• No results found

Adam as protagonis van die distopiese ruimte

en Raka die roman (2005)

4.2 Hotel Atlantis as distopiese roman

4.2.2 Adam as protagonis van die distopiese ruimte

Hotel Atlantis word verdeel in vyf dele wat die progressie van Adam se reis as distopiese

protagonis uitbeeld. Eerstens is daar “die highway” wat Adam se reis vanuit Kaapstad na die Weskus beskryf. In hierdie gedeelte vind hy ook die verlate dorpie Koingnaas en die idilliese kusdorpie Noup, waar hy vir ʼn ruk tuisgaan (9-46). Die tweede afdeling, “die grondpad”, handel

127 oor sy vlug uit Noup tot hy uiteindelik die afdraaipad na Salem en die Hotel Atlantis vat (47-85). Deel 3 word “die see” genoem en beskryf die eerste gedeelte van sy verblyf in die Hotel Atlantis (87-145). In die vierde afdeling, getiteld “die hotel”, word vertel van die afloop van die gebeure in die hotel (147-209). Die laaste afdeling staan bekend as “atlantis” en in hierdie gedeelte verlaat hy uiteindelik die hotel (211-214).

In utopiese terme beskryf Adam homself as “ʼn ewige romantiese reisiger, op soek na [s]y droom” en voel hy dat hy deur sy reis na die Weskus “regtig besig is om te ontsnap” (14, 22). In die toekomstige Suid-Afrika soos uitgebeeld in Hotel Atlantis is die hele Weskus-streek in 2010 deur die nuwe regering herdoop tot Atlantis (33, 95). Childress (1991:9) wys daarop dat daar iets eutopies in die mens se fassinasie met die mitiese stad Atlantis is. Dit is dus nie toevallig dat Kombuis juis hierdie naam vir die streek waarheen Adam vlug, kies nie. Wasserman (2002b:26) bring Adam se vlug uit die stad ook in verband met die bekende tema uit die Afrikaanse letterkunde, naamlik die teenstelling van die bose stad teenoor die idilliese platteland “waar ʼn mens (of dan: die Afrikaner) jou identiteit kan vind”. Adam luister na Johannes Kerkorrel se CD,

Die Ander Kant, waarvan die lirieke van een van die liedjies as volg lui: “Ons gaan ontsnap uit

hierdie stad” (12). Kaapstad word deur Adam as “die krioelende, besoedelde stad” beskryf, terwyl hy die klein Weskus-dorpie Noup “ʼn Paradys” noem (13, 43). Ook Lood, die man wat hy in Noup ontmoet, beskryf die dorpie as volg: “Dis soos die Paradys, toe Adam en Eva nog vegetarians was” (40). Noup word hierdeur vergelyk met die Bybelse Paradys voor die sondeval. Hierdie tipe religieuse verwysings kom ook op ander plekke in die roman voor en word later verder bespreek.

Daar is reeds waarskuwingstekens dat die Weskus nie onaangeraak is deur die komende katastrofe nie as Adam opmerk dat “die einder voor [hom] ʼn eienaardige donker kleur is; asof daar ʼn sprinkaanplaag op pad is” (25). ʼn Tweede voorbode dat alles nie wel is op die Weskus nie, is as Adam, voordat hy na Noup vlug, in die dorpie Koingnaas ontdek dat al die inwoners uitgewis is deur ʼn siekte, vermoedelik die gevreesde Hepatitis F (28). Adam se vervreemding binne die distopiese ruimte word uitgebeeld deurdat hy Koingnaas as “ʼn maanlandskap” beskryf (26). Die ruimte het dieselfde atmosfeer as wat ʼn ander planeet in ʼn werk van wetenskapsfiksie het. Dit is wel Suid-Afrika, maar ʼn vreemde Suid-Afrika van die toekoms. Dit is ook in

128 Koingnaas waar die vlieë, “honderde van hulle, sulke bloues”, vir die eerste keer hulle verskyning maak (28). Soos die skets van ʼn vlieg op die voorblad van die roman aandui, is die vlieë ʼn belangrike motief in die roman en dien hulle deurlopend as tekens van onheil. Vlieë word geassosieer met die dood, verrotting en ontbinding. In A Dictionary of Literary Symbols word daarop gewys dat vlieë gewoonlik beskou word as onaangenaam, boos en die draers van siektes. ʼn Swerm vlieë was die vierde plaag van die Bybelse tien plae. Die naam Beëlsebul, wat verwys na Satan, kan ook vertaal word as die “heer van die vlieë” (Ferber 2007).

