• No results found

VOORGESTELDE RIGLYNE VIR DIE GEBRUIK VAN AANGEPASTE ASSESSERINGSMETODES

3.4 FAKTORE WAT ‘N ROL SPEEL

3.5.2.7 Fisieke hindernisse

Dit verwys na belemmerde funksie in die hande, arms, bene, romp en/of nek. Die belemmering kan die onvermoë om die liggaamsdele te beweeg (bv. kwadruplegie), die onvermoë om bewegings te koördineer (bv. serebrale gestremdheid) of die afwesigheid van ʼn ledemaat(e) vanweë amputasie wees. Skryf sal beïnvloed word deur toestande wat spierkrag en gewrigsbeweeglikheid beïnvloed wat gevolglik die leerder se greep, tempo en skryfnetheid sal affekteer. Die hindernis mag ook ʼn invloed hê op ʼn leerder se spraak.

Die volgende word as aangepaste en alternatiewe assesseringstrategieë beskou:

 ʼn Rekenaar of tikmasjien kan tydens assessering gebruik word om

assesseringsvrae te voorsien in ʼn formaat wat vir die leerder toeganklik is, of alternatiewelik, om assesseringsantwoorde te formuleer en te voorsien. Dit is egter uiters belangrik dat voorsorgmaatreëls getref moet word om te verseker dat geen programmatuur of spesiale apparaat wat aan die rekenaar gekoppel is, en wat tot die voordeel van die leerder kan strek, tydens die assessering beskikbaar is nie. Die leerder moet voor die assessering vertroud wees met die spesifieke programmatuur/ tikmasjien.

 Bandhulp of diktafoon. Leerders wat nie oor die fisiese vermoëns beskik om

self te skryf of te tik nie, moet toegelaat word om hulle antwoorde op band op te neem.

 Aanvullende (augmentative) en alternatiewe kommunikasiestrategieë.

Leerders wat fisiese hindernisse in so ʼn mate ondervind dat hulle nie die vermoëns het om te praat of hulleself verbaal uit te druk nie, mag van hierdie spesifieke aanpassings gebruik maak.

 Ekstra tyd (sien 3.5.3.4 vir riglyne).

 ʼn Persoonlike assistent tydens assessering.

Ander aspekte wat ook in ag geneem moet word vir leerders met fisieke hindernisse is die fisiese omgewing. Dit sluit in: toegang tot kragpunte vir toerusting; genoeg ruimte vir toerusting en spesifieke personeel; en ʼn aparte lokaal indien ʼn leerder se aandag maklik afgelei word deur ander mense se bewegings en geraas.

(ADCET, 2006c:1; ANU, s.a.:16, 17; Departement van Onderwys, 2002:13, 14; Department of Education, 2002b:22, 23 en Department of Education, s.a.(b):10, 11)

Enige ander hindernisse wat nie hierbo gemeld is nie, kan op kreatiewe wyses deur onderwysers, met die hulp van die SGOSe asook die DGOSe, aangespreek word.

3.5.3 RIGLYNE IN DIE UITVOERING VAN VIER SPESIFIEKE

AANPASSINGSMETODES

Laastens word gefokus op riglyne vir die uitvoering van spesifieke aangepaste assesseringsmetodes om ʼn reeks hindernisse aan te spreek (ANU, s.a.:5-11, 19- 21; Departement van Onderwys, 2002:15-17; Department of Education, 2005b:108; Department of Education, 2002a: 161, 162; Department of Education, 2002b:24, 25; Department of Education, s.a.(b):13, 14; en Vrystaatse Onderwysdepartement, 2006:12-14.

3.5.3.1 Amanuensis

Amanuensis is ʼn metode wat gebruik kan word in die meeste van bogemelde gevalle. Dit verwys na die praktyk waar ʼn objektiewe persoon (leser) die vrae/take aan die leerder voorlees en die leerder se gesproke woorde (antwoorde) woordeliks neergeskryf word (skrywer). Hierdie persoon kan ʼn onderwyser of ʼn departementele beampte wees (bv. ʼn terapeut), maar hoef nie ʼn personeellid van die betrokke sentrum te wees nie. Dit word sterk aanbeveel dat hierdie persone opgelei word.

ʼn Leerder wat die eerste keer van amanuensis gebruik maak, moet voorberei word vir die situasie, wat om te verwag, hoe om voor te berei vir ʼn mondeling en wat om saam te neem. Waar moontlik moet die leerder en die persoon aan mekaar gewoond wees. Daar moet nie van ʼn leerder verwag word om van verskillende persone gebruik te maak gedurende agtereenvolgende assesserings nie.

Algemene riglyne vir bystand deur amanuensis:

• Dit is raadsaam dat amanuensis nie in dieselfde lokaal tussen ander leerders geskied nie. Die assessering moet plaasvind in ʼn afsonderlike, geskikte lokaal waar dit stil is en die leerder gemaklik kan sit.

