• No results found

Die posisie van Meyer in die Amerikaanse literêre polisisteem

Hoofstuk 5: Samevatting en aanbevelings

5.3. Die posisie van Meyer in die Amerikaanse literêre polisisteem

Die tweede navorsingsvraag is watter posisie Meyer se roman in die Amerikaanse literêre polisisteem inneem. Deur gebruik te maak van PST is daar bepaal wat die doel, funksie en posisie van Meyer se roman binne hierdie polisisteem is. Die besprekings wat hiermee gepaardgaan het duidelikheid gebied oor die manier waarop Meyer se romans in die doelsisteem ontvang word wat op sy beurt duidelikheid bied oor die vertaalbesluite wat in die doelteks geneem is.

PST bied die geleentheid om die doel, funksie en posisie van die teks te bepaal deur van die parateks en aanlyn resensies van hierdie romans gebruik te maak. As deel van die metode is die parateks en aanlyn resensies ontleed en bespreek om die voorgenoemde te kon bepaal. Afhangende van die prospektiewe posisie van die roman kan die vertaler besluit om van meer

143

konvensionele repertoires gebruik te maak of meer innoverende repertoires – veral as hierdie tekste nader aan die sentrum van die literêre sisteem is. Uit die parateks word daar bepaal dat Meyer deur hierdie teks poog om deel te neem aan dieselfde kategorie as ander spanningsverhaalskrywers soos Stephen King wat beskou word as een van die bekendste spanningsverhaalouteurs. Die roman, Fever, het dus ten doel om ook beskou te word as ’n spanningsverhaal. Even-Zohar se PST dui egter aan dat vertaalde literatuur meestal op die periferie van ’n literêre sisteem geposisioneer word, behalwe as die polisisteem jonk, swak of in ’n krisis is. Wanneer daar na die parateks van Fever gekyk word, funksioneer hierdie roman as ’n vertaalde spanningsverhaal binne die Amerikaanse spanningsverhaalsubsisteem. Die voorblad dui nie op ’n spesifieke kulturele element wat uitgebeeld word nie, maar fokus op die verhouding tussen Nico en sy pa, maar deur die aanhaling van Stephen King op die voorblad van die Engelse uitgawe te voeg, word die roman van ’n bepaalde status voorsien en beweeg die roman meer nader aan die sentrum van die spesifieke polisisteem, die Amerikaanse spanningsverhaalsubsisteem.

Die aanlyn resensies van Fever het grootliks ’n positiewe ontvangs deur kritici en die algemene leserspubliek getoon. Hierdie grootliks positiewe ontvangs van spanningsverhale dui aan dat Meyer se roman vir invoer in die spesifieke polisisteem gekies is omdat hierdie tipe literatuur oor die algemeen ’n positiewe ontvangs toon.

Die invoer van Meyer se Fever toon aan dat hierdie roman reeds aan bepaalde konvensies voldoen, maar daar word ook van meer innoverende repertoires gebruik gemaak as gevolg van sy posisie binne hierdie sisteem. Beide hierdie elemente kan in die vertaling waargeneem word. Daar word tot ’n groot mate voldoen aan die konvensionele repertoires wat van spanningsverhale verwag word, naamlik struktuur73 en grootliks die gebruik van Engels, maar

daar word tog innoverende repertoires gebruik. Dit kan gesien word veral deur die klein mate van kodewisseling wat in die roman voorkom waarvoor daar ’n glossarium voorsien is, en ook dat die roman se milieu nie na byvoorbeeld ’n Amerikaanse omgewing met Amerikaanse karakters aangepas is nie. Die rolspelers wat deel vorm van die vertaalproses het ook ’n groot invloed op die uiteindelike vertaalbesluite wat geneem is. Alhoewel die posisie van die roman binne die literêre polisisteem reeds ’n aanduiding kan gee tot waarom bepaalde vertaalbesluite geneem is, word die bespreking van die rolspelers aanvullend gebruik veral ten opsigte van die kritiekpunte wat deur Munday (2001:111) uitgewys word, wat insluit dat PST die geneigdheid het om op die abstrakte model te fokus, eerder as om te fokus op die “regte lewe”-beperkings wat op tekste en vertalers geplaas word.

73 Myns insiens is die struktuur ook innoverend as gevolg van die Amanzi-projek optekeninge wat

144

Die volgende afdeling fokus op die rolspelers in die vertaalproses met klem op die rol van die vertaler, wat myns insiens die grootste rol in hierdie proses vervul. Soos reeds aangetoon is dit ’n beperking van hierdie studie dat die vertaler nie kon deelneem aan die onderhoud as gevolg van tydsbeperkings en moontlik ander verpligtinge nie. Verder sou dit ook tot voordeel van hierdie studie strek om onderhoude te voer met ander rolspelers in die netwerk om ’n beter begrip te kry van elkeen se invloed op die vertaalproses.

5.4. Rolspelers in die vertaalproses

Daar word in hierdie afdeling gepoog om die derde navorsingsvraag te beantwoord: Wat is die rol van die individuele rolspelers wanneer spesifieke vertaalstrategieë vir die vertaling van kultuurspesifieke items soos kodewisseling in die Engelse vertaling van Koors gekies word? In hierdie studie word verskeie rolspelers, naamlik die skrywer, die redakteur en die proefleser tydens die vertaalproses in ag geneem, maar die klem word op die vertaler geplaas. Die leser word ook ingesluit omdat die ontvangs van ʼn roman ook die posisie daarvan binne ʼn spesifieke sisteem, en gevolglik die vertaalbesluite, bepaal. Hierdie netwerk van rolspelers word beskou as hoogs interkultureel en word gemerk deur kulturele hibriditeit, aldus Pym (2014:151). Alhoewel die fokus op die vertaler geplaas is, sluit dit nie die ander rolspelers uit nie, maar ’n beskrywing van die agtergrond en habitus van die vertaler word voorsien om verdere insigte te bied oor moontlike vertaalbesluite wat geneem is. Die vertaler maak staat op haar veld en habitus om ’n spesifieke manier van praat, soos in die geval van Domingo se kodewisseling en Kaaps, te verstaan en ’n heruitbeelding van hierdie karakter in die doelteks te skep. Die agtergrond en habitus van die vertaler, Seegers, toon aan dat sy die bronteks se kulturele aspekte wat in die roman voorkom goed verstaan omdat sy direkte kontak met die brontaal en -kultuur het en op ’n gemaklike wyse as mediator tussen die bron- en doeltaal en bron- en doelkultuur kan optree. Seegers maak ook gebruik van haar netwerk, hetsy dit die outeur, literêre agente, die redakteur, rekenaarondersteuning, e-pos en/of die internet is soos reeds aangetoon deur Barrow (2016:117).

5.5. Samevatting

Om saam te vat, het hierdie studie ten doel gehad om te bepaal hoe kodewisseling van Koors in die doelteks, Fever, vertaal is deur te fokus op die karakter Domingo. Alhoewel verskeie vorme van kodewisseling in die roman voorkom is die ondersoek begrens tot die karakter wat ook as Kaaps uitgebeeld word wat genoodsaak het dat kulturele elemente oor Kaaps en die manier waarop kodewisseling in Kaaps gebruik word, betrek word omdat dit ’n verrykende rol in die uitbeelding van Domingo speel. Die interessantheid van die kodewisseling in Domingo se dialoog lê daarin dat dit gekategoriseer kan word volgens die manier waarop dit in Kaaps

145

voorkom (sien Hendricks, 2016) en dat daar verbande getrek kon word na die navorsing van Myers-Scotton (1988; 1993) wat kodewisseling in realiteitspraak ondersoek. In die onderhoud wat met Meyer gevoer is, sê hy dat die dialoog van karakters baie meer gestruktureerd kan wees as wat dit in realiteit voorkom, maar dat hy die dialoog van Domingo op so ’n wyse geskryf het dat dit ooreenstem met die bevindinge van Myers-Scotton, alhoewel Meyer redeneer dat dit intuïtief gedoen is. Myns insiens is dit hierdie intuïtiewe manier van dialoogskryf wat hom (Meyer) in staat stel om die dialoog so geloofwaardig te skryf en die leser te oortuig van die verhaal wat hy besig is om te vertel. Dit is ook op hierdie wyse waarop Meyer die karakter karakteriseer deur middel van sy dialoog en vir die leser op ’n geloofwaardige manier aanbied.

Ook van belang is die manier waarop Meyer op verskillende wyses die karakter vir die leser nuanseer. Hy maak nie net staat op die dialoog nie en hierdie ander karakteriseringsmetodes vorm sterk deel van die manier waarop die leser die karakter verstaan soos daar gesien kan word in Hoofstuk 4. Alhoewel die leser nie deur middel van Domingo se dialoog kan waarneem dat hy ’n Kaapssprekende is nie, kom Domingo se karaktereienskappe nog sterk na vore, naamlik dat hy as ’n enigmatiese figuur uitgebeeld word, dat hy ’n sterk militaristiese agtergrond het en hoe sy verhouding met Nico en Birdie lyk. Die verlies vir ’n Suid- Afrikaanse/Afrikaanse leser blyk groot te wees wanneer die karakter se dialoog nie as Kaaps in die Engelse teks uitgebeeld word nie, maar ten spyte hiervan behou Domingo sy karaktereienskappe in die doelteks. Met hierdie aspekte inaggenome is bevind dat ’n ekwivalente effek in die doelteks bewerkstellig is. Sodoende word bevind dat die wegvertaling van kodewisseling, in die geval van Fever en Domingo se dialoog, nie die Engelse leser benadeel of die teks verarm nie.

Die meer sentrale posisie wat die roman as ’n vertaalde spanningsroman in die Amerikaanse spanningsverhaalsubsisteem in die Amerikaanse literêre polisisteem inneem stel die moontlikheid daar dat daar van ’n meer innoverende repertoire gebruik gemaak kan word. Met ander woorde, meer (Suid-)Afrikaanse woorde kan in die Engelse teks gebruik word. Meyer se romans word in die meer sentrale posisie geplaas as gevolg van sy bekendheid in Amerika en gelykplasing met ander internasionaal bekende spanningsverhaalskrywers. Seegers is reeds bekend met Meyer se werk en haar agtergrond en die netwerk waarvan sy deel vorm bied haar die geleentheid om bepaalde vertaalbesluite te neem wat duidelik word in die vertaling van Domingo se dialoog om eindelik ’n ekwivalente effek in die doelteks te bewerkstellig. Deur gebruik te maak van hierdie netwerk sal sy ook kan bepaal in watter mate sy van ’n meer innoverende repertoire gebruik kan maak indien Meyer se posisie in die

146

bepaalde polisisteem behoue bly, juis omdat die polisisteem so dinamies is en tekste altyd vir die sentrale posisie kompeteer.