• No results found

HOOFSTUK 4: DIE DA SE GEBRUIK VAN HUL FACEBOOKBLAD OM DEELNEMENDE

5.5 BEANTWOORDING VAN DIE ALGEMENE NAVORSINGSVRAAG: DIE DA SE

2014-NASIONALE VERKIESING

Daar moet eerstens beklemtoon word dat die feit dat die DA gebruik maak van die sosialemediaplatform, Facebook, beskou kan word as 'n poging om uit te reik na die openbare sfeer, siende dat dit hulle sigbaarheid verhoog. Dit impliseer egter nie dat hulle ten volle dialoog en deelname fasiliteer met die oog op bemagtiging van kiesers nie.

Daar kan wel aanvaar word dat die DA se Facebookblad minstens sigbaarheid verhoog het. Na aanleiding van bostaande stelling is vlak 4 van die kontinuum van deelnemende kommunikasie van Facebookgebruikers se aktiwiteite (sien figuur 5.1) eerstens toepaslik: daar is 186 768 Facebookgebruikers wat van die DA se Facebookblad hou (sien punt 5.4.1.3). Daar kon egter nie bepaal word of al hierdie gebruikers wel die DA se blad volg nie. Ten einde van die DA se Facebookblad te hou, moes die gebruiker wel die blad gesien het en bewus wees van die feit dat die DA 'n amptelike Facebookblad het.

Die DA kan beskou word as 'n inisieerder vir deelname en dialoog as ons in aanmerking neem dat daar tydens die ondersoektydperk (sien punt 3.5.3.1) daagliks plasings op hulle Facebookblad gemaak is en dat daar op sommige dae selfs meer as een keer plasings gemaak is.

Vlak 5 en vlak 6 van die kontinuum van deelnemende kommunikasie van Facebookgebruikers se aktiwiteite (sien figuur 5.1) is tweedens toepaslik aangesien Facebookgebruikers deelgeneem het deur van plasings te hou (sien punt 5.4.1.5), plasings te deel (sien punt 5.4.1.6); te hou van kommentaar wat gelewer is op plasings en (sien punt 5.4.1.7) te hou van terugvoer wat gegee is op kommentaar.

Facebookgebruikers het die meeste van plasings gehou en ook plasings gedeel wat visuele materiaal bevat het, spesifiek foto’s, video’s en infografika. Die DA kan dus meer deelname rakende die hou-van en deel-van plasings stimuleer deur visuele materiaal te kombineer met plasings wat net bestaan uit teks. Daar is ook potensiaal om deelname te verhoog, deurdat die DA Facebookgebruikers motiveer om deel te neem deur in hulle plasings te sê: “Hit like if you

believe…” en “Share this to help us create awareness…”. Op so 'n manier kommunikeer die DA hulle waardes en bevestig die gebruiker dat hulle hou van daardie waardes deur deel te neem. Facebookgebruikers het ook gehou van kommentaar wat gelewer is op plasings en ook terugvoer wat gegee is op kommentaar, deelname het dus ook in ʼn mate op vlakke 6 en 7 plaasgevind (sien figuur 5.1). Daar moet wel genoem word dat die hou-van kommentaar- teenoor die hou-van-terugvoer op kommentaar-ratio hoër is. Dit wil voorkom of die keuse tussen hou-van kommentaar en hou-van terugvoer op kommentaar 'n kwessie van persoonlike smaak is. Die DA kan dus nie noodwendig aanbeveel word om hulle inhoud te verander nie, maar hulle kan wel aangeraai wod om self kommentaar en terugvoer te lewer. Dit kan moontlik Facebookgebruikers motiveer om meer op hierdie twee vlakke deel te neem.

