• No results found

Hoofstuk 2: Die stand van Liggaamlike Opvoeding in ʼn internasionale konteks en

2.3 Die stand en status van Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrika

In die meeste skole in Suid-Afrika word die minste tyd aan Liggaamlike Opvoeding toegestaan, in vergelyking met ander vakke (Uys et al., 2016:267). Volgens die voorskrifte vir Lewensoriëntering in die KABV (DBO, 2011:10), moet Lewensoriëntering twee keer ’n week aangebied word, waarvan een periode ’n teoretiese onderwerp in Lewensoriëntering en die ander een praktiese Liggaamlike Opvoeding behoort te wees. Die huidige wanpersepsie oor voldoende tyd op die skoolrooster vir Lewensoriëntering kan verder toegeskryf word aan die feit dat onderwysers onvoldoende kennis van Liggaamlike Opvoeding as vak het (Van Deventer, 2009:140). Volgens Van Deventer (2009:142) moet meer tyd per week toegestaan

35

word vir die leeruitkomste van Lewensoriëntering, want die leerders sal dan eers besef watter voordele gereelde oefening inhou.

Uys et al. (2016:268) beweer dat groepsdruk, fisieke selfdoeltreffendheid en fisieke bevoegdheid belangrike voorspellers van fisieke deelname aan aktiwiteite onder Suid- Afrikaanse laerskoolleerders is. Die sterkste aansporing is egter wanneer ouers saam met hulle kinders aan fisieke aktiwiteite deelneem, vervoer voorsien, of hulle ondersteun en motiveer, ook vir deelname aan Liggaamlike Opvoeding (Uys et al., 2016:269). Een van die redes vir die gebrek van ouerondersteuning, spesifiek in die landelike gemeenskappe, is die kulturele persepsie dat sportdeelname nie ideaal is vir meisies nie omdat dit hulle weghou van hulle huishoudelike take (Uys et al., 2016:269). Dit is verder volgens Uys et al. (2016:269) ook duidelik dat een van die uitdagings is dat ouers eenvoudig nie waarde heg aan sport, fisieke oefening en Liggaamlike Opvoeding nie. Daar is dus ’n behoefte aan gemeenskapsgebaseerde strategieë om geleenthede te skep vir fisieke aktiwiteite en speletjies om kinders en die jeug te betrek asook om motivering en ondersteuning van hul families en portuurgroepe vir Liggaamlike Opvoeding te bevorder (Uys et al., 2016:269).

Uys et al. (2016:268) beweer verder dat wanneer kinders meer as vier ure per dag voor ’n TV- skerm sit, is die waarskynlikheid dat hulle oorgewig sal wees, twee keer so groot. Healthy Active Kids South Africa (HAKSA) se 2014-verslagskaart dui daarop dat hoogstens 50% van leerders aan die standaarde vir daaglikse fisieke aktiwiteite voldoen, en dat tussen 30% en 60% van die leerders nie aan weeklikse Liggaamlike Opvoeding deelneem nie en gemiddeld sowat drie uur per dag voor ’n skerm deurbring (Uys et al., 2016:265). ’n Studie in laerskole in die Wes-Kaap het bevind dat meer as 50% van die kinders daagliks drie of meer uur televisie gekyk het, en dat 31% van meisies en 25% van seuns op ’n gewone skooldag vyf uur of meer televisie gekyk het (Uys et al., 2016:268).

Volgens die resultate van Amosun et al. (2007:256) se studie van 10 699 leerders in nege provinsies in Suid-Afrika is ’n tekort aan fasiliteite en toerusting een van die grootste struikelblokke in Liggaamlike Opvoeding. ’n Gebrek aan fasiliteite, sportgeriewe of klubs in of naby hulle woongebied en onvoldoende toegang tot fasiliteite en programme tel onder die algemene struikelblokke vir deelname aan fisieke aktiwiteite onder Suid-Afrikaanse kinders (Uys et al., 2016:269). Bestaande fasiliteite word swak onderhou of staan in sommige verlate weens hulpbronbeperkings (Uys et al., 2016:269). “Out of the 24 365 schools in South Africa, 13 500 (54%) are registered to provide school sport” (Uys et al., 2016:269).

