• No results found

Die ontmaskering van diepliggende stemme in sprokies: ʼn samevatting van hoofargumente

HOOFSTUK VYF

5.3 Die ontmaskering van diepliggende stemme in sprokies: ʼn samevatting van hoofargumente

Uit die bespreking in Hoofstuk Twee en die verkennende ondersoek in Hoofstuk Vier is tot die gevolgtrekking gekom dat die outeur se ontwerp rigtinggewend is vir die

143

bewuswording van diepliggende stemme in onder meer sprokies en ook die gelykstelling van sodanige stemme met dié van die outeur, die protagonis en die leser. Die karnaval as Bakhtin se ideale tydruimtelike konteks vir die gelykstelling van ongelyke magsverhoudinge tussen stemme bewerkstellig ʼn ommekeer van normatiewe reëls en grense. Die beslissing is gemaak dat hierdie oogmerk bereik kan word deurdat bestaande grense en denkwyses met behulp van die groteske en maskerade as die sogenaamde karnavalstrategieë uitgedaag word. Hieruit is die afleiding gemaak dat die outeur die rol aanneem van die harlekyn wat die karnavalstrategieë implementeer om bestaande konvensies te ontwrig. Vir Bakhtin is sy ideale [utopiese] polifoniese dialoog die uiteinde wat die karnavalgelykheid tot gevolg kan hê.

Só ʼn dialoog behels eerstens dat die gespreksgenote bewus word van die diepliggende stemme wat telkens “ongehoord” en onbewus agtergelaat word. Na afloop van die bespreking van Bakhtin se siening van tekste, blyk dit dat ʼn teks of ʼn teken nie betekenis kan huisves nie, maar dat betekenis tydens die interaksie van ʼn polifonie van medegeregtigde stemme in die dialoog tydelik tot stand kom. Die invloed van die karnavalgees vul die polifonie van stemme as moontlike teenstrydige perspektiewe van mekaar aan in die unieke tydruimtelike konteks en onderskeie fokalisasiepunte. Die polifonie van stemme, asook die onvermydelike polifonie wat daarin ingebed is, word deur die outeur bemagtig. Sodoende kan die verskillende stemme, saamgesnoer in ʼn dialoog, mekaar vernuwe deur nuwe fokalisasiemoontlikhede vir mekaar voor te stel ten einde elkeen se perspektief as ewewaardig te beskou [kyk Hoofstuk Twee m.b.t. heteroglossia].

Wat die outeur se ontwerp van die teks betref, is die afleiding gemaak dat dit deurlopend rigtinggewend vir die insluiting of uitsluiting van die veronderstelde leser se stem in so ʼn dialogiese interaksie blyk te wees. Die leser, wat volgens Bakhtin as die buitestander tot die teks bestempel word, sal ʼn doelbewuste boodskap in ʼn outoritêre ontwerp van ʼn teks kan vind. Bakhtin se afkeer van sodanige outoritêre vertellings is gegrond in sy siening dat medegeregtigde gespreksgenote mekaar iets kan laat sien wat die ander party nie self kan opmerk nie. Aanvullend tot hierdie idee argumenteer Bakhtin dat ʼn buite-perspektief en stem slegs in ʼn dialoog waarin die gespreksgenote gelyke beregtiging het, werklik oorweeg kan word en as ʼn aanvullende perspektief aanvaar kan word.

144

Die slotsom waartoe hierdie Bakhtiniaanse idees kom, is dat die outeur se polifoniese ontwerp van ʼn teks die leser, wat steeds die rol van buitestander vervul, ook as ʼn deelnemer aan die dialoog moet betrek. Sodoende kan die leser ʼn diepliggende polifonie van stemme ontdek, wat as gevolg van die outeur se ontwerp, opnuut belig en na die voorgrond in die polifoniese teks gebring word. As ʼn deelnemende karakter kan die leser voorts haar/sy eie betekenis binne die [sprokies] chronotoop ontdek en sodoende tot die dialoog as ʼn ewewaardige skakel in die aaneenloop en vernuwing van gebeure in die [sprokies-] narratief bydra.

Terwyl die karnaval vir Bakhtin ʼn toonbeeld van ʼn utopiese, dialogiese organisering en gelykstelling van ʼn polifonie van stemme is, het Hoofstuk Drie voorts aangetoon dat Marriott se ontwerp van relaas... op die narratiewe sprokiesgenre geskoei is. In die bespreking van Marriott se gekose sprokiesgenre is deurlopende blitsverwysings na dié genre se versluiering van die polifonie van stemme gemaak. Uit die studie blyk dat die konvensionele aspekte van sprokies bydra tot die wanopvatting dat sprokies onskuldige narratiewe is. Dit kom verder daarop neer dat die konvensionele eienskappe van sprokies as’t ware maskers is wat sprokies agter die sluier van verbeelding aanbied. Soortgelyk aan die wyse waarop sprokies in ʼn verbeeldingswêreld afspeel, word relaas... vergelyk met die wyse waarop kinders verbeeldingswêrelde vir spel skep as ʼn tydruimtelike konteks waarin idees getoets en uitgedaag kan word. Hierdie ooreenkoms word aangevuur deur Marriott se konkretisering van speelgoed soos babapoppe en ʼn teddiebeer in relaas.... Die oorbrugging na ʼn “tweede wêreld” met behulp van kinderspeelgoed soos babapoppe is as ʼn middel tot die aktivering van die leser en ook as die reisgenote vir die leser ontmasker. ʼn Parallel met só ʼn verbeeldingswêreld is eerstens met die Bakhtiniaanse karnaval getrek en tweedens met die sprokieschronotoop waarin normatiewe reëls en beperkings tydelik opgehef word.

Die studie het voorts die soeklig geplaas op Marriott se taksidermies-estetiese verwerkliking en konkretisering van haar karakters in relaas.... Die gevolgrekking wat hieruit vloei is dat Marriott se keuse van diervelle en ander oorblyfsels van diere as verknoeide antropomorfiese taksidermie getipeer kan word. Dit is tekenend van die aksente wat sy in haar superstruktuur ontwerp en “bo-oor” readymades plaas. Hieruit word afgelei dat sy, deurdat sy bestaande konvensies soos die liggaamlike grense

145

van die taksidermie-dier omverwerp, daarin slaag om die Bakhtiniaanse idee van die groteske-liggaam te betrek. 'n Opvolgende afleiding is dat die groteske verknoeiing van die taksidermiemateriale, sowel as die sogenaamde reïnkarnasie wat dié proses tot gevolg het, ook op die transformasie tussen mens en dier dui, soos dit in sprokies voorkom. Hierdie verskynsel is as ʼn tipe dierwording (vgl. Baker, 2002:136) beskryf. Die gevolgtrekking is gemaak dat Marriott se intuïtiewe skeppingsproses, wat die verwerkliking en karnavalisering van karakters tot gevolg het, as dierwording beskryf kan word, maar ook dat die leser dierwording tydens die leesproses en in die beweeg van een installasiewerk na ʼn volgende kan “waarneem”.

Die hoofstuk het voorts, in die bespreking van die leser se rol in die lees van ʼn visuele sprokie, aangetoon dat die aktiewe leser ʼn unieke fabula skep waarin idees, soos tydens kinderspel, uitgetoets kan word.

Uit hierdie bespreking is in Hoofstuk Vier tot die gevolgtrekking gekom dat die leser veral op dié ses wyses as ʼn deelnemer geaktiveer kan word, naamlik

(1) deur die speelgoed (vgl. Ringe ringe rosie [Figuur 2], Pappa [Figuur 3],

Basterma [Figuur 7], Ontbloot [Figuur 19], Dooprok I [Figuur 15] en Dooprok II

[Figuur 5]) en sprokieskarakters wat as snellers en reisgenote die leser na ʼn “tweede” verbeelde wêreld lei;

(2) deur die leser se nostalgiese herinnering aan ʼn eie verbeeldingswêreld wat tydens spel geskep is en/of die sprokieschronotoop waarmee sy/hy as kind vertroud geraak het;

(3) deur die driedimensionaliteit van die installasies, wat inhou dat die leser die werke vanuit meer as een perspektief/fokalisasiemoontlikheid kan “waarneem” (vgl. Ringe ringe rosie [Figuur 2], Dooprok I [Figuur 5] en

Dooprok II [Figuur 15]);

(4) deur die leser se besluit om nader aan en om die installasiewerke te beweeg, sodat verskillende en opeenvolgende vlakke in die werke ontdek kan word, wat op aktiewe narratiewe lees dui;

146

(5) deurdat die leser onwillekeurige emosionele reaksies soos walging, vrees, skok en/of ʼn lagreaksie ten opsigte van die groteske beelde ervaar (vgl.

Tweegatjakkals [Figuur 18] en Gebroedsel [Figuur 4]; en

(6) deurdat die driedimensionaliteit en gevoel van “lewendigheid” of “teenwoordigheid” van die taksidermie-tableau wat op die leser se ruimte indring en aan haar/hom vra om na te dink oor wat voor en ná hierdie vasgevriesde oomblik kan gebeur.

Die gevolgtrekking, wat gebaseer is op die bogenoemde verskillende wyses waarop die leser tot deelname aan die narratief geaktiveer kan word, is dat die leser ʼn verbeelde fabula skep waarop sy/hy voortdurend tydens die lees van die werke kan voortbou. Hierdie tydruimtelike konteks van die fabula is die leser se spreekwoordelike “antwoord” op die outeur se ontwerp en terselfdertyd die konteks waarin die leser verskillende interpretasiemoontlikhede kan uittoets. Uit die bespreking van die leser as buitestander wat ʼn unieke bydra en perspektief kan lewer, is die afleiding gemaak dat elke leser se fabula uniek sal wees, aangesien elke leser se perspektief aan ʼn spesifieke en unieke tyd en ruimte verbind word. As gevolg van die leser se “horison van verwagtinge”, sal die leser oop ruimtes met behulp van unieke buite-tekstuele en intertekstuele verbande wat sy/hy raaksien, kan aanvul. Die invul van oop ruimtes en die skep van ʼn fabula behels egter dat die leser met behulp van haar/sy verbeelding aan die fabula sal deelneem. Hierteenoor is die liggaamlike reaksies wat die leser toon aanduidend van die leser se stem en/of antwoord op die outeur se ontwerp. Hierdie liggaamlike reaksies kan byvoorbeeld na gelang van groteske beelde ontlok word.

Die omkering van normatiewe reëls en grense kan in Marriott se materiaalgebruik waargeneem word as ʼn konstellasie van skynbaar onversoenbare estetiese elemente (vgl. Ongenooides [Figuur 21], Gebroedsel [Figuur 4] en Basterma [Figuur 7]; Hoofstukke Twee en Vier). Die onskuld wat volgens konvensie aan sprokies en kinderspeelgoed soos babapoppe (vgl. Ringe ringe rosie [Figuur 2] en Ontbloot [Figuur 19]), verbind word, is deurweef en opgebou uit die teenstrydige taksidermiese diervelle wat die konsep van dood en geweld daarmee saamdra. Die afleiding hieruit is dat hierdie dialektiese spanning tussen onskuld aan die een kant en dood en geweld aan die ander kant tot die vormgewing van die groteske

147

ambivalensie aanleiding gee. Die omverwerping van konvensionele taksidermie deur die verknoeiing daarvan, is in wese ʼn vormgewing en ver-beelde uitdrukking van Bakhtin se konsep van die groteske-liggaam wat uit sigself groei. Dit beteken dat, aangesien die liggaamlike grense ontwrig en in die estetiese konkretisering van Marriott se verknoeiing en "reinkarnasie" van diere en speelgoed oorbrug word, sy karakters bewerkstellig wat vir die leser raaiselagtig kan voorkom. Die verknoeide taksidermiese installasies as raaiselbeelde kan daarom vrae aan die leser stel en ook die leser met verbeeldingsbeelde konfronteer. Die leser word sodoende daarvan weerhou om op reeds bestaande konsepte en/of verduidelikings staat te maak, met die verdere implikasie dat die leser genoop word om op nuwe maniere te dink. Bogenoemde kom daarop neer dat Marriott van karnavalstrategieë soos die groteske (vgl. Tweegatjakkals [Figuur 18] en Gebroedsel [Figuur 4]; Hoofstuk Vier) gebruik maak om bestaande perspektiewe oor sprokies in die verbeelding van die leser te ontwrig.

Deurdat die verknoeide, antropomorfiese taksidermie-karakters in relaas... as raaiselagtige verbeeldingskarakters getipeer kan word [kyk Hoofstukke Drie en Vier] en in ʼn galery as installasiewerke uitgestal word, oorskry Marriott konvensionele beskouinge oor enersyds taksidermie en andersyds oor kuns en kunsskeppingsprosesse. Die verbreking van “grense” in terme van kuns, speel in op die aaneenlopende dialoog en poging tot ontwrigting van die onderskeid tussen hoë en lae kuns – as ʼn doelbewuste mikpunt van die konseptuele- en installasiekunsgenres. Soos die sprokieschronotoop, behels Marriott se antropomorfiese ontwerp dierekarakters wat interaktief in verhouding tot mekaar geplaas is (vgl. Voor my ma se agterdeur [Figuur 6]) en klere aanhet (vgl.

Ongenooides [Figuur 21]). Ander buitengewone monsterskepsels is ook in die relaas...-chronotoop moontlik, soos die oordrewe groot spinnekop van Ringe ringe rosie [Figuur 2] en die nuwe monsterskepsels in Tweegatjakkals [Figuur 18], Gebroedsel [Figuur 4] en Basalisk [Figuur 11]. Derhalwe spreek relaas..., soos die

sprokieschronotoop, tot die verbeelding van die leser wat die normatiewe reëls en grense waarop die werklikheid geskoei is, laat vaar om sodoende die “tweede” verbeelde wêreld van relaas... binne te kan gaan.

Die slotsom waartoe ek gekom het, is dat Marriott se skep van verknoeide taksidermiese sprokieskarakters haar estetiese vormgewing van sprokies

148

versinnebeeld. In die gees van Bakhtin is haar installasies tekenend daarvan dat sy deur haar dialogiese interaksie met readymades [o.a. taksidermie en sprokies] “iets nuuts” tot stand bring. Hierdie estetiese vormgewing is terselfdertyd ʼn konkretisering van sprokies, met die gevolg dat Marriott as‘t ware die narratiewe interaksie as ʼn antropomorfiese taksidermie-tableau vasvries.

Aangesien Marriott se verknoeiing en ombouing van readymades as haar aksente gelees word, is haar taksidermiese sprokieskarakters inhoudelik ʼn polifonie van stemme, sodat dit die beginpunt vir die dialoog tussen die outeur, leser en die karakters word. Die installasie self hou nie betekenis in nie, aangesien betekenis tydelik tot stand kom tydens ʼn dialogiese interaksie wat slegs in die fabula – die geheuespoor in die verbeelding van die leser – voortleef. Spore van hierdie interaksie, asook die geskiedenis van die resepsie van betrokke readymades, bly wel op die teks agter sodat dit, as die polifonie van stemme, ook deel van die dialoog tussen die outeur, die sprokieskarakter en die leser vorm.