• No results found

HOOFSTUK 3: NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.8 Etiese oorwegings

onderhoudvoering met leerders, ouers en opvoeder is onderwerp aan ’n bepaalde onderhoudskedule met vrae aan deelnemers. Vrae aan leerders was dieselfde en so ook die aan ouers. Onderhoude in die vorm van vraagstelling waar leerders hul ervaring en belewing moes deel, was ’n gepaste vorm van ’n geldige instrument wat gebruik is.

3.8 ETIESE OORWEGINGS

Babbie en Mouton (2002:520) het daarop gewys dat navorsing in die sosiale wetenskap ’n bewustheid by navorsers eis rakende behoorlike en onbehoorlike gedrag van wetenskaplike ondersoeke. Hulle het verder verduidelik dat etiese kwessies kan ontstaan uit ons interaksie met ander mense en hul omgewing – veral waar daar potensiaal vir botsing van belange is. Navorsers moet ten alle tye daarna streef om objektief en met integriteit om te gaan in die uitvoering van die wetenskaplike navorsing.

3.8.1 Etiese oorwegings in hierdie studie

Babbie en Mouton (2002:523-6) het ook daarop gewys dat die onthulling van inligting wat die deelnemer in die verleentheid kan stel of hulle lewe, huis, vriendskappe of werk in gevaar sal stel, in die praktyk van navorsing van die moontlike gevolge kan wees. In hierdie navorsing is so sekuur as moontlik by die riglyne van behoorlike gedrag gehou. Tydens alle sosiale en menslike interaksie van dialoog en gesprekvoering is beklemtoon dat partye mekaar wedersyds moes respekteer. Die kwesbaarheid van deelnemers is gerespekteer en toestemming is gevra om onderhoude digitaal op te neem. Na analisering en verwerking is alle opnames vernietig.

Deelnemers aan die navorsingstudie se privaatheid is te alle tye gerespekteer deur hul identiteit te beskerm en dit wat hul weergegee het as vertroulik te hanteer. Na afloop van die analitiese proses is alle name en adresse vernietig. Deelnemers se anonimiteit is verder beskerm deur gebruik te maak van skuilname. ’n Vertrouensverhouding tussen die navorser en die deelnemers is as belangrik geag en daar is ook noukeurig gelet daarop dat deelnemers wat aan die navorsing deelgeneem het op geen vlak te na gekom is nie.

3.8.2 Etiese aspek ten opsigte van die terapeutiese waarde van die studie

Louw en Louw (2004:454) het bevestig dat navorsingsdata aangedui het dat eksterne faktore die kind se ontwikkeling en weerbaarheid positief of negatief kan beïnvloed. Dit beteken ook dat ’n kwalitatiewe navorsingsinspraak, as ’n eksterne invloed, ’n positiewe of negatiewe invloed kan uitoefen. Waar dit ’n positiewe inspraak uitoefen, kan dit as terapeuties beskou word.

39

Voorts het die skrywers na vier strategieë verwys wat weerbaarheid in kinders kan ontwikkel en verbeter wanneer hulle traumatiese gebeure ondervind. Binne die spektrum van hierdie navorsings milieu verwys traumatiese omstandighede waarskynlik na moeilike lewensomstandighede in ’n werkersklas-omgewing. Hierdie vier benaderinge het dus gedien as ’n basis tot positiewe terapeutiese waarde wanneer die kind oor sy/haar belewing en ervaring gereflekteer het. Die volgende tegnieke is as sulks ingebou in die data inwinningsprosesse:

 Die kind is aangemoedig om postiewe verhoudings te vestig en te bou

 Kinders is gehelp om sin van hul ondervindings te maak

 Kinders is gehelp om ’n sekere mate van beheer oor hul ondervindings uit te oefen

 Kinders is aangemoedig om hul gevoelens te deel 3.8.3 Etiese aspek ten opsigte van risiko’s in die studie

Volgens Bless et al. (2013:29) is die vernaamste beginsel in navorsing dat deelnemers geen skade daardeur berokken mag word nie. Skade, soos hier bedoel, dek die mens se fisiese, psigiese en sosiale omgewings. Enige ongemak wat ’n deelnemer byvoorbeeld ervaar, kan skadelik wees.

