• No results found

DIE REGSHISTORIESE ONTWIKKELING VAN PROSTITUSIE

2.1 Inleiding

Prostitusie is ‘n algemene verskynsel en welbekende euwel regoor die wêreld heen. Prostitusie is egter geen nuwe verskynsel nie en word deur sommiges na verwys as die oudste professie in die wêreld.24 ‘n Kort samevatting van die regshistoriese ontwikkeling van hierdie bedryf op internasionale sowel as nasionale (Suid-Afrikaanse) vlak volg volledigheidshalwe.

2.2 Die internasionale regshistoriese ontwikkeling van prostitusie

Volgens De Bruyn25 kan die oorsprong van prostitusie waarskynlik teruggevoer word na die bedryf van “tempelprostitusie” in die oudste beskawing. Volgens Ferreira26 verwys die oudste geskrif, die Gilgamesh- epos na hierdie tempelprostitute as persone wat hoë aansien in die Babiloniese gemeenskap geniet het. Die sekswerkers was deel van die tempelkultus en het ‘n belangrike rol in die samelewing vervul. As priesteresse was hulle die skakel tussen die lidmate en die Groot Godin. Geslagsgemeenskap met ‘n priesteres/tempelprostituut was ‘n gebedsdaad of selfs ‘n soort nagmaal. Seks met ‘n tempelsekswerker was dus ‘n

24 De Bruyn 1996:41. 25 1996:41. 26 2000:15.

vereniging tussen die lidmaat en die Groot Godin. Ferreira27 vervolg dat die patriargale godsdienste soos dit ook in die Ou Testament voorkom, tempelprostitusie veroordeel en gevolglik verbied het. Volgens de Bruyn28 was die Jode die eerste volk wat tempelprostitusie as godslasterlik veroordeel het. Hul moralistiese benadering tot prostitusie het weerklank gevind in die leringe van die vroeë Christelike kerk, wat seksuele omgang slegs binne die monogame huwelik goedgekeur het. De Bruyn29 vervolg dat hoewel die vroeë Christelike kerk prostitusie as immoreel beskou het, dié gedrag nogtans nie gekriminaliseer is nie, maar beskou is as ‘n “noodsaaklike euwel”.

Volgens Ferreira30 het die Victoriaanse tydperk van die 19de eeu, ‘n stokkie voor enige verleiding van die man gesteek. ‘n Vrou moes haar van kop tot tone bedek en net ‘n ontblote enkel kon ‘n man se seksuele koerasie kwansuis die hoogte injaag. Tafel- en stoelpote moes selfs bedek word – dit het te veel na ‘n vrou se enkels gelyk. Tog het Londen gespog met die meeste prostitute per man in die geskiedenis van dié Britse stad. Volgens De Bruyn31 het die Victoriaanse historikus, Lecky, die prostituut in 1869 inderdaad as die bewaker van sedes beskryf:

But for her, the unchallenged purity of countless happy homes would be polluted. She remains …. The eternal priestess of humanity, blasted for the sins of the people.

27 2000:15. 28 1996:41. 29 1996:41. 30 2000:15. 31 1996:41.

De Bruyn32 vervolg dat prostitusie in Europa vanaf die Middeleeue wel afgekeur, maar nogtans verdra is. Daar was selfs pogings tot regulering deur prostitute in bordele te lokaliseer. Prostitute moes gevolglik lisensiegelde betaal, ‘n mate van higiëniese kontrole kon uitgeoefen word en morele sentimente is bevredig deurdat die sondaresse geïsoleer en geïdentifiseer is.

Dit was egter die Protestantse hervormers, soos Luther en Calvyn, wat daarop begin aandring het dat prostitusie gekriminaliseer en deur die wet onderdruk moet word.33

Vandag is prostitusie in sommige lande gekriminaliseer en in andere ‘n wettige bedryf. Die regsvergelykende studie wat in Hoofstukke 4 tot 7 voorkom verskaf ‘n beeld van die huidige posisie ten opsigte van prostitusie wat tans in ander lande gevolg word.

2.3 Die regshistoriese ontwikkeling in Suid-Afrika

Volgens De Bruyn34 het die Kaapse regering prostitusie in 1868 begin reguleer deur die toepassing van die Wet op Aansteeklike Siektes,35 wat prostitute verplig het om ondersoeke vir geslagsiektes te ondergaan. Na 1882 is prostitute en sogenaamde “night-walkers” gestraf onder die Wet op Polisie-oortredings.36 In 1893 is verdere wetgewing aanvaar wat

32 1996:41. 33 1996:41. 34 1996:41. 35 De Bruyn 1996:41. 36 De Bruyn 1996:41.

kinderprostitusie verbied het. Die vloedgolf prostitute wat die goud- en diamantstormloop na Transvaal vergesel het, het verder tot ‘n reeks wette gelei wat prostitusie tussen 1897 en 1899 verbied het. De Bruyn37 vervolg dat prostitute Transvaal gevolglik as gevolg van hierdie wette verlaat het en na die Kaap, Vrystaat asook na Natal gegaan het, waar soortgelyke wetgewing toe ook summier deurgevoer is. Dié koloniale reëlings het voortgeduur tot 1957, toe dit herroep en vervang is deur die Immoraliteitswet.38 Hoewel wetgewing voor 1988 dus openbare belange beskerm en sekere aspekte van prostitusie verbied het, was prostitusie nie ‘n misdaad nie. Eers in 1988 is ‘n amendement tot die 1957-wet bygevoeg om voorsiening te maak vir wetlike strawwe vir seks-teen- betaling. Die instelling van die 1988-amendement is voorafgegaan deur ‘n verslag deur ‘n ad hoc-komitee van die Presidentsraad, waarin die volgende mening uitgespreek is:39

The Committee accepts that prostitution unfortunately cannot be eradicated by measures under the criminal law. In fact the Committee has evidence that penal sanctions do little, if anything, to make a hardened prostitute abandon her way of life… The Committee therefore takes cognizance of the fact that the most effective way of combating prostitution would be to deal with the public manifestations under the criminal law and leave other manifestations to public opinion.

Ten spyte van dié verstandige en pragmatiese aanbeveling dat prostitusie nie mee weggedoen kan word deur middel van die instelling van

37 1996:41. 38 De Bruyn 1996:41. 39 De Bruyn 1996:41.

strafsanksies nie, het die regering nogtans besluit om prostitusie te kriminaliseer.

Volgens De Bruyn40 verskaf dié geskiedenis die konteks vir ‘n kritiese beskouing van die rasionaal vir die onderdrukking van prostitusie deur middel van kriminele wetgewing.

Wat die huidige Suid-Afrikaanse posisie betref, het die inwerkingtreding van die eers Interim Grondwet41 en toe die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 199642 onderskeidelik, veral die versekering en beskerming van basiese menseregte tot gevolg gehad. Hierdie regte is aan elke indiwidu van die Republiek verseker wat vanselfsprekend sekswerkers insluit.

‘n Grondwetlike uitdaging rondom die billikheid van die voortbestaan van prostitusie as misdryf in Suid-Afrika is dus lank reeds oor bespiegel en het dan ook uiteindelik voor eers die Hooggeregshof van Transvaal en daarna die Grondwethof van Suid-Afrika vir beslissing gedien. Die minderheids- sowel as meerderheidsuitspraak van hierdie saak43 soos deur die Grondwethof se regters gelewer geniet vervolgens aandag in Hoofstuk 3. 40 1996:42. 41 200/1993. 42 108/1996. 43

2.4 Samevatting

Dit blyk dus duidelik uit bogenoemde dat die historiese ontwikkeling van prostitusie een van sterk kontrasterende tydperke was. O’Neill44 bevestig hierdie standpunt deur dit as volg te stel:

The history of prostitution is one of immense contradictions as the prostitute is a figure represented in varying guises: whore/priestess, whore/goddess, whores achieved a certain level of autonomy leading to education and status within Ancient Creek society; whores became bad girls especially as the growth of Christianity and later Protestantism contrasted the ideal of the good wife and mother with bad girl and sinner; increasingly within the Victorian period ideals of social purity and morality contrasted with dire economic poverty for working class/underclass women involved in a prolific sex for sale market, particularly in London. Whores are part of the patriarchal imagination re-appearing in fantasies both sacred and profane.

44

http://www.staffs.ac.uk/schools/humanities_and_soc_sciences/sociology/level3/prost3.htm. Nageslaan op 14 Maart 2003.