• No results found

3.3 Die Pastorale sorg: Benaderings en Reisigers (Ontwikkeling)

3.3.3 Die Fenomenologiese benadering

In skerp teenstelling met die voorafgaande twee benaderings is die fenomenologiese benadering, ook die kliëntgesentreerde benadering genoem, op die mens se innerlike potensiaal ingestel (Van Arkel 1999:8). Louw (1999:163) verduidelik die bedoeling van die fenomenologiese benadering as volg: om in die lig van ‘n empiriese analise en met behulp van veral Rogers se non-direktiewe kliëntgesentreerde terapie, ‘n herintegrasie van die mens se innerlike potensiaal tot selfaktualisering te bereik. Die pastor se taak word een van ondersteuning om die “kliënt” te help om hierdie kragbron van buite te benut om weer genees te word. Genesing of heling beteken om al hoe meer op eie vermoëns staat te maak om staande te bly. Soos in die empiriese wetenskappe maak hierdie benadering van die goeie eienskappe in die mens gebruik.

Clinebell (1984:25) formuleer sy holistiese groeibenadering as volg: ”Pastoral care and counselling involve utilization by persons in ministry of one-to-one or small group relationships to enable healing empowerment and growth to take place within individuals and their relationship.” Die klem verskuif meer na ‘n individu binne ‘n sosiale netwerk waar ander individue en die verhouding binne die gemeenskap deel van die pastorale proses word. Vroeër het teoloë met ‘n kliëntgesentreerde benadering, wat grotendeels op die innerlike potensiaal van die individu gekonsentreer het, gewerk. Die nuwere tendens verskuif die klem na ‘n groeibenadering wat op die mens binne die geheel van ‘n netwerk verhoudinge gerig is. Die Pastorale Teologie maak ook minder van ‘n psigologiese en meer van ‘n hermeneutiese paradigma gebruik (Louw 1999:164).

Die verskillende benaderings bring nuwe perspektiewe vir die Pastorale Teologie mee. Die kritiese bespreking van die verskillende benaderings word beperk tot enkele aspekte daarvan en die opmerkings kan as ‘n oorvereenvoudiging van die benaderings beskou word. Kritiek kan maklik die verskillende benaderings se uitgangspunte te simplisties stel en nie aan die totale beskouing reg laat geskied nie. Die paradigmaskuif na pastorale sorg as reisbenadering het groter begrip vir reisgenote se verhale gebring en die narratiewe gespreksbenadering belig die noodsaaklikheid van mense en hul narratief.

Die pastorale sorg verskil van sosiale op-reis gespreksbenaderings in dié sin dat dit in die teologie gefundeer is. ’n Deel van die mikro-ontwikkeling is die rol wat die pastorale sorg aan die hand van die Bybelse narratief vervul om persone te ontmoet. Hoe ontmoet die verskillende persone in die aksieverhaal mekaar (Müller, Van Deventer, Human 2001:93)? Die ontmoeting word ‘n belangrike sosiale terrein vir die pastorale sorg. Aan die hand van die Bybel as kenbron, poog die reisiger om ‘n ontmoeting te bewerkstellig tussen God se heilshandelinge en die mens wat gemarginaliseerd is. In hierdie betrokke studie is die navorser op reis met persone wat met MIV en/of VIGS geïnfekteer is of daardeur geaffekteer word. “Pastoral theology, as the science of understanding

God’s caring and helping intervention through his Spirit (scientia), presupposes sapientia; the experience of loving and enjoying God” (Louw 2005:13).

Die pastorale sorg het soos enige ander sorg grade van intensiteit en die vlak van sorg gaan dikwels met die vlak van opleiding gepaard. Hoewel net ‘n reisgenoot, is die pastor met sekere teoretiese kennis bemagtig om mense te kan versorg. Die reisgenoot is aan die ander kant die kenner van ‘n eie lewe. Kommunikasie tussen pastor en reisgenoot is wisselwerkend/dialogies. Behoeftes kan wissel van ekstensiewe versorging vir ‘n minder ernstige wond tot intensiewe sorg in ‘n spesialis-eenheid vir terminale beserings en/of siekte, as die mediese metafoor gebruik kan word. Die aard en persoonlike hantering en die geslaagdheid al dan nie, asook die persoonlike belewing van en deur die reisgenoot bepaal die aard en inset van die pastor wat op weg is. Vir ‘n baie lang periode is na pastorale terapie as ‘n intensiewe vorm van sorg verwys. Hierdie soort taalgebruik skep die indruk van ‘n objek wat behandel word. Die postmoderne verstaan van die mens (postmoderne antropologie) verkies ‘n taal wat nie inkriminerend met persone omgaan nie. Woorde soos kliënt, berading en terapeut word vermy (Van den Berg 1999:20). Pastorale sorg bind met God.

Op reis (in terapie) word gesoek na ‘n ontmoeting tussen God en mens sodat die heilshandelinge pneumatologies kan gebeur. Die verhouding tussen die Christologie en die pneumatologie staan in ons denke oor die realisering en verwesenliking van God se heil aan die mense in hul leefwêreld voorop (Pieterse 1993:135).

God literally loves us and cares about our suffering. Instead of the ability to coerce and to impose unilaterally from the outside, God is defined by his relation of love. He does not look on our suffering from the outside, but from within, from the brow and hands of Jesus hanging on the cross (Louw 2005:17).

Die taak en die veld van die Praktiese Teologie is die Heilige Gees se werk in die wêreld (pneumatologie), die kommunikasie van die evangelie en die visie vir kerkwees (ekklesiologie) (Burger 1988:83). Verskillende benaderings om pastorale sorg te fundeer en te bedryf, het deur die eeue beslag gekry en is stem dikwels ooreen met die betrokke antropologie. “Omdat die pastorale bediening wesenlik om die versorging van mense gaan, word enige beleid en strategie finaal bepaal deur die grondliggende beskouing oor die mens” (Louw 1999:152). Hoe het ek die versorging in die konteks van MIV en/of VIGS beleef?

Ek besef dat die verskeidenheid en die omvangrykheid en gedifferensieerdheid van die versorging vir Ellie* sekerlik nie heeltemal sin maak nie. Die gevoel van magteloosheid waarmee ek daar weg is, het my hele roeping as pastor in ‘n nuwe lig geplaas. My onvermoë om binne ‘n uur rustigheid en vrede te bring deur die komplekse verhoudings- en familie-omstandighede te help herskryf, het die kompleksiteit van MIV en/of VIGS en die gepaardgaande sosiale konstrukte onderstreep.

Anders as Müller en sy navorsingspan wat weerstand by geïnfekteerdes en geaffekteerdes ervaar het, het ek ‘n gretigheid en ‘n ontvanklikheid ervaar. Die kliniese impak van navorsing kan ervaar word waar die navorser vir ‘n kort tydjie betrokke raak en dan weer weggaan. Die persone wat by die ARV-Kliniek versorg word, het myns insiens beleef dat die versorgers werklik omgee en hulle het my betrokkenheid en navorsing as deel van die kliniek se dienste beleef.

People living with HIV/AIDS are already questioning any new research. When one of our team members, Friso Smits (from the Netherlands), try to interview people living with HIV/AIDS in Mamelodi near Pretoria, he was confronted with resistance. People feel they are subjected to research again and again and are being made into objects, while they themselves never seem to benefit (Müller 2003:8).

Pastorale sorg en saamreis het ‘n dieptedimensie aan my kom uitwys en ek is opgewonde om verder met die betrokkenes te saam te reis. Die verantwoordelikheid wat op die pastor se skouers rus om eties sensitief te wees en om die hoop te versterk, het ‘n duideliker vorm by my begin aanneem. Tog weet die pastor ook dat die geïnfekteerde en die geaffekteerde die kenners van hul eie lewe is. Hierdie persone het ook hulle vissies en broodjies wat gaan help dat die hoop nie verskraal nie en dat die dominante verhaal herskryf kan word.

Die leemte in die versorging deur verskillende persone op die verkillende vlakke is tot op die been oopgekloof. Die eise wat aan versorgers gestel word, is van so aard dat die versorgers sekerlik ook dringend beter versorging benodig, anders kan die versorging ontaard in ‘n kliniese werk sonder gevoel, waarin die wat versorg word, tot objekte gemarginaliseer word.

Presies hoe hierdie geloofspraktyke uitgebrei moet word om die aktiwiteite vir pastorale sorg in te sluit, is nie altyd eenvoudig om te beskryf nie. Hier word bedoel dat praktiese geestelike geloofselemente soos geestelike gemeenskapsbou, eredienste, leidende dissipelskap, die uitreik met die evangelie na persone buite die kerk en Christendom deel word van die versorging. Dit moet op so wyse geskied dat die waarheid van Jesus Christus se liefde gevestig raak en moet op die herstel van kerkwees in die praktyk berus. Die gevoel is dat met die herstel van kerkwees in teologiese besinning gepoog moet word om die ambivalensie van moderniteit en die dilemmas van postmoderniteit te omarm.

Die godsbegrip en die kerklike geloofsbelydenisse se selfopgestelde geloofswaarhede word krities ondersoek en die perspektiewe word as volg uitgedruk:

I am intrigued by this recurrent theme in postmodern philosophical theology, that in the absence of metaphysical truth-claims independent

of language, culture and context the only ultimate reality to which anyone of faith can attest is that made incarnate in, and proclaimed by, the life of intentional communities of Christian practice

(Graham 2006:848).

Die bespreking en navorsing van pastorale sorg, bring omgekeerd beskou, perspektief op ‘n beter verstaan van die mens. In die volgende paragrawe word die ontwikkeling van pastorale sorg-benaderings toegelig. Christus se liefde word met mense gedeel. Hoe hierdie liefde gedeel word, het ‘n proses van ontwikkeling tot gevolg gehad. Die historiese ontwikkelling ten opsigte van die antropologie en die wyse waarop pastorale versorging geskied, het kommunikatiewe interaksie beoefen. Die liefde wat God vir die mens het, word ondermeer deur versorging van gemarginaliseerdes oorgedra.