• No results found

weet? Dietrich Bonhoeffer

4.3 KOGNITIEWE ONTWIKKELING

4.3.2 Emosionele ontwikkeling

Hierdie kognitiewe vaardighede wat adolessente in staat stel om gesinswaardes en ander waardes te bevraagteken, lei tot belangrike keuses en besluitneming, wat hul toekoms gaan affekteer (Koen, 2008:58). Besluite moet geneem word rakende hul vriendskappe, intimiteit, beroep, voorkoms, identiteit, hoë-risikogedrag en geldbesteding. Adolessente ervaar derhalwe ook dikwels meer komplekse emosies soos verleentheid, vrees vir verwerping, skuld, skaamte en angstigheid, omdat hulle neig om krities op hulself te fokus (Louw et al., 2004:440). Verder is adolessente se emosionele belewenisse ‘n komplekse interaksie tussen pubertale en sosiale invloede (Pienaar, 2002:128). Verskeie faktore speel ‘n rol by die hantering van adolessente se emosies en hul besluitnemings, soos die mate van stres wat ervaar word, die beskikbaarheid van weerstandshulpbronne, hanteringsmeganismes en - vaardighede, asook die mate van psigologiese welstand en lewenstevredenheid (Koen, 2008:73).

133

Dit wil voorkom of die interaksie tussen die emosionele belewenisse en die sosiale verwagtinge ten opsigte van adolessente in lesbiese ouerhuise die grootste uitdaging aan hierdie adolessente stel en derhalwe ook hul emosionele ontwikkeling beïnvloed (Elsevier, 2012:1; Chamberlin, 2010:9; Van Gelderen, 2012:21; Robitaille & Saint-Jacqeus, 2009: 432; Tasker & Patterson, 2007:19; Clarke et al., 2004:19). Adolessente wat gedurig moet hoor dat hul lesbiese ouers abnormaal, sondig en immoreel lewe, internaliseer hierdie menings en beskou dan ook hul gesinne as abnormaal en selfs soms as verwerplik (Robitaille & Saint-Jacqeus, 2009:432). Adolessente beleef sodoende innerlike konflik - aan die een kant ervaar hulle liefde en respek vir hul lesbiese ouers en aan die ander kant ervaar hulle vrees en angs vir verwerping, spot, stigmatisering en uitsluiting (Clarke et al., 2004:19).

Telingator en Patterson (2008:1366) meen die feit dat adolessente uit lesbiese ouerhuise daagliks gekonfronteer word met anti-gay opmerkings en menings, kan lei tot gevoelens van eensaamheid, isolasie en verwerping. Solodnikov en Chkanikova (2010:58) sluit hierby aan en wys daarop dat hierdie adolessente kan voel die samelewing sal hul ouers en hulself nooit verstaan nie, daarom is dit beter om sosiaal te onttrek en geïsoleerd te bly sover moontlik. Die ervaring van botsende gevoelens en innerlike konflik kan moontlik hul besluitnemingsprosesse en sin vir self beïnvloed (Eggebeen, 2012:776).

Hoewel adolessente neig om krities op hulself te fokus en die selfkritiek soms komplekse emosies tot gevolg het, wil dit blyk of adolessente uit lesbiese ouerhuise hoër vlakke van stres ervaar en gevolglik laer vlakke van psigologiese welstand rapporteer (Amato, 2012:773; Brown et al., 2009:231; Clarke et al., 2004:19). Navorsers is dit eens dat verskeie faktore aanleiding daartoe kan gee dat adolessente uit lesbiese ouerhuise hoër stresvlakke ervaar (Amato, 2012:772; Brown et al., 2009:233). Die vrees vir stigmatisering en verwerping as gevolg van hul ouers se lesbiese verhouding is een van die redes vir hul ervaring van negatiewe emosies (Brown et al., 2009:231; Patterson, 2005:5).

