• No results found

probleme en die verbetering daarvan

2.2 Visuele sisteem

2.2.7 Gevolge van visuele probleme

Die gevolge van visuele probleme op akademiese sowel as sportgebied sal vervolgens bespreek word.

2.2.7.1 Akademiese probleme

Sukses met skoolwerk en die akademiese eise wat aan ʼn kind gestel word, hang nie net van visuele skerpheid af nie, maar ook van goeie visie, waar binokulêre fusie, konvergensie-divergensie, fiksasie, visuele navolging, akkommodasie en visuele persepsie ʼn belangrike rol speel (Cheatum & Hammond, 2000:285). Volgens Cheatum en Hammond (2000:286) kan probleme met dié bogenoemde visuele vaardighede skoolwerk belemmer omdat die kind nie waargenome inligting akkuraat kan verwerk of opdragte korrek kan uitvoer nie. Volgens Auxter et al. (1997:435) lei probleme met die ekstra-okulêre spiere, wat aanleiding kan gee tot swak leesgewoontes, postuurafwykings en/of visuele skerpheid, tot agterstande met visuele effektiwiteit.

Visuele persepsie is veral belangrik vir lees, skryf, spel, teken asook vir wiskundige vaardighede (Winnick, 2005:368). Indien ʼn onstabiele binokulêre sisteem by ʼn kind voorkom, sal hy/sy dubbelvisie ervaar, wat dit moeilik sal maak om sy/haar plek te hou terwyl gelees word, of van die

bord afgeskryf moet word, wat weer tot verdere akademiese probleme kan aanleiding gee (Desrochers, 1999:36; Erhardt et al., 1988:85; Orfield et al., 2001:115; Silver, 1995:97; Stein, 2003:1785; Weber, 2001:302). Visuele afwykings lei ook tot probleme wat verband hou met figuuragtergrond herkenning en drie-dimensionele aktiwiteite, wat veroorsaak dat hierdie kinders langer neem om ʼn taak af te handel as hul portuurgroep (Reimer et al., 2000:183). Indien daar uitvalle by enige van die visuele vaardighede voorkom, kan dit moontlik tot figuuragtergrond persepsie probleme sowel as koördinasie probleme aanleiding gee (Arter et al., 1996:25; Cheatum & Hammond, 2000:294; Erhardt et al., 1988:84). Hierdie probleme kan die lees en skryfwyse van ʼn kind sodanig beïnvloed, dat hy/sy dit moeilik sal vind om sekere nommers, letters of wiskundige vorms te kan waarneem, uit te ken of te sorteer (Lane, 2005:108).

Verskeie verbandhoudende probleme manifesteer gevolglik by kinders indien visuele afwykings voorkom. Hierdie probleme sluit onder andere visueel-motoriese integrasie, visuele persepsie (Hulme et al., 1982:480; Lord & Hulme, 1987:255; Mon-Williams et al., 1996:179; Smits- Engelsman et al., 2001:178; Van Waelvelde et al., 2004:665), reaksiespoeduitvalle (Huh et al., 1998:481; Maruff et al., 1999:1321), koördinasie-, leer-, skryf- (Arter et al., 1996:25; Bouchard & Tetreault, 2000:565), fynmotoriese- (Bouchard & Tetreault, 2000:565; Hoare & Larkin, 1991:2; Schoemaker et al., 1994:154) en leesvaardigheidsprobleme in (Erhardt et al., 1988:86), wat dan sy/haar akademiese prestasies negatief kan beïnvloed. Kinders met visuele afwykings toon gewoonlik ook simptome van aandagafleibaarheid en mag dan soms verkeerdelik met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD) gediagnoseer word (Steinman et al., 1996:4).

