• No results found

3.2 ’n Onpeilbare teks

Hoofstuk 4: Gevolgtrekking en slot

In hierdie studie is die outobiografiese tekste van Elsa Joubert en Antjie Krog bespreek deur dit te benader met behulp van die lees-strategie van identiteit, wat deur Smith en Watson (2001: 168-169) voorgestel word. Hierdie hoofstuk het nie ten doel om ’n opsomming van Hoofstuk 2 en 3 te wees nie, maar wel om belangrike en veelseggende ooreenkomste en verskille wat uit ’n vergelyking tussen die twee tekste blyk, uit te lig en sodoende die twee parallelle besprekingstrome van die vorige hoofstukke te integreer tot een.

Wat die vormlike aspekte van die tekste betref, is ’n Wonderlike Geweld ’n meer ‘tradisionele’ outobiografie, waarin gebeure chronologies weergegee word. Met die hulp van ’n derdepersoonstem, afgewissel met dagboekinskrywings in die eerstepersoon, skep Joubert ’n teks wat aan Bruss se reëls voldoen. Die leser word as ’t ware gevra om dit as ’n outobiografie te lees deur die gebruik van die woord “jeugherinneringe” en foto’s van die outeur op die buiteblad. Die dagboekinskrywings met datums daarby help verder om die gebeure as waar te verifieer. Daarenteen bied Krog met ’n Ander tongval ’n teks wat gefragmenteerd en meer postmodernisties is: die gebeure word achronologies vertel; sy sluit poëtiese prosa-stukkies tussen die hoofdele in; sy wissel ook tussen ’n eerste- en derdepersoonstem, maar sonder ’n definitiewe patroon; en sy verhaal gebeure wat nie lyk asof dit relevant is tot háár outobiografiese narratief nie. Verder vestig sy ook die leser se aandag op die problematiese grens tussen feit en fiksie, deur onder andere in die “Erkennings” agter in die boek te erken dat alles in die teks nie die waarheid is nie.

Soos vroeër genoem, behoort die vorm en inhoud van die teks egter nie afsonderlik benader te word nie – in die woorde van Eakin (1988: 35): “‘[T]he picture’ is an intrinsic part of ‘the thing itself’ and cannot be separated out of it.” ’n Mens sou dus kon aanvaar dat die vorms van hierdie tekste ’n weerspieëling van die outeurs se perspektief op die inhoud daarvan is, en aangesien die tekste as outobiografieë benader word, behels die inhoud hul identiteit. In Krog se geval, het dit wel geblyk dat sy haar beskouing van identiteit as gefragmenteerd en dialogies van aard beklemtoon deur die struktuur wat sy aanwend, en dat sy verder bewustelik omgaan met die

probleme wat die representasie van die self inhou. Alhoewel Joubert nie in haar teks soveel direkte aanduidings gee van haar perspektief op identiteit nie, lyk dit tog aan die einde van ’n

Wonderlik geweld asof sy dit sien as iets wat sy moet ‘vind’. Dit dui moontlik daarop dat sy

identiteit beskou as iets koherents en stabiel, wat dan wel in die teks se chronologiese vorm weerspieël word.

Dit het geblyk dat beide tekste elemente van ’n verskeidenheid outobiografiese sub-genres bevat. Hiervan is veral die gebruik van outobiografie in die eerste- en derdepersoon en elemente van die Bildungsroman by altwee prominent (alhoewel ’n Wonderlike geweld se chronologiese formaat die Bildungsroman-funksie duideliker na vore laat kom). Verder bied die outoetnografie (veral by Joubert se teks, maar in ’n mindere mate ook in Krog s’n) en die outofiksie (by Krog se teks) ook nuttige benaderingsmoontlikhede. Wat die tekste se bydrae tot ’n studie van die outobiografiese genre betref, bevestig dit die genre se hibridiese aard wat lei tot die sogenaamde onpeilbaarheid daarvan, soos dit telkens uit die definisies in die eerste hoofstuk geblyk het. Die lees-strategie van identiteit kon egter steeds toegepas word, wat beklemtoon dat die definiëring van die tekste as outobiografie nie as inperkend beskou behoort te word nie.

