• No results found

HOOFSTUK 3: OORSIG EN IMPLEMENTERING VAN BELEID

3.10 Hoe vergelyk Suid-Afrika met ander lande?

Dit is nodig dat daar ʼn vergelyking getref word tussen Suid-Afrika en ander lande se beleid rakende tegnologie en die toepassing daarvan in skole. Wat onmiddellik baie duidelik word, is dat daar ʼn ernstige tekort aan literatuur en navorsing bestaan oor onder-na-bo beleidsimplementering, navorsing oor beleidsriglyne aan skole, en navorsing oor IKT-pedagogiese riglyne. Daar is beduidende verskille in die aard van IKT-beleid in Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap, bv. in Suid-Afrika word die beleid deur simplistiese doelwitte gedefinieer, terwyl internasionale IKT-beleid haalbare doelwitte het; internasionale kurrikula is gewysig om IKT in te sluit, maar in Suid-Afrika word IKT-integrasie net bolangs genoem. Vandeyar (2010:82) is van mening dat dit egter duidelik is dat daar verskeie ooreenkomste (beleidstekortkominge, oorladingskurrikulum, fokus op infrastruktuur, tekort aan sistemiese steun, ens.) oor IKT-beleidsimplementering tussen Suid-Afrika en ander lande is.

Daar is ook nie duidelike voorskrifte in die Suid-Afrikaanse konteks met verwysing na die manier waarop skole die nasionale IKT-beleid invoer nie. Volgens DiMaggio en Powell (1983:150) is die manier hoe IKT by inrigtings aangewend en geïmplementeer word baie eenders en volg almal basies dieselfde patroon. ʼn Gebrek aan literatuur op internasionale vlak met verwysing na onder-na-bo beleidsimplementering is ook duidelik. Daar is beduidende

verskille tussen skole in Suid-Afrika en ander lande. Internasionale skole word gesteun deur spesifieke riglyne en hulle word aangemoedig om IKT-beleid te implementeer en outonoom te raak. Literatuur-ooreenkomste beweer dat Suid-Afrikaanse skole dieselfde inhiberende faktore ondervind wat implementering belemmer, soos ʼn groot aantal beleide, gebrek aan sistemiese steun en ʼn tekort aan magtigingsbeleide. Dit blyk ook duidelik uit die literatuur dat daar ʼn tekort aan onder-na-bo IKT-beleidstudies in die internasionale arena is oor hoe toepassing moet geskied, veral op skoolvlak (Vandeyar 2010:82).

Volgens die American Association of School Librarians (AASL) is opvoedkundige tegnologie ʼn instrument wat kan help met die implementering van die gemeenskaplike kernwaardes wanneer dit behoorlik gebruik word. Dit kan help om die uitvalsyfer uit skole te verminder en om studente voor te berei vir die lewe ná skool. Onderwystegnologie wat in isolasie gebruik word sonder direkte opdrag of hoogs gekwalifiseerde leiding versuim om hierdie waardes aan te spreek. In die Amerikaanse Witskrif word die beleid rakende tegnologie deeglik uiteengesit deur sekere vereistes direk aan te spreek, soos The Children’s Internet Protection Act of CIPA (Pub. L. 106-554). Hierdie is ʼn federale wet wat in 2001 deur die Amerikaanse Kongres aanvaar is om minderjariges deur middel van filtrering en AUPs (Acceptable use policies) teen inhoud op die Internet wat as skadelik of onwelvoeglik beskou is, te beskerm. Skole, volgens Cordell, Eckhardt, Hauser en McGriff (2012:2), moet oor ʼn aanvaarbare gebruikersbeleid beskik, asook toepaslike en etiese gebruik van die tegnologie-infrastruktuur, toerusting, insluitend mobiele tegnologie, en inligtings-hulpbronne terwyl leerders dit in die skool gebruik of toegang het tot die skool se hulpbronne vanaf hul huis.

Daar word nêrens in die Suid-Afrikaanse beleid direk melding gemaak van ʼn etiese of toepaslike gebruik nie; daar word slegs melding gemaak daarvan dat dit veilig moet wees vir gebruik. Die navorser is oortuig daarvan dat daar wel sulke voorskrifte in die beleid van skole en inrigtings is, maar geen melding word daarvan in die nasionale beleidsdokument gemaak nie. Tipiese aanvaarbare beleid volgens die Amerikaanse Witskrif, is ʼn lys van dinge wat gebruikers nie moet doen nie, en die gevolge van die misbruik kan strek van tydelike verlies van voorregte tot kriminele vervolging. Verantwoordelike of etiese gebruik lei die gebruiker in wat hy/sy toegelaat word om met die skool se tegnologiese hulpbronne te doen. Dit is baie nuttig en sal beslis van groot waarde in ons Suid-Afrikaanse agtergrond wees waar beleid te dikwels vervorm word om gemeenskappe te pas.

Die Amerikaanse beleid maak ook voorsiening vir die gebruik van apps (applications; software or programs for computers and mobile devices [toepassings: sagteware of programme vir rekenaars en mobiele toestelle]), waar hulle onderwysers en ouers aanmoedig om op hoogte te bly met die tegnologie en nuutste apps, sodat hulle dit wat bruikbaar en geskik is aan hul leerders en kinders kan voorstel. Die inligting is in professionele joernale beskikbaar. Resensies oor apps word gereeld in joernale wat spesifiek gefokus is op die onderwys gepubliseer en aanbeveel. Dit is ook volgens hulle belangrik om die inligting met ouers te deel. Soortgelyke joernale is sekerlik in Suid-Afrika beskikbaar en die navorser is van mening dat, al is daar slegs ʼn opsomming beskikbaar van die kennis wat in Amerika gepubliseer word, Suid-Afrika ook voordeel hieruit sal kan trek as dit beter met mekaar en skole gedeel word. So kan mens die pad vorentoe makliker maak. Verder maak die Witskrif voorsiening vir die gebruik van die sosiale media en gee voorskrifte aan opvoeders oor die gebruik en toepassing daarvan in die klaskamer en vir gebruik in die skoolopset. Daar word ook voorsiening gemaak vir persoonlike tegnologiese toestelle en daar word voorgestel dat opvoeders kennis moet dra oor hoe om die toestelle in die klas te akkommodeer, as dit wel in die skool toegelaat word. Hier is uitstekende leiding vir onderwysers oor hoe om die beleid aan te pas sodat dit hul omstandighede en behoeftes pas, en om te verseker dat opvoeders bemagtig kan word om die apparaat tot voordeel van die leerders en gemeenskappe te gebruik.

Opvoedkundige tegnologie moet digitale burgerskap integreer en ondersteun deur goed-gedefinieerde verantwoordelike gebruik van die beleid. Die beleid moet die gebruik van opvoedkundige programme en sosiale media en toegang tot persoonlike mobiele toestelle kontroleer, wat studente sal help in die verkryging van die algemene kernwaardes wat so noodsaaklik is vir gesonde burgerskap en nasionalisme.

Wat baie duidelik na vore kom, is dat daar ʼn groot behoefte is om die gebruik van IKT deur onderwysers in die klaskamer te ondersoek, asook om ondersoek in te stel na hoe onderwysers die beleid rakende tegnologie in die onderwys in hul onderrigmetodes toepas. Dit is hier waar die navorser deur sy studie die verskil in toepassing van beleid in gegoede en minder gegoede skole wou ondersoek om so te bepaal waar en hoe dit verbeter kan word, al is dit net om die beleid in skole so aan te pas dat dit tot voordeel van al die leerders gebruik kan word.