2.2.7.2 Sportverbandhoudende bewegingsprobleme

Visueel-motoriese koördinasie is die vermoë om liggaamsbewegings (motoriese bewegings) en visie te koördineer. Dit is veral belangrik tydens motoriese vaardighede waar hand-oog en voet-oog koördinasie ʼn rol speel, in sportsoorte soos rugby, hokkie, netbal en sokker waar die bal geskop, geslaan of gevang word terwyl daar nog aandag aan die opponent geskenk moet word ook (Cheatum & Hammond, 2000:266). Winnick (2005:287) is van mening dat figuuragtergrondpersepsie en ruimtelike oriëntasie ook belangrike komponente is wat bydra tot effektiewe beweging op die sportveld.

Indien daar wel agterstande voorkom tydens figuuragtergrondherkenning, sal dit die kind verhoed om ʼn bewegende bal uit die omgewing te kan uitsonder/raak sien. Hierdie agterstand sal tot gevolg

hê dat die kind sal sukkel om ʼn bal te kan navolg, slaan of skop, sukkel om bo-oor of onderdeur voorwerpe te klim, nie weet watter voorwerp dalk gevolg moet word nie en nog vele meer (Winnick, 2005:367). Balans, koördinasie (hand-oog, voet-oog en hand-oog-voet-oog), ruimtelike oriëntasie, liggaamsbewustheid en postuur is direk afhanklik van goeie visuele vaardighede wat benodig word om effektief aan verskeie sportsoorte te kan deelneem (Cheatum & Hammond, 2000:263; Tolla, 2000:72). Daar kan gevolglik afgelei word dat visie ʼn unieke rol speel in alle vaardighede wat benodig word vir die beheer van motoriese aksies en persepsies (Van Hof-Van Duin et al., 1998:302). Indien daar probleme met die okulêre motoriese beheer (fiksasie, konvergensie-divergensie, visuele navolging, akkommodasie, figuuragtergrondherkenning) voorkom, sal ʼn kind moontlik sukkel om ʼn voorwerp tussen ander te herken, fokus te verander, die voorwerp na te volg asook om die beeld van die voorwerp helder te kan hou. Hierdie probleme met die visuele sisteem kan verder weer dubbelvisie laat ontwikkel, wat moontlik kan bydra dat ʼn kind sukkel om ʼn bal te volg en fokus te verander van die een opponent na die ander (Cheatum & Hammond, 2000:287).

Visuele vaardighede speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van hand-oog- en voet-oog koördinasie, wat die meeste sportvaardighede en -soorte direk beïnvloed (Wilson & Falkel, 2004:11). Verder blyk dit uit die literatuur of die gebruik van sportvisieterapie (ander vorm van visieterapie) waar die visuele oefeninge gerig is op die verskillende sportsoorte, die persoon se sportprestasie kan verbeter, soos byvoorbeeld om ʼn rugbybal beter deur die lug te kan volg, om beter te kan kolf in krieket of meer doele te skop in sokker (Ericson, 2007:1; Wilson & Falkel, 2004:4). Dié navorsers plaas egter klem op die belangrikheid van visueel-motoriese- en visueel- perseptuele vaardighede se integrasie tydens die sportvisieterapie om onvoorsiene bewegings op die sportveld te kan antisipeer en korrek uit te voer (Wilson & Falkel, 2004:10).

Volgens Cheatum en Hammond (2000:287) veroorsaak probleme met akkommodasie dat die kinders nie op die sportveld die bal met beide oë kan waarneem soos wat dit nader aan hom/haar beweeg nie, waarna die kind dan gewoonlik slegs een oog gebruik om die fiksasie en visuele navolgingsaksie te voltooi. Dit veroorsaak dat die posisie van die bal tydelik verloor kan word en die vermoë beïnvloed word om die posisie van die bal of die opponente korrek te kan skat. Visueel- motoriese probleme kan daartoe lei dat die kind wel sal sien dat die bal op pad is na hom/haar toe, maar nie korrek tydens die situasie reageer nie omdat die integrasie tussen die visuele- en motoriese sisteem onvoldoende is (Cheatum & Hammond, 2000:267).