• Die leser/skrywer bly neutraal en onpartydig gedurende die assessering. Daar moet in gedagte gehou word dat die korrektheid van ʼn antwoord verraai kan word deur stemtoon, gesigsuitdrukking, lyftaal, ens.

• Die leser/skrywer moet nie haastig of ongeduldig word nie. Dit kan ʼn nadelige uitwerking op die leerder se prestasies hê.

• Daar word nie van ʼn leerder verwag om woorde te spel nie, tensy spelling spesifiek geassesseer word.

• Wanneer ʼn antwoord neergeskryf word, kan die skrywer gewone hoof- en kleinletters asook leestekens gebruik. Wanneer punktuasie spesifiek geassesseer word, moet die leerder die inligting verstrek.

• Die leerder moet aandui waar ʼn nuwe paragraaf moet begin.

• Die leser/skrywer en die leerder moet elk ʼn afskrif van die assesseringstaak ontvang.

• In die geval van ʼn formele assessering onder gekontroleerde toestande, moet ʼn deurlopende kassetopname van die assessering gemaak word. Die opnemer mag slegs afgeskakel word om ʼn kasset om te draai of te vervang. Hierdie opnames moet gehou word totdat die uitslae bekend is.

• Die leerder mag in geen opsig ʼn voordeel bo ander leerders gegee word nie. Die integriteit van die leser/skrywer is derhalwe van die grootste belang.

Ekstra tyd sal ook nodig wees vir leerders wat van amanuensis gebruik maak.

ʼn Leerder word vir amanuensis oorweeg wanneer:

 Sy/haar lees- of skryfvermoë hom/haar weerhou om ʼn ware weergawe van

sy/haar kennis en/of bevoegdheid te gee;

 Hy/sy moontlik nie in ʼn posisie is om die assessering te skryf nie vanweë die

ernstige aard van die hindernis;

 Geskrewe uitdrukking (die oordra van kennis deur dit te skryf) nie moontlik is

nie; en

 Hy/sy probleme ondervind om die antwoord te lees of te ontsyfer.

3.5.3.2 Skrywer

Waar moontlik moet die leerder en skrywer aan mekaar gewoond wees. Verkieslik moet dieselfde persoon as skrywer vir ʼn leerder gedurende opeenvolgende assesserings gebruik word.

Die skrywer moet slegs dit wat die leerder aan hom antwoord, neerskryf en mag nie sy/haar eie afleidings maak indien ʼn antwoord onduidelik is nie. Die leerder moet gevra word om ʼn antwoord te herhaal indien die skrywer nie seker is wat die leerder gesê het nie.

ʼn Afsonderlike, geskikte lokaal moet vir elke skrywer voorsien word. Die skrywer en die leerder moet elk ʼn afskrif van die assesseringstaak ontvang. In die geval van ʼn formele assessering onder gekontroleerde toestande, moet ʼn deurlopende kassetopname van die assessering gemaak word. Die opnemer mag slegs afgeskakel word om ʼn kasset om te draai of te vervang. Hierdie opnames moet

gehou word totdat die uitslae bekend is (cf. 3.5.3.1 – Algemene riglyne vir bystand deur amanuensis).

ʼn Leerder kan van ʼn skrywer gebruik maak wanneer:

• Sy/haar skryfvermoë hom/haar weerhou om ʼn ware weergawe van sy/haar kennis en/of bevoegdheid te gee;

• Geskrewe uitdrukking (die oordra van kennis deur dit te skryf) nie moontlik is nie; en

• Sy/haar skryfspoed só stadig is, dat dit hom/haar verhoed om die assessering binne die gegewe tyd te voltooi.

3.5.3.3 Leser

Waar moontlik moet die leerder en leser aan mekaar gewoond wees. Daar moet ook nie van ʼn leerder verwag word om van verskillende lesers gebruik te maak gedurende opeenvolgende assesserings nie.

Die leser kan die taak/vrae gelyktydig aan een of meer leerders lees. Beide die leser en die leerder(s) moet assesseringstake hê. Die leser moet verkieslik ʼn onderwyser of departementele beampte (bv. terapeut) wees, maar nie noodwendig van dieselfde sentrum nie. Die leser bly neutraal en onpartydig wanneer die assesseringstaak gelees word. Die leerder moet die assessering binne die voorgeskrewe tyd voltooi (cf. 3.5.3.1 – Algemene riglyne vir bystand deur amanuensis).

In leerprogramme waar spoed vereis word, byvoorbeeld in die spoedakkuraat- heidstoets in tik, waar die leerder se leesspoed te stadig is, kan die assesseringstaak aan die leerder gelees word. Dit sal vereis dat die leser dwarsdeur die assesseringstaak langs die leerder moet sit.

Daar word vir ʼn leerder of groep leerders gelees wanneer:

 Leesprobleme toegeskryf word aan probleme met die leestempo.

 Leesprobleme soos onvoldoende leesspoed en leesbegrip geskied as gevolg

van probleme met dekodering en woordherkenning, asook ander hindernisse wat ʼn leerder verhinder om volgens sy/haar potensiaal te lees.