• No results found

3. VOLWASSENES SE OPVATTINGE OOR KINDERBOEKE

3.3 Die kindbeeld in Afrikaanse en Nederlandse prenteboeke

Een van die mees vasstaande aspekte rondom kinderliteratuur is die feit dat volwassenes die grootste beheer daaroor uitoefen. Die kindbeeld wat in tekste of illustrasies opgeroep word, sê gevolglik dikwels meer van die land of kultuur waarin ’n verhaal afspeel as van die kinders daarin. Volgens die Belgiese letterkundiges Vanessa Joosen en Katrien Vloeberghs (2008:25) ontbreek die kind se stem dikwels in die hele jeugliteratuurproses – van produksie tot ontvangs. Die vertoog of diskoers oor “die kind”, insluitende die manier waarop daar oor “die kind” gepraat word en hoe “die kind” voorgestel word in literêre tekste, word uitsluitlik ontwerp, gekeur,

gekritiseer en in stand gehou deur volwassenes: “(...) een kind wordt grootgebracht volgens het idee dat zijn ouders en opvoeders hebben van wat een kind is en moet worden. Dat kindbeeld verschilt echter van cultuur tot cultuur en van tijdperk tot tijdperk” (Joosen en Vloeberghs 2008:29).

10 Oittinen (2005:50) se uitspraak oor die aanpassing van Donald Duck-strippe met die oog op die

Arabiese kultuur sluit hierby aan: “...there are strips where beautiful young women are sun-bathing while Donald is jumping into a swimming-pool. In many of the Arabic versions, young ladies’ legs and arms are covered with black ink. In the same vein, pig police officers (pigs are considered unclean animals in the Arabic religion) have lost their nostrils to look less like pigs”.

In Suid-Afrika sluit kinderboekskrywers se menings oor hoe om vir kinders te skryf en te illustreer aanvanklik redelik nou by mekaar aan: Elsabe Steenberg (1988:76) vind byvoorbeeld in die tagtigerjare dat die “luisteraartjie” homself in ’n suksesvolle verhaal met die hoofkarakter moet kan identifiseer en Freda Linde (1988:210) is van mening dat ’n skrywer wat ’n kind se “geestes- en sintuiglike ingesteldheid en

reaksie, sy manier van kyk na dinge” kan weergee, ’n verhaal oor enigiets kan skryf, selfs oor ’n ou man wat meeue voer. Die hoofkarakter hoef hiervolgens dus nie dieselfde ouderdom as die leser te wees nie. Die vraag kan egter gestel word of ’n volwasse skrywer werklik daartoe in staat is om uit ’n kind se oogpunt te sien. Linde (1988:210) vind dit wel moontlik:

In die skeppingsproses ontplooi die kinderwêreld spontaan by die goeie kinderboekskrywer – fris en werklik – wat kan beteken dat dit vlakker in sy onderbewuste lê as by ander volwassenes, by wie dit (verstaanbaar genoeg) maklik verdring raak.

Ten einde die kinderwêreld te kan verstaan en weergee, sal ’n suksesvolle kinderboekskrywer of -illustreerder dus volgens Linde in voeling wees met sy “innerlike kind”. Die illustreerder en skrywer Marjorie van Heerden (1988:236) wys daarop dat dit wel van ’n prenteboek ’n komplekse kunswerk maak, “created by an older mind for consumption by a much younger one”. Daarom is dit belangrik om te probeer sien met kinderoë en te probeer ervaar deur die kinderverbeelding, eerder as om ’n volwasse perspektief te wil gee. Alba Bouwer (1988:220) meen dat die kinderboekskrywer spesifiek oor die vermoë moet beskik om homself “in die hele leef- en dinkwêreld van die kind” te plaas en nie uit die oog moet verloor nie “dat daar vir kinders nog groot hoeveelhede ervaringe en dinge is wat onbekend, nuut en opwindend is”. Ook Bouwer (1988:220) beklemtoon dus die belang van ’n vars, nuwe, kinderlike perspektief, asook dat die skrywer “moet kan sien hoe verdigsel en werklikheid vir ’n kind maklik inmekaarvloei”.

Daarteenoor weerspreek die Suid-Afrikaanse illustreerder Piet Grobler (2004:152) die konsep dat kinderboekillustreerders en outeurs uit ’nkinderlike oogpunt kán werk.

Die opvatting dat outeurs of illustreerders van prenteboeke hulleself inleef in die wêreld van hul reseptor of self sogenaamd weer kind word, is na my mening nie noodwendig haalbaar nie en spreek van ’n geromantiseerde beeld van die werk van outeurs en illustreerders.

Grobler vind dit dus onwaarskynlik dat ’n volwassene soos ’n kind sou kon dink en meen dat hierdie konsep onhaalbare verwagtinge ten opsigte van prenteboekskrywers en -illustreerders skep. Van al die aangehaalde

Suid-Afrikaanse kinderboek-illustreerders en -skrywers is Grobler (2004:153) ook al een wat beklemtoon dat kinders as individue gesien moet word. Hulle is volgens hom “geen homogene groep waarvan almal dieselfde is of dieselfde tekste verkies of lees nie”. Grobler se opvattinge sluit eerder aan by kontemporêre Nederlandse uitgangspunte, soos blyk uit die volgende uitspraak van Vloeberghs (2006:13): “De oversteek van de grens naar volwassenheid is evenwel reëel onherroepelijk. Een terugkeer naar de kindertijd is slechts als metafoor, of in bemiddelde vorm (bijvoorbeeld via dagboekfragmenten of foto’s) mogelijk”. Omgekeerd kan ’n kind hom volgens Vloeberghs (2006:13) ewe min indink hoe dit is om volwasse te wees:

Zich als kind voorstellen hoe een volwassene denkt, voelt en ervaart, blijft evenzeer een subjectieve projectie met een heel aantal onbekende en onkenbare factoren. Zo behouden zowel het kind als de volwassene het alleenrecht op een bepaalde zijnsmodus: Open potentieel versus ervarenheid, ontwikkeling versus herinnering.

Teenoor grootmense wat hul kinderlike denkprosesse moeilik kan agterhaal, plaas sy dus kinders wat lewenservaring kort, maar dit staan wel vas dat beide kinderboekskrywers en -illustreerders ’n belangstelling in die onherroepbare kinderwêreld het. Daarom vind ander mense kinderboekskrywers volgens die Belgiese letterkundige Rita Ghesquiere (2000:37) soms vreemd:

Hij zal wel extra aandacht krijgen van de psychologen omdat hij zich vaak bezighoudt met dingen die voor de meeste volwassenen reeds lang tot het verleden behoren en om zijn uitgesproken interessen voor een levensfase die toch definitief afgesloten is.

Die hele konsep dat ’n volwassene uit die oogpunt van ’n kind moet kyk, skep volgens Nederlandse skrywer en letterkundige Toos Zuurveen (1996:782) die idee dat alle kinders die wêreld op dieselfde manier ervaar en soortgelyke

belangstellings deel, maar: “‘Het’ kind bestaat natuurlijk niet, alleen als biologisch gegeven. ‘Het’ kind is precies zo complex als ‘de’ mens”. Aangesien kinders dus net soos volwassenes komplekse en unieke individue is, is die enigste “kinderwêreld”

waarin ’n skrywer / illustreerder hom of haarself kan inleef, die een wat gekonstrueer is uit die herinneringe aan hul eie kinderdae. Wieke Goeman Van Randen (1987:51) skryf die groot verskeidenheid kinderboeke wat in Nederland gepubliseer word, inderdaad onder meer toe aan kinders se uiteenlopende aard en belangstellings:

Naar vormgeving en inhoud is er een grote variatie, die persoonlijke keuzes mogelijk maakt, aansluitend bij de individuele geaardheid van het kind of zijn individuele levensomstandigheden en ervaringen. Niet alle prentenboeken immers zullen voor hetzelfde kind dezelfde gevoelsmatige identificatiewaarden hebben.

Die feit dat Van Randen en die ander navorsers verwys na aspekte soos gevoels- of identifikasiemoontlikhede toon dat hulle erkenning gee aan die self-identiteit van kinders as individue wat van ander verskil, en ’n gelykwaardige plek daaraan gee naas sosiale identiteit wat in die verlede as uitgangspunt gedien het.

Dieselfde skrywers wat in die tagtigerjare aanvaar het dat volwasse skrywers of illustreerders wel ’n kind se perspektief kan weergee, wys terselfdertyd op probleme wat sommige kinderboekskrywers ondervind om die ouderdomsgaping te oorbrug en dui in die proses aan hoe moeilik dit is om die afstand tussen volwasse skrywer en kinderleser te verklein. Bouwer (1988:220) vind byvoorbeeld dat skrywers dikwels probeer om op dieselfde ooghoogte as “die kind” te kom, maar in die proses neerbuigend word: “Dis dan dat hy verval in die skryf van verkleinwoorde en allerlei soetlikheidjies wat verkeerdelik gesien word as die idioom van ‘die kind’”. Ook volgens Steenberg (1988:76) moet skrywers nie neersien op kinders en hulle afmaak as oulike, liewe goedjies nie, maar wat hier opval, is dat Steenberg self voortdurend in haar teks verkleinwoorde gebruik wanneer sy na die kinderleser verwys, soos byvoorbeeld “luisteraartjie” en “verhaaltjie”, sonder om te besef dat dit ook ’n manier is om “die kind” af te maak as iets kleins en “ouliks”.

Suid-Afrikaanse en Nederlandse kinderboekskrywers en -illustreerders stem wel saam dat daar nie op kinders neergesien moet word nie. Van Heerden (1988:237) waarsku byvoorbeeld dat ’n mens nooit die intellektuele mag van ’n kind moet onderskat nie: “…after all, they are equipped to learn, in about half a dozen years, quantitatively as much as we adults may learn in ten times that long, if we’re lucky”. Die Nederlandse skrywer Guus Kuijer (1980:130) impliseer iets soortgelyks as hy

verwys na Astrid Lindgren se woorde dat kinderboekskrywers nie oor die hoofde van kinders vir ander volwassenes moet knipoog nie: “...ze heeft gelijk, je moet niet naar ze knipogen, je moet ze gewoon recht aankijken”.

Samevattend kan daarop gewys word dat die meerderheid Suid-Afrikaanse

kinderboekskrywers en illustreerders nog in die tagtigerjare gedink het dat volwasse skrywers wel uit ’n kind se perspektief kan skryf, maar meer onlangse uitsprake deur ’n kontemporêre Suid-Afrikaanse illustreerder soos Piet Grobler stem ooreen met opvattinge hieroor in Nederland. Dit kan, soos genoem, dui op ’n ontwikkeling in die rigting van groter erkenning aan self-identiteit náás, of dalk selfs bo, ’n fokus op sosiale identiteit wat voorheen oorheers het. Dit is wel ironies dat sommige van die ouer Suid-Afrikaanse skrywers en illustreerders teoreties daarvan uitgaan dat nie op kinderlesers neergesien behoort te word deur hulle as ’n homogene groep te

behandel nie, maar ander uitsprake dui aan dat hulle dit nog nie in die praktyk kon vermy nie. Dit dui op afstand tussen die skrywers en hul teikengroepe en bevestig nogmaals hoe moeilik dit vir volwasse skrywers is om vir kinders te skryf. Dit roep vrae op oor die verskille tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse kinderboekskrywers en -illustreerders se menings rondom aspekte soos geskikte onderwerpe vir kinders, asook oor kinders se verwagtinge en voorkeure. Dit word dus vervolgens bespreek.