• No results found

Die aanwesigheid van onderliggende norme in die Vertaalkunde

Hoofstuk 2: ʼn Normatiewe literatuurondersoek oor die rolvervulling

2.3 In aanloop tot ʼn normatiewe beskouing van tolking en tolkrolle

2.3.3 ʼn Normatiewe blik op tolke se rolvervulling

2.3.3.1 Die aanwesigheid van onderliggende norme in die Vertaalkunde

In algemene sin meen Davis (1994:97) dat mense hulle sosiale vaardighede inspan om ooreenkomste te onderhandel oor optrede en gedrag. Hy meen dat realiteite voorkom asof dit gereguleerd en stabiel is, omdat ons saam besluite neem oor wat toepaslik en aanvaarbaar is binne sekere omstandighede. Hierdie ooreenkomste word altyd onderhandel. Dit neem tyd en die gevolg daarvan kan gesien word in konvensies wat sekere lede van ʼn groep sal volg, gegewe spesifieke omstandighede. Hy voer verder aan dat hierdie ooreenkomste nie onveranderd bly nie. Indien die groep voortbestaan, sal hierdie ooreenkomste deurlopend onderhandel en heronderhandel word, en is die proses dus lewendig. Konvensies is egter nie spesifiek en bindend genoeg om te dien as riglyn of evalueringsmeganisme vir optrede en die gevolge daarvan nie.

Toury (1998:25) meen in hierdie opsig dat norme aanvaar word as die algemene waardes of idees wat ʼn groep in gemeen het. Hierdie norme tree op volgens wat reg of verkeerd is en wat aanvaarbaar of onaanvaarbaar is, en tree in werking as instruksioneel toepaslik en aanvaarbaar binne spesifieke situasies. Dus kan norme ingespan word om gedrag en/of optrede binne ʼn gegewe sosiale situasie waarin lede van ʼn spesifieke groep funksioneer, te bekyk. Norme dien ook as maatstaf waarvolgens optrede of gedrag geëvalueer kan word. Vir die doeleindes van hierdie studie word hierdie aanname vervolgens ingespan om die rol van die opvoedkundige tolk krities te beskou, en sodoende te probeer vasstel of daar ooreengekome norme binne die praktyk van opvoedkundige tolking aanwesig is. Toury (1995:55) meen in hierdie opsig dat gereelde aksies ten opsigte van dieselfde tipe

36

optrede gebruik kan word binne die raamwerk van studies oor norme. Die rede hiervoor is omdat die aanwesigheid van norme die mees beduidende behoud van sosiale orde bewerkstellig, ongeag die omgewing waarin dit gevind word.

Die nut van hierdie sosiokulturele konstruk vir hierdie studie is ingebed in die feit dat enige kommunikasie, en enige kommunikasie waarbinne daar taalpraktykaktiwiteite benodig word of voorkom, in ʼn sosiale omgewing geskied. Wanneer hierdie konstruk dus deurgetrek word na taalpraktykaktiwiteite kom die sosiale rol van die taalpraktisyn ter sprake.

Terwyl Toury (2000:198) aanvoer dat normstelling gaan om gedeelde besluitneming – ook in die Vertaalkunde – stel hy voor dat drie tipes norme onderskei word wat alle praktiese aspekte van die taalpraktyk op normatiewe vlak behoort te rig: (i) aanvangsnorme (“initial norms”); (ii) voorlopige norme (“preliminary norms”); (iii) operasionele norme (“operational norms”). Die aanvangsnorm dui op die basiese strategiese besluit van hoe ʼn vertaler/tolk die opdrag benader (m.a.w. of hy hom by die bronteksskepper of by die teikenkultuur skaar en dienooreenkomstig te werk gaan in die uitvoering van die opdrag). Voorlopige norme behels die inkleding van die opdrag vir sover dit dui op die manier waarop die opdrag uitgevoer word binne die parameters van tipologiese oorwegings soos teks-/tolktipes in die omgewings waarin hierdie tekste tot stand gekom het. Daarteenoor dui operasionele

norme op die werklike besluitnemings terwyl daar met die daad van vertaling of tolking

besig is, en word ʼn onderskeid getref tussen matriksnorme of funksionele norme (‘matricial’) en tekstueel-linguistiese/vormnorme. Wanneer norme ingespan word om te probeer vasstel of daar ʼn algemeen geldende, ooreengekome norm binne opvoedkundige tolking aanwesig is, word daar op die interaksie tussen hierdie verskillende normvlakke gefokus en word daar gekyk na wat die werklikheid weerspieël in teenstelling met wat van die tolkgeleentheid verwag word.

ʼn Praktiese voorbeeld van die interaksie tussen aanvangs-, voorlopige en operasionele norme kan gevind word in Shlesinger (1999:65-77) se studie onder hoftolke waarin sy navors of die strategieë wat deur tolke in ʼn gegewe situasie gekies word verband hou met kognitiewe beperkinge of met norme. Onderliggend tot haar studie is die aanwesigheid van inhoudsvereenvoudiging binne hoftolke se produksie, wat daarop dui dat ʼn moontlike konflik tussen twee stelle norme plaasvind: verwagtingsnorme/“expectancy norms” teenoor

37

uitvoeringsnorme/“performance norms”. Verwagtingsnorme kan beskryf word as die verwagtinge wat die hof aan die tolk stel (implisiet of eksplisiet); en uitvoeringsnorme kan beskryf word as die tolk se eie persepsie van die rol wat hy vervul sowel as dit wat hy moet doen om sy rol suksesvol te vervul.

Vir die doel van hierdie studie word daar tans ʼn verband getrek tussen Toury se voorlopige en operasionele norme, en Shlesinger se verwagtings- en uitvoeringsnorme. In beide die navorsers se gevalle behels die voorlopige of verwagtingsnorme aanvanklike persepsies oor wat die tolk veronderstel is om te doen, gegrond op situasionele of geleentheidsaspekte. Hierdie aspekte kan ʼn invloed uitoefen op dit wat as korrek in die gegewe situasie bestempel word, maar neem nie die realiteite van die geleentheid in ag nie. Die operasionele norme / uitvoeringsnorme word dus gevind waar werklike situasies nie noodwendig deur ʼn verwagting of bestaande, voorlopige norme gelei kan word nie.

In hierdie opsig meen Shlesinger dat wanneer die teoretici uitsprake maak oor dit wat tolke veronderstel is om te doen, verskeie ‘moets’ en ‘moenies’ voorkom. Sy voer aan, met inagneming van Toury (1995), dat sulke stellings met omsigtigheid bejeën moet word, aangesien daar ʼn wesentlike diskrepansie bestaan tussen eksplisiete eise en werklike gedrag. ʼn Besliste voorbeeld van so ʼn moontlike diskrepansie is die norm wat neerslag vind in hoftolkverband, waar tolke geneig is om inligting ‘op te som’ of te ‘kondenseer’ (Shlesinger, 1999:70). Hierdie norm is een van vele wat reeds binne normgedrewe studies binne die taalpraktyk gevind word, en Scholdager (1995:84) verwys na die norm in simultane tolking waartydens dit aanvaarbaar vir ʼn tolk sou wees om iets onverwant aan die bronteks te sê, mits dit kontekstueel regverdigbaar is. Sy meen dat gebruikers van simultane tolking soortgelyke byvoegings bo onvoltooide sinne verkies. Rondom hierdie verskynsel meen sy dat hierdie norm waarskynlik uniek tot simultane tolking is, en die uniekheid van soortgelyke norme in verskeie tolkomgewings word bevestig deur Gile (1995:153-172), Shlesinger (1999:65-77) en Poyatos (1997:249-282). Hieruit word dit duidelik – volgens Toury en Shlesinger se teorieë rondom wat binne ʼn gegewe tolksituasie verwag word en wat in werklikheid gebeur – dat verwagtings en realiteit nie noodwendig met mekaar ooreenstem nie. Toury (1998:28) meen dat die aanwesigheid van verskillende norme in veral ʼn omvattende, ongelyksoortige groep, nie ongewoon is nie. Die oplossing vir die uitdagings van hierdie aanwesigheid is die soeke na effektiewe maneuvrering tussen al die norme – en dit is waarskynlik daarin wat die rol van die tolk ten diepste

38

ingebed is. Die tolk, in sy soeke na die rol wat hy ‘veronderstel’ is om te vervul, vervul waarskynlik in iedere geval meer as een rol, juis omdat hy ‘soekend’ is.

Die implikasie van hierdie teoretiese beskouings is dat dit as moontlike toetsmeganisme kan dien wanneer norme in opvoedkundige tolking ondersoek word. ʼn Vergelyking tussen Toury se aanwesige norme en operasionele norme behoort geredelik ingespan te kan word om vas te stel watter onderliggende norme aanwesig is binne die sosiale praktyk van opvoedkundige tolking en sal in samehang met die ingesamelde data vir hierdie studie in Hoofstuk 4 neerslag vind.

Vanuit die bespreking hierbo kan aanvaar word dat die praktyk van opvoedkundige tolking altyd in ʼn sosiale omgewing plaasvind. Wat ook waar is, is dat opvoedkundige tolking altyd in meervoudige sosiokulturele konstrukte plaasvind. Die implikasie van hierdie stelling is dat die omliggende kulturele aspekte ook ʼn invloed op die tolk se rolvervulling kan uitoefen, aangesien dit ʼn beduidende, deurlopende realiteit binne enige tolkgeleentheid is. Om te bepaal presies hoe kultuur die tolk kan beïnvloed, word daar vervolgens ondersoek ingestel na die aanwesigheid van kultuur in normvorming binne taalaktiwiteite.