• No results found

3. Die toepassing van ’n nuwe vertaalmodel in die praktyk:

3.3 Annotasies van vertaalprodukte

3.3.1 Nord se klassifikasie van vertaalprobleme

3.3.2.3 Aanpassings op pragmatiese vlak

Volgens Nord word pragmatiese vertaalprobleme deur buitetekstuele faktore veroorsaak, waarvan teksfunksie een is (1997b:65). Soos gesien kan word in die vertaalopdragte, verskil die teksfunksie van DT2 van dié van DT1 en moes die vertaler dus aanpassings maak.

Die vertaalopdrag vir DT1 lui as volg: “Skep ’n teks in ’n plegtige trant wat gepas is om in die kerk te gebruik, maar geredelik verstaanbaar en aantreklik is as ’n Bybel vir ’n ingeligte publiek van Afrikaanssprekende gelowiges” (bylae 1, aangehaal uit Van der Merwe & Basson 2003:561). Dit is die formele vertaling (weergawe 3) waar Gutt se direkte vertaling in die vertaalproses aangewend is ten einde ’n teks met die funksie van onder andere liturgiese gebruik te skep.

Die vertaalopdrag vir DT2 lui as volg: “Skep ’n glashelder teks, in ’n natuurlike en eenvoudige trant, geskik en aantreklik as ’n Leesbybel vir die breedste publiek moontlik van Afrikaanssprekendes” (bylae 1, aangehaal uit Van der Merwe & Basson

2003:560). Dit is die informele vertaling (weergawe 2) waar Gutt se indirekte vertaling in die vertaalproses aangewend is ten einde ’n teks met die funksie van onder andere persoonlike gebruik en evangelisasie te skep.

As gevolg van hierdie verskil in teksfunksie en doelgehoor is daar heelwat registerverskille tussen DT1 en DT2. Die gebruik van ’n laer register in DT2 is een van die wyses om die teks makliker leesbaar te maak.

Jes. 1:3 Volgens DT2 se vertaalopdrag moet die teks so eenvoudig moontlik gehou word om leesbaarheid te vergemaklik, wat onder andere beteken dat die leser se woordeskat in ag geneem moet word. Een term word dus gebruik vir os (v. 3) en

bul (v. 11), naamlik bees. (’n Os en ’n bul is albei ’n tipe bees.)

Jes. 1:13b In die konkordante vertaling word die woord boosheid gebruik. Dit word aangepas na sondige gedrag in DT1 terwyl daar nóg ’n laer register in DT2 gebruik word deur ’n werkwoord in te voeg: sondige dinge doen.

Matt. 5:1 Die woord skare word wel in DT1 behou, maar in DT2 word die

vertaalopdrag gevolg deur dit met ’n omskrywing, naamlik baie mense, te vervang.

Matt. 5:7 Die woorde medelye betoon is formeel en geskik vir DT1, maar vir

DT2 word ’n informeler styl gehandhaaf. Die formele word dus vervang met die informeler mense wat simpatie aan ander bewys.

Matt. 5:12 Voetnoot nr. 22 in DT1 verduidelik dat die woord jubel klem lê op ’n uiterlike vertoon van blydskap. In DT2 word ’n laer register gebruik wanneer dié woord dan vervang word met sing en dans van vreugde.

Die aanpassings wat tussen die twee doeltekste gemaak is, kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die verskillende funksies en doelgehore. DT1 is formeler as DT2, en gerig op ’n doelgehoor met ’n hoër akademiese kwalifikasie as dié van DT2. Die meeste aanpassings is dus gemaak met betrekking tot die registerverskil tussen die twee doeltekste. Die leesbaarheid van DT2 is vergemaklik deur byvoorbeeld op plekke te ekspliseer en op ander plekke die teks te vereenvoudig.

