• No results found

Mynbou en landbou in die Kalahari het 'n invloed op watergebruik, en veroorsaak konflik in die afdwinging van die reg op toegang tot voldoende voedsel en water.653 Uit die navorsing wil dit voorkom asof Khumani en Sishen se mynbou-aktiwiteite ‘n invloed op die Kalahari-distrik se waterkwaliteit en kwantiteit het, terwyl landbou self ook gevolge vir waterkwaliteit en kwantiteit kan inhou.654 Die boere in die Kalahari voel egter kwesbaar teenoor die impak wat mynbou spesifiek op die landbou- aktiwitiete van die boere het.

Die Kalahari konsentreer op veeboerdery, wat beteken dat die vraag na water besonder hoog is aangesien hierdie diere groot hoeveelhede water benodig (ʼn bees benodig nagenoeg tussen 73.5 en 114.5 liter drinkwater per dag).655 Swak boerderypraktyke veroorsaak verder ook waterbesoedeling en omgewinskade.656

Daarteenoor word water ook in elke stap van die mynboubedryf gebruik, en net so is voldoende toevoer van water noodsaaklik vir voortgesette groei van die mynbedryf.657 Die watergebruikbehoefte van myne is ook groot en dit is dus duidelik dat daar ‘n definitiewe konflik tussen landbou en mynbou sal bestaan wanneer dit kom by die toegang en gebruik van water.

Mynbou-aktiwitiete het ook 'n beduidende impak op biodiversiteit en eksosisteemdienste in die Kalahari.658 Om die veiligheid van oopgroefmynbou te verseker word groot hoeveelhede grondwater onttrek en so ontstaan ontwatering van grondwater op sommige plase in die Kalahari.659

653 SIen par 2.1.2 en 2.2.2. 654 Sien par 2.1.2 655 Sien par 2.2.2. 656 Sien par 2.2.2. 657 Sien par 2.1.2. 658 Sien par 2.1.1. 659 Sien par 2.1.2.

Artikel 24(a) van die Grondwet verseker die fundamentele reg van elke persoon op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie.660 Hierdie reg word as ʼn negatiewe geformuleerde reg beskou, en impliseer dat daar ʼn plig rus op beide landbou en mynbou om natuurlike hulpbronne, soos water, verantwoordelik te bestuur om te verseker dat artikel 24 aan gehoor gegee word. Hierdie plig om die omgewing te beskerm is ook toepaslik op die staat.661

Die onderskeie rolspelers in hierdie konflik behoort artikel 24 as vertrekpunt te gebruik in hulle poging tot konflikoplossing, maar artikel 27 van die Grondwet kan egter ook nie agterweë gelaat word nie. Die staat moet verseker dat landbou ten alle tye toegang tot natuurlike hulpbronne soos water en grond het ten einde landbou- aktiwiteite moontlik te maak.662 Die staat moet toesien dat daar nie deur privaatmaatskappye inbreuk gemaak word op die reg op toegang tot voedsel nie.663 Die reg op toegang tot voldoende voedsel kan egter nie verwesenlik word indien individue nie volhoubare toegang het tot water vir landboudoeleindes het nie.664

Sishen en Khumani het ʼn indirekte impak op voedselsekerheid, aangesien dié myne ontwatering, waterbesoedeling en sterilisering van grond veroorsaak, sodat dit nie meer vir landboudoeleindes geskik is nie en gevolglik nie meer tot voedselsekerheid kan bydra nie.665 Beide landbou en mynbou word hierby ingesluit, en die sinvolle hantering van die konflik tussen mynbou en landbou in die Kalahari-distrik sal ook artikels 24 en 27 (soos hierbo na verwys word) gedurende die proses van die hantering en oplossing van konflik in ag moet neem.

Die Nasionale Waterwet het ten doel om Suid-Afrika se waterhulpbronne te beskerm; te gebruik en te ontwikkel, te bewaar, en te bestuur en te reguleer.666 Hierdie wet omvat 'n wye aantal regulasies ten opsigte van die beskerming en bestuur van water-

660 Sien par 3.1. 661 Sien par 3.1. 662 Sien par 3.3. 663 Sien par 3.2. 664 Sien 3.2 en 3.3. 665 Sien 3.2 en 3.3. 666 SIen par 4.2.

en verwante eksosisteme en hul biologiese diversiteit is toepaslik vir beide landbou en mynbou. Die wet reguleer die toekenning van watergebruiklisensies vir myne en bepaal dat slegs myne wat oor hierdie lisensies beskik water mag gebruik om hul mynbou-aktiwiteite uit te voer.667 Mynbou is, onderhewig aan die Nasionale

Waterwet en GK 704,668 geregtig om water uit 'n verskeidenheid bronne te gebruik, indien die watergebruik aan die vereistes van die Nasionale Waterwet voldoen.669

Landbou word verder ook deur CARA gereguleer, wat verskeie beheermaatreëls, wat deur grondgebruikers nagekom moet word, voorskryf.670 Dit is van uiterste belang dat beide landbou en mynbou waterhulpbronne moet beskerm en besoedeling moet voorkom ten einde volhoubare landbou en ontwikkeling te verseker, sowel as om gehoor te gee aan artikel 24 en 27 van die Grondwet.671 Die voorgestelde konsep Beleid en Draft Bill stel voor dat die staat landbougrond as hoë potensiaal landbougrond moet klassifiseer, ten einde landbougrond te beskerm.

Verder het wetgewing ook verskeie meganismes daar gestel ten einde die konflik tussen partye oor toegang tot waterhulpbronne te hanteer, byvoorbeeld: (a) ‘n bemiddelings- of onderhandelingsproses kan gevolg word in terme van NEMA; (b) die opvanggebiedbestuursagentskap kan die gebruik van water beperk; (c) daar kan geappelleer word na die Watertribunaal, Hooggeregshof en Direkteur –Generaal; (d) die hof kan genader word (vir byvoorbeeld 'n interdik); (e) watergebruiklisensies kan ingetrek en opgeskort word en (f) ander alternatiewe beslegtingsmeganismes.

Dit wil voorkom of mynbou in die Kalahari van vrywillige meganismes gebruik maak, of behoort te maak om konflik te voorkom.672 Daar is ook byvoorbeeld in die gebied ʼn omgewingsbestuurforum gestig om die kwessie rakende water en geaffekteerde boere te hanteer,673 daar word gereelde vergaderings tussen die myne en die

667 SIen par 4.2.1. 668 Sien par 4.2.2. 669 SIen par 4.2.1. 670 Sien par 4.3.2. 671 Sien par 4.3.2. 672 Sien par 4.4.7 en 4.5. 673 Sien par 4.5.

geaffekteerde boere gehou waar inligting uitgeruil word en besprekings gefasiliteer word.674 Sishen-myn het ook 'n voltydse onderhandelingsbeampte aangestel om die boere se kwessies te hanteer, tesame met ʼn tegniese subkomitee wat gestig is om as 'n kommunikasiemiddel tussen boere en die myne te dien.675

Hierdie is bemoedigende tekens, want dit is van uiterste belang dat daar billike toegang tot natuurlike hulpbronne soos water en grond moet wees ten einde landbou moontlik te maak om sodoende in die basiese menslike behoeftes te kan voldoen.676 Aan die ander kant moet die voorgesette ekonomiese ontwikkeling en impak van mynbou ook in aggeneem word.