’n Studie soos hierdie het ’n risiko verbonde aan die belewing van psigiese en sosiale ongemak of verleentheid. Hierdie moontlikheid is proaktief bestuur deur voor die aanvang van die onderhoud aan die deelnemer duidelik te maak dat deelname vrywillig was en dat sommige van die vrae moontlik aan sensitiewe areas kon raak. Deelnemers is gerus gestel dat indien vrae hulle ongemaklik laat voel het, hulle nie geforseer of sleg hoef te voel om dit nie te antwoord nie.

Tydens onderhoude is ook op lyftaal en gesigsuitdrukkings gelet om te bepaal of daar enige tekens van ongemak, onwilligheid of verleentheid voorgekom het. In gevalle waar kenmerkende ongemak soos ontwykende oogkontak, senuagtigheid, rusteloosheid, twyfel, aarseling om te antwoord, ’n gespanne voorkoms soos om hande saam te klem waargeneem is, is dit positief bestuur.

Die klas-opvoeder is ook versoek om deurgaans tydens die navorsingsperiode die leerders te monitor en enige negatiewe invloede of klagtes met die navorser op te neem. Sensitiewe inligting of traumatiese gebeure wat deur ’n deelnemer bekendgemaak is en wat moontlike maatskaplike gevolge kon hê, is aan die studieleier, klasopvoeder en skoolhoof gerapporteer.

40

3.8.4 Etiese goedkeuringsproses

Die studie het op leerderprestasie, spesifiek leerders se ervaring en belewing van hul skoolopleiding in landelike werkersklas-skole gefokus. Synde die deelnemers minderjarig was, was dit nodig om etiese goedkeuring te kry om die kind te beskerm. Die proses wat gevolg is, was soos volg: Eerstens moes toestemming verkry word van die WKOD vir toegang tot ’n skool in die geografiese gebied van die Overberg Distrik waar die navorsing uitgevoer is. Die spesifieke skool is skriftelik genader vir toestemming tot die perseel en om waarneming in die klaskamer en skoolomgewing te doen. Toestemming om in gesprek te tree met ’n klasopvoeder van die leerders is ook skriftelik verkry. ’n DESK-aansoekvorm en NEK-Etiek-aansoekvorm is, tesame met verskeie dokumente vir inligting en inwilliging, by die Universiteit van Stellenbosch se Etiese Departement ingehandig vir die etiese goedkeuringsproses. Eers nadat die nodige goedkeurings op alle vlakke verkry is, is voortgegaan met die proses van data insameling.

3.9 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het die kompleksiteit van wanneer kinders in navorsing betrek word, beklemtoon en belig. Die hoofstuk het die metodologiese paradigma van ’n kwalitatiewe studie, wat in praktyk ’n gevallestudie is, verduidelik. ’n Navorsingsmetodologie wat op die navorsingsinstrumente van dokumentanalise, waarneming en onderhoude gefokus het, is bespreek. Hierdie instrumente is onderwerp aan die triangulerings proses wat met die ondersteuning van die verskeie instrumente en hul inter-aktiwiteit in die navorsing gehelp het. Met verwysing na die etiese aspekte in die navorsing, is die nodige stappe verduidelik om misbruik van deelnemers te voorkom.

Die data is gebruik om die literatuur oor leerders se skolastiese prestasie in landelike gebiede aan te vul – spesifiek in die die Overberg Distrik in die Wes-Kaap Provinsie. Hierdie metode waarop data-konstruering plaasgevind het, het aan die einde van die studie vir die navorser ’n beter begrip gegee van die impak van landelike armoede op die leefwêreld van leerders, wat in hierdie landelike ruimte gewoon en skool bygewoon het. So ook ‘n beter verstaan van die invloed op hul akademiese suksesse – hetsy dit hul kapitaalvorming deur sosialisering beïnvloed of deur hul mening wat hul gevorm het oor die kultuur van armoede waarin hulle hul daaglikse lewe moet deurbring.

41