Wat die onderskeie identiteite wat in die tekste na vore gekom het betref, is daar twee belangrike verskille. In die eerste plek lê Joubert baie minder klem op ras. Waar Krog die konsep voortdurend uitlig – veral binne die afdeling “Suid-Afrikaner” (3.3) – en ook krities daaroor is as enigste maatstaf van identiteit, is Joubert se verwysings daarna oor die algemeen byna terloops. Dit op sigself, tesame met die enkele verwysings wat binne afdeling 2.3 (“Afrikaner-identiteit”) bespreek is, weerspieël iets van die tydsgees wat sy in ’n Wonderlike geweld probeer vasvang. Hierdie tydsgees stem in ’n mate ooreen met dit wat die leser in ’n Ander tongval se terugflits-gedeeltes vind, veral in die opinies en sentimente van Krog se ouers rondom die ras-onderwerp. Tydens die latere eras in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat Krog as volwassene beleef en beskryf, is die diskoers van ras baie sterker teenwoordig, en haar uitbeelding van haar identiteit weerspieël dit.

Die tweede duidelike verskil is die feit dat ’n mens in Krog se teks byna geen verwysing na ’n geloofsidentiteit vind nie, terwyl Joubert daaraan ’n prominente plek gee in die beskrywing van

haar skooljare. Die jong Krog benader die Bybel as ’n teks en “onderstreep alles wat vir haar mooi is” (Krog, 2005: 65). Ten spyte van haar ouma se vermaning dat ’n mens “net die tekste [merk] wat vir jou lig op die lewenspad bring” (Krog, 2005: 65), benader sy die Bybel met die houding van ’n ‘taalkundige speurder’ wat wil kyk wat sy daaruit kan leer omtrent taal. Dit staan sterk in kontras met die jong Joubert se emosionele verbintenis tot ’n geestelike ‘roeping’.

Een van die duidelikste ooreenkomste tussen die identiteite wat in ’n Wonderlike geweld en ’n

Ander tongval uitgebeeld word, is die prominensie wat beide Joubert en Krog aan hul

skrywersidentiteit verleen, soos ’n mens kan verwag. Die rol van ’n dagboek in hulle aanvanklike ontwikkeling as skrywers word deur altwee skrywers beklemtoon, tot ’n meerdere mate deur Joubert, met haar insluiting van sommige inskrywings in die outobiografiese teks. In ’n onderhoud na die publikasie van ’n Wonderlik geweld, sê Joubert (in Smith, 2006): “Ek het ook weer besef dat ek nie werklik iets beleef het voordat ek dit nie opgeteken het nie, dit nie geskryf het nie.” Dit is interessant om daarop te let dat sy met hierdie woorde die sentiment van die jong Krog tot ’n mate eggo, waar laasgenoemde beskryf hoe sy elke dag “twee maal [leef]” (Krog, 2005: 43) – die tweede maal deur middel van haar dagboekbeskrywings. Alhoewel dit op verskillende maniere gebeur, beskryf die outobiografiese tekste hoe die basiese impuls van dagboek-skryf verder gevoer word na ander genres (byvoorbeeld Joubert se eerste pogings om dramaloë te skryf en die ontstaansgeskiedenis van Krog se eerste poësie).

Gevolglik beskryf die tekste ’n “a coming to artistic selfconsciousness” (Smith en Watson, 2001: 169) en gee dit die leser insig in die skrywers se “aard as skeppende skrywer[s]” (Van Vuuren, 1996: 16). Dit het geblyk dat veral Krog se teks die verskeidenheid van haar kreatiewe vermoëns ten toon stel. Joubert maak egter ook in ’n Wonderlike geweld gebruik van ’n ontplooiiende narratiewe styl om haar ontwikkeling as skrywer deur die loop van die teks konkreet uit te beeld, en die manier waarop sy (byvoorbeeld) die dagboek- en derdepersoonstyl op plekke laat oorvleuel om haar eie emosionele oorweldiging uit te beeld, getuig ook van ’n gevestigde skrywerskap.