In Noup skep Adam en Lood vir hulleself ʼn eutopiese enklave. Tipies van die karakters van die klassieke distopie gebruik hulle nie hierdie plek as ʼn ruimte van verset en aksie teen die distopiese omstandighede nie. Dit is eerder ʼn wegkruipplek van die werklike omstandighede in die wêreld. Adam is spyt dat hy vir Irna in hulle telefoongesprek vertel het waar hulle is, want “as die nuus uitlek, is die hele wêreld môreoggend op [s]y voorstoep, die bietjie vrede wat [hy] en Lood gevind het aan flarde geskiet” (45). Irna versteur verder hulle vrede deur Adam in te lig oor ʼn nuusberig wat beweer dat die seewater aan die Weskus radioaktief is (44).

Adam en Lood is, soos in die klassieke distopie, regressief vasgevang in die verlede. Lood maak gebruik van verouderde slengtaal woorde soos “cool” en “cop shop”. Hy gebruik verder ras- pejoratiewe soos “hotnots” (40). Adam neem nie aanstoot aan Lood se taalgebruik nie: inteendeel, dit maak hom “nostalgies na die vorige eeu” (40). Hy veronderstel dus dat dinge beter was in die verlede. Adam en Lood spandeer hulle tyd deur na ou musiektreffers uit die sestiger- en sewentigerjare van die twintigste eeu te luister (55). Hulle luister onder andere na “Hotel California” van die Eagles. Adam “verloor [hom]self in die waansinnige verhaal van ʼn reisiger baie lank gelede, ʼn reisiger deur ʼn preapokaliptiese woestyn wat bevolk is deur mitiese monsters en junkies” (55-56). Daar is parallelle tussen die reisiger in “Hotel California” se verhaal en Adam se reis. Adam is ook besig met ʼn reis in preapokaliptiese tye en die lirieke van die liedjie, wat later bespreek sal word, kan as ʼn voorbode beskou word vir wat later met hom in die Hotel Atlantis gebeur.

Hulle ervaring van Noup as paradys is egter van korte duur. ʼn Paar dae nadat Adam in Noup aankom, verbeel hy hom dat hy skepe sien en wonder of die hallusinasies dalk die eerste

129 simptome van Hepatitis F is (49). Hy begin al hoe meer paranoïes raak oor sy omstandighede en is nie meer seker wat is werklik en wat nie: “Het ek regtig met Irna gepraat? Is die see veilig? Is dit net nog ʼn mistige dag op die Weskus? Kan ons vir lunch na die naaste bar toe gaan en vanmiddag rugby op TV kyk?” (49). Suurreën sak uit oor die see en Adam hoor “ʼn knal en gerommel”. Lood sê dat hy ook vliegtuie gesien het (50). As die reën en die mis verdwyn, is die see “swaar” en “rusteloos” (50). Die volgende oggend maak ʼn benoude Lood vir Adam wakker, want hy het soldate gesien: “‘Party is op pad hiernatoe. In Land Rovers en Bedfords, met gewere en cammo’s. Ek dink daar’s oorlog of iets’” (62). Adam wonder of dit dan moontlik is dat daar oorlog in die Paradys, Noup, is (62). As Adam, Lood en Kaboel in Adam se Land Rover klim om te vlug, is daar egter geen teken van die soldate nie. Volgens Lood beteken die hallusinasies wat hulle albei die vorige paar dae gehad het dat hulle “reeds dood is” (63). Die illusie van Noup as paradys word finaal vernietig as Lood homself in die kop skiet met sy rewolwer (63-64). As distopiese protagonis gaan Adam oor van ʼn toestand van skynbare tevredenheid tot ʼn gevoel van ontnugtering.

Nadat Adam Lood se lyk verwyder het uit die Land Rover en die voertuig so skoon as moontlik probeer maak het, sit hy wel sy reis voort. Adam vertoon weereens kenmerke van die klassieke distopiese protagonis deurdat hy die gebeure in Noup wil vergeet: “As ons hierdie vervloekte klipdorpie verlaat, is dit om te vergeet” (66). Hy gaan dus nie sy kennis en ervaring van die verlede gebruik in die res van sy reis deur die distopiese ruimte nie.

