• No results found

Volgens Basu (2005:178) moet die Blye Boodskap of die evangelieboodskap altyd die gevolg hê van ʼn ware sonde-erkentenis, belydenis van sondes en om dan die rug te draai op sondes. Ware sondebesef is ʼn noodsaaklike deel van redding en vorm ʼn houding van ware nederigheid teenoor God (sien punt 2.11.1). Aan die hand van hierdie kort maar kragtige stelling, word daarna gekyk of sommige moderne predikers hieraan voldoen. Bechtle (2006:17,122) beweer dat evangelisasie nie ʼn “skuldgevoel”- gebaseerde metode is nie, maar eerder ʼn wyse om vriende aan mekaar voor te stel; met ander woorde, evangelisasie beteken om mense te lei na Jesus of om hulle aan Jesus voor te stel. Bechtle (2006:150) noem verder dat evangelisasie is om mense se oë op Jesus te kry, en dit stel die evangelis in staat om as fasiliteerder die mense in die regte rigting te laat kyk. Dan kan die evangelis uit die pad stap, om sodoende God toe te laat om sy werk te doen.

Hession (1990:19-22,57) verklaar dat die “Goeie Nuus” is dat die mense se sonde vergewe is! Die manier om die “Goeie Nuus” te kan ontvang en te deel daarin, is vir so ʼn persoon om eerstens te erken dat hy sleg is. Wanneer so ʼn persoon se hart aangeraak word deur hierdie “Goeie Nuus”, sal so ʼn persoon nie anders as om te wil erken dat hy sleg is nie. Dit is geïmpliseerde voorwaardes wat die krag aan die boodskap van genade gee, en op sy beurt sal dit daartoe lei dat die mens sonde in homself sal oordeel. Baie dikwels is ʼn stilswyende voorwaarde meer afdwingbaar as ʼn duidelik-gestelde een. Dit word aan die sondaar oorgelaat om self te dink wat reg en verkeerd is in die lig van die seën wat aan so ʼn persoon geskenk word. Op grond

163

hiervan sal so ʼn persoon dan baie gewillig wees om Jesus te aanvaar as die Saligmaker.

Hybels en Mittelberg (1994:152) en Kimball (2008:110) verduidelik dat die sentrale middelpunt van die Blye Boodskap is dat Christus in die mens se plek gesterf het as sy plaasvervanger. Hy het die skuld van die doodsvonnis namens die mens gedra. Daardeur bewys Hy die liefde van God, verteenwoordig Hy die heiligheid van God en bevredig Hy die oordeel van God.

Volgens Prince (2010:29, 32) bestaan daar net een “Blye Boodskap”: die boodskap van Jesus, wat nie net aan die kruis gesterf het vir die mens se sonde nie, maar ook vir die mens se siektes en armoede. Dit is die duiwel wat die mens siek en arm wil hê. Jesus het aan die kruis die vloek van armoede en siektes gedra. God haat siektes en armoede, daarom moet die mens reageer op Jesus se voltooide werk, dan sal hulle sondes vergewe word, hulle siektes genees word en armoede sal geskiedenis wees!

In teenstelling met Prince verduidelik Goligher (2006:82) dat hierdie voorspoed-teologie nie die karakter dra van Jesus se bediening op aarde nie. Jesus het lyding beklemtoon as die pad na glorie, en dood as die pad na lewe. Jesus kwalifiseer nie as ʼn held in die wêreld van die voorspoed-teologie wat sê dat die mens sterk moet wees, en nié swak nie, dat die mens moet wen, en nié verloor nie en dat die mens ryk moet wees, en nié arm nie.

Mostert (1999:53) maak die stelling dat die moderne evangelie ontbreek aan ʼn belangrike punt. Hy voer aan dat mense ʼn dieper honger na die dinge van God het. Nuwe realiteite word in Christenskap gesoek, en die evangelie vandag verkondig nie die realiteit van die lewe nie. Die evangelie vandag het net een kant: dat God liefde is (en Hy is liefde), dat God genadig is (en Hy is genadig), dat God sonde vergewe (en Hy vergewe sonde), maar die eise van die lewe word nie tydens die evangelie aan die mense uitgespel nie. Christenskap beteken nie dat alles net goed sal gaan nie, maar dat die gelowige ook deur vuur en water sal gaan.

164

Volgens Packer (2010:217) vertel die evangelie vir die mens dat die Skepper die sondaar se Verlosser geword het. Dit kondig aan dat die Seun van God mens geword het vir die redding van mense en aan die kruis gesterf het om sondaars te red van die ewige oordeel. God se toorn is sy geregverdigde reaksie teen die ongeregtigheid van mense en die reddende dood van Christus in die Bybel is die versoening daarvoor. Maar Jesus Christus beskerm die mens teen die vooruitsig van vergeldende geregtigheid deur die mens se verteenwoordigende plaasvervanger te word, in gehoorsaamheid aan sy Vader se wil. Christus ontvang die loon van die mense se sonde in hulle plek. Sodoende het geregtigheid geskied, want die sondes van almal wat ooit vergewe sal word, is geoordeel en gestraf in die Persoon van God die Seun. Dit is op hierdie basis wat vergifnis aan die mens, die oortreders, gebied word. “Reddende liefde en vergeldende geregtigheid het as’t ware op Golgota hande gevat, want daar het God Homself regverdig bewys ‘deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo’” (Packer, 2010:217).

Hierdie hedendaagse Blye Boodskap of die evangelie volgens Bechtle, Hession, Hybels en Mittelberg, Mostert, Packer en Prince word gehuldig deur die oorgrote meerderheid moderne evangeliste en predikers. Die waarheid is sigbaar hierin, maar dit ontbreek weereens aan die definisie en omskrywing van sonde. Sonder ʼn ware sondebesef, wat slegs moontlik is as die Tien Gebooie van God gebruik word as riglyn, is die evangelie ʼn vae boodskap vir dié wat dit aanhoor (sien hoofstuk 2.11.1).