Ten spyte van voornemens om die outobiografieë onder bespreking ‘op hul eie’ te beskou, het dit deur die loop van die analise van ’n Ander tongval duidelik geword dat ’n bespreking van dié

teks onmoontlik is sonder verwysings na die res van Krog se oeuvre. Dieselfde geld egter nie vir

’n Wonderlike geweld nie. Die rede hiervoor is voor die hand liggend: Joubert beskryf die tyd

voor sy nog enige noemenswaardige werk gepubliseer het, terwyl Krog in die eerste plek haar debuut op ’n jong ouderdom gemaak het en dit nou terugskouend beskryf, maar in die tweede plek ook ’n wyer tydsbestek betrek waardeur ’n mens as ’t ware ‘spore’ van haar oeuvre kan sien. Daar is (benewens die verwysings na die debuutbundel Dogter van Jefta, 1970) veral baie elemente teenwoordig wat ook in haar bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) aan bod kom (byvoorbeeld in die beskrywings van die poësie-karavaan waaraan sy deelgeneem het).

Wat identifisering met ’n skrywersidentiteit betref, het dit geblyk dat dít die identiteit is – meer as die ander wat aan haar beskikbaar was – wat Joubert mettertyd toenemend vir haarself begin toe-eien het, sodat die ander identiteite as ’t ware ondergeskik daaraan word. Dit blyk ook uit ’n onderhoud later in haar lewe wanneer sy (teenoor Botha, 2002) met verwysing na haar Afrikaner-identiteit haar betrokkenheid by die Skrywersgilde as volg beskryf:

Ons was deel van ’n hele groep van die gilde, die Skrywersgilde. Ons was ’n hele groep wat so gevoel het en ek het altyd gesê dat my groep is die gilde. Almal van ons het op daardie manier gedink […]. My eintlike groep was die gildemense, al daardie skrywers wat só gedink het. Dit het vir my baie beteken, daardie gilde. Ek het my altyd meer tuis in ’n literêre groep gevoel as in ’n volksgroep.

Hierdie gevoel van ‘tuis-wees’ dui op ’n definitiewe toe-eiening van dié identiteit bo (in hierdie geval) die identiteit van Afrikaner-wees. In ’n Ander tongval spreek Krog op ’n jong ouderdom ’n behoefte aan definiëring as skrywer bo ander identiteite uit (deur haar weiering om terug te gaan skool toe ná haar kitsroem). Sy ervaar ook later in haar lewe ’n gevoel van identifisering met ’n groep skrywers (byvoorbeeld deur middel van die ontmoeting by die Victoria-waterval, die poësie-karavaan, of, in ’n mindere mate die band tussen al die vertalers van Mandela se outobiografie), maar dis veral haar ma wat aan haar ’n skrywersfiguur bied om mee te identifiseer. Verder lyk dit asof die skryf-handeling van jongs af vir haar ’n ruimte bied waar sy veilig voel om haar emosies te verwoord – vergelyk byvoorbeeld haar eerste gedigte oor die ‘seun met die blou oë’ en die vrede, hoewel tydelik, wat poësie bring tydens die poësie-karavaan. Ten spyte van al hierdie faktore het dit geblyk dat Krog haar skrywersidentiteit as een van vele beskou, en dat sy haarself in terme van veelvuldige identiteite wil definieer, alhoewel sy (veral na

aanleiding van haar ma se worsteling in dié verband) deeglik bewus is van die moeite wat dit neem om ’n skrywersidentiteit met (byvoorbeeld) die identiteit van ’n gesinsvrou te versoen.

