• No results found

4.2 Nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde

4.2.1 Eiland (1)

In “eiland (1)” (NL 5-6) onthul die spreker “daardie eiland” met “heuwels” wat “blink” (1) (let op die deiktiese woord “daardie” wat afstand impliseer). Dié landskaptoneel word tot stand gebring as deel van ʼn subjek-objek-relasie, wat anders daar uitsien as die meer fundamentele in-die-wêreld-syn. Die landskaptoneel in die verte impliseer dat die spreker nie die landskap bewoon nie, maar ʼn toneel in die verte bekyk. ʼn Taakskap word wel in strofe

96

twee tot stand gebring met die verwysing na “Arabiere/ of Kartagers of Fenesiërs” (4-5) wat eeue gelede “olyfbome” (3) daar sou plant, “boom” slaan en “olie” (7) pars. Hierin kan gesien word hoe die vierskaar in die “olyfbome” as dinge versamel soos die sterflikes die “olyfbome” op die aarde, onder die hemele en voor die goddelikes versorg, maar in teenstelling met die taakskap wat die vierskaar in die alledaagse aktiwiteite rakende die “olyfbome” versamel, noem die spreker in strofe twee dat dit “lankal nie meer winsgewend is om hier te oes” (8) nie. Die woonperspektief maak plek vir ʼn kommoditeitsperspektief (Ingold, 2000:329), wat behels dat die “olyfbome” as kommoditeit gekwalifiseer word, maar nie meer “winsgewend” is nie. Sodoende word sterflikes se alledaagse take van woon ontwrig, die landskap stadigaan “ontmens” (19) en raak die gode vergete – vergelyk die beskrywing van die gode in strofe vier as “ʼn blinde Bacchus, ʼn infertiele Pan, ʼn skimmel Ga” (24). Die sorgsame aktiwiteite rondom die “olyfbome” gaan verlore, wat die “oorspronklike” betekenis van woon as “bou” beëindig (Heidegger, 1989:171). ʼn Onderskeid kan dus hier gemaak word tussen ʼn taakskap met aktiewe menslike en niemenslike agente wat die vierskaar in die “olyfbome” versamel, en ʼn landskap waarin woon nie meer moontlik is nie.

eiland (1)

1 daardie eiland dus, heuwels blink waar wind 2 blou linte span, die tonge aanhou skil 3 van olyfbome ʼn duisend jaar oud 4 deur Arabiere aangeplant

5 of Kartagers of Fenesiërs, seevaarders 6 en handelaars, invallers oor die kim

7 vir tye het die geslagte boom geslaan en olie gepars 8 maar dis lankal nie meer winsgewend om hier te oes 9 en vrugreste oordek die grond soos grys verstandtande 10 – die beeld moet pit word – soos versande

11 foneme of drooggekykte oogappels 12 wind bewerk die landskap permanent

13 wind is nie afhanklik van water of dagvlinders nie 14 die berge is donker glimmende spieëls

15 om altyd weer die silwer wind se invokasies te reflekteer 16 en eeue se sand het die klippe gevil

17 tot die fyn griffelspore van herhaling 18 ʼn ritmiese patroon van spraakgebrek ...

In strofe twee sê die spreker: “die beeld moet pit word” (10), en dui aan hoe dit wat “beeld” is, dit wil sê menslike voorstellings van dinge, gedestrueer moet word om sodoende by die

97

kern van dinge, oftewel die “pit” van dinge uit te kom.9 Dié beelde is liggaamlike beelde van

verval en ontbinding: “grys verstandtande” (9), “versande/ foneme” (10-11) en “drooggekykte oogappels” (11). Die “vrugreste” (9) word vergelyk met “grys verstandtande”, wat dui op tande wat getrek word omdat hulle nutteloos is – dié tande het hul aanvanklike funksie verloor, wat vergelykbaar is met die “vrugreste” wat nie meer ʼn doel dien nie. Die “grys verstandtande” skep ook ʼn beeld van hoe die landskap daar uitsien: die grond is oordek met “vrugreste” in ʼn staat van ontbinding. Dié beeld sluit aan by “eiland (3)” (NL 172-173) se eerste strofe, waarin die vroegoggendlandskap in liggaamsmetafore van ontbinding uitgebeeld word: “wanneer sterre loskom soos ou tande” (3). Die landskap as “aarde” word hierdeur tot stand gebring as die sfeer van verskynende selfonttrekking: die wêreld van “olyfbome” aanplant en bewerk, word stadigaan in die aarde, as die wêreld waaruit dit oorspronklik na vore gekom het, teruggetrek (Heidegger, 2002:26). Die woord “versande” in “versande/ foneme” is ʼn permutasie van “verstandtande”. Dit dui aan dat iets gesê wil word, of van betekenis wil wees, maar niks meer koherent sê nie en word dus betekenisloos. Ook word die “vrugreste” met “drooggekykte oogappels” vergelyk, wat nie meer die spreekwoordelike appel van die bewerkers se oog is nie; inteendeel: die oog is droog gekyk, wat enersyds dui op die afwesigheid van die bewerkers in die olyfplantasie, en andersyds op die “vrugreste” wat geen doel meer dien behalwe ontbinding nie.

Die “wind” word in strofe drie met “berge” in verband gebring wat “invokeer” (15), dit wil sê die “wind” word gesien as ʼn gepersonifieerde teenhanger van die sterflikes wat die gode aanroep. Die aarde as “berge” wat vergelyk word met “donker glimmende spieëls” (14) hou verband met die hemele se “silwer wind” (15) wat die landskap ʼn mistieke allure gee. ʼn Skrifbeeld van “wind” is te vind in die woord “griffelspore” (17) wat dui op die wisselwerking tussen die elementale dinge, die “wind”, die “sand” en die “klippe” (16). Die skrifbeeld, “griffelspore”, is “ʼn ritmiese patroon van spraakgebrek” (18), wat dui op die stom getuienis van “klippe”, dit wil sê dat die klippe sonder spraak vertel. Dié inskripsies praat saam met die “geprewelde gebede” (33) van die “priester” (28) van vergaan, wie se “gebede”

9 Om by die “pit” van dinge uit te kom, impliseer ’n paradoks – die gedig word by ’n destruktiewe lesing as ’n

“gebeurtenis” ervaar wat binne die leser se temporele horison afspeel. Vergelyk Spanos (1977:445): “It [the ‘object’ of interpretation] becomes, that is, an event in my temporal horizon of circumspect care, an event / experience hermeneutically, as event, in the sense, as the crucial privative prefix of a-letheia makes clear, of dis- covering the temporal being that spatialization covers over or conceals.” Dit beteken dat die syn in en vir die oomblik deur Dasein as interpreteerder onthul moet word, wat die radikale temporele struktuur daarvan blootlê. Hiervolgens word die teks as “onuitputbaarlik” beleef, wat aansluit by dit wat Leitch (2010:174) “misreadings” noem: “Using this new hermeneutics, the destructive critic discovered that texts were inexhaustible. To read a text was necessarily to ‘misread’ it. All readings were misreadings. Texts were perpetual”, wat terselfdertyd aantoon hoe destruksie en dekonstruksie bymekaar aansluit.

98

ook as “ʼn ritmiese spraakgebrek” (33) beskryf word. Die “klippe” wat sonder stem vertel, laat dink aan Breytenbach se gedig “die eiland van verbranding” (KL 138) in Katalekte, waarin die spreker noem dat “dae” en “nagte” “leef in hulle geskiedenis van sand en wind” (1-2). Die skrif- en spraakbeelde onthul dus die dae en nagte wat die geskiedenis van die elementale dinge vertel, wat die fundamentele temporaliteit van die landskap blootlê. In die volgende twee strofes van die gedig onthul die spreker onthulling:

19 ontmens, bar: hier sien jy soms

20 ʼn swart salmander slinks soos ʼn littekenende linkerhand 21 die son laat skitter, en waar die luglyn visioeneer 22 glip ʼn vergete aardgod deur die asemruimte

23 tussen opnoem en die memorie van verder vergaan: 24 ʼn blinde Bacchus, ʼn infertiele Pan, ʼn skimmel Ga 25 reisigers hier het vergange al van vergaan

26 geweet, en die vashou aan ʼn dop van lewe 27 of ʼn ontbindingsmasker:

28 die swart mes, dit was insig waarmee die priester 29 ʼn lang wond in die sy kon sny

30 om die kadawer se binnewerk uit te haal

31 en die holplek vol te stop met die geleerde mengsel 32 van heuning, byewaks, aromatiese plante,

33 geprewelde gebede ʼn ritmiese spraakgebrek 34 om die skimme mee te sus ...

Die woord “hier” in “hier sien jy soms” (19) benadruk die feit dat die landskap ʼn wêreld oopmaak waarin die spreker hom/haar bevind. Die spreker onthul onthulling as die stryd tussen ʼn besondere wêreld en die entiteite daarvan, wat terselfdertyd aan die stryd tussen verskyning en onttrekking onderworpe is. Ook word die spreker bewus van sy/haar eie eindigheid, soos Spanos (1977:444) verduidelik: “un-grounded or, rather, grounded in Nothing, i.e., open”; die dinge is gegrond in die “niks” wat ʼn bewus-wees van Dasein se eie moontlikheid tot niesyn na vore bring. Laasgenoemde word reeds belig in die eerste woord van die strofe, naamlik “ontmens” (19) – die voorvoegsel “ont-” veronderstel dat die sterflikes die landskap eens bewoon het, maar nie meer bewoon nie. Die streek word as “bar” (19) beskryf, wat die onvrugbaarheid en dorheid van die aardstreek beklemtoon.

Die spreker wys daarop dat jy “hier” “soms/ ʼn swart salmander” “sien” (19-20) wat “die son laat skitter” (21). Die adjektief “littekenende” (20) verduidelik hoe die “salmander” lyk: soos ʼn hand wat hom-/haarself teken, maar die woord “littekenende” dra ook spore van die woorde “litteken”, “tekenende” en “teken” wat onderskeidelik verband hou met die herstel van ʼn wond (“litteken”), ʼn kunstenaarsaktiwiteit (“tekenende”) en iets wat iets anders

99

aandui (“teken”). Die “swart salmander” word hierin ʼn soort simbool van die skeppingsproses wat deur die landskap geïnspireer is. Daarby roep die “swart salmander” ʼn mitiese wêreld op in die naasmekaarstelling van “ʼn vergete aardgod” (22) wat wegglip “waar die luglyn visioeneer” (21). Dit vind plaas in ʼn “asemruimte” (22), wat asemhaling beklemtoon in teken van die behoud van die sterflike, asook die gode wat verskyn in die “opnoem en die memorie van verder vergaan” (23). Die wêreldterugtrek en -vergaan word verder deur ʼn aantal adjektiewe bewerkstellig, en die gode beskryf as “ʼn blinde Bacchus”, “ʼn infertiele Pan” en “ʼn skimmel Ga” (24). Die goddelikes se vergaan dui op die terugtrek in vergetelheid namate hulle al hoe meer “menslike” attribute, spesifiek dié van ouderdom, verkry – vergelyk die adjektiewe “blinde”, “infertiele”, “skimmel”.

In strofe vyf word genoem dat “reisigers” (25) “hier reeds vergange al van vergaan” (25) weet. Die beskrywing van “reisigers” staan in kontras met “bewoners” wat die klem op die onbewoonbaarheid van die landskap plaas, of die landskap as ʼn tussen-wêreld, ʼn deurgangsruimte. Landskap word egter ook tot onthulling gebring in die wyse waarop daar deur die landskap gereis word. Die reis gaan gepaard met ontberings, wat gesien kan word in die wyse waarop die reisigers “vashou aan ʼn dop van lewe” (26). Die “dop” verwys letterlik na ʼn dop wat gedrink word, byvoorbeeld ʼn klein sopie water, of figuurlik na ʼn dop wat die liggaam as ʼn “ontbindingsmasker” (27) veronderstel. Die woord “ontbindingsmasker” kan verduidelik word as ʼn masker teen die dood, wat laat dink dat die mens agter die masker reeds dood is. Die teendeel is egter waar, dat “reis” as ʼn vorm van woon verstaan kan word, waarin die “reisigers” as sterflikes oor die aarde reis, wat die aarde en hemele ontvang, en ontberings voor die goddelikes moet deurstaan. Die “ontbindingsmasker” word dan ʼn ding wat die vierskaar versamel as “die wyse waarop sterflinge op aarde is” (Heidegger, 1989:172), dit wil sê al reisend woon in behoud van die vierskaar. Die “ontbindingsmasker” word dus ten sterkste met die liggaam van sterflikes geassosieer, wat impliseer dat die liggaam iets anders (soos die gees) huisves.

Die verband met die wyse waarop die sterflikes die teenwoordigheid van die goddelikes gedenk, is geleë in die balsemritueel van die “priester” (28). Dit word in detail beskryf – hoe die priester “ʼn lang wond in die sy kon sny” (29) en dan “die kadawer” (30) (wat hier terugwys op die “ontbindingsmasker”) se “binnewerk” (30) (organe) uithaal en volstop “met die geleerde mengsel/ van heuning, byewaks, aromatiese plante,/ geprewelde gebede” (31-33). Die ritueel het dan ten doel “om die skimme” te “sus” (34), dit wil sê die gees van die afgestorwene in vrede na die doderyk te laat gaan. Die balseming van die lyk het ook ʼn preserveringsfunksie, wat die ontbindingsprosesse verlangsaam. Die volgende strofe

100

dui dan hoe die wêrelde van sterflikes verband hou met begeerte van alle dinge, wat saam getuig van vergaan:

35 elkeen paai sy landskap in hom groot

36 in wisselwerking met die redes van koelte en rus 37 laag op laag van wat die oog ge-aai het,

38 ʼn lewensaar deur die priester se pols 39 mondende in die onrustige mompeling

40 van getye, ruimtes, voëlsang wat nooit verdof ...

Die woord “paai” in “elkeen paai sy landskap in hom groot” (36) wys op ʼn subjektiewe (interne) “landskap” wat onderskei word van ʼn objektiewe (eksterne) landskap. Let ook op die rymwoorde “paai” en “ge-aai” (oog/land), wat tekenend is van die “wisselwerking” tussen die binne- en buitelandskappe. Hierdie siening staan wel in kontras met landskap as ʼn wêreld waarin geleef word, aangesien dit ʼn deurlopende dualisme tot gevolg het, tussen subjek/objek, intern/ekstern, kultuur/natuur, binne/buite, en dies meer (Ingold, 2000:191). Eerder as wat daar gedink word in terme van die “interne” en “eksterne” landskappe, word daar van die standpunt uitgegaan dat die wêreld die landskap is waarin die sterflike leef. Dit is hierdie “wêreld” waaraan die mens onderworpe is solank as wat hy/sy lewe, wat verbeel word as ʼn “lewensaar” (38) wat uitmond “deur die priester se pols” (38) tot “in die onrustige mompeling/ van getye, ruimtes, voëlsang wat nooit verdof” (39-40) nie. Hierin maak die werksaamhede van menslike en niemenslike agente deel uit van die ritmiese vorms van die taakskap wat deur Ingold (2000:195) beskryf word as die totale ensemble van take. In die laaste drie strofes van die gedig word die werklikheid van die “dood” (41) gekontrasteer met die alledaagse werksaamhede van woon:

41 en die dood dan alleen ʼn eiland waar 42 dit nie meer die moeite loën om water 43 vas te maak, en jy jou oor kan gee 44 aan ontderming, ʼn tydsverduistering 45 jy! jy! waar jy loop is jy ʼn geleidster

46 ek sien jou gaan langs die hang van blink heuwels 47 en wanneer die lig sterf word jou hare swart, 48 maar meer: ek volg jou met die bewegings 49 van my hart op soek na al die kadanse 50 waarop ek met jou óm kan gaan

101

51 dit is hoe son gemaak gaan word 52 en bevry in die duister

53 hoe ʼn blink hand die swart salmander mag vang

In die sewende strofe word die dood as ʼn “tydsverduistering” (44) teenoor die werksaamhede van die lewe opgestel, wat geïnterpreteer word as ʼn landskaptoneel wat in die verte gesien word. Die “dood” (41) as verafbeskoude landskap word dan gekontrasteer met die alledaagse werksaamhede van woon in lewe. Die dood word verbeel as ʼn landskap waarin die “natuur” sy eie gang gaan, dit nie meer die “moeite loën om water/ vas te maak” (42-43) nie en die spreker sy/haar eie sterflikheid bedink as ʼn fisieke vergaan van die liggaam, as ʼn “ontderming” (44). (Die uithaal van die derms is ook ’n deel van die balsemproses, dus eerder ʼn poging om die fisieke vergaan teë te werk.)

In die agste strofe word die “dood” egter topologies vervorm tot hoop en bevryding. Dit word gedoen deurdat die spreker die “jy”-figuur sien as ʼn “geleidster” (45) van die lewe tot in die dood. Die spreker is nie deel van daardie landskap nie, maar roep die “jy”- figuur op as “geleidster” (45) om hom/haar tot in die doderyk te begelei. Die spreker roep die skemerbeminde aan: “jy! jy!” (45), wat die sterflike se soeke na ʼn sinvolle bestaan in die aansig van sy/haar eie sterflikheid beklemtoon. Die “kadanse” (49) waarna die spreker “op soek” (49) gaan om met die skemerbeminde om te gaan, word die beginsel van die lewe, maar ook meer as die lewe: as die omvormende krag van liefde en van seks, as ʼn ontdekkingsreis tot in die dood, wat woon op aarde nie verduister as ʼn blindelingse staar na die einde toe nie (Heidegger, 1989:172). Die begeleiding daarheen maak wel nog steeds deel uit van die lewe op aarde, wat gesien word in die wyse waarop hy/sy “op soek” gaan na al die “kadanse” (49) “waarop ek met jou” (50), dit wil sê die spreker met die lewe/skemerbeminde op pad na die dood “óm kan gaan” (50). Hierin word die pad na die dood, maar die dood self ook, as avontuurlik voorgestel, wat skakel met Breytenbach se gedig “om die wêreld te kan sê” (KL 75): “die groot vergeet voor/ nog ʼn aanloklike avontuur” (4-5).

In die slotstrofe word “dit” (51), as “al die kadanse/ waarop ek met jou óm kan gaan” (49-50), die beginsel van lewe tot in die dood, maar ook vir die ander kant van lewe waarin die “son” “gemaak” (51) en “bevry” (52) word in die duister, tekenend van skeppende en seksuele ekstase, van “hoe ʼn blink hand” “die swart salmander mag vang” (53). Die “blink hand” van die son bring dan tot onthulling “daardie eiland dus, [...] waar wind/ blou linte span” (1-2) aan die begin van die gedig, as ʼn voortdurende proses, “van getye, ruimtes, voëlsang wat nooit verdof” (40) nie. Die wyse waarop die sterflike op aarde woon, onder die

102

hemele en voor die goddelikes, word dus verhelder in “al die kadanse” (49) waarmee die sterflike met die skemerbeminde “óm kan gaan” (50), wat die syn deur die vierskaar konkretiseer.