In die eerste fase van sy reis volg Adam “die highway”, maar nou beweeg hy steeds verder uit die beskawing deur oor te gaan na “die grondpad”. Adam se gesprek met twee vrouens in ʼn winkeltjie “in die middel van nêrens” bevestig weereens dat die distopiese omstandighede in Suid-Afrika nie beperk is tot die ruimte van die stad nie (68). Volgens die vrou agter die toonbank van die winkel is die grootpad na Namibië gesluit as gevolg van “sandstorms en die plaag” en is “die hele streek tussen Okiep en Vioolsdrif onder kwarantyn geplaas” (70). In die winkel is die onheilsteken van die vlieë ook teenwoordig. Adam ignoreer egter hierdie teken: volgens hom is dit “net gewone plaasvliegies” en nie die “groot, taai vlieë” van Koingnaas nie (68). Adam koop In die Somer van ’36 deur Klaas Steytler en Die Koms van die Komeet deur Anna M. Louw (70). Die vrou gee ook vir hom ʼn ou Underwood tikmasjien waarin hy

130 belangstel. Hy tik die woorde “my naam is jaap en ek kom uit die kaap” op die tikmasjien (71).46

Dit is ook die skuilnaam wat hy later gebruik in die Hotel Atlantis (116). Die belang van die boeke en die tikmasjien word in Afdeling 4.2.4 bespreek. Dit is die vrouens in die winkeltjie wat hom van sy volgende toevlugsoord, die Hotel Atlantis, vertel. Die twee vrouens tree vreemd op as hulle van die hotel praat: “Hulle kyk albei na my. Hoewel hulle oë op my gerig is, is dit asof hulle my nie in die oë kyk nie. Die hartlikheid is weg” (71). As Adam vra of dit ʼn goeie hotel is, beantwoord die vrouens nie werklik sy vraag nie. Hulle sê slegs dat die hotel “ʼn uitsig op die see” het (71). Adam ignoreer egter die vrouens se ongemak en besluit om na die hotel te gaan. In die Hotel Atlantis skep hy vir homself ʼn tweede eutopiese enklave wat uiteindelik in ʼn distopie ontaard. Deur die verlede te ignoreer en te vergeet van sy wedervaringe in Noup maak hy weer die fout om vasgevang te word in ʼn valse eutopie.

Die Hotel Atlantis is geleë in die dorpie Salem. Dit is opmerklik dat die hotel oorspronklik gebou is omdat die stigter van die hotel op vlug was en ʼn wegkruipplek gesoek het (139). Soos Adam, en die ander inwoners van die hotel, wou hy van die werklikheid ontsnap en ʼn veilige hawe vir homself skep. Die man stig die hotel lank voordat die Weskus as Atlantis begin bekend staan. Hy vernoem dit dus nie na die streek nie, maar, soos Patrick, die kelner en kok in die hotel vir Adam inlig, na die “eiland onder die see” (95). Hy stig dus die hotel met die eutopiese ideale wat met die mitiese Atlantis geassosieer word. Brümmer (2002:9) wys daarop dat die ooreenkoms tussen die Hotel Atlantis en die oorspronklike Atlantis die uiteindelike ondergang van albei is: “Soos die eiland Atlantis 11 000 jaar gelede, waar die inwoners deur hebsug en mag gekorrupteer is, dreig die see om die inwoners van die land van melk en heuning te verswelg.” Volgens Childress (1991:9) word die verlore stad Atlantis met verskeie dinge geassosieer:

Atlantis. The name has come to mean many things. It evokes images of advanced ancient civilizations, cataclysmic destruction, and the mysterious past. Atlantis is many things to many people, a glorious civilization before history officially begins, a cataclysmic warning to the world today, an allegory and myth meant to stimulate the human mind.

Childress verwys, soos Brümmer, na die beeld van Atlantis as ʼn gevorderde beskawing wat ondergegaan het. Die uitbeelding van ʼn dreigende apokalips in Hotel Atlantis wys dat die hedendaagse beskawing, soos die mitiese Atlantis, ook vernietig kan word. Volgens Childress

46 Adam tik slegs in kleinletters op die tikmasjien en alle aanhalings wat gemaak word uit hierdie tikwerk word dus in kleinletters weergegee.

