• No results found

Data-ontleding en interpretasie

Ontleding van data in kwalitatiewe navorsing, behels die ontleding van woorde ten einde ‘n geheelbeeld of nuwe siening van ‘n belewenis te bekom. Al die ingesamelde inligting naamlik die in-diepte onderhoud transkripsies en veldnotas moes sistematies gesorteer, gerangskik, ontleed en beskryf word, sodat ‘n duidelike opsomming van die resultate verkry kon word (Brink, 2006:158,192- 193; Burns & Grove, 2005:574-577).

2.10.1 Voorlopige kodering

Transkribering (kyk 2.8) is na afloop van onderhoude deur die navorser self gedoen. Gedurende die transkripsie van die onderhoude het die navorser soos Streubert Speziale & Carpenter (2003:45-46) en Burns & Grove (2005:547-577) aandui, haarself in die data verdiep sodat sy voorlopige kategorië daaruit kon ontwikkel. Hierdie voorlopige ontwikkeling van begrippe is vir kodering gebruik. Aanhalings uit die onderhoude is ook as illustrasie vir die kodering gebruik soos voorgestel deur Brink (2006:192-193).

2.10.2 Data-ontleding

In teenstelling met kwantitatiewe navorsing vind die ontleding van data in kwalitatiewe navorsing gelyktydig met die insameling daarvan plaas. Ontleding van die data is ‘n sistematiese proses van ontleding, kodering, groepering en samevatting van data wat deur middel van die onderhoude bekom is. Woorde en frases word ook gekategoriseer en nie getel nie, hoewel laasgenoemde wel een wyse van kategorisering uitmaak (Tesch, 1990:37-38,92; Pope, Ziebland & Mays, 2000:intyds). Tydens die analise van die data word die getranskribeerde

inhoud van die onderhoude herhaaldelik weer gelees en word gesoek na uitklaring van betekenisse (Flick, 2007:100-101).

Vir hierdie fase van die navorsing is Tesch (1990:142-145) se metode van data ontleding soos beskryf in Creswell (1994:154-155) as gids gebruik. Die proses is sistematies as volg gedoen:

2.10.2.1. Verkry ‘n geheelbeeld

Elke onderhoud is getranskribeer net nadat dit gedoen is. Nadat ‘n onderhoud getranskribeer is, is dit ‘n paar keer deurgelees. Al die getranskribeerde notas is deurgelees. Hierdeur het die navorser ‘n geheelbeeld en begrip van die data gekry. Hierdie stap bied die nodige agtergrondinligting en soos wat temas opgekom het is dit neergeskryf.

2.10.2.2 Identifisering van onderwerpe

Nadat al 15 onderhoude gevoer en getranskribeer is, is die getranskribeerde onderhoude deurgelees en het die navorser een interessante getranskribeerde onderhoud gekies en weereens aandagtig deurgelees. Soos wat die navorser dit deurgelees het, het sy haarself die vraag afgevra waaroor dit in die onderhoud gehandel het, sodat aandag aan die onderliggende betekenis (na dìt wat gesê is) eerder as die inhoud van die transkripsie gegee is. Soos wat daar vanaf die een onderwerp na die volgende onderwerp oorgeskakel is, is onderskeid tussen die inhoud en onderwerp gemaak. Die navorser het die onderwerpe geïdentifiseer en in die kantlyn van die dokument neergeskryf.

2.10.2.3 Onderliggende betekenis

Hierna het die navorser weer al die getranskribeerde onderhoude deurgelees. Daar is weer aan die onderliggende betekenis (dit wat gesê is) eerder as die inhoud aandag gegee. Soos wat herhalende onderwerpe voorgekom het is dit in die kantlyn geskryf. Hierdie stap is met al die getranskribeerde onderhoude gedoen.

2.10.2.4 Geïdentifiseerde onderwerpe

Die volgende stap was om ‘n lys van geïdentifiseerde onderwerpe op te stel. Al die onderwerpe is afsonderlik op een vel papier in kolomme geplaas, dus een kolom per elke data dokument. Hierna is die onderwerpe met mekaar vergelyk. Die navorser het van verskillende kleure penne gebruik gemaak om onderwerpe wat dieselfde was aan te dui. Dieselfde onderwerpe (in dieselfde kleure) was saam gegroepeer en as hoofonderwerpe gerangskik. ‘n Toepaslike naam vir die gegroepeerde onderwerpe is gekies.

2.10.2.5 Data-analise in kodes

Nadat die onderwerp indeling gedoen is, was die volgende stap om ‘n interpretasie van die data-analise in kodes te doen. Op dié tydstip word die groep hoofonderwerpe sowel as unieke onderwerpe afgekort as kodes. Die kodes is langs die toepaslike gedeeltes van die hoofinhoud neergeskryf. Soos wat die navorser die data herhaaldelik deurgaan, word die kodes langs die toepaslike gedeeltes van die hoofinhoud geskryf.

2.10.2.6 Kategorieë

Die gekodeerde data is hierna verfyn: die mees beskrywende woorde is vir die onderwerpe gekies en die onderwerpe is in kategorieë ingedeel. Lyne is tussen verwante kategorieë getrek en daar is gesoek na ooreenkomste tussen kategorieë. Dié stap het die aanvanklike getal kategorieë verminder. Die oorblywende kategorieë is hierna gefinaliseer en gekodeer.

2.10.2.7 Kodering

Opeenvolgende kodering 2 word sodoende gedoen. Sommige gedeeltes in die inhoud is te veel is om onder een kategorie in te pas en dit word dan in verskillende kategorieë geplaas om sodoende subkategorieë te vorm. Nadat die kodering van data voltooi is, is die data in elke kategorie weer met die getranskribeerde onderhoude gekontroleer. Elke kategorie word so gekontroleer.

2.10.2.8 Voorlegging aan eksterne ko- kodeerder

Vir kontrole van kategorieë, sub- kategorieë en temas was die oudiobande, transkripsies en ontledingsstappe soos beskryf deur Tesch (1990:142-145) aan ‘n eksterne ko-kodeerder oorhandig. Die eksterne ko-kodeerder is ‘n ekspert in kwalitatiewe navorsing en beskik ook oor ‘n doktorale kwalifikasie in Psigiatriese Verpleegkunde. Nadat die eksterne ko-kodeerder die kontrolering gedoen het, het sy en die navorser in gesprek getree. Konsensus is oor die kategorieë en sub-kategorieë bereik.

2Kodering is ‘n wyse waarop rou data in voorgestelde kategoriee georganiseer word en sodoende word temas en konsepte geskep wat in die data analise proses gebruik word (Burns & Grove, 2005:597-598)

Die kategorieë, sub- kategorieë en temas wat geïdentifiseer is, word in die volgende hoofstuk bespreek.