Dit weerspieël ook die twee skrywers se standpunte oor identiteit, waarna reeds verwys is in hierdie hoofstuk. Dit lyk asof hulle altwee bewus is van die relasionele aard van identiteit, maar verskillend daarop reageer. Joubert spreek ’n behoefte uit om van al die invloede te ‘ontsnap’ om sodoende haar eie identiteit te kan vind, onafhanklik van ander mense. Hierteenoor is die relasionele aspek van identiteit vir Krog onmisbaar: sy sukkel om haarself op ’n sekere manier te definieer as die mense om haar nie hierdie definiëring erken en onderskryf nie. In teenstelling met die onafhanklikheid wat Joubert deur middel van haar reis in Afrika wil verkry, erken Krog deurlopend haar totale afhanklikheid van ander mense se opinies, en eggo sy so die Afrika-filosofie van ubuntu.

In die eerste hoofstuk is die Afrika-gerigtheid van die twee skrywers genoem as een van die ooreenkomste wat deel uitmaak van die basis vir vergelyking. Tog het dit geblyk dat ’n vergelyking op grond van hierdie element moeilik is, aangesien Joubert se gevoelens teenoor die kontinent in ’n groot mate vooruitskouend is en die vorm van verwagtinge aanneem, aangesien sy eers aan die einde van ’n Wonderlike geweld op haar eerste reis na elders in die kontinent vertrek. Daarenteen gee Krog baie aandag aan haar reis in Afrika, en alhoewel dit haar nie met ’n romantiese prentjie van die kontinent laat nie, word sy intens bewus van haar verbintenis daaraan. Die blootstelling aan ’n vreemde ruimte met mense wat (onder andere) ’n ander taal as sy praat, het ’n negatiewe effek op Krog: sy voel vervreem van almal en alles, veral ook op grond van haar genoemde behoefte aan erkenning van die mense rondom haar. Joubert, aan die ander kant, spreek ’n behoefte aan “anonimiteit” (Joubert, 2005: 290) uit: dit lyk dus asof sy smag na die vervreemding wat die reis haar gaan bring (veral van die reedsgenoemde invloede waarvan sy wil wegkom). ’n Mens kan egter nie die effek van die reis en die vreemde ruimtes wat daarmee gepaardgaan bespreek of analiseer nie, omdat dit nie in die outobiografie beskryf word nie.

’n Verdere belangrike onderdeel van die vergelykingsbasis vir hierdie twee tekse, is die ooreenstemmende publikasiedatums. Die studie wou veral ook die invloed van hierdie tydstip op die skrywers se uitbeelding van hulle identiteit ondersoek. In Krog se geval is die tyd en konteks

waarbinne die teks geskryf en gepubliseer word ook die bron van onderwerpmateriaal vir ’n groot deel van ’n Ander tongval. Met die uitsondering van die terugflits-gedeeltes, bevind sy haar in die Nuwe Suid-Afrika en beskryf sy die vordering van transformasie – van die Suid-Afrikaanse samelewing, maar ook haar eie interne verandering “deur verskeie sosiale identiteite te integreer” (Krog, 2005: 138). Joubert se chronologiese jeugherinneringe betrek vanselfsprekend glad nie die tydstip van publikasie as onderwerp nie, maar as konteks het dit wel ’n invloed op haar beskrywing van haar identiteit. Die konteks speel veral ’n belangrike rol binne ’n outoetnografiese benadering tot die teks, aangesien die Afrikaner binne hierdie konteks as gemarginaliseerd beskou kan word, soos vroeër bespreek. Sy skep dus moontlik, veral deur haar uitbeelding van haar Afrikaner-identiteit en –herkoms ’n ‘argief’ om dié geskiedenis te bewaar van uitwissing. ’n Verdere moontlikheid is dat sy binne die huidige konteks van die Nuwe Suid-Afrika wedersydse verstaan wil aanmoedig, en Suid-Afrikaners tot ’n mate wil ‘verontskuldig’ deur die verleidelike krag van die Afrikaner-nasionalisme in die dertigerjare uit te beeld. In kontras hiermee bied die terugskouende skryfproses en die gebruik van die derdepersoonstem dikwels aan haar die geleentheid om ’n ironiese perspektief op die emosionele opsweping van die era te bied. Die ooreenstemmende publikasiedatums het dus verskillende invloede op die twee outeurs se identiteitsbeskrywing. Dit kan ook moontlik ’n gevolg wees van die verskillende generasies wat hulle verteenwoordig. Dit blyk egter dat beide Joubert en Krog waarde heg aan die verlede en die invloed wat dit op die hede het, soos deur Krog (2005: 166-167) verwoord: “As jy nie weet waar dinge vandaan kom nie, kan jy dit nie oplos nie. […] Die antwoord lê nie daarin om die verlede te vergeet of te ignoreer nie.” Wat Van Vuuren (1996: 15-17) se voorstelle vir die ‘gebruik’ van Suid-Afrikaanse outobiografieë betref, dien ’n Wonderlike geweld en ’n Ander