131 (1991:9) staan Atlantis egter ook vir ʼn hunkering na ʼn verlede wat as beter beskou word. In

Hotel Atlantis is die hotel terselfdertyd ʼn simbool van ondergang en hoop, al is die hoop, soos

hieronder bespreek sal word, tydelik en die hotel ʼn valse eutopie. As karakters van die klassieke distopie, is die inwoners van die hotel ook vasgevang in nostalgie oor vervloë jare.

In La, een van die kinders uit die vissersgemeenskap wat in Salem woon, se skryfwerk kom dit na vore dat dit die stigter van die Hotel Atlantis was wat ook vir die gemeenskap ʼn naam gegee het:

In die begin het hy die hele dorp vertel, en hy het ook gesê ons moet die dorp se naam verander. Hy het gesê die dorp se naam is “Salem”. Ons het nooit eintlik ʼn naam gehad vantevore nie, ons was nie eers op landkaarte nie. Hy het die nuwe naam geregistreer en alles. Toe, later, sien ons hom nooit weer nie (139).

Die naam “Salem” kan verbind word met die Bybelse dorp met dieselfde naam. In Hebreeus beteken die naam om veilig en vreedsaam te wees.47 Binne die Joodse tradisie word Salem

gelykgestel aan Jerusalem (Odelain en Séguineau 1981:324). Dié naam het dus, soos die naam “Atlantis”, ʼn eutopiese konnotasie. Soos ʼn koloniseerder van ouds eien die man vir hom ʼn gebied toe om sy droom-beskawing op te vestig, gee dit ʼn naam, verander die inheemse bevolking se lewens vir altyd en as dinge nie volgens plan verloop nie, verdwyn hy. Die feit dat die man die hotel verlaat en nooit weer terugkom nie, wys dat dit nie die eutopie was wat hy aanvanklik gedink het dit gaan wees nie. Die dorp is eers opgewonde oor die hotel omdat dit moontlik meer besigheid na hulle area kan bring. Die eutopie wat in die hotel geskep word met “fridges propvol kos” en krag wat nie afhanklik is van Eskom nie, hou egter geen voordele in vir die res van die inwoners van Salem nie. Dit veroorsaak eerder spanning in die gemeenskap (139). Kombuis se beskrywing van die hotel se invloed op die gemeenskap kan beskou word as kommentaar op die gaping tussen ryk en arm binne die Suid-Afrika van 2002, toe die roman gepubliseer is. Die oorgang na ʼn demokrasie in Suid-Afrika het beloftes ingehou van vryheid en vooruitgang vir almal. Die realiteit is egter dat die grootste gedeelte van die bevolking steeds in armoede leef.

47

Die Amerikaanse dorp Salem is bekend vir die heksevervolging (“Salem Witchcraft Trials”) wat in 1692 in die dorp plaasgevind het (Encyclopedia of American Studies 2010). Dié naam het dus ook ʼn negatiewe konnotasie. In Hotel Atlantis word die karakter Eva, een van die inwoners van die hotel, as ʼn tipe heks of priesteres voorgestel (91). Die dorp Salem in die roman kan dus ook in verband gebring word met die Amerikaanse dorp.

132 Adam skep vir homself sy tweede eutopiese ontvlugtingsplek in die Hotel Atlantis. Die hotel is egter alles behalwe ʼn idilliese paradys. Die tekens van verval by die Hotel Atlantis is reeds duidelik as Adam daar aanland en sien dat daar drie letters weg is by die uithangbord by die ingang: “H tel ATLA IS” (78). Adam let verder op “die afgeleefde muurpapier, die donker, holklinkende gange [en] die vuil vensterruite waaraan soutwater en mis kleef” (78). Later ontdek hy ook dat die hotel “van agter af selfs meer vervalle as van die voorkant af lyk” (121). Daar staan vullisblikke wat duidelik lanklaas leeggemaak is, stringe miere krioel in die rommel rond en daar is ook ʼn onversorgde swembad vol vrot water (121-122). Adam besluit om in die verwaarloosde hotel te bly, selfs al gee die papegaai in die voorportaal vir hom “koue rillings” en die hotel as geheel vir hom “die creeps” (79).