Vlak 9 van die kontinuum van deelnemende kommunikasie van Facebookgebruikers se aktiwiteite (sien figuur 5.1) is nie op die DA se Facebookblad gefasiliteer nie. Dit kan beskou word as 'n groot beperking vir die DA se gebruik van Facebook, gesien in die lig dat dit 'n stimulant vir dialoog is. Wat in hierdie verband ook die geval is, is die feit dat Facebookgebruikers slegs inligting ontvang oor kwessies wat die DA wil dryf. Die DA gee dus nie die geleentheid om die stemme van kiesers aan te hoor en in dialoog te tree oor openbare kwessies waaroor die publiek meer wil weet nie. Met betrekking tot die verantwoordelikheid wat politieke partye in 'n ontwikkelende demokrasie het om na die stemme van die publiek te luister (sien punt 5.4.1.9), kom die DA dus nie hulle verantwordelikheid na nie.

Vlak 10 en vlak 11 van die kontinuum van deelnemende kommunikasie van Facebookgebruikers se aktiwiteite (sien figuur 5.1) word slegs gedeeltelik gefasliteer op die DA se Facebookblad. Dit is duidelik dat Facebookgebruikers in dialoog tree met mekaar maar die DA is afwesig tydens hierdie dialogiese proses.

Na aanleiding van punt 2.4.4, veronderstel dialoog gelyke geleenthede vir beide kommunikeerders om te praat en te luister. In hierdie geval wil dit voorkom asof die DA met Facebookgebruikers praat (deur plasings) maar nie deur dialogiese kommunikasie nie, aangesien hulle nie kommentaar lewer of terugvoer gee op kommentaar wat gelewer is nie. Dit bring ook die kwessie van magsongelykheid na vore, aangesien daar nie gelyke geleenthede vir deelname is nie. Die DA het geleentheid om plasings te maak en kwessies te dryf, maar Facebookgebruikers het nie die geleentheid om plasings op die DA se muur te maak nie. Voorts het Facebookgebruikers wel die geleentheid om kommentaar te lewer en terugvoer te gee. Net so het die DA daardie geleentheid, maar maak hulle nie gebruik daarvan nie.

Die afleiding kan gemaak word dat daar vir kiesers die geleentheid gebied word om deel te neem en in dialoog te tree met mekaar en hulle dan in ʼn mate bemagtig word. Dit is wel

noodsaaklik om weer te beklemtoon dat politieke partye ʼn bemagtigingsverantwoordelikheid het wat self hulle deelname en dialoog noodsaak. Binne die konteks van die studie het dit wel nie na vore gekom nie. Hoewel die ingeboude elemente wat dialoog en deelname fasiliteer tot bemagtiging lei, is dit noodsaaklik dat die DA nie net mét sy gehoor op Facebook praat nie maar sáám met hulle. Die aanbeveling word daarom gemaak dat die DA in dialoog sal tree met sy gehoor deur kommentaar te lewer en terugvoer te gee, vir kiesers die geleentheid te bied om plasings op hulle Facebookblad-muur te maak en ook sal hou van die kommentaar en terugvoer wat gebruikers gee op plasings wat die DA maak, ten einde hulle bemagtigingsverantwoordelikheid na te kom.

5.6 GEVOLGTREKKING

Hoewel die unieke elemente op Facebook dit vir gebruikers moontlik maak om deel te neem en in dialoog te tree met ander gebruikers, kan daar ook nie bepaal word op die DA self ondersoek instel na die tipe plasings waarop Facebookgebruikers meer geneig is om deel te neem nie. Daae kan ook nie bepaal word of die DA die kommentaar wat op hulle plasings gelewer word en die terugvoer wat daarop gegee word, gelees het nie.

Hoewel die aanduiders van deelname en dialoog op die DA se Facebookblad teenwoordig is en daar wel deelname en dialoog op die DA se Facebookblad tydens die 2014-nasionale verkiesing plaasgevind het, kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat die DA slegs 'n inisieerder vir deelname en dialoog is en nie aktief gebruik maak van die unieke elemente op Facebook, wat die party self in staat stel om meer deelname en dialoog aan te moedig deur self deel te neem en in dialoog te tree met ander Facebookgebruikers nie.