensburg 2000:10).

Samevattend kan hierdie deel van die gesprek afgesluit word met Margolis (1985:140) se definisie van dekonstruksie:

“Deconstruction is the general strategy that exposes, by a thousand tactics, the myth of the fixed, essential, timeless, and naturally accessible structures of the independent reality that the totality of (our) intelligibility networks have ‘found out’.”