Die ander inwoners van die hotel is, onder andere, Eva, ʼn aanloklike vrou in ʼn swart gewaad wat deur Adam beskryf word as ʼn “luidrugtige begrafnisrok”; Eva se metgesel Mark Anthony; Tim, ʼn gewese rekenmeester, en ʼn bibliotekaresse Ruth. Dan is daar ook Rebekka, André, Johnny en Petrus, wie se “name [Adam] net optel”: “ʼn Mengelmoes, elkeen so verskillend soos die ander, mans en vroue van uiteenlopende ouderdomme en agtergronde. Party is bruin, party blank, en tog het elkeen dieselfde blik in hulle oë as Eva; vriendelik dog uitdrukkingloos” (91-93). Anders as die losieshuis Gavok in Haasbroek se Oemkontoe, is die Hotel Atlantis nie net ʼn hawe vir witmense nie. Adam se preokkupasie met ras kom ook in die beskrywing hierbo na vore. Die eerste ding wat hy oplet, is die kleur van die gaste van die hotel. Soos in die Suid-Afrikaanse samelewing tydens apartheid word die inwoners van die hotel deur Adam in terme van ras geklassifiseer. As Afrikaner in die Nuwe Suid-Afrika is hy steeds nie bevry van die vooroordele van die verlede nie. In die Hotel Atlantis begin Adam om hom al hoe meer van die werklikheid te onttrek. Hy wil van sy geskiedenis en sy ervaring in Noup vergeet:

Ek wil aan niks dink nie; nie die Here se moontlike doel met my lewe nie, nie my vroeë geskiedenis nie, nie eers Noup nie. Ek wil ook nie dink aan die toekoms nie. Ek is bereid om ʼn week of selfs langer hier af te saal (82).

Die ander inwoners van die hotel stel ook nie belang om te weet wat in die res van die wêreld aan die gang is nie. Hulle gesels met mekaar “asof daar in die buitewêreld hoegenaamd geen krisis was nie” en vra nie eers vir Adam, wat aan hulle as Jaap bekend staan, wat die stand van sake in die Kaap is nie (93). Die televisie in die eetsaal is wel aan, maar die klank werk nie.

133 Volgens Patrick is dit “dalk ʼn goeie ding, want wie wil tog al die slegte nuus uit die buitewêreld hoor?” (91). Daar is aanvanklik ʼn nuusberig oor die staking van vullisverwyderaars in Hillbrow, maar Patrick besluit om die kanaal te verander na ʼn ouTeletubbies-uitsending “met ʼn futuristiese

koepel, papierblommetjies, hasies wat knibbel, en vier potsierlike ronde figuurtjies in veelkleurige, wollerige uitrustings” (90-91). In die Hotel Atlantis leef hulle in die verlede deur na heruitsendings van programme te kyk (93). Hulle kan die realiteit van ʼn aarde wat besig is om te vergaan nie hanteer nie en kyk eerder na die idilliese, maar valse wêreld van die Teletubbies.48

Volgens Adam is ook die interaksie tussen die inwoners van die hotel “ʼn heruitsending op sigself”: “Dit was soos om ʼn ou stilfliek te kyk. Die dinge wat mense gesê het, die flikflooiery en verraad en innuendo’s van ou vriende, was alles herhaling” (93).

Die distopiese protagonis gaan gewoonlik van ʼn toestand van skynbare tevredenheid na ʼn toestand van vervreemding en ontnugtering (Baccolini en Moylan 2003a:5). By Adam vind hierdie proses andersom plaas. Aanvanklik voel Adam vreemd en ongemaklik in die teenwoordigheid van die ander inwoners, asof hy “in ʼn ruimtetuig” is (94). Die verwysing na ʼn ruimtetuig sluit weereens aan by die genre van wetenskapsfiksie. Adam onderneem nou wel nie ʼn reis na ʼn ander planeet nie, maar die hotel is so vreemd vir hom dat dit net sowel ʼn ander wêreld kan wees. Dit neem egter nie lank vir Adam om na ʼn toestand van skynbare tevredenheid oor te gaan nie. Hy begin om die inwoners van die hotel se geselskap te geniet en verwys selfs na hulle as sy “vriende” (119, 140). Hy wou aanvanklik die nuus op die televisie sien en was geïrriteerd deur Patrick omdat hy die kanaal na die Teletubbies oorgeskakel het (91). Nou wil hy, soos die res van die inwoners van die hotel, homself verwyder van die distopiese realiteit van die buitewêreld. Hy sien berigte op die televisie dat Frankryk en België byna vernietig is en Londen