3.4 Samevatting

Die hipotese in die Stellenbosch-projek dat die onderskeid wat Gutt tussen direkte en indirekte vertaling tref, beskrywend is van die verskille tussen weergawe 3 en 2 onderskeidelik (sien § 3.2.1), is deur middel van ’n stel annotasies getoets en as waar bevind. Direkte vertaling is as vertaalstrategie toegepas ten einde ’n formele vertaling volgens weergawe 3 se vertaalopdrag te skep, terwyl indirekte vertaling as vertaalstrategie toegepas is ten einde ’n informele vertaling volgens weergawe 2 se vertaalopdrag te skep. Die beskrywing van die aanpassings tussen die formele weergawe, DT1, en die informele weergawe, DT2, (§ 3.3.2) het die verskille tussen direkte en indirekte vertaling op ’n praktiese vlak aangetoon, en die navorser kon aflei dat die meeste aanpassings gemaak is as gevolg van die verskil in doelgehoor en funksie van die doelteks wat in die vertaalopdrag gespesifiseer is. Die bevinding is dat die vertaalprodukte wel aan die spesifikasies van die vertaalopdragte voldoen.

Die annotering van die vertaalprodukte dien ook as instrument wat wel lig gewerp het op die mate waarin ’n abstrakte vertaalmodel in die praktyk toegepas kon word, met ander woorde in watter mate die vertaler tydens die vertaalproses binne die raamwerk van die gekose model gebly het. Die annotasies het aangetoon dat die vertaler daarin geslaag het om die vertaalstrategieë redelik konsekwent toe te pas, maar dat daar wel van die beginsels van direkte vertaling afgewyk is deur in sommige gevalle in DT1 (hoofsaaklik by idiome) die betekenis in die enger teks, in plaas van in die wyer teks, te plaas. Die vertaler het dus gebruik gemaak van eksplisering wat ’n universaliteit en algemene verskynsel van vertaling is.

Die annotasies is verder nuttig deurdat die vertaler, eerstens, sensitief gemaak word vir die besonderse problematiek van Bybelvertaling, en tweedens, bewus gemaak word van die teoretiese aspekte van die spesifieke vertaalkeuses wat tydens die vertaalproses gemaak is. Die annotasies kan gebruik word om tipiese vertaalfoute te identifiseer, sodat vertalers in soortgelyke projekte daarop bedag kan wees.

In hierdie hoofstuk is probeer om die eerste leemte in die Stellenbosch-vertaalprojek te vul: Die annotasies is gebruik om die praktiese toepasbaarheid van die “nuwe” vertaalmodel te bepaal. Die navorser se gevolgtrekking is dat die gekose

vertaalmodel met sukses prakties toegepas kan word wanneer die vertaler ten volle vertroud is met die toepaslike teoretiese agtergrond wat die spesifikasies van direkte en indirekte vertaling insluit.

In die volgende hoofstuk probeer die navorser om die tweede leemte in die Stellenbosch-vertaalprojek te vul: Die praktiese bruikbaarheid van die vertaal-produkte word aan die hand van ’n empiriese ondersoek getoets.

Hoofstuk 4

’n Empiriese ondersoek na die praktiese aanvaarbaarheid

van die proefvertalings

4.1 Inleiding

Die sukses van ’n Bybelvertaling hang nie net daarvan af of ’n teoreties verantwoordbare vertaalmodel gebruik is en of die betrokke vertaalmodel konsekwent toegepas is nie. Dit is veral belangrik dat die behoeftes van die doelgehoor in ag geneem behoort te word en dat die vertaling dus bruikbaar sal wees. Dit is ’n fundamentele vereiste van die funksionalistiese benadering waarbinne die proefvertalings tydens die Stellenbosch-vertaalprojek geskep is: Die doel van ’n nuwe Bybelvertaling is om suksesvolle kommunikasie tussen die outeur en die doelgehoor te laat plaasvind sodat die doelgehoor die vertaalproduk as religieuse dokument in hulle lewe kan gebruik. In hierdie hoofstuk word daar gepoog om een van die leemtes in dié projek, naamlik dat die proefvertalings se praktiese bruikbaarheid nie getoets is nie, deur ’n empiriese ondersoek te vul.