36

Die grootste oorsaak van die gebrek aan ondersteuning vir Liggaamlike Opvoeding is egter die feit dat dit in 1994 as ’n alleenstaande vak uit die kurrikulum verwyder is. Die vak is later na die afskaffing van apartheid teruggebring as ’n onderafdeling van Lewensoriëntering weens die toename in gesondheidsrisiko’s onder hedendaagse leerders (Du Toit et al., 2007:241). Stroebel et al. (2016:215) wys daarop dat die regering, skole en die gemeenskap Liggaamlike Opvoeding tot vandag toe steeds swak ondersteun.

Van Deventer (2011:116) het ’n studie gedoen om laerskole se fasiliteite en toerusting vir Liggaamlike Opvoeding te ondersoek. In hierdie studie is 300 skole (laerskole n=150, en hoërskole n=150), wat ewekansig uit vier provinsies oor die land gekies is, betrek (Van Deventer, 2011:114). Volgens die resultate het meer as 58% van die skole uit die Oos-Kaap, Vrystaat en Wes-Kaap onderskeidelik aangedui dat hulle onvoldoende fasiliteite en toerusting vir die aanbieding van Liggaamlike Opvoeding het, terwyl 47% van die skole in Noordwes ’n tekort aan fasiliteite en toerusting gehad het.

Jeugdiges (veral meisies) wil dikwels graag onderwysergeorganiseerde sportaktiwiteite vermy en aan volwasse sportsoorte/aktiwiteite deelneem waarin onderwysers hulle meer soos volwassenes behandel (Rainer et al., 2015:248). Volgens Rainer et al. (2015:248) speel kleredrag, aktiwiteitskeuse, onderwysers, en breë sosiale diskoerse rondom geslag, etnisiteit en seksualiteit ’n groot rol in meisies se gedrag en deelname aan Liggaamlike Opvoeding. ’n Ander probleem, volgens Du Toit et al. (2007:248), is die nie-eksamenstatus van Liggaamlike Opvoeding. As gevolg van sy lae status in vergelyking met ander akademiese vakke delf Liggaamlike Opvoeding dikwels die onderspit (Du Toit et al., 2007:248). Die laer status van Liggaamlike Opvoeding word ook toegeskryf aan die onkunde van kollegas en ouers oor hoe belangrik dit is vir akademiese prestasie in ander vakke (Du Toit et al., 2007:248). Nog ’n probleem vir onderwysers in die kurrikulum, volgens Du Toit et al. (2007:249), is dat daar te min tyd en te veel leerders in klasse is om behoorlik reg te laat geskied aan die uitkomste van die Liggaamlike Opvoedingsafdeling van Lewensoriëntering (Du Toit et al., 2007:249). Volgens Du Toit et al. (2007:249) is ’n algemene bekommernis van onderwysers van skole in bevoordeelde gemeenskappe, die kultureel diverse samestelling van klasse wat verskillende verwagtinge en voorkeure vir aktiwiteite in Liggaamlike Opvoeding inhou.

Liggaamlike Opvoeding in skole in Suid-Afrika ondervind dus soortgelyke probleme as in die res van die wêreld, onder andere swak opgeleide onderwysers, die lae status van die vak, dat dit nie ’n eksamenvak is nie, en ’n gebrek aan fasiliteite en apparate (Edginton et al. 2014:31; Van Der Merwe, 2011:28). Die opleiding van bestaande Liggaamlike Opvoedingsonderwysers is dus een van die uitdagings wat Liggaamlike Opvoeding in Suid-Afrikaanse skole in die gesig

37

staar. Optimale indiensopleiding vir onderwysers in Liggaamlike Opvoeding is dus noodsaaklik, en kan ook oplossings bied vir van die ander uitdagings soos ’n tekort aan apparate en die status van die vak. In die lig van hierdie bespreking van die noodsaaklikheid van opleiding vir Liggaamlike Opvoedingsonderwysers word hulle indiensopleiding vervolgens verder bespreek.

Die Nasionale Navorsingsverslag “State and Status of Physical Education in Public Schools of South Africa” bevestig bogenoemde besprekings dat Liggaamlike Opvoeding in Suid- Afrikaanse staatskole voldoen nie aan die UNESCO vereistes nie (Burnett, 2018:54).

38