Dit is egter belangrik om te besef dat die meeste navorsing op die ontwikkeling van adolessente in lesbiese ouerhuise gedoen is op kinders en adolessente wat in

134

heteroseksuele huwelike gebore is (Robitaille & Saint-Jacqeus, 2009:422; Tasker & Patterson, 2007:11; Parke, 2003:6). Hierdie adolessente is blootgestel aan die trauma van die egskeiding van hul biologiese ouers, wat opsigself ‘n negatiewe effek op hul totale emosionele belewenis tot gevolg het (Amato, 2012:773; Patterson, 2005;12; Golombok et al., 2003:30; Parke, 2003:6; Dew & Myers, 2000:51). Die “uitkom” van hul biologiese ma as homoseksueel gaan ook meestal met skok en ontnugtering gepaard, wat nie deur die kinders en adolessente alleen verwerk moet word nie, maar ook deur die breër familie van oorsprong. Dit lei dikwels tot verwerping deur familie en vriende en isolasie (Amato, 2012:773; Brown et al., 2009:237; Patterson, 2005:5; Parke, 2003:6).

Dit blyk verder uit verskeie navorsing dat, hoewel die bogenoemde faktore die emosionele ontwikkeling van adolessente uit lesbiese ouerhuise grootliks beïnvloed, die ingesteldheid, houdings en psigologiese welstand van die lesbiese ouers ‘n deurslaggewende rol speel (Perlesz & McNair, 2004:135). Patterson (2005:12) wys in dié verband dat adolessente laer vlakke van stres ervaar en ‘n hoër selfbeeld ontwikkel in lesbiese ouerhuise waar die ouers openhartig en eerlik oor hul seksuele oriëntasie is en gesonde sosiale funksionering en interpersoonlike verhoudinge handhaaf. Navorsing deur die Amerikaanse Akademie vir Pediaters (2013:828) ondersteun Patterson (2005:12) se bevindinge, en wys daarop dat adolessente in lesbiese ouerhuise waar beide ouers betrokke is by die opvoeding van die kinders, verantwoordelikhede deel, emosionele ondersteuning aan die adolessente bied en ‘n positiewe ingesteldheid teenoor die lewe openbaar, oor die algemeen gesonde emosionele ontwikkeling en psigologiese welstand ervaar. Volgens hierdie navorsing speel sowel die kwaliteit van die ouers se verhouding met mekaar as hul verhouding met die adolessente ook ‘n kardinale rol in die emosionele ontwikkeling van die adolessente. Ekonomiese sekuriteit, die sekerheid van ‘n langtermyn verbintenis tussen die ouers en sosiale hulpbronne, word ook beskou as belangrike bepalers van die emosionele gesondheid van adolessente wat in lesbiese ouerhuise grootword (Pediatrics, 2013:828; Eggebeen, 2012:777; Patterson, 2005:12).

Faktore soos die bogenoemde geestestoestand van gesinslede, gesinsverhoudings, en ‘n tekort aan emosionele ondersteuning, kan ‘n belangrike invloed uitoefen op die

135

totale ontwikkeling van die adolessent (Watts et al., 2009:289; Moller, 2006:39; Barnard, 2005:5). Aan die ander kant dra emosionele gesondheid daartoe by dat adolessente sosiaal goed aanpas en tevredenheid met die self en ander ervaar (De Klerk & Le Roux, 2004:7). Emosionele gesondheid behels ‘n unieke stel vermoëns, eienskappe en vaardighede soos emosionele-selfbewustheid, selfbeeld, selfgelding, probleemoplossingsvaardighede, empatie, sosiale verantwoordelikheid, buigbaarheid, hantering van stres, geluk en optimisme (Van der Westhuizen, 2008:22). Verder kan gesonde emosionele ontwikkeling individue in staat stel om hul volle potensiaal te bereik (De Klerk-Weyer & Le Roux, 2008:11). Indien adolessente se kognitiewe, morele en emosionele ontwikkeling op peil is, sal hulle ‘n positiewe selfbeeld en identiteit ontwikkel, maar adolessente wat voortdurend hul eiewaarde moet bewys of vernedering ervaar, sal gevoelens van onbekwaamheid en minderwaardigheid ervaar (Sigelman & Rider, 2009:325; Beyers, 2005:6).

Kognitiewe ontwikkeling, wat morele en emosionele ontwikkeling insluit, vind egter nie geïsoleerd plaas nie, maar moet in die sosiokulturele konteks geplaas word, waar adolessente die nodige vaardighede bekom om oor hulself, ander en die wêreld te dink (Sigelman & Rider, 2009:203). Vervolgens gaan die psigososiale ontwikkeling van die adolessent bespreek word.