2.2.8 Visieterapie

Visieterapie kan gedefinieer word as ʼn geïndividualiseerde intervensie wat ontwerp is om die verbetering van die binokulêre sisteem, okulêre motoriese beheer (konvergensie, divergensie, akkommodasie, visuele navolging, okulêre belyning en fiksasie), visuele prosessering, visueel- motoriese vaardighede en/of perseptueel-kognitiewe afwykings te bewerkstellig (AAO, 2011; Barrett, 2009:5; Ciuffreda, 2002:735; Orfield et al., 2001:132). Die kern van visieterapie is egter om die oogspierfunksionering te verbeter. Tydens visieterapie word daar gebruik gemaak van ± 1.00, 1.50 en 2.00 akkommodasie lense, prismas, gespesialiseerde visuele apparate soos Bernell-o- Scope, “Red-Green Tranaglyph Orthoptics Kit”, “Aperture-Ruler”, “Vectograms”, “Free-space fusion”-kaarte, “Life-saver free-space fusion”-kaarte, “Brockstring” en rekenaarprogramme (Adler, 2002:568; Hurst et al., 2006:210; Orfield et al., 2001:123; Scheiman et al., 2005a:585). Hierdie terapie spreek verder die hele visuele sisteem, die oë, brein en motoriese agterstande van die kind aan. Volgens Ciuffreda (2002:735) en Shainberg (2010:29) is die doel van visieterapie om ʼn holistiese inslag te neem om visuele agterstande te verbeter, en om ʼn stabiele binokulêre sisteem ten alle tye te verseker wat dan die okulêre motoriese sisteem verder integreer met die kop (hand-oog koördinasie), nek (proprioseptiewe informasie) en die res van die liggaam (liggaamsbewustheid, ruimtelike oriëntasie en spiertonus).

ʼn Literatuurontleding van Ciuffreda (2002:736) het aan die lig gebring dat die kliniese praktisering van optometriese visieterapie ongeveer 75 jaar lank geneem het om te ontwikkel tot op die huidige vlak. Volgens Ciuffreda (2002:736) en Helvenston (2005:903) het verskeie faktore in optometrie sowel as oftalmologie ʼn bydrae gelewer tot die ontwikkeling van visieterapie wat aanleiding gee tot die hoë persentasie verbetering van okulêre motoriese beheer agterstande. Die navorsers toon dat tydens die eerste helfte van die twintigste eeu oftalmoloë ʼn groot verskeidenheid kliniese tegnieke gebruik het om die binokulêre funksionering te verbeter, terwyl in die tweede helfte van die twintigste eeu die uitvoering en toepassing van visieterapie oorgeneem is deur optometriste en opgeleide personeel wat weer meer gefokus het om visuele agterstande te behandel wat gewissel het van ʼn onstabiele binokulêre sisteem tot swak lees en akademiese prestasies (Helveston, 2005:909). Verder is daar ook ander visuele oefeninge of intervensies wat meer daarop fokus om die groot verskeidenheid sistematiese simptome van die spesifieke agterstande te probeer verbeter. Uit die literatuur blyk dit dat daar van drie verskillende riglyne gebruik gemaak is om die verskillende visieterapie sessies saam te stel (BABO, 2003; Griffen & Grisham, 2002; Richman & Cron, 1988).

Die vestibulêre sisteem (VS) speel ʼn belangrike rol tydens die voorsiening van die korrekte inligting wat na die oogspiere gestuur word (Pienaar, 2008:34); indien hierdie sisteem nie ten volle funksioneer nie, kan daar moontlike probleme voorkom tydens okulêre motoriese beheer, visuele persepsie, visueel-motoriese koördinasie, balans, ruimtelike oriëntasie en fynmotoriese vaardighede (Horak et al., 1988:64; Pienaar et al., 2007:134; Sherrill, 2004:273; Willoughby & Polatajko, 1995:789). Uit bogenoemde blyk dit dat dié sisteem gevolglik ʼn belangrike rol speel tydens die korrigering van visie en dit sal gevolglik kortliks meer breedvoerig bespreek word.