tongval dus beide as dokumente of rekonstruksies van ’n sekere periode in die Suid-Afrikaanse

geskiedenis. Deur die invalshoek van identiteit saam hiermee te gebruik, word “insig […] verkry in die denk- en leefwêreld van Suid-Afrikaners uit verskillende ras-, klas-, en taalgemeenskappe en van verskillende geslagte” (Van Vuuren, 1996: 16), wat moontlik kan bydra tot die wedersydse aanvaarding van ’n ubuntu-kultuur, soos deur Krog bepleit.

Die tweede deel van Elsa Joubert se outobiografie, Reisiger (2009), het te laat verskyn om by hierdie studie betrek te word. Dit bied interessante moontlikhede vir verdere studie, veral aangesien die genoemde tekortkoming wat daar in hierdie studie is in terme van Joubert se

oeuvre-ontwikkeling dan aangespreek kan word. Verder sou ’n mens ook Dot Serfontein se outobiografie, Vrypas (2009), by ’n beskouing van ’n Ander tongval kon betrek om ’n ander perspektief op haar en Krog se verhouding te kry, veral wat betref Serfontein se verskillende identiteite (soos deur haar self beskryf) en die invloed daarvan op Krog. In die derde plek kan ’n mens ook die interaksie tussen Krog se oeuvre en haar outobiografie in ’n meer omvattende studie bespreek.

Ten spyte van die hibridiese aard van die outobiografie-genre het dit ten slotte geblyk dat die lees-strategie wat fokus op identiteit ’n nuttige invalshoek bied vir die studie van tekste binne hierdie genre, aangesien dit in hierdie studie met groot vrug op twee outobiografieë met uiteenlopende outobiografiese eienskappe toegepas kon word.

Bronnelys

Abbott, P. 1988. Autobiography, Autography, Fiction: Groundwork for a Taxonomy of Textual Categories. New Literary History, 19(3): 597-615.

Barker, C. 2000. Cultural Studies – Theory and Practice. Londen: SAGE Publications.

Bezuidenhout, S. M. 2005. Sosio-literêre perspektiewe op die eietydse digkuns van vroue in die

Afrikaanse en Neerlandse Taalgebiede. Ongepubliseerde doktorale proefskrif.

Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.

Botha, A. 2002. Elsa Joubert voel tuis in die hart van Afrika. Litnet-seminaarkamer.

http://www.oulitnet.co.za/mond/ejoubert.asp. (Datum afgelaai: 8 Julie 2009).

Brink, A. 2005. Swaarwigtige geweld. Rapport, 4 Desember: 4.

Brink, E. 1990. Man-made women: Gender, class and the ideology of the volksmoeder. In: Walker, C. (red.). Women and Gender in Southern Africa to 1945. Kaapstad: David Philip / Londen: James Currey.

Brockmeier, J. 2001. Identity. In: Jolly, M. (red.). Encyclopedia of Life Writing –

Autobiographical and Biographical Forms. Volume 1. Londen & Chicago: Fitzroy

Dearborn.

Brodzki, B. 1988. Mothers, displacement, and language in the autobiographies of Nathale Sarraute and Christa Wolf. In: Brodzki, B. & Schenk. C. (reds.). Life/lines: theorizing

women’s autobiography. Ithaca, New York: Cornell University Press.

Bruss, E. 1976. Autobiographical Acts – The Changing Situation of a Literary Genre. Baltimore & London: The Johns Hopkins University Press.

Burt, R.L. 2001. The Bildungsroman. In: Jolly, M. (red.). Encyclopedia of Life Writing –

Autobiographical and Biographical Forms. Volume 1. Londen & Chicago: Fitzroy

Dearborn.

Coullie, J.L., Meyer, S., Ngwenya, T. en Olver, T. (reds.). 2006. Selves in question:

Interviews on Southern African Auto/biography. Honolulu: University of Hawaii Press.

Coullie, J.L. 2005. Translating narrative in the New South Africa: transition and transformation in A Change of Tongue. English Academy Review 22: 1-21.

Crous, M. 2003. Anne en Antjie: Die wisselwerking tussen diskoerse in Antjie Krog se Lady

Anne. Stilet, XV(2): 149-171.

De Beer, D. 2003. Antjie has the gift of tongues. Star, 28 Oktober: 6.

De Man, P. 1979. Autobiography as De-facement. MLN, 94(5): 919-930.

Du Plessis, I. 2003. Antjie Krog: Griot of the Platteland. This Day, 10 Oktober: 10.

Du Plessis, M. (red.). 2005. Pharos Tweetalige Woordeboek. Kaapstad: Pharos.

Eakin, P. J. 1988. Narrative and Chronology as Structures of Reference and the New Model Autobiographer. In: Olney, J. (red.). Studies in Autobiography. New York & Oxford: Oxford University Press.

Ellis, C. 2004. The Ethnographic I. A Methodological Novel about Autoethnography. Walnut Cree, Lanham, New York, Oxford: Altamira Press.

Fowlie, W. 1988. On Writing Autobiography. In: Olney, J. (red.) Studies in

Friedman, S.S. 1998. Mappings: Feminism and the Cultural Geographies of Encounter. Princeton: Princeton University Press.

Friedman, S.S. 1988. Women’s Autobiographical Selves – Theory and Practice. In: Benstock, S. (red.). The Private Self – Theory and Practice of Women’s

Autobiographical Writings. Chapel Hill & Londen: University of North Carolina Press.

Garman, A. 2007. Antjie Krog and the Accumulation of ‘Media Meta-Capital’. Current writing:

Text and Reception in South Africa, 19(2): 1-23.

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners – ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

Gouws, T. 1998. Antjie Krog. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en Profiel – Deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik.

Gratton, J. 2001. Autofiction. In: Jolly, M. (red.). Encyclopedia of Life Writing –

Autobiographical and Biographical Forms. Volume 1. Londen & Chicago: Fitzroy

Dearborn.

Grobler, J. 2007. Uitdaging & antwoord – ’n vars perspektief op die evolusie van die

Afrikaners. Brooklyn: Grourie.

Grobler, L. 2006. ’n Wonderlike geweld: ’n Outoetnografiese verkenning van Elsa Joubert se jeugherinneringe as markering van gemeenskapsidentiteit. Referaat gelewer by konferensie van die ALV (Afrikaanse Letterkundige Vereniging), September 2006.

Grundlingh, A. 2005. The Politics of the Past and Popular Pursuits in the Construction of Everyday Afrikaner Nationalism, 1938-1948. In: Dubow, S. en Jeeves, A. (reds.). South

Gudmundsdóttir, G. 2003. Borderlines: Autobiography and Fiction in Postmodern Life

Writing. Amsterdam & New York: Rodopi.

Gusdorf, G. 1980. Conditions and Limits of Autobiography. In: Olney, J. (red.)

Autobiography: Essays Theoretical and Critical. Princeton: Princeton University Press.

Hall, S. 1996. Introduction: Who Needs ‘Identity’?. In: Hall, S. en Du Gay, P. (reds.).

Questions of Cultural Identity, 1-17. Londen, Thousand Oaks en Nieu-Delhi: SAGE.

Hayano, D.M. 1979. Auto-Ethnography: Paradigms, Problems, and Prospects. Human