• No results found

Desentralisasie van die onderwys en die beginsels van demokratisering

2. DEMOKRASIE: KONSEPTE, BEGINSELS EN TEORIEË

2.3 Die potensiaal van deelnemende en oorlegplegende demokrasie binne ʼn

2.3.1 Desentralisasie van die onderwys en die beginsels van demokratisering

Die transformasie van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het vele dilemmas rakende skole en demokrasie aan die lig gebring (Smit, 2008:73). Volgens Hilliard en Notshulwana (2001:155) het dit na die transformasieproses duidelik geword dat daar steeds ʼn gebrek aan begrip rakende die essensiële beginsels van demokrasie bestaan. Die uiteenlopende standpunte ten opsigte van demokrasie blyk duidelik uit verskil betreffende gelyke toegang tot skole, transformasiebeleide, openbare befondsing, onvoldoende deelname van belanghebbendes, openbare aanspreeklikheid en beperkings op basiese regte binne die skoolstelsel.

32

Met die desentralisering van die fiskale, politieke en administratiewe verantwoordelikhede van plaaslike regerings, plaaslike instellings en gemeenskappe, het die geneigdheid tot deelname en oorlegpleging ontstaan as ʼn fundamentele uitgangspunt ter bevordering van die plaaslike beheer van skole (Smit, 2003:76). Die beleid van desentralisering van die onderwys na aanleiding van die beginsel van demokratisering het ʼn sleutelaspek van opvoedkundige herstrukturering in die internasionale arena geword. Volgens Bear (1990:16) het die volgende faktore bygedra tot die internasionale neiging tot desentralisering van die onderwys:

 Onderwys hervorm demokrasie en demokrasie hervorm onderwys.

 Die demokratisering van beheerstelsels in skole verbeter effektiwiteit en aanspreeklikheid in skole.

 Die politieke vryheid van voorheen benadeelde gemeenskappe in Suid-Afrika het groter deelname van ouers en belanghebbendes in die onderwys genoodsaak.

 Omdat meer opgevoede ouers deel van die populasie is, vergroot die aandrang op groter deelname wat onderwyssake betref.

 Opvoederprofessionaliteit en hoër vlakke van gesofistikeerdheid het ʼn selfversekerdheid by die onderwyskorps geskep om minder verdraagsaam te wees teenoor die burokratiese mag van gesentraliseerde staatsadministrasies.  Die ontwikkeling van teoretiese modelle van oorlegplegende demokrasie het die standaard rakende groter gelykheid verhoog, en ook die behoefte beklemtoon vir gesamentlike besluitneming.

 Die ekonomiese suksesse van demokratiese besigheidstelsels het gedien as invloedryke aansporings om korporatiewe bestuurs idees in die onderwys te verbeter.

Internasionaal en in Suid-Afrika het die vraag ontstaan na die afwenteling van verantwoordelikheid en outoriteit vanaf die gesentraliseerde staatsburokrasie na skoolgemeenskappe (Dieltiens, 2000:35). In praktyk is elke demokrasie in die wêreld afhanklik van effektiewe burokrasie (Smit, 2003:78). Burokrasie word deur Weber (1968:8) beskryf as ʼn administrasiestelsel met die volgende eienskappe: hiërargie, onpersoonlikheid, kontinuïteit en kundigheid. Die volgende negatiewe eienskappe word voor die deur van burokrasie of onderwysadministrasie gelê: rompslomp, nie- aanspreeklikheid, swak terugvoering, vertragings, onbuigsaamheid, onbekwaamheid, gesentraliseerde elitisme en ondemokratiese geneigdheid.

33

2.3.1.1 Burokratiese onderdrukking van deelnemende demokrasie in die onderwys In die paragrawe wat volg, word ʼn voorbeeld van ʼn aangemelde hofsaak bespreek waar bepaal moes word of deelname van belanghebbendes in die onderwys deur die burokrasie in Suid-Afrika beperk is.

 Uitsetting van swak gedissiplineerde leerders

In die saak Pearson High School v Head of the Education Department, Eastern Cape Province (1999) het die hoof van die Departement van Onderwys geweier om die uitsetting van ʼn leerder te bevestig en is die leerder, wat aan ernstige wangedrag skuldig bevind is, beveel om terug te keer skool toe. Die leerder (ouderdom 15) is twee maande vantevore skuldig bevind aan ernstige wangedrag nadat hy vier leerders met ʼn inspuitingnaald gesteek het. Die leerder het van skool verwissel en die nuwe skool (Pearson High) se hoof het die leerder ʼn kans gegee met dien verstande dat die leerder homself tot die etos en reëls van die skool verbind.

Skaars ʼn maand na toelating tot die nuwe skool, is die leerder skuldig bevind aan aankope van dagga op die skoolterrein. Na ʼn regverdige dissiplinêre verhoor het die skool se beheerliggaam aanbeveel dat die leerder uit die skool gesit word. Die Departement van Onderwys het weer nie die uitsetting aanvaar nie en gelas dat die leerder na die skool moes terugkeer. Die beheerliggaam is gedwing om ʼn dringende aansoek by die Hoër Hof in te dien om die onderwysamptenaar se besluit te hersien.

Die hof het die volgende faktore in ag geneem: noodsaaklikheid van goeie dissiplinehandhawing in die belang van alle leerders in die skool; die beskerming van die opvoeders; behoud van onderwysstandaarde; besorgdhede van die ouerkorps; die ernstigheid van die wangedrag; en die vorige oortredings van die leerder. Die hof het beveel dat die besluit van die Departement van Onderwys ter syde gestel word en die leerder uitgesit word.

Alhoewel geregtigheid plaasgevind het, is hierdie saak ʼn voorbeeld van die onvanpaste burokratiese besluitneming wat nadelige gevolge vir skooldissipline en die opvoedkundige doeltreffendheid van die skool kan hê.

2.3.1.2 Burokratiese onderdrukking van oorlegplegende demokrasie in die onderwys Die volgende voorbeelde van hofsake dui op die aanwesigheid van burokratiese onderdrukking.

34

 Swak terugvoering, rompslomp en vertraging

In die hofsaak van Maritzburg College v C.R Dlamini NO (2005) was drie leerders betrokke by ʼn insident waartydens ʼn venster van ʼn gehuurde bus verpletter is. Twee van die leerders het na drank geruik en ʼn bottel brandewyn is in die derde leerder se rugsak gevind. Na ʼn regverdige verhoor het die beheerliggaam van die skool besluit om by die hoof van die Departement van Onderwys in KwaZulu-Natal aan te beveel dat twee van die drie leerders uit die skool gesit moet word. Tydens die interim tydperk is die leerders geskors hangende die finale besluit van die departementshoof.

Ten spyte van vele briewe, oproepe en vergaderings met die hoof van die departement, het hy steeds na 21 maande nie ʼn besluit kon neem rakende die uitsetting van die leerders nie. Die beheerliggaam het die Hoër Hof genader om ʼn verklaringsbevel. Die hoof van die departement het betoog dat die Suid-Afrikaanse Skolewet nie toelaat dat leerders vir langer as ʼn week geskors mag word nie en dat die interim reëling onwettig was. Die hof het die beheerliggaam se besluit aanvaar en die saak is in die guns van die skool, met koste aan die staat, geskik.

 Gebrek aan deursigtigheid

Tydens die saak, Jonkers v Western Cape Education Departement (1999), is die klaer telefonies ingelig dat hy vanaf Februarie 1997 as skoolhoof aangestel is. Die siftingsproses was gebrekkig en die proses is herhaal. Nadat agt maande verloop het, is die klaer in kennis gestel dat ʼn moratorium op die vul van die pos geplaas is. Die arbiter in die saak het aanbeveel dat die siftingsproses herhaal moes word en ook die Departement van Onderwys gekritiseer oor ʼn tekort aan voldoende kommunikasie en deursigtigheid.

 Gebrek aan aanspreeklikheid

Tydens die hofsaak van Head of Departement of Education, Limpopo Province v Settlers Agricultural High School (2003) het die Grondwetlike Hof verklaar dat die applikant in die saak se ignorering van die kostebevel dui op disrespek. Indien regerings nie die howe gehoorsaam nie, kan hulle nie verwag dat die landsburgers dit moet doen nie. Die waardigheid en effektiwiteit van die howe word nutteloos gestel indien hofbevele geïgnoreer word.

Bogemelde is slegs enkele voorbeelde van hofsake waar die burokrasie die deelnemende en oorlegplegende demokratiese beginsels onderdruk het. Hierdie afdeling van die literatuurstudie het gedien as inleiding om te bepaal of demokrasie wel in ander sfere van die onderwystoegepas word, al dan nie.

35

Die volgende afdeling gaan die onderskeie regsvoorskrifte ondersoek en verslag lewer oor die mate waarin die beginsels van deelnemende demokrasie in die onderwysstelsel op grondvlak toegepas word.

2.4 Die demokratiese eienskappe van die onderwys regsvoorskrifte

Die Grondwet van Suid-Afrika (S-A, 1996a) asook die Suid-Afrikaanse Skolewet (S-A, 1996b) vorm die basis van die onderwysregsvoorskrifte. Die aanhef tot die Grondwet verklaar dat die mense van Suid-Afrika sal poog om ʼn samelewing daar te stel wat gebaseer is op demokratiese waardes, sosiale geregtigheid en fundamentele menseregte.

Vervolgens word die demokratiese verteenwoordiging wat in die Suid-Afrikaanse Skolewet (S-A, 1996b) beskryf word, uiteengesit.