• No results found

DIE AARD EN GEVOLGE VAN SEKSUELE MISBRUIK VAN KINDERS

2.5 IMPAK VAN SEKSUELE MISBRUIK OP DIE KIND

Hulpverlening aan die seksueel misbruikte kind word volgens Wieland (1997:xiii) dikwels beperk, aangesien maatskaplike werkers nie altyd die dinamika van dit wat binne in die kind gebeur, verstaan nie. Die seksuele misbruik is nie deel van die kind se natuurlike funksionering en ontwikkeling nie en daarom is die gebeurtenis van seksuele misbruik vir die

kind totaal en al ‘n vreemde ervaring in haar leefwêreld. As gevolg hiervan kan kinders dikwels net gedeeltelike inligting van die trauma herroep. Die maatskaplike werker moet deeglike kennis dra van die traumatiese effek van die ervaring op die kind.

2.5.1 Seksuele misbruik as trauma

Daar word algemeen aanvaar dat die seksuele misbruik van kinders ‘n negatiewe psigologiese impak op die slagoffers het en inmeng met ‘n kind se normale, gesonde ontwikkeling (Fouche, 2000:34). Die negatiewe effek wat seksuele misbruik op ‘n kind het, word as volg deur Bass en Davis (in Spies et al., 1998:370) verduidelik:

“When children are sexually abused, their natural capacity is stolen. You were introduced to sex on adult’s timetable, according to adult’s needs. You never had a chance to explore naturally, to experience your own desires from the inside. Sexual arousal became linked to feelings of shame, disgust, pain and humilation”.

Die kind se belewenis van seksuele misbruik het uiteindelik ‘n invloed op haar interne bewustheid van haarself en haar wêreld. Aangesien seksuele misbruik vir die meeste kinders traumaties van aard is, beleef die slagoffer haarself negatief en redeneer dat sy sleg is asook ‘n objek is wat gebruik word. Die effek en dinamika van trauma tydens geheueherroeping gaan bepspreek word.

- Trauma en geheue

Die enkele grootste probleem ten opsigte van seksuele misbruik is die geheimhouding wat gepaard gaan met die seksuele misbruik. Daar is dikwels tydens misdaad ooggetuies of korrelerende inligting ten opsigte van die persone se doen en late ten tye van die pleeg van die misdaad. By die kind wat seksueel misbruik is, is daar egter net twee persone wat werklik weet wat gebeur het. Dit is vir die kind wat psigies beskadig en gedreig is moeilik om ‘n volledige verklaring ten opsigte van die seksuele misbruik te gee.

Die seksuele misbruik is ook nie deel van die kind se natuurlike funksionering en ontwikkeling nie en daarom is die gebeurtenis van seksuele misbruik vir die kind totaal en al ‘n vreemde ervaring in haar leefwêreld. As gevolg hiervan kan kinders dikwels net gedeeltelike inligting van trauma herroep. Baie professionele persone, asook die hof sien die kind se gefragmenteerde inligting as ‘n teken dat die kind se getuienis onbetroubaar is.

Die enigste ander persoon wat ‘n getuie in hierdie spesifieke oortreding is, is die seksuele oortreder. Vanuit die literatuur (Potgieter, 2001:7) is dit duidelik dat enkele oortreders wat erken dat hulle die kind seksueel misbruik het, gewoonlik die misbruik geminimaliseer het tot so ‘n mate dat dit feitlik onmoontlik is om te bepaal wat die werklike impak van die seksuele misbruik op die geheue van die kind is.

Williams en Barnyard (in Potgieter, 2001:51) verwys na Jones en Crookman (1986) wat ‘n gevallestudie aanbied van ‘n driejarige dogter wat ontvoer is. Die beskuldige in hierdie geval het die oortreding erken en die driejarige kind was in staat om die oortreder korrek te beskryf en te identifiseer.

Vervolgens gaan daar verskeie verdedigingsmeganismes bespreek word, wat die seksueel misbruikte kind ervaar om sodoende weer beheer te herwin.

- Dissosiasie as verdedigingsmeganisme

Dissosiasie word gebruik as ‘n verdedigingsmeganisme vir die kind wat seksueel misbruik is, om sodoende kontrole terug te plaas in haar lewe.

Volgens Biere (in Potgieter, 2001:8) word dissosiasie toenemend gesien en geïdentifiseer as ‘n sleutel verdedigingsmeganisme wat gebruik word deur seksueel misbruikte kinders. Dit beteken dat die intensiteit van die seksuele misbruik mag lei tot sekere tipe emosies, byvoorbeeld angstigheid, vrees en hulpeloosheid wat in die amygdala as seksueel misbruik verwante emosie gekodeer word. As gevolg van die intensiteit van die trauma van die seksuele misbruik mag hierdie kind dus probleme ervaar om die inligting ten opsigte van die seksuele misbruik in die hippokampus te kodeer. Dit mag daartoe lei dat die kind gedragsprobleme, regressie, slapeloosheid, nagmerries en ander tipe probleme ervaar. Positiewe mediese bewyse mag seksuele misbruik by hierdie kind bevestig terwyl die kind geen inligting ten opsigte van die misbruik verbaliseer nie. Hierdie kinders se gedrag toon dikwels ‘n hoë vlak van wantroue in mense, asook hiperaktiewe gedrag wat dit uiters moeilik maak vir hierdie kinders om die presiese detail van seksuele misbruik te herroep.

- Geheueherroeping

Dit is van uiterste belang dat die maatskaplike werker besef dat as gevolg van die geheimhouding en trauma wat gepaardgaan met seksuele misbruik, ‘n gedeelte van hierdie inligting so gedissosieerd mag wees dat die kind dit slegs sal kan herroep tydens die gebruikmaking van effektiewe metodes.

Die ideaal is dat die kind inligting omtrent die seksuele misbruik spontaan sal herroep. Dit gebeur slegs enkele kere en dikwels in die teenwoordigheid van ‘n subjektiewe betrokke persoon. Die kans dat die kind inligting spontaan sal bekend maak, is uiters skraal.

Indien daar ‘n traumatiese ervaring plaasgevind het, word hierdie inligting ten opsigte van die emosionele trauma in die amygdala geberg. ‘n Stimulus wat nagenoeg die traumatiese gebeure verteenwoordig, kan dus weer dieselfde emosionele respons by die persoon ontlok.

Indien daar dus aangeneem word dat seksuele misbruik die kind traumatiseer, soos deur Johnson (in Potgieter, 2001:12) aangevoer, beteken dit dat daar gedurende seksuele misbruik bepaalde emosionele inligting in die amygdala vasgelê word. Indien die kind dus met gepaste sensoriese stimuli gestimuleer word, kan sy voldoende emosionele reaksie toon sonder dat die brein se beheerfunksie inligting ten opsigte van die seksuele misbruik kan inhibeer. Deur die amygdala met hierdie stimilu te stimuleer, word norepinefrien verder in die brein vrygestel, wat uiteindelik die kind in staat stel om inligting ten opsigte van die seksuele misbruik meer akkuraat te herroep.

Die afleiding kan dus gemaak word dat kinders wat seksueel misbruik is, ‘n groot mate van trauma ervaar en daarom is die inligting wat in die geheue geberg word dikwels gefragmenteerd en gedeeltes van hierdie inligting ook gedissosieerd.