Hoofstuk 6: Die gemeente as alternatiewe gemeenskap 6.1 Inleiding
6.3 Moontlikhede ten opsigte van die gemeente as alternatiewe gemeenskap
6.3.6 Dulles: Models that are inadequate to the reality to which they point
Volgens Dulles (1987:194) is elkeen van die vyf bestaande kerkmodelle geldig in die opsig dat elkeen van hulle sekere belangrike en noodsaaklike punte uitlig. Hierdie modelle en die belangrikste punte wat deur hulle uitgelig word, is die volgende:
Die institusionele model maak dit duidelik dat die kerk ’n gestruktureerde gemeenskap moet wees waarbinne daar sekere ampte bestaan wat oor die nodige gesag beskik om in aanbidding voor te gaan, sekere perke te stel en die gemeenskap in ’n amptelike hoedanigheid te verteenwoordig.
Die gemeenskapsmodel maak dit duidelik dat die kerk deur die genade van God verenig is sodat sy lede deur die krag van daardie genade in liefde verenig moet wees. Die sakramentele model maak dit duidelik dat die kerk ’n sigbare teken van die
genade van Christus moet wees.
Die kerugmatiese model plaas klem op die feit dat die kerk ’n boodskapper van die evangelie moet wees wat mense oproep tot geloof in Jesus as Saligmaker.
Die diakonale model wys uit dat die kerk tot die transformasie van die sekulêre wêreld moet bydra en die waardes van die Koninkryk van God na die hele samelewing moet laat deurwerk.
Wat die geskiktheid van hierdie modelle betref, noem Dulles (1987:196) verder die volgende:
We are condemned to work with models that are inadequate to the reality to which they point. … We must refrain from so affirming any one of the models as to deny, even implicitly, what the others affirm. In this way it may be possible to gain understanding of the Church that transcends the limitations of any given model. We shall be able to qualify each of the models intrinsically in such a way as to introduce into it the values more expressly taught by the others.
Die sakramentele model waarvoor ek reeds in die vorige sub‐afdeling ’n voorkeur te kenne gegee het, het volgens Dulles (1987:197) besondere meriete om die waardes van al die
modelle saam te voeg. Daar sal vervolgens gepoog word om aan te dui hoedat die sakramentele model volgens my oordeel deur die ander modelle verryk kan word en die legkaartmetafoor waarna in die vorige sub‐afdeling verwys is, sal ook in dié verband aangewend word.
In terme van die sakramentele model is die gemeente ’n teken van die realiteit van die teenwoordigheid van die genade van Christus in die wêreld (1987:76). Die kerk bereik hierdie doel nooit volkome in hierdie wêreld nie, maar soos Dulles (1987:71) dit stel: “It is true Church to the extent that it is tending to become more truly Church.” Die legkaart‐ metafoor waarna in die vorige afdeling verwys is, kan myns insiens van nut wees om die betrokke model verder toe te lig: Die legkaartprent verteenwoordig die realiteit van die teenwoordigheid van die genade van God wat op verskillende maniere sigbaar gemaak word binne die konteks van die gemeente namate die legkaart voltooi word. Elke lidmaat het in hierdie verband ’n bydrae om te lewer, maar dit sal nie vir almal ewe maklik wees om agter te kom wat hulle bydrae behels nie. Die legkaartmetafoor is myns insiens verder van nut ten opsigte van die manier waarop die sakramentele model deur die gemeenskapsmodel verryk word: Namate die legkaartstukke hulle plek vind in die legkaart, word die prent duideliker sodat dit ook vir ander stukke moontlik word om hulle plek te vind. Op soortgelyke wyse dra die onderlinge gemeenskap in ’n gemeente daartoe by om die genade van God meer sigbaar te maak sodat ander ook hul plek in daardie gemeenskap kan vind waardeur die genade nog meer sigbaar gemaak word. In hierdie opsig vind ek die legkaartmetafoor meer gepas as die beeld van die liggaam wat dikwels vir die doeleindes van die gemeenskapsmodel gebruik word. Die beeld van ’n liggaam het egter ook voordele bo dié van ’n legkaart, soos die volgende: As een lid ly, ly al die lede saam (vgl 1 Korintiërs 12:26). Die legkaartmetafoor het myns insiens ’n verdere sterk punt naamlik dat dit bydra tot die insluiting van mense wat dalk andersins uitgesluit mag word: mense wat nog nie ’n funksie na wense vervul nie omdat hulle nog nie hulle plek binne die gemeente gevind het nie; mense wat nie binne die gemeente die gemeenskap ervaar waarop daar dikwels klem geplaas word wat betref die Liggaam van Christus as kerkmodel nie (vgl Dulles 1987:61); mense wat reeds binne die kerk pynlike ervarings beleef het en daarom huiwerig is om
daarheen te gaan (vgl Nel 2003:189). Hierdie mense word nie net deur die betrokke metafoor ingesluit as moontlike ontvangers of mense wat verandering moet ondergaan om in te pas ten opsigte van sekere verwagtinge nie, maar hulle word ingesluit as mense wat ’n unieke bydrae het om te lewer ten einde die realiteit van die teenwoordigheid van God se genade binne ’n sekere konteks, toenemend sigbaar te maak.
Die legkaartmetafoor is egter myns insiens nie van nut wat betref die manier waarop die sakramemtele model deur die ander drie modelle verryk word nie. Die institusionele model verryk die sakramentele model in die opsig dat die strukture van die kerk daartoe behoort by te dra dat die kerk ’n sigbare teken van God se genade is. Sodoende word daar terselfdertyd meer duidelikheid verkry oor die doel van die betrokke strukture. Die behoud en voortbestaan van hierdie strukture behoort myns insiens nie opsigself in ’n doel te ontaard nie.
Daar bestaan in verskillende opsigte spanning tussen die kerugmatiese model en die diakonale model (vgl Dulles 1987:87;187). Albei hierdie modelle kan egter daartoe bydra om die sakramentele model te verryk. Die kerugmatiese model vestig die aandag op die verkondiging van Christus deur wie die genade van God wat deur die gemeente sigbaar gemaak moet word, op ’n besondere wyse geopenbaar is. Dit was juis deur die verkondiging van Christus dat die genade van God op ’n besondere wyse in die gemeente in Antiogië sigbaar geword het (vgl afdeling 6.3.5). Die diakonale model vestig die aandag daarop dat die genade mense moet aanspoor tot dade waardeur die genade verder sigbaar gemaak word.
In terme van die benadering waartydens die sakramentele model deur die ander kerkmodelle verryk is, kan medewerking in belang van geregtigheid gesien word as moontlike handelinge waartoe mense deur die bewustheid van God se genade beweeg word en waardeur die genade verder sigbaar gemaak word. Daar word tydens hierdie benadering rekening gehou met die belemmeringe waarmee sommige mense te doen het deur die manier waarop voorsiening gemaak word vir die insluiting van mense wat andersins maklik uitgesluit kan word. Verder word die moontlikheid van onvanpaste beheer teengestaan deurdat ’n ander primêre doel as die uitoefening van beheer aan kerklike
strukture toegewys is, naamlik om daaraan mee te werk om aan God se genade ’n sigbare gestalte te gee.
Daar bestaan verder by ’n legkaart die moontlikheid van foutiewe plasing wat nie net die prent kan versteur nie, maar ook die moontlikheid van skade inhou. Aangesien daar in ’n gemeente iets soortgelyks kan gebeur, behoort die strukture van ’n gemeente voorsiening te maak vir sisteme van terugvoer met die oog op moontlike regstelling waaraan in die volgende sub‐afdeling aandag gegee word.