• No results found

Die betekenis van die herderskapmetafoor vir die

2.3 OU EN NUWE-TESTAMENTIESE PERSPEKTIEWE RAKENDE

2.4.3 DIE HERDERMETAFOOR

2.4.3.1 Inleidende oorsig oor sleutelwoorde ten opsigte van die

2.4.3.1.4 Die betekenis van die herderskapmetafoor vir die

God gee aan die mens opdrag om oor die aarde te heers (Gen. 1:26). Die bedoeling met hierdie opdrag is nie om die aarde te vernietig nie, maar wel te versorg en op te pas. Die Griekse woord vir “heers”

poimhvn

dui op ’n herdermetafoor wat sorgvuldige versorging behels. Die mens word dus beveel om God se aarde op te pas en nie te vernietig nie. Die opdrag is in ooreenstemming met die styl van God self. God versorg die skepping en pas die skepping op soos ’n herder, vgl. Ps. 23 (Louw, 1993:27; Strong, 1996).

Die onderwyser kan hierdie opdrag as deel van sy/haar roeping interpreteer om die kinders wat aan hulle toevertrou is as deel van God se skepping te sien en met herderlike sorg op te pas. Soos die herder sy staf gebruik om skape mee te dissiplineer en nader te trek aan veiligheid, so moet die onderwyser ook doen met leerders wat soekend is. Soos Jakob met besorgdheid omsien na sy skape, moet die onderwyser na sy leerders omsien: “... die ou kindertjies is maar klein en die lammertjies... nog swak. As ’n mens hulle net een dag te hard aandryf, is die hele klomp dood” (Gen. 33:13).

Die kriterium van herderskap het in wese met dienslewering te doen. Om as herder op te tree gaan nie met aansien gepaard nie, maar met sorgsame, opofferende liefde teenoor die nood van die naaste: “... want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was

sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek” (Matt. 25:35-36). Op hierdie wyse kry die herdersfunksie ’n sosiale en maatskaplike dimensie. Onderwys moet dus ook gaan oor dienslewering en nie wees soos beskryf word in Jes. 56:11 nie: “... Hulle is herders sonder insig, hulle slaan elkeen sy eie koers in, elkeen is op sy eie voordeel uit.” Onderwysers moet ’n herder vir hul leerders wees, nie ’n huurling nie. Omdat dit nie die huurling se eie skape is nie, is hy nie bereid om sy lewe vir hulle af te lê nie. Hy hardloop weg by die eerste teken van gevaar en wys daarmee dat sy prioriteit is om sy eie lewe te beskerm (vgl. Joh. 10:12-13) (Selles, 2001:22).

Die volgende gevallestudie wat deur Walker et al. (2004:346-348) in ʼn navorsingsverslag gepubliseer is, toon aan wat kan gebeur as die onderwyser as huurling optree en nie as herder nie:

“Billy het saam met sy familie in armoede geleef. Sy daaglikse leefwyse het bestaan uit seksuele en verbale mishandeling. Hy is verskeie kere gewelddadig aangerand omdat hy geargumenteer het, laat was of iets geneem het sonder toestemming. Een van sy ooms het sy pa doodgeskiet, en van sy ander ooms is dwelmhandelaars en gebruik dwelms. Billy was van al hierdie gebeure terdeë bewus.

“Vanaf driejarige ouderdom was hy bestempel as ’n onrusstoker. Hy het soos ’n gewonde dier te kere gegaan: bang, kontak vermy, gereed om eerste te baklei. Billy het sy bed soms nat gemaak, nagmerries gekry, gesteel, gereeld brande gestig en was wreed teenoor diere.

“Die skool en onderwysers was geskok oor sy optrede. Sy bisarre en aggressiewe houding was onaanvaarbaar vir sy onderwysers en maats. Hy is uitgeskuif en verwerp deur almal by die skool. Hy het weer die skool ervaar as ’n vyandelike plek waar almal gedurigdeur fout vind met hom. Alhoewel hy akademies die vermoë gehad het om goed te presteer, het hy net-net deurgekom.

46

“Billy het in Graad 5 deel van ’n bende geword en is gearresteer vir diefstal. Hy het vir ’n skoolberader vertel dat hy al 15 keer gearresteer kon gewees het, maar dat hy die gereg uitoorlê het. Billy is verwys na sielkundiges en beraders vir psigometries toetsing, maar tevergeefs. In Graad 6 is hy weggestuur na ’n inrigting vir buitengewone gedragsprobleme, waar hy bevriend raak met jeugmisdadigers, en later gearresteer word vir afvuur van skote in ’n plaaslike kerk. Hy word vir vier jaar gevonnis.”

Billy was op pad na totale vernietiging, en het geen kans gehad op ’n normale grootwordproses nie. As gevolg van gewelddadige mishandeling, swak ouerbetrokkenheid, geen positiewe aanmoediging van onderwysers nie, geen ondersteuning van familie nie, het hy ’n leefwyse aangekweek om te oorleef. Ongelukkig het sy inkleding van oorlewingsvaardighede en waardes met die samelewing se waardes gebots.

Onderwysers speel ’n uiters baie belangrike rol in die skep van ’n klimaat van omgee en aankweek van ’n verantwoordelikheidsin. Dit vra van ʼn onderwyser om met selfopoffering uit die gemaksone van selfbelang te tree en alles te gee om ’n daadwerklike voorbeeld te wees van behoorlike gedrag en morele waardes vir ʼn kind wat aanvanklik dalk geen waardering daarvoor sal hê nie (vgl. Bluestein, 1999:65; Malherbe, 2005).

Soos Cummins (aangehaal deur Moll & Gonzales, 2004:699) tereg aanhaal: “If teachers are not learning much from their students, it is probable that their students are not learning much from them.”

In die Nuwe Testament word herderskap sterk verbind met mense wat in die besondere diens van herder en leraar en ouderlinge staan (vgl. Ef. 4:11; 1 Pet. 5:1-4). Dit sluit egter nie uit dat mense wat toegerus word deur die herderlike optrede van herders en leraars en ouderlinge, ook herderlik kan optree in die uitoefening van hulle diens in die amp van gelowige nie. Die versorging van en omgee vir God se kudde, word dus toevertrou aan alle mense, van wie Van der Walt (1993:3) sê: “Die goddelike opdrag spreek tot elke Christenhart.”

Dit is duidelik dat daar met die verloop van tyd ’n situasie ontstaan het waar die pastorale versorging nie noodwendig aan ’n bepaalde persoon of amp gekoppel kan word nie: “… as we have already noted the flow of time and history inevitably bring change alongside the continuing power of traditions formed out of earlier human experience” (Gerkin, 1997:97). Hiermee word egter nie bedoel dat die pastoor/predikant as “herder van sy skape” sy rol en plek verloor nie, maar wel dat die onderwyser deur die Woordbediening van die predikant toegerus kan word met pastorale kennis en op so ʼn wyse diensbaar kan wees in die verligting van kinders se “pyn”. Die onderwyser as “herder” moet dus besorg wees oor sy/haar leerders of “skape” en hulle met liefdevolle ontferming lei tot geestelike volwassenheid onder leiding van die Heilige Gees (Senekal, 2005:137-138).

2.4.3.1.5 Basisteoretiese afleidings ten